So moet ‘n toilet mos spoel!

“Só moet ‘n toilet mos spoel,” dink ek behaaglik, terwyl ek verder oorleun om beter te kan sien.  Daar is skielik stilte onder die groepies toeriste naaste aan ons.  Hulle kyk my vraend aan en iewers giggel ‘n tannie.  Mamma gluur my kwaai aan en ek besef, soos male sonder tal, dat ek weereens my ‘gedagtes’ hardop uitgespreek het.  Die fronsende gesigte vra om verdere inligting,  dus verduidelik ek maar die strekking van my gedagtegang aan die nuuskierige vreemdes:

In die mens se strewe na vooruitgang sit hy heel dikwels die pot mis.  Letterlik.  Soos met hedendaagse toilette.  Hoe die ingenieurs ooit gedink het dat die dun straaltjie water wat die goed uitspoeg enigiets meer as ‘n nat tissue sou kon wegspoel, weet net hulle alleen.  Wat nog te sê van ‘n goeie opelyf?  Dit is soos om ‘n drol stroomop teen die Oranjerivier met ‘n watergeweertjie te probeer spuit.  ‘n Mens vorder net nie.  Vier, vyf keer moet mens die knoppie druk (ja die goed het mos deesdae knoppies, nie levers nie).  En dit is vir minder ernstige gevalle!  En na elke druk moet mens eers ‘n paar minute wag vir ‘n trietserige straaltjie water om weer die bak vol te pis.  Ek oorweeg nou al om ‘n ekstra stoel langs die gerief (lees ongerief) te sit, sodat ek maar rustig verder kan boek lees, terwyl ek wag.  Waar is die dae toe toilette nog levers gehad het en jy ‘n myl ver kon hoor as iemand klaar geablusie het?  Dit het mos geklink soos die Verwoerddam se sluise wat oopgemaak word.  Lekker man!  Net een spoel nodig vir die hardnekkigste moeilikheid.

“Só moet ‘n toilet mos spoel!” sê ek weer hardop, terwyl ek oor die dam se rand beduie.  Die groepie mense knik almal instemmend.  Hulle verstaan nou my gedagtegang.  ‘n Ou omie met ‘n hoed op sê agter my aan:

“Só moet ‘n toilet mos spoel!”

Mamma sleep my aan die hand daar weg.  Ek het nou genoeg klas gegee, sy is bang ek praat oor nog goeters.  Ek sug maar gedwee en stap saam.  Ek sou graag nog so ‘n bietjie wou gesels het, dit lyk na lekker groepie mense.  So in die verbygaan kry ek darem nog ‘n laaste woord in, terwyl Mamma nou naarstigtelik aan my arm trek om my weg te sleep:

“So verander alle dinge dinge maar met die tyd.  Verwoerddam is nie meer Verwoerddam nie en toilette is ook nie meer toilette nie.  Maar ‘n drol bly nog altyd ‘n drol!”

“Ja, ‘n drol, bly maar ‘n drol,” hoor ek die omie met die hoed in die verte sê, terwyl ons weer almal in die Isuzu klim.  Mamma sê ons moet vinnig maak, sy wil nog heelwat van die dam sien voor die Sondagmiddag ons tot halt gaan roep.

Wie of wat Gariep was weet ek nie.  Maar om belangriker voor te kom sien ek hulle spel die woord deesdae met ‘n uitroepteken vooraan.  Dit is ook nie meer ‘n dam nie, maar ‘n “lake”.  “Lake !Gariep,” sê al die bordjies op ons roete.  Op die Venterstadpad oppad na Oviston sien ek die dam soos nog nooit te vore nie en ek wil hardop uitroep: “!Verwoerd”

Mooi bly mooi en massief bly massief.  Ek lees raak dat die Vaaldam oorstroom én 5 sluise oop het.  Dit is ‘n stroom water van sowat 600 kubieke meter/sekonde.  Die !Gariepdam, het op hierdie stadium géén sluise oop nie, maar die water wat oor sy rand stroom is 1200 kubieke meter/sekonde.  Dubbeld die Vaaldam sónder sluise!  Sommige dinge doen die Vrystaters maar net beter as die Transvalers.  G’n wonder ons sit met die land se grootste twee damme in ons provinsie nie.

