MISVERSTAND

Ek is mos nie ‘n oggendmens nie.  Eintlik half hopeloos om die waarheid te vertel.  As ek nou op ‘n plaas gebly het en die terries wou my aanval, sou die beste tyd tien teen een tussen sewe en nege in die oggend gewees het.  Die beste (waarskynlik die enigste) ding waaraan ek daardie tyd kan dink, is hoe om my blaas suksesvol te ledig.  Oukei, in die geval van terries kan dit miskien handig te pas kom, maar dan moet hulle nie meer as vyf wees nie.  ‘n Man se blaas is ook net só groot en nie groter nie.

Die probleem kom wanneer iemand vroegoggend met my wil reëlings vir die dag maak.  Veral in daai tyd tussen wakkerword en my sesde sigaret en koffie.  Woorde kom en gaan en min van hulle land in werkende breinselle.  Dié wat wel land, sorteer hulle uit in die heel gemaklikste volgorde, met hul eie punktuasie, sodat die kernboodskap miskien nie heeltemal is wat die spreker bