Daar kom ‘n dag…

 

Daar kom ‘n dag in elke mens se lewe, wanneer gister se horisonne, vandag se stoepdrempels word…

‘n Kleintwak Produksie (benodig luidsprekers)

 

 

Posted in Uncategorized | Tagged , , | 26 Kommentaar

Afstyg

Daar is twee dinge in die lewe wat my verskriklik opgewonde maak.  Ek vermoed, seker maar met enige man so.  Kaal vrouens en vliegtuie.  En as daar vliegtuie in die omgewing is, kom vrouens in ’n baie slegte tweede plek.  By laas jaar se lugskou by Tempe-lughawe kon daar vyftig kaal vrouens voor my verbygeloop het en ek sou nie daarvan geweet het nie.  Toe daai Rooikat aanvalshelikopter sy masjiene start en die klank van brute perdekrag die lug vul, is my broek onmiddellik twee nommers te klein.  Toe die “Cheetah” Mirage III teen meer as die spoed van klank oor ons koppe deur die lug sny, wil ek uit my nate bars en lyk soos daai ou in Basic Instinct net voor Sharon Stone hom doodgesteek het.

Dit is natuurlik elke man se grootste fantasie (naas die begeerte om ’n gesinnetjie soos Zuma te hê) om in ’n vliegtuig se kajuit te klim en sommer self die stokke te gryp om daai vliegmasjien te dryf.  Om soos ’n wafferse James Bond summersaults bokant die Pentagon te maak met veertig Russiese vegvliegtuie op jou hakke.  Deesdae is die beskerming van die parlement en Unie-geboue in Suid-Afrika van minder sentimentele belang.

So ’n jaar of vyf gelede skaf ek toe ’n vliegtuigspeletjie vir die rekenaar aan.  Flightsim X.  Volgens die vervaardigers is dit die naaste wat ’n mens kan kom aan regtig vlieg, maar sonder die kots.  Dit is ’n bul van ’n program en op my ou rekenaar het die ding maar redelik gehakkel en die vliegtuie was rukkerig.

Met die aanskaf van ’n nuwe rekenaar waarmee ek hoë definisie video redigeer, lyk die speletjie aansienlik beter.  Flightsim-entoesiaste wil natuurlik die horries kry as mens praat van ’n “speletjie”.  Nee!  Dit is nie ’n speletjie nie, dit is ’n simulator!  Geskryf deur regte loodse, vliegtuigtegnici en aggressiewe Moslems.  Die verskeidenheid vliegtuie en helikopters is geprogrammeer om te hanteer en te reageer soos hul boeties in die werklike lewe.  Gee te veel vet op die verkeerde tyd met jou Boeing 747 en jy en 300 fiktiewe passasiers is in hul moer!

Die wêreld in die “speletjie” is ook regtig.  ’n Mens kan selfs meer detail van die internet aflaai.  So het my program nou al elke Suid-Afrikaanse pad (teer en grond, maar sonder potholes), rivier, berg, lughawe, dorp en die Kaapstad toiletprojek.  Alles is in detail korrek, selfs die lengte en rigting van die aanloopbane. ’n Mens kan nie met die vliegtuie skiet nie, want hulle het ongelukkig nie missiele en sulke goed nie.  Maar daar is niks lekkerder as om met ’n volgelaaide Airbus in jou skoonma se huis vas te vlieg nie.

So stap my driejarige Kleintwak in die kantoor, terwyl ek besig is om te speel vlieg.  Hy is dadelik 100% gefokus en die ogies blink van opgewondenheid.  Die speletjie simulator is die beste en mooiste ding wat hy nog in sy lewe gesien het.  Op driejarige ouderdom is ’n kaal vrou in elk geval niks werd nie.  Na hy my vir ’n hele paar minute dopgehou het en homself deeglik van Burgerlugvaart se reëls vergewis het, is Kleintwak gereed om self die stokke te vat.  Hy wil ook vlieg.

Stewig op sy pa se skoot, moet Kleintwak eers ’n geskikte vliegtuig kies.  Hy soek ’n groene.  Die enigste vliegtuig beskikbaar in die kleur, is ’n grasgroen mikroligte “AirCreation Trike”.  Kleintwak wil weet of dit ’n motorfietsvliegtuig is en hoekom die ding met ’n sambreel moet vlieg.  Ek begin verduidelik en stop halfpad.  Ek wonder nou self en toegegee is Kleintwak se beskrywing van ’n motorfiets met ’n sambreel redelik akkuraat.

Kleintwak besluit om liewer vir sy tweede beste keuse, ’n rooi vliegtuig, te skik.  Die naaste aan sy gunsteling rooi is ’n “de Haviland Beaver” wat op water kan ry.  Dit is ’n heerlike “bootvliegtuig” en Kleintwak verseg om op te styg.  Hy hou meer daarvan om om tussen (en deur) die ander onskuldige bote op die Vaaldam te jaag.  Na omtrent ’n halfuur se bootvaart is Kleintwak gereed vir sy eerste kommersiële vlug.  Hy kies ’n wit “Learjet”, daardie mooi vliegtuie waarmee die sakemanne rondkerjakker.   Die “wit” is seker maar om sy reinheid in die lugruim ten toon te stel.

Die vliegtuig is groot genoeg om ’n paar mense op te laai.  Ons moet by Kaapstad se lughawe begin, sodat hy sy Tannie Marietjie kan oplaai.  Sy kom immers altyd vir hom kuier in haar skreeulelike oranje Mango vliegtuig.  Dit is nou sy beurt om háár te kom haal in sý vliegtuig.  Ek moet die vliegtuig se deure oopmaak en Tannie Marietjie klim in.  Die boeties en sussies moet ook saam.  Jaco, Comien en Elize bestyg ook Kleintwak se Learjet.  Ouma gaan ook saam en sy moet voor langs hom sit.  Sy is die “co-pilot”.  Tannie Lassie en haar kroos volg op haar hakke.  Kleintwak voel tóg sy Tannie Talla en haar gesin moet ook inklim.  Hoe sy so vinnig van Potgietersrus in die Kaap gekom het, is haar probleem.  Die Learjet is nou stampvol met mense, maar Oom Coenie van die kerk moet ook saam.  Die vliegtuig begin soos ’n taxi na Pietersburg lyk as ons buurtannies, Tannie Naomi en Tannie Zuna ook inklim.  Hulle gee hom immers altyd melk en koekies.  Hulle gades mag ook saamkom.

“En Pappa en Mamma?  Mag ons ook maar saamvlieg?” vra ek net voor ek die vliegtuig se deur toemaak.

Meer uit plig as liefde stem Kleintwak halfhartig in.  Ek en Mamma mag ook maar saamvlieg.  Uiteindelik is die vliegtuig se deure toe en die wat moet binne is binne.  Nee, ek moet weer oopmaak.  Ore, sy basterbrak, moet ook saam.  Hy moet voor saam met Kleintwak en Ouma ry.  Voor ons enigiets verder doen, moet daar eers vir “Niewe Jiesis” gebid word.  Kleintwak sê ’n mooi tafelgebed op en ons is gereed.

Ek wil nog vir Kleintwak beduie van radioprosedures, vlugplanne en voorritinspeksies, maar Kleintwak het sy pa goed dopgehou as hy die vliegtuie start.  Die Learjet se enjins brul reeds in volle glorie.  Hy is haastig, hy wil nou opstyg.  Vlugplanne en inspeksies is totaal oorbodig.  Aanloopbane ook.  Met ’n dolle vaart trek hy uit sy parkeerterrein weg en jaag reguit op die beheertoring af.  Hulle sê rekenaars het nie emosie nie, maar daai tannie in die toring skree uit volle bors dat Kleintwak nie toestemming het om te doen wat hy doen nie.  Ons mis die beheertoring rakelings en ’n sipresboom se takke sit aan die wiele vas as ons met fluitende alarms opstyg.

In die lug gaan dit effens beter.  Ek het die radio’s afgesit en die mense skree nie meer op ons nie.  Behalwe die motorfietsvliegtuig wat ons heel uit sy sambreel vlieg is daar nie ander insidente, behalwe die 747 wat liewer terugdraai Amerika toe nie.  Dan begin Twakkies met die knoppies speel.  Met ’n paar interessante verstellings op die flappe en “auto pilot” voer die Learjet fratse uit wat ’n F18 vegvliegtuig na ’n ossewa laat lyk.  Ek vermoed sommige van ons passasiers is reeds aan natuurlike oorsake dood en daar behoort kots teen die vliegtuig se dak te wees.

Dan is Twakkies moeg gevlieg.  Hy wil nou “afstyg”.  Ek wil eers verduidelik dat “land” ’n beter woordkeuse is, maar die kind se logika maak vir my sin.  “Afstyg” is tog immers die teenoorgestelde van “opstyg”.

Behalwe die stok wat aggressief vorentoe gedruk word, is daar geen ander “afstygprosedures” nie.  Aanloopbane is weereens oorbodig.  Kleintwak is haastig om te land en ons pyl met ’n dolle vaart op die Kaapse Waterfront af.  Daar is darem genoeg tyd om die wiele te laat uitkom en ’n stuk van die sipresboom val op die kabelkar se dak.

Met ’n oorverdowende lawaai vlieg ons teen die grond vas en dit is net stof, klippe, rook en enjinparte.  Iewers in die vliegtuig (en sy talle passasiers – may they rest in peace) se finale oomblikke het Kleintwak weer die radio’s aangeskakel.

’n Kwaai oom praat met ons: “Learjet Alfa Juliet seven zero zero, you do not have permission to land!”

Nonchalant en met ’n giggellaggie antwoord Kleintwak die oom: “Ons kyk net die grond!”

Posted in Uncategorized | Tagged , , , , | 32 Kommentaar

Moeilike Reëlings

 

“Moes jy nie maar liewer die Silwer Valke gekry het nie?”

 

Mamma is bekommerd oor my vermoë om reëlings te tref vir die formasievlug met vliegtuie oor die huis

 

“Nee,” sê ek vir Mamma, “Hulle is darem rêrig te duur.  Oom Harry van Deventer vra my niks nie en net ‘n bottel brannewyn vir elke ekstra loods wat hy in die hande kan kry.”

 

“Ja, maar dit is dan gifspuitvliegtuie,” Mamma is nog steeds nie lekker met die idee nie.

 

“Juis,” verduidelik ek.  “Dis hoekom dit so goedkoop gaan wees.  Hulle gaan sommer Oom Basie van Tonder se lande aan die anderkant van die dorp spuit.  Dis op hulle pad as hulle klaar oor die huis gevlieg het.”  Dit gaan miskien ‘n over kill op Oom Basie se lande wees, daar is al elf vlieëniers, maar hulle wil die geleentheid vir geen geld misloop nie.  Agt van hulle soek nie eens brannewyn nie!

 

“Onthou net,” waarsku Mamma.  “As dit ‘n flop is, gaan jy verduidelik.  Die man is nogal puntenerig met sulke dinge en onthou, dis ‘n eenmaal in ‘n leeftyd gebeurtenis.”

 

Ek knik maar my kop instemmend.  Ek het self my bedenkinge oor ‘Oom Harry en die Vrystaatspuiters se vermoëns, maar ek hou dit maar vir myself.  Oom Harry ly al die laaste twee jaar aan een of ander siekte wat ‘n mens laat ruk, maar dit lyk nogal heel akrobaties as hy vlieg.  Sy vliegtuig rook ook van nature, sonder dat jy ‘n knoppie hoef te druk.

 

“Het almal al geantwoord op die uitnodigings?”

 

“Ja almal kom, niemand wil dit mis nie.”  Ek sug maar gelate en probeer elke vraag na die beste van my vermoë antwoord.

 

“Is die spyseniers nog reg?  Hulle weet daar mag nie uie of sampioene in die kos wees nie?”

 

“Ja, Mamma.  Alles is gereël.  Hulle weet van die uie en sampioene.  Die chef sê hy ken nie van ‘n kaaskrulpastei nie, maar hy sal sy bes traai.”

 

“Hy sal doen wat ons vir hom sê, ons betaal hom goed!” Mamma raak skoon humeurig en ek kan sien die senuwees pla oor al die reëlings.

 

“En jy bel nóú vir Belinda Conradie en kanselleer die uit-die-koek-springery-ding.  Ek gee nie om hoeveel sy vir die operasie betaal het nie, dit is nie die tyd of geleentheid om haar tieties vir almal te wys nie!”

 

“Ja, Mamma.”  Ek is nogal teleurgesteld oor die kansellasie.  Belinda sou dit verniet gedoen het en almal wonder hoe haar nuwe tieties lyk.  Persoonlik dink ek dit sou ‘n magic touch aan die geleentheid gegee het.

 

“En jy gaan koop vir jou ‘n nuwe hemp by die pak klere.  Ek wil nie hê jy moet soos ‘n hier-jy lyk nie!”

 

“Ja Mamma.”

 

“Is jou speech reg Pappa?  Lees bietjie weer dat ek hoor!”

 

Ek trek maar weer die stuk papier nader en begin lees:

 

Geagte meneer die President; die Minister van Finansies; die hoofbestuur van die OVV; Piet Byleveld; mister Obama – there on our live satellite link; verteenwoordigers van die media; Oom Wouter; ander eregaste;  dames en here. 

 

Dit is met groot trots dat ek vandag ons hoof eregas aan u voorstel.  Vir hierdie taak skuif ek u gedagtes terug na die besonderse aand van 18 Februarie 2009.  ‘n Aand van groot pyn, lyding en ‘n gevloek en verbale aanvalle op die mediese professie, maar tog, op die ou einde, groot vreugde en geluk. 