By Oviston het mens iets meer as ‘n Isuzu nodig om verder te ry.

Ons draai om en vat die pad Bethulie toe.  Waar die damwal die mees westelike punt van die dam is, is dorpie Bethulie aan die !Gariepdam se mees oostelike punt, omtrent 50km van die wal af soos die kraai vlieg.  Soos ons om die dam gery het is die twee ongeveer 80km uitmekaar.

Net voor Bethulie kry ‘n mens hierdie brug:

Ek sê vir Mamma dat hierdie brug een van die langste is wat ek nog in Suid-Afrika gesien het.  Mamma sê sy weet nie.  Die Transvalers bou darem groot goeters en in die Kaap is daar lang klowe waaroor daar al paaie gebou is.

Ons ry tot bo-op die brug.  Die seuntjie voor is Klein Twak en agter Jaco, maar ek ken nie die vrou met die windverwaaide hare nie.  Eintlik lyk sy nogal verruklik né?  Ongelukkig was die kinders nou saam anders het ons net daar lid geword van die “brug-klub”🙂

In Bethulie stop ons by die oulikste koffiewinkel genaamd “Ou Vellies”.  Op die stoepie staan ‘n man met ‘n wille bos hare en ‘n wilder baard.  Dit is óf Johan Bakkes, óf een van Led Zeppelin se kitaarspelers, óf dalk die ou wat Jopie Adam gespeel het saam met daai bruin beer.  Ek stap nader om ‘n handtekening te kry, ek hou immers van enige van die drie moontlikhede.  Toe ek by die ou kom, sien ek hy dra ‘n badge met die naam Peter wat sê die koffiewinkel is syne.  Hy heet ons hartlik welkom.

Ek bestel koffie.  Die man kyk my aan soos die ou destyds in Duitsland toe ek vir salami en kaas gevra het.  Jy moet spesifiseer daar is baie keuses.  Hy wys my:

Daar is ook ‘n historiese kamertjie met klomp inligting oor die distrik en sy geskiedenis.  Daar is ook ‘n biblioteek waar mens ou boeke kan koop.  Trommels vol.  Ek wys vir die vrou met die windverwaaide hare die pamflet en my Vrystaatbors swel.  Die brug waaroor ons gery het is die Hennie Steyn Brug.  Op 1152m is dit amptelik die langste brug in Suid-Afrika!

Ons kry ons sit op die stoepie.  Op die spyskaart is ‘n verskeidenheid muffins, pasteie en selfs bokwurst.  Ek bestel vlakvarkpastei (regtig) en Mamma gaan vir die hoenderpastei.  En dis lékker pasteie.  Nie daardie gesondheidsgoeters met die klomp vrugte en groente in nie.  Néé!  Suiwer vleis met so ‘n dun lagie deeg om.  Geen Rennies is nodig nie!

So baie keer stop ons by die groot Amerikaanse kettings om ons hongers te stil.  Maar met hierdie blog doen ek ‘n pleidooi-advertensie.  STOP by die klein privaatplekkies op die platteland.  Soos “Ou Vellies Koffi Inn” by Bethulie.  Hulle bied jou iets wat meer as net ‘n honger stil.

Saam met die hazelnut-koffie en koeksisters vir nagereg is ons reg vir die pad terug Edenburg toe.  Ek vermoed ek gaan later verskeie kere ‘n knoppie moet druk.

Dit is laat skemer en Edenburg begroet ons met sy sonskyn:

Ons stop by ons eie dorpsdam en ek dink: “Ten spyte van my toilet, bly ek nogal nie op ‘n kak plek nie.  !Vrystaat.”

