Dieng-Dong-Toets

Jansetwakdiengdong

Image | Posted on by | 10 Kommentaar

Iemand kook op Nasionale Braaidag

Terwyl ek nou op die web is vir my jaarlikse opvang op sosiale media, het ek gedink hierdie enetjie is seker van pas, met die vakansiedag eersdaags.

Iemand kook op Nasionale Braaidag

Mamma sê ek moet vir my smeer. Met die wisseling van die seisoene lyk ek blykbaar soos ’n skurf krokodil met gevorderde vel-aknee. Nou ek is nie normaalweg ’n room en lipstick man nie, maar na ’n subtiele waarskuwing oor huweliksvoorregte, krap ek maar in die badkamerkassie rond.

Daar is twee potjies wat soos room lyk. Die een is Ingram’s wat op die etiket sê:

“For dry, cracked and chapped skin.”

Die ander een is ’n veel kleiner potjie genaamd Ahava Face Revitalizing Cream en sy etiket sê:

“For smooth, radiant, baby-like skin.”

Hoe Ingram’s nog in die mark bly weet ek nie. Wie soek nou ’n ‘dry, cracked and chapped skin’? Ek trek die potjie Ahava nader en begin smeer. Dit is maar ’n bleddie klein potjie, maar ek kry darem genoeg uit om die ergste skurf in te smeer. Dit is nogal ’n heerlike vars tinteling wat die goed op ’n mens se vel maak en ek wonder hoekom koop Mamma so min op ’n slag.

So tel elke huwelik maar soms klein probleempies op, gelukkig het ek ’n sonstraal persoonlikheid en Mamma praat gewoonlik met my na sy so twee nagmaals by die kerk uitgesit het.

Nou die een ding waaroor ek nie met Mamma getrou het nie, is haar kookkuns. Die saak was miskien nog effens debatteerbaar tot sy nou die aand die viennas verbrand het. Dan is daar natuurlik ook die hofsake teen maatskappye wat hul goed as ‘flatervry’ adverteer. Dis nou nie dat die kos so sleg is nie, sommige is nogal heel lekker – ’n mens moet net nie vir die goed name probeer gee nie.

So proe Mamma se Beef Stroganoff soos heerlike wafels met stroop. As mens net ’n dik strooitjie byderhand het kan mens ’n idilliese melkskommel van haar Chicken ala King maak. En as iets die dag heeltemal hand uit geruk het sit ons dit net tussen twee snye toast met ’n bietjie tamatiesous. Gelukkig raak Mamma nooit moeilik daaroor nie en erken haar enkele tekortkoming in die lewe. Sy gee dus nie om dat ons braai nie. Elke dag as dit moet. Soms vir ontbyt ook as die Joop van Aswegen my voor sonop wakker maak met sy Ford Cortina.

Seker dié dat my swart buurman droog opmerk, terwyl hy sy jaarlikse braaivleisvuur vir Nasionale Braaidag pak: “Jasisss Jan, to you, everyday is Herritage Day!”

Ek lig maar net my bier in stille erkentenis terwyl ek oor my skurwe elmboë streel.

Posted in Uncategorized | Tagged , , | 12 Kommentaar

Rasta veel

Wanneer mens musiek maak as DJ by geleenthede, soos ek ’n paar jaar terug nog gedoen het, loop ’n mens jou vas in die interessantste groepe mense.  Dit wissel van uitvoerende direkteure van groot maatskappye (hulle is gewoonlik die wildste) tot studerende verpleegsters (ek wéns  hulle was die wildste).  Soms is dit brandweermanne by ’n offisiersafsluiting (hulle rook almal), soms is dit ou tannies by die OVV se jaarlikse kongres.  En elke groepie mense het hulle eie manier van partytjie hou.

Dit is vreeslik interessant om te sien watse musiek ‘tiekel’ ’n groepie en ’n mens moet gereed wees om heeltyd jou persepsies te vernuwe.  Ek het eenmaal by ’n ghetto danskompetisie musiek gemaak, waar die partytjiegangers uitsluitlik swart was.  Dit was in die middel van, wel, die ghetto’s.  As gevolg van my eie persepsies was die musiek natuurlik ook uitsluitlik kwaito, met ’n R&B nommer nou en dan, vir die meer ernstige partytjiegangers.  Ten spyte van ’n spierwit DJ geniet die skare hul terdeë, ten minste pas my velletjie in by van die skerper disko liggies.

Maar ’n mens kan net soveel kwaito in ’n aand luister en ook nie meer nie.  Om die skare bietjie te terg en reaksie te toets gooi ek laataand ’n Klipwerf nommertjie.  So uit die bloute, sonder waarskuwing.  Met die eerste konsertina klanke voel ek of my 9mm pistool nog gereed lê in sy wegsteekplekkie aan my sy.  My assistent staan gereed om homself met ’n spieëlbal te verdedig.  Persepsies.

Daardie aand gaan my oë oop.  Die spul gryp mekaar en begin ballroom dancing te doen soos ek geen ander kultuur dit al sien doen het nie.  Toe die liedjie klaar is, is die organiseerder by my en ek sit my hand gereed op my 9mm.  Hy wil weet hoekom speel ek die heelaand sulke kak musiek, hulle soek meer liedjies soos die een wat nou net gespeel het.

So keer ’n knaap my eendag by die werk voor.  Ek is dadelik moerig want sy haarstyl lyk soos ’n ontsnapte Kentucky hoender en sy broek hang af of hy ablusie-uur gemis het.  Hy is van een of ander groot IT maatskappy en stel hom voor as Frikkie van Aswegen, maar hy reageer ook blykbaar op die kodewoord van “Colonel Zero”.  Colonel Zero wil weet of ek hulle musiek by ’n werkspartytjie kan doen.  Dit is ’n “Rasta Reggae & Rave” partytjie, maar ek hoef nie te worrie oor Reggae musiek nie, hulle het dit maar net ingesit vir die ouens wat wil dagga rook.

So bevind ek my ’n week later in ’n digte rookkolom tussen ’n spul IT tegnici wat na rave musiek luister.  By die badkamers deel hulle gratis inspuitingnaalde uit en as jy ’n hotdog by die kiosk koop, gee hulle vir jou ’n sakkie met wit poeier by.  So staan die spul in die middel van die dansvloer en wieg.  Dit lyk meer na pogings om staande te bly as dans.  So nou en dan gee een darem ’n bokspringetjie as daar ’n lekker dromslag in die musiek is.  Na ’n uur besef ek, geen siel gee eintlik om wat se musiek speel nie.  Solank daar net ’n “beat” is om op te wieg.  Diegene wat rave musiek ken, sal my gelyk gee dat lirieke en oorspronklikheid hand aan hand in die skeppingsproses verdwaal het.  Ek besluit om die spulletjie te toets.  Ek sit een liedjie op en laat hom heeltyd in ’n “loop” speel.  As hy klaar is begin dieselfde liedjie weer oor.  Niemand kom iets agter nie.  Hulle staan almal doodgelukkig en wieg.  Na die liedjie omtrent tien maal gespeel het, besluit ek om buite te gaan sit en Stuyvesants rook.  My werk is om die skare met die musiek gelukkig te hou en aangesien daar nog geen klagtes was nie, beskou ek dit as ’n “job well done.”

Na omtrent drie ure slinger ’n knaap in my rigting waar ek nog steeds rustig buite op ’n tuinbankie sit.  Ek dog, hel, nóú is hier moeilikheid, die spul het seker agtergekom dis dieselfde liedjie wat nog die heelaand speel.

“Ekskuus Oom,” sê die jafel toe hy naby genoeg is dat ek sy asem kan ruik.  Die geur van Beechies, rum en dagga spoel oor my neusvleuels.

“Ekskuus Oom, ek wil net sê ek laaik Oom se musiek kwaai.  Maar jissie Oom, daai liedjie wat Oom nou laaste gespeel het, is kwaai cool.  Oom moet hom tog later weer vir my speel.”

Posted in Uncategorized | Tagged , , , , , | 26 Kommentaar

Daar kom ‘n dag…

 

Daar kom ‘n dag in elke mens se lewe, wanneer gister se horisonne, vandag se stoepdrempels word…

‘n Kleintwak Produksie (benodig luidsprekers)

 

 

Posted in Uncategorized | Tagged , , | 26 Kommentaar

Ek wonder

Daar is min soorte mense wat deesdae hul vuurwapens stewiger en meer gereed vashou as ’n transito-veiligheidswag in Suid-Afrika.  Een van daai min soorte mense is ’n pa met ’n mooi veertienjarige dogter.  Met ons staatshoof as rolmodel en gratis kondome by skole is daar ’n klimaat geskep waar hiënas na ’n gratis spitbraai genooi word.  Ek loop met my gewere oorgehaal en bejeën elke lid van die menslike spesie, wat net lyk of hy in die besit van ’n penis is, met besonderse suspisie en gereedheid.

Veral as jou veertienjarige meer soos ’n agtienjarige lyk en nou al ’n jaar lank kop en skouers bo haar ma uittroon.  Vrydae is dit erger as hulle uitgaandrag by die skool moet dra.  Dan is dit bloes, skirt en sykouse.  Sykouse!  Vir ’n veertienjarige standerd sessie!  Demit, toe ek veertien was, was my uitgaandrag ’n vuil Adidas rugbybroekie om mee te gaan kleilat speel.

So laai ek nou die dag vars patrone in my gewere toe ek hoor Elize het gaan koffie drink by ’n seun.  Die seun is in matriek en die gevaarligte blits soos ’n disko in my kop.  Ek meen ek was mos sélf ’n matriekseun gewees.  Ek weet mos waaraan dink die goed van direk na ontbyt tot kort duskant slapenstyd.  En dis beslis nie koffie-drink nie!

My gemoed kalmeer effens toe ek hoor dit was by Marius Verwey.  Ek hou nogal van die seun.  Ek het eenmaal tydens skolerugby langs die veld gestaan toe hy met ’n rooikaart van die veld gejaag is.  Dit was vir ’n gevaarlike têkkel op ’n opponent van omtrent twee keer sy grootte.  In my boekies sê dit nogal iets van ’n mens.  En toe Marius na die afstuur langs my op sy knieë sak en sy frustrasie uithuil met ’n “bliksem, bliksem, bliksem, hoe kon ek so stupid wees?” het my hart nogal ’n sagte plekkie vir die seun gekry.  Nóg ’n paar punte in mý boekie.  Ek meen die seun het duidelik besef hy het ’n fout gemaak en was jammer daaroor.  Ek meen as jy ’n ou só wil têkkel, moet jy dit doen sodat die ref jou nie kan sien nie.

Dus ignoreer ek maar die koffie-drink voorval en maak nie te veel van ’n ophef nie.  Ek kén ook mos nou al ’n tiener.  Hulle wil en sal altyd die teenoorgestelde doen van wat jy sê.  Netnou wil sy by die ou gaan tee drink.

So werk ek nou die dag deurnag aan ’n videoprojek wat dringend moes klaarkom.  Hier by vyfuur die oggend raak ek uit twak uit en ry vinnig garage toe om weer in besit van ’n paar Stuyvesants te kom.  Ek kry vir Marius op my pad.  Dit is nog blouskemer en die son lyk traag in sy besluit om op te kom om die koue weer te trotseer.  Marius dra ’n massiewe pakkasie en loop met die spoed van ’n Kaapenaar wat wyn soek.  My eerste gedagte is:  “Ja bliksem waar het jy nóú oorgeslaap dat jy dié tyd van die oggend eers huis toe loop!”

Ek stop by Marius en verneem na sy vroeë oggend aktiwiteite.

“Ek lewer koerante af Oom,” sê hy half skaam.

Ek bekyk die pakkasie wat hy dra van naderby.  Dit is ’n massiewe stapel Volksblaaie.  En ék voel skielik skaam.  Om vyfuur die oggend in ysige koue, koerante af te lewer en dan nog reg te maak vir jou eindeksamen, sê nogal iets van ’n mens.  In my boeke selfs meer as om ’n groter ou as jy, te têkkel.

En ek sit en wonder toe ek wegry.  Ek wonder oor ons vooropgestelde persepsies.  Oor die stereotipes wat ons self geskep het.  Miskien is my dogter veiliger by ’n matriekseun wat koerante aflewer as by ’n standerd sessie met ’n broek vol planne.  Ek wonder.  Miskien moet ek nóg ’n geweer bykoop.

Ek wonder.

Posted in Uncategorized | Tagged , , , , , | 27 Kommentaar

Eersteplek vir ‘n natuurroep

 

So bevind ek my nou die aand, tydens pouse, langs Oom Piet Viljoen by die skool se seunskrippe.  Prysuitdelings het die manier om mans na die natuur te roep, maar ons stem beide saam dat  die pouse te kort is vir ’n goeie opelyf.  Nou piepie ons maar net. Getrou aan mans se aard kan ons ook net op een ding op ’n slag fokus.  Ons praat dus oor piepie.  Oom Piet vertel my van die trip wat hy een jaar met sy skoonsus af Suid-Kaap toe gehad het.  Dit was in die tyd toe hy nog in Kimberley gebly het.

Oom Piet vertel:

Jy weet Jan, jy kry mos mense met een of ander diepgewortelde allesoorheersende fobie of renons in hulle lewens.  Vat nou maar my skoonsuster Martie van Mosselbaai.  Eintlik weet ek nie of sy nou rêrig meer my skoonsuster is nie.  Broer Japie is darem nou al so ses jaar terug  begrawe.  Jy sien met die dood van ’n familielid is die oorlewende aangetroude familie amper soos ’n hanslam.  Mens is te jammer om die ding weg te jaag, maar jy weet daar wag later net probleme.  Ewenwil, Tannie Martie het ’n probleem met buite piepie.  Sy groet mens nie eens behoorlik nie, dan begin sy al kla oor hoe al die mans wat sommerso langs die pad stop om te piepie, haar irriteer.  Grensloos, asof dit die grootste sonde duskant rook en rassisme is.  Mens sou sweer sy het self nie ’n blaas nie soos wat sy tekere gaan.

So kom kuier Tant Martie toe vir ’n week daar by ons, soos sy nou al elke jaar sedert Japie se dood maak.  Gelukkig bodder sy nie om baie met my te praat nie.  Sy vertel my net vlugtig van die spul onbeskaafde toeriste wat teen een of ander treinstasie se muur gepis het en wend haar aandag verder na Mamma.  Ek weet mos sy dink ek is ’n sielsverlore ketter omdat ek so nou en dan die boompies in my eie tuin natlei.  Soos die ongeluk dit wil hê val haar kuier saam met daai groot reëns wat die Suid-Kaap gehad het.  Die treinspoor tussen George en Mosselbaai is heel verspoel en Tannie Martie kan nie terug nie.  Die spoor sou blykbaar maande vat om te herstel.  Daai boompies in my agterjaart sou dit nie nog ’n week kon maak sonder ’n nattigheidjie nie en ek bied toe maar dadelik aan om haar met my Chevy terug te vat.  Ons reël die terugvat vir die volgende Sondagoggend.

Soos die geluk dit wou hê, daag Vriend Hennie die Saterdagaand by my huis op na sy toer deur die hele Afrika. Ons moet eers help om sy sleepwa af te laai.  Hy het ’n paar biere gebring.  Synde ’n bierliefhebber soos ek, het hy in elke Afrika staat van Egipte tot Botswana ’n sespak van hul plaaslike bier gekoop.  In Windhoek het hy sommer vier kaste gekoop, hy hou van Duitse bier.

Daai Saterdagaand vat ons vas en met ’n padkaart voor ons, herleef ons sy toer deur Afrika.  Die vrouens kyk vakansieskyfies en ek en Oom Hennie drink bier.  Ons drink drie biere uit elke land op die kaart.  Toe ons deur die Sahara gaan, leen ons so bietjie van die bier wat hy in Windhoek gekoop het, dis mos maar warm en droog in die woestyn.  Ons vorder omtrent tot die bopunt van Angola, toe die vrouens ons stop.  Hulle het nou klaar skyfies gekyk en hul lyftaal sê ons het nou klaar bier ook gedrink.  Mamma gaan haal drie swart asbliksakke om ons leë bottels in te gooi.  Ons wou nog vir oulaas ’n draai in Mosambiek maak, maar Mamma sit haar voet neer.  Ek moet nog die volgende dag vir Tant Martie huis toe vat en sy weet mos hoe bier my kan laat slaap.

Slaap het ek geslaap daai aand, maar o hel, daai wakker word na die verslaap die volgende oggend!  Dit is vreeslik om na ’n toer deur Afrika na twee vrouens se geskree en sanik te luister terwyl mens haastig probeer aantrek.  Sommer so deur die verwyte van die twee vrouens oor my en Oom Hennie se toergewoontes, gryp ek net Tannie Martie se tassies en sorg dat ek by die kar uitkom.  Mamma sê ek stink na Uganda se brouery toe sy my koebaai soen.  Sy ry nie saam nie, dis haar beurt met die oggendtee by die kerk.

Net anderkant Hopetown begin die probleme.  Ek besef dat in al die geharwar van die verslaap, ek nooit my oggendbehoefte geledig het nie.  Dit voel soos ’n volskaalse revolusie in my blaas en ek vermoed dis die Kadaffie Premium Lager waarmee ons ons toer begin het.  Ek loer skuins na Tannie Martie se rigting.  Sy lyk soos ’n brulpadda wat aan ’n suurlemoen suig en ek laat vaar dadelik enige gedagtes van ’n vinnige stop langs die pad.  Ek weet mos nou sy hou nie van mans wat langs die pad piepie nie.

Ek knyp maar vas, ek sal maar by De Aar indraai en by ’n vulstasie gaan leegmaak.  By die Oranje rivier moet ons eers op die brug stop.  Tannie Martie wil eers Mamma se ingepakte brêkvis nuttig.  Dis mooi daar op die brug.  Sy hou van riviere.  Veral as die water so heerlik oor die klippe kabbel na die goeie reëns.  Hier diep binne my begin ’n Keniaanse Milk Stout ook woel en ek probeer om my dowe oor na die rivier te draai.  Gelukkig eet Tannie Martie nie baie nie, maar sy drink my blikkie Coke ook op na ek dit vriendelik, maar baie beslis van die hand wys.  Sy is klaarblyklik baie dors na die biltong wat sy al die heelpad aan sit en peusel.

By Vanderkloof dam moet ek aan die stuurwiel vasbyt om nie my broek nat te maak nie.  Tannie Martie sê ons moet eers weer gou stilhou, sy het nog nooit die dam gesien as al sy sluise oop is nie.  Ek trippel op en af op die maat van die water se geraas en genadiglik help dit om van die vog van my blaas te verplaas na ander organe.  Tannie Martie maak die waterbottel wat aan die Chevy se grill vasgemaak is los en skink eers ’n paar blikbekers water.  Ek probeer om weg te kyk, maar die Satan laat kyk mens mos altyd kyk waar jy nie moet nie.  Daai dun straaltjie water soos sy skink laat my droom van rye en rye kareebome waarteen mens jou blaas kan ledig.  Tannie Martie bied vir my ook ’n beker water aan.  Sy kan nie glo ek wil nie ook hê nie, die biltong maak haar dan so dors.

Net voor De Aar, toe ek besef ek gaan dálk die dorp met ’n droë broek haal, kry ons die konvooi abnormale lorries.  Daar is omtrent twintig lorries in ’n ry en hulle is gelaai met massiewe konstruksie masjinerie.  Teen die afdraandes ry ons darem so 5km/h.  Daar is nie ’n kans om verby te gaan nie.  Hulle ry die hele pad vol en die voertuie wat van voor af kom, moet heel van die pad aftrek vir die stoet om verby te gaan.  Reg voor ons ry ’n tenkwa vol water.  ’n Dun straaltjie water spuit met ’n sierlike boog by ’n stukkende pyp uit, reg voor ons in die pad.  Ek sê die Onse Vader in my gedagtes op, maar inplaas van my daaglikse brood, vra ek vir die afdraaibordjie De Aar toe.

Tot my ontsteltenis draai die lorries een na die ander af na De Aar toe.  Dit is egter ook ’n gulde geleentheid om verby die konvooi te kom en teen my blaas se beterwete besluit ek om eerder vir die garage op Drie Susters te jaag.  Netnou beland ek weer agter die konvooi as ons tyd mors in De Aar.

Die vulstasie se bordjie by Drie Susters lyk soos manna uit die hemel, maar my moed sak tot baie vêr onder my skoene as ons die perseel binne ry.  Daar is omtrent dertig Road Link busse geparkeer en die hele terrein wemel van skoolkinders wat op pad terug is van een of ander sportbyeenkoms.  By die toilette se deure staan ’n tou mense langer as by ’n Sias Reinecke konsert.  Daar is nie ’n manier dat ek voor sonsondergang ’n beurt sal kry nie.

Tannie Martie hardloop gou by die kêffie in om ’n paar Cokes te koop.  Sy sê sy sal my twee blikkies ook maar drink toe ek dit van die hand wys.  Sy is nog steeds lekker dors na al die biltong en die waterbottel is ook nou al leeg.  Sy bied ook aan om ’n rukkie te bestuur, ek lyk glo vir haar effens bleek om die kiewe.  Ek stem onmiddellik in, miskien is die drukking effens ligter as ek op die Chevy se agterseat lê.  Beaufort-Wes is darem nie te vêr nie.

Na wat net soos tien minute gevoel het, word ek wakker van die vreeslikste pyn in my middellyf.  Ek vermoed dit is die Tanzanië Draft wat nou saam met die Angolese lager ’n ritmiese toy-toy in my blaas doen.  Ek leuen vooroor na Tannie Martie agter die stuurwiel.  Ek vra hoe vêr is ons nog van Beaufort-Wes af.  Nee, sê die tannie vir my.  Ons is lankal deur Beaufort-Wes, sy het nogal daar by ’n garage gestop om koeldrank te koop en ek het nie eens wakker geword nie.  Ons is nou net voor Meiringspoort.  Dit voel vir my asof ek sommer net daar die tannie van agter af kan nat pis.

Oom Piet vra vir my of ek Meiringspoort ken.  Ek sê vir die oom ja, dis mos daar wat mens so baie oor dieselfde rivier ry.  Die oom sê juistement.  Dis net so.  Vir hom het dit gevoel of hulle of hulle omtrent sewentig keer oor die rivier is.  En dis sleg om met so ’n vol blaas oor ’n rivier te ry, veral na die goeie reëns.

Oom Piet vertel verder:

Jy weet Jan, ons is omtrent halfpad deur daai poort toe die tannie skielik remme aanslaan.  Dit voel of daai Etiopiese bier hom desmoers bommelakiesie slaan oor ’n Windhoek Lager.  Die tannie stop die Chevy langs ’n pragtige waterval.  Ek wil net my hart finaal uitbaklei toe ek die tannie se gesig sien.  Haar oë is groter as ’n uil wat met ’n windbuks raak geskiet is.  Die tannie sê vir my sy móét nou gaan.  Sy kan nou nie langer uithou nie.  Al die koeldranke en water roep haar nou vir ’n boompie, al is dit nou ook ’n kleintjie.

Oom Piet sê dit was ’n belewenis soos min toe hy en die tannie daai dag elkeen ’n lekker boompie langs die waterval kry om broek los te maak.  So met die dreunende water vir begeleiding.  Ek wil hom amper vra “hoe veel en hoe vêr?” maar ek besef dit is half ongeskik om oor sulke privaat goed te vra.

Maar Oom Piet sê toe sommer self: “Jy weet Jan, as daai pis by ’n prysuitdeling was, het ek en die tannie eerste plek gedeel.”

Posted in Uncategorized | Tagged , , , | 23 Kommentaar

‘n Kaartspel met vreemde mense

In die tye wat ek lui is om te skryf trek ek so nou en dan ‘n skryfsel uit wat op ander forum verskyn het.

Die spietkops raak ook deesdae al meer soos dominees.  Werk ook nou op Sondae en op die ou end kos al twee jou geld.  Goed, toegegee al twee beroepe is seker maar edel op ’n manier en probeer jou op die regte pad hou, maar dan moet hulle nie jou spoed breek nie.

So breek die twee jafels in bruin dan ook my spoed Saterdagmiddag toe ek terugkom van die stad na ’n blits-aankope-besoek.  Ek ken die twee se gesigte nie, hulle is seker maar nuut aangestel, anders sou hulle dit nooit gewaag het nie.  Die geluk is aan my kant, want dit is net voor die brug waar ek moet afdraai Edenburg toe, dus is my voet reeds van die petrolpedaal af.  Die Isuzu en die sleepwa is ook lekker gelaai en ek kon dus nie jaag nie.  Só wys die een jafel my op sy fancy masjien dat ek slegs op 170km/h was toe hulle my afgetrek het.

 

Spietkop: “Meneer ons sal jou ongelukkig moet arresteer, jy het bo 160km/h gery, ons mag nie net skryf nie.”

“Maar julle kan my mos nie net sommer so arresteer nie!” roep ek verontwaardig.

“Meneer, ons moet ongelukkig, die wet sê so!” sê die spietkop beleefd.

Ek: “Maar julle kan nie!”

Spietkop: “Hoekom nie?”

Ek: “Julle is net twee.”

***

Die aand sit ek en Sersant Meyburgh en kaart speel in die polisieselle.  ‘Sy Lordship’ by die magistraatskantore werk nie oor naweke nie, maar gelukkig kon Mamma reeds die laatmiddag vir my polisieborg reël, maar toe was ek en die sersant reeds aan’t speel.  Vir die eerste keer in jare, na die ding met die loskruitpatrone en my skoonma, praat ek en Sersant Meyburgh weer met mekaar.  Later is ‘sy Lordship’ ook daar.  Hy het gehoor van my arrestasie en het kom kyk hoe dit gaan.  Ons nooi hom om saam te speel, maar hy sê hy moet darem net eers ietsie gaan haal.  Mens kan nie so droëbek sit en kaart speel nie.

Later is die twee spietkops ook daar.  Hulle het nooit geweet dis my kêffie wat nou so gesluit staan nie.  Die gemeenskap het gekla, maar hulle is seker hulle masjien kon dalk ’n fout gemaak het.  Met al die potholes in die paaie hou die kalibrasie van hulle goed nooit lank nie.  As dit reg is met ‘sy Lordship’ sal hulle die klag terugtrek.

‘Sy Lordship’ nooi hulle om saam te speel.  Toe ek later my Royal Flash voor hulle gooi dink ek by myself:

“Soms is dit die stront in die lewe wat vreemde mense bymekaarbring.”

Posted in Uncategorized | Tagged , , , | 15 Kommentaar