 

Dit is dus my groot voorreg en uitsonderlike trots om vir ons eregas te sê:  Geluk met jou derde verjaarsdag Klein Twakkies.  Mag jou lewe ryklik gevul wees met ‘n magdom van liefde, uiterste gesondheid, velvaart, plesier, rykdom en bo alles, mag jou klokhelder en vreugdevolle lag tot aan die uiteinde van die heelal weergalm!

 

 

Posted in Uncategorized | Tagged , , | 31 Kommentaar

‘n Vernederende studie

Ek het hierdie staaltjie iewers gehoor en so ‘n bietjie verwerk.

Behalwe vir sy skerp tong, is Fielies Conradie met min dinge geseën.  Met ‘n lyfie wat die Oros-mannetjie soos Brad Pitt laat lyk en ‘n gesig soos Michael Jacskon voor hy make-up aangesit het, is Fielies ook nie die gewildste item in enige dame se afspraakboekie nie.  Selfs mansvriende het die ou maar min en hy word maar min saamgenooi vir enige kuier.  As Fielies Conradie naby is, “score” niemand nie.  Dit is dus net dan en wan, as nie een van sy vriende lus is vir vrouelawaai nie, dat Fielies saamgenooi word na ‘n kuier.

Dit is ‘n groepie van vier wat die aand by die hotel invaar vir ‘n drinksessie.  Fielies is by.  Die vier makkers neem stelling in by ‘n tafeltjie so skuins voor die kroegtoonbank.  Drankies word bestel.  Die kroeg is redelik gepak en dit gaan woelig en vrolik.

Maar Fielies drink nie.  Sy oë is vasgenael op die verste punt van die kroegtoonbank.  Eenkant en alleen sit die aantreklike blondekop.  Mooi uitgevat in ‘n donker besigheidspakkie.  Sy drink ‘n pienk drankie met ‘n sambreeltjie.  Seker maar stout in hul voornemens, moedig Fielies se drie pêlle hom aan om te gaan kennis maak.  Na so drie sopies en ‘n paar kloppe op die blad, is Fielies gereed.  Hy stap nader om sy inner sjarme aan die dame te demonstreer.

Skaam en met sy kop half geboë vra hy die dame of hy maar langs haar kan sit en vir haar ‘n drankie kan koop.

Verergd vlieg sy hom in en skree kliphard:

“Ek gaan nie vanaand saam met jou slaap nie, jou vieslike luis!”

Die kroeg is skielik tjoepstil en die mense staar.  Selfs die groot luidsprekers het ‘n toweroomblik van stilte tussen die liedjies.  Verslae stap Fielies terug en voeg hom weer by sy vriende.  Selfs hulle is geskok en het nie so ‘n uitgesproke reaksie verwag nie.  Soos spitsverkeer wat weer stadig lewe kry na ‘n ongeluk, begin die kroeg weer geselserig raak.

‘n Ruk later staan die blonde vrou by Fielies-hulle se tafel.  Sy kom om verskoning vra.  Saggies fluister sy, dat sy besig is met haar doktersgraad in sielkunde en ‘n tesis moet doen.  Dit gaan oor hoe mense vernedering verwerk.

Uit die bloute en sonder waarskuwing kyk Fielies haar in die oë en skree kliphard:

“Wat!  Twee Honderd Rand!  Is jy fokken mal!”

Posted in Uncategorized | Tagged , , , , , | 15 Kommentaar

Huisreëls

“Julle piepie nie weer teen my Dahlias nie!  Gebruik die groot Kareeboom as julle dan nou móét buite piepie.”

“Ja, Mamma.”

“En as julle weer ‘n gang-gly hou, hou om hemelsnaam net julle onderbroeke aan!  Hier is kinders ook onthou!  En julle gebruik nie my ‘Skip’ nie, dis te duur, ek sal vir julle ‘OMO’ gee as dit dan moet.”

“Ja, Mamma.”

“En jy sluit hierdie keer jou haelgeweer toe en gee die kluis se sleutels vir my!”

“Ja, Mamma,” sug ek.

“En julle los die brandblusser uit, ek sukkel nou nog om die gordyne skoon te kry!”

“Ja, Mamma,” sê ek gedwee.

“En julle drink uit plastiekbekers en as julle kots vee julle op!”

“Ja, Mamma.”

“En julle los Tannie Siems se dak uit!  As julle vroeër braai sal julle nie so uit hout uit hardloop soos laas nie!”