This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

31 Responses to So moet ‘n toilet mos spoel!

  1. Nena sê:

    Oud president Nelson Mandela skryf van die Vrystaat in “Long walk to Freedom” : “The Free State landscape gladdens my heart, no matter what my mood. When I am here I feel that nothing can shut me in, that my thoughts can roam as far as the horizons.” Dit pas nogal y jou fotos. Ekt vir ‘n oomblik vergeet waar ek dit gelees het maar gisterand onthou!

  2. rianabrand sê:

    Geweldige blog!

  3. Karin sê:

    More Jan,
    Dankie vir die vroegoggend giggel … en die deel van jou trippie.

    ps … hoe kan ek jou blog ‘volg’?

  4. Bella sê:

    Jan Twak… Ek het een van daai goeie ou toilette (daai wat alles die eerste slag wegspoel). Ons het baie verander in en om die huis, maar die toilet het gebly.

  5. Bella sê:

    Sjoe dit is onbeskryflik mooi. Thx dat jy dit met ons deel.

  6. Pingback: Mooi | Om die Kombuistafel

  7. Dit was nou lekker om so saam met jou te reis Janna. Pragtige foto’s jongie! Nou kan ek weer lekker kuier.🙂
    Lekker naweek hoor!

  8. toortsie sê:

    !geniet die naweek

  9. Charms sê:

    Dankie vir die trippie Jan. Dis darem maar so mooi in jou wêreld. Ek word self ook bekoor deur klein koffiewinkels ens. by die kleiner dorpies. Daar is nog mense wat jou sien as mens en nie ‘n nommer nie en dit is soveel meer gesellig as wat jy ‘n stuk skoensool op ‘n ‘bun’ kry om te eet en af te sluk met gekleurde water met ys.

  10. Ian sê:

    EK het vir ‘n goeie ruk in die week in Colesberg gewerk, so het weekliks Bloem toe gevlieg en afgery Colesberg toe. Ek moes nogal glimlag toe ek op die Gariep Colesberg pad, oor Norvals pont, sien dat daar nog ‘n roetewyser is wat die pad na “Verwoerd dam” aandui…

    Was al deur Edenburg ook, maar het nie geweet watter van die twee Keffies is joune nie? (Ek weet die dorp is nie so groot nie, so ek kon seker by altwee gestop het)

    • Jan Twak sê:

      Hehe, nee hier is 23 keffies waarvan ek weet. Maar jy kan maar net vir Jan Nel vra by enigiemand, hulle behoort jou in die regte rigting te beduie,

  11. Nena sê:

    Jou fotos is pragtig Jan! Van hulle lyk skildery mooi. Ek se hoor-hoor vir die plattelandse kuierplekkies.

  12. Jan Twak sê:

    Ek sal onthou as ons weer Calvinia se rigting toe draai!

  13. twattie sê:

    Ek moet heelhartig saam met jou stem – dis die klein plekkies wat die juwele is! Die eienaar van “Turksvy Padstal” op Victoria Wes het sonder om twee maal te dink, akkommodasie sonder vergoeding aangebied en ek belowe jou, daardie pasteie is net so verruklik!

  14. Celia Neveling sê:

    Baie mooi fotos!!!!!!!!!

  15. demoerin sê:

    Ek wens ek was ook daar. Daar is iets aan sulke miljoene liters water wat my betower.

  16. Marile Cloete sê:

    Dankie vir hierdie trippie!

  17. oosvrystater sê:

    Lekker man, lekker!! Suid of oos, Vrystaat bly lekkkkerrrr!!!!

  18. PlaasJuppie sê:

    Lyk of dit ‘n lekker trippie was.

  19. toortsie sê:

    So dis waar jy was??? !Verruklik

  20. MaanKind sê:

    Lekker! MaanMan dreig my heeltyd met Oviston om oor te slaap as ons gaan ry.

Gesels gerus saam

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s