Afstyg

Daar is twee dinge in die lewe wat my verskriklik opgewonde maak.  Ek vermoed, seker maar met enige man so.  Kaal vrouens en vliegtuie.  En as daar vliegtuie in die omgewing is, kom vrouens in ’n baie slegte tweede plek.  By laas jaar se lugskou by Tempe-lughawe kon daar vyftig kaal vrouens voor my verbygeloop het en ek sou nie daarvan geweet het nie.  Toe daai Rooikat aanvalshelikopter sy masjiene start en die klank van brute perdekrag die lug vul, is my broek onmiddellik twee nommers te klein.  Toe die “Cheetah” Mirage III teen meer as die spoed van klank oor ons koppe deur die lug sny, wil ek uit my nate bars en lyk soos daai ou in Basic Instinct net voor Sharon Stone hom doodgesteek het.

Dit is natuurlik elke man se grootste fantasie (naas die begeerte om ’n gesinnetjie soos Zuma te hê) om in ’n vliegtuig se kajuit te klim en sommer self die stokke te gryp om daai vliegmasjien te dryf.  Om soos ’n wafferse James Bond summersaults bokant die Pentagon te maak met veertig Russiese vegvliegtuie op jou hakke.  Deesdae is die beskerming van die parlement en Unie-geboue in Suid-Afrika van minder sentimentele belang.

So ’n jaar of vyf gelede skaf ek toe ’n vliegtuigspeletjie vir die rekenaar aan.  Flightsim X.  Volgens die vervaardigers is dit die naaste wat ’n mens kan kom aan regtig vlieg, maar sonder die kots.  Dit is ’n bul van ’n program en op my ou rekenaar het die ding maar redelik gehakkel en die vliegtuie was rukkerig.

Met die aanskaf van ’n nuwe rekenaar waarmee ek hoë definisie video redigeer, lyk die speletjie aansienlik beter.  Flightsim-entoesiaste wil natuurlik die horries kry as mens praat van ’n “speletjie”.  Nee!  Dit is nie ’n speletjie nie, dit is ’n simulator!  Geskryf deur regte loodse, vliegtuigtegnici en aggressiewe Moslems.  Die verskeidenheid vliegtuie en helikopters is geprogrammeer om te hanteer en te reageer soos hul boeties in die werklike lewe.  Gee te veel vet op die verkeerde tyd met jou Boeing 747 en jy en 300 fiktiewe passasiers is in hul moer!

Die wêreld in die “speletjie” is ook regtig.  ’n Mens kan selfs meer detail van die internet aflaai.  So het my program nou al elke Suid-Afrikaanse pad (teer en grond, maar sonder potholes), rivier, berg, lughawe, dorp en die Kaapstad toiletprojek.  Alles is in detail korrek, selfs die lengte en rigting van die aanloopbane. ’n Mens kan nie met die vliegtuie skiet nie, want hulle het ongelukkig nie missiele en sulke goed nie.  Maar daar is niks lekkerder as om met ’n volgelaaide Airbus in jou skoonma se huis vas te vlieg nie.

So stap my driejarige Kleintwak in die kantoor, terwyl ek besig is om te speel vlieg.  Hy is dadelik 100% gefokus en die ogies blink van opgewondenheid.  Die speletjie simulator is die beste en mooiste ding wat hy nog in sy lewe gesien het.  Op driejarige ouderdom is ’n kaal vrou in elk geval niks werd nie.  Na hy my vir ’n hele paar minute dopgehou het en homself deeglik van Burgerlugvaart se reëls vergewis het, is Kleintwak gereed om self die stokke te vat.  Hy wil ook vlieg.

Stewig op sy pa se skoot, moet Kleintwak eers ’n geskikte vliegtuig kies.  Hy soek ’n groene.  Die enigste vliegtuig beskikbaar in die kleur, is ’n grasgroen mikroligte “AirCreation Trike”.  Kleintwak wil weet of dit ’n motorfietsvliegtuig is en hoekom die ding met ’n sambreel moet vlieg.  Ek begin verduidelik en stop halfpad.  Ek wonder nou self en toegegee is Kleintwak se beskrywing van ’n motorfiets met ’n sambreel redelik akkuraat.

Kleintwak besluit om liewer vir sy tweede beste keuse, ’n rooi vliegtuig, te skik.  Die naaste aan sy gunsteling rooi is ’n “de Haviland Beaver” wat op water kan ry.  Dit is ’n heerlike “bootvliegtuig” en Kleintwak verseg om op te styg.  Hy hou meer daarvan om om tussen (en deur) die ander onskuldige bote op die Vaaldam te jaag.  Na omtrent ’n halfuur se bootvaart is Kleintwak gereed vir sy eerste kommersiële vlug.  Hy kies ’n wit “Learjet”, daardie mooi vliegtuie waarmee die sakemanne rondkerjakker.   Die “wit” is seker maar om sy reinheid in die lugruim ten toon te stel.

Die vliegtuig is groot genoeg om ’n paar mense op te laai.  Ons moet by Kaapstad se lughawe begin, sodat hy sy Tannie Marietjie kan oplaai.  Sy kom immers altyd vir hom kuier in haar skreeulelike oranje Mango vliegtuig.  Dit is nou sy beurt om háár te kom haal in sý vliegtuig.  Ek moet die vliegtuig se deure oopmaak en Tannie Marietjie klim in.  Die boeties en sussies moet ook saam.  Jaco, Comien en Elize bestyg ook Kleintwak se Learjet.  Ouma gaan ook saam en sy moet voor langs hom sit.  Sy is die “co-pilot”.  Tannie Lassie en haar kroos volg op haar hakke.  Kleintwak voel tóg sy Tannie Talla en haar gesin moet ook inklim.  Hoe sy so vinnig van Potgietersrus in die Kaap gekom het, is haar probleem.  Die Learjet is nou stampvol met mense, maar Oom Coenie van die kerk moet ook saam.  Die vliegtuig begin soos ’n taxi na Pietersburg lyk as ons buurtannies, Tannie Naomi en Tannie Zuna ook inklim.  Hulle gee hom immers altyd melk en koekies.  Hulle gades mag ook saamkom.