“Ja, Mamma.”

“En die een wat Klein Twak se perdjie weer breek, koop ‘n nuwe een!”

“Ja, Mamma.”

“En julle pla nie weer vir Dominee nie!  Die man se senuwees gaan dit nie meer lank hou nie!”

“Ja, Mamma, maar dit was mos net ‘n grappie,”

“Ek gee nie om nie, julle los hom uit!”

Ek sug en kyk op my horlosie.  Hierdie gesprek gaan ‘n rukkie neem.  Dit is amper weer Krismisvakansie en Mamma is besig om die huisreëls met my deur te gaan.  Die Varsity-broers kom kuier.

Posted in Uncategorized | 12 Kommentaar

As iemand anders by jou sleeping partner slaap.

 

Dit is gewoonlik ‘n baie teer en seer keerpunt in ‘n mens se lewe as jy die dag uitvind iemand anders het by jou sleeping partner geslaap:

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Dit het ‘n hele paar harde woorde gekos om die sakie reg te stel:

 

Posted in Uncategorized | 15 Kommentaar

VERJAARDAGPERSENTE

My verjaardag is eersdaags en Mamma wil weet wat ek wil hê.

Ek weet nie hoekom vrouens altyd complicated raak oor die eenvoudige dinge in die lewe nie.

Posted in Uncategorized | 17 Kommentaar

MISVERSTAND

Ek is mos nie ‘n oggendmens nie.  Eintlik half hopeloos om die waarheid te vertel.  As ek nou op ‘n plaas gebly het en die terries wou my aanval, sou die beste tyd tien teen een tussen sewe en nege in die oggend gewees het.  Die beste (waarskynlik die enigste) ding waaraan ek daardie tyd kan dink, is hoe om my blaas suksesvol te ledig.  Oukei, in die geval van terries kan dit miskien handig te pas kom, maar dan moet hulle nie meer as vyf wees nie.  ‘n Man se blaas is ook net só groot en nie groter nie.

Die probleem kom wanneer iemand vroegoggend met my wil reëlings vir die dag maak.  Veral in daai tyd tussen wakkerword en my sesde sigaret en koffie.  Woorde kom en gaan en min van hulle land in werkende breinselle.  Dié wat wel land, sorteer hulle uit in die heel gemaklikste volgorde, met hul eie punktuasie, sodat die kernboodskap miskien nie heeltemal is wat die spreker bedoel het nie.

Ek is besig om die toilet te spoel net voor my eerste oggendpiepie, terwyl Mamma die boodskap gee.  Sedert die ongelukkige voorval met die paraffien-heater spoel ek altyd eers vóór ek piepie.  As die kontrêpsie kan spoel, dan weet ek dit is ‘n toilet waarvoor ek staan.

Mamma praat:  “Vanaand……… Ek…… gaan…… kinders…..my Sussie ……..aflaai …….. en ……….. Kleintwak by Ouma………. wil ……….laat werk.  Dan……… ons ook vir ‘n slag……. rustig…….vrede……. kafoefel…….sonder kinders in die huis.”

Ek: “Ja skat.”

Mamma: “Het jy nou gehoor wat ek gesê het?”  Die toon van haar stem het nogal die vermoë om die vaakgeit weg te kry.

Ek: “Natuurlik Mamma!”

Mamma: “Nou wat het ek gesê?”

En dit is nou net hier waar dinge uiters gevaarlik begin raak.  My brein werk oortyd om haar eerste boodskap te verwerk en in die regte volgorde te kry:

“Wel uh, jy het gesê ek moet vanaand die kinders by Ouma gaan aflaai en jou sussie gaan spyker, sodat jy vir ‘n slag rustig laat kan werk sonder my en die kinders.”

Dit is merkwaardig hoe sommige dae aansienlik swakker as ander begin.

Posted in Uncategorized | 10 Kommentaar

21 Mei 2011 was bloot ‘n vertalingsfout

Jy sien die bleddie Amerikaners het die geskrifte verkeerd vertaal wat natuurlik die volgende tot gevolg gehad het:

.

Maar as mens na die oorspronklike Spaanse teks kyk sien mens duidelik dat Oom Harold Camping slegs ‘n nuwe Mayonnaise Drankie vir lekker purgasie wou bekend gestel het:

.

Kyk net hoe lekker vang daai ou ‘n veldtie na sy Mayonnaise drankie! 21 Sekondes en dis GEWAARBORG!

Posted in Uncategorized | 6 Kommentaar

Wel ten minste is daar twee wat reg is vir 21 Mei 2011

Posted in Uncategorized | Lewer kommentaar