“En Pappa en Mamma?  Mag ons ook maar saamvlieg?” vra ek net voor ek die vliegtuig se deur toemaak.

Meer uit plig as liefde stem Kleintwak halfhartig in.  Ek en Mamma mag ook maar saamvlieg.  Uiteindelik is die vliegtuig se deure toe en die wat moet binne is binne.  Nee, ek moet weer oopmaak.  Ore, sy basterbrak, moet ook saam.  Hy moet voor saam met Kleintwak en Ouma ry.  Voor ons enigiets verder doen, moet daar eers vir “Niewe Jiesis” gebid word.  Kleintwak sê ’n mooi tafelgebed op en ons is gereed.

Ek wil nog vir Kleintwak beduie van radioprosedures, vlugplanne en voorritinspeksies, maar Kleintwak het sy pa goed dopgehou as hy die vliegtuie start.  Die Learjet se enjins brul reeds in volle glorie.  Hy is haastig, hy wil nou opstyg.  Vlugplanne en inspeksies is totaal oorbodig.  Aanloopbane ook.  Met ’n dolle vaart trek hy uit sy parkeerterrein weg en jaag reguit op die beheertoring af.  Hulle sê rekenaars het nie emosie nie, maar daai tannie in die toring skree uit volle bors dat Kleintwak nie toestemming het om te doen wat hy doen nie.  Ons mis die beheertoring rakelings en ’n sipresboom se takke sit aan die wiele vas as ons met fluitende alarms opstyg.

In die lug gaan dit effens beter.  Ek het die radio’s afgesit en die mense skree nie meer op ons nie.  Behalwe die motorfietsvliegtuig wat ons heel uit sy sambreel vlieg is daar nie ander insidente, behalwe die 747 wat liewer terugdraai Amerika toe nie.  Dan begin Twakkies met die knoppies speel.  Met ’n paar interessante verstellings op die flappe en “auto pilot” voer die Learjet fratse uit wat ’n F18 vegvliegtuig na ’n ossewa laat lyk.  Ek vermoed sommige van ons passasiers is reeds aan natuurlike oorsake dood en daar behoort kots teen die vliegtuig se dak te wees.

Dan is Twakkies moeg gevlieg.  Hy wil nou “afstyg”.  Ek wil eers verduidelik dat “land” ’n beter woordkeuse is, maar die kind se logika maak vir my sin.  “Afstyg” is tog immers die teenoorgestelde van “opstyg”.

Behalwe die stok wat aggressief vorentoe gedruk word, is daar geen ander “afstygprosedures” nie.  Aanloopbane is weereens oorbodig.  Kleintwak is haastig om te land en ons pyl met ’n dolle vaart op die Kaapse Waterfront af.  Daar is darem genoeg tyd om die wiele te laat uitkom en ’n stuk van die sipresboom val op die kabelkar se dak.

Met ’n oorverdowende lawaai vlieg ons teen die grond vas en dit is net stof, klippe, rook en enjinparte.  Iewers in die vliegtuig (en sy talle passasiers – may they rest in peace) se finale oomblikke het Kleintwak weer die radio’s aangeskakel.

’n Kwaai oom praat met ons: “Learjet Alfa Juliet seven zero zero, you do not have permission to land!”

Nonchalant en met ’n giggellaggie antwoord Kleintwak die oom: “Ons kyk net die grond!”

This entry was posted in Uncategorized and tagged , , , , . Bookmark the permalink.

32 Responses to Afstyg

  1. demoerin sê:

    Uitstekend! Soos gewoonlik. Jy het maar net ‘n manier van met woorde speel wat my lekker kan laat lag.

  2. marius sê:

    nou is my komment “gone with the wind” – ek try weer – hoekom is jy so stil ? – ek mis jou staaltjies

    • Jan Twak sê:

      Alhoewel ek meeste van die tyd deur die wind is, is jou comment darem nie gone with the wind nie. Ek sien hy is nog hieronder ook. Hier in die polisieselle gee hulle maar min internet toegang, dit is hoekom ek so stil is.

  3. marius sê:

    hoekom is jy so stil – ek loer maar sien niks nuut nie – ek mis jou staaltjies

  4. Reinhardt sê:

    Kosbare tye Jan. Eendag as Kleintwak eendag groot is sal hy hierdie dae onthou!

  5. Berwick sê:

    Haha, dis great!

  6. renier sê:

    nejties

  7. Son sê:

    Hoe lekker lag ek nou! Dalk word Kleintwak nog eendag ‘n rtegtige loods😯

  8. Rustig sê:

    As ek na so paar Afrika lugrederye kyk dink ek hy het hom goed van sy taak gekwyt. Die Waterfront is goeie “afstyg” plek. Daar is baie winkels en drink plekker om die senuwees te kalmeer vir die terugtog.

  9. Any landing you can walk away from is a good landing! Mag daar nog baie avonture saam wees tussen Pa en seun!

  10. ButterNut sê:

    Hoop julle het nog miljuisende “vliege” en oorlewende passasiers!

Gesels gerus saam

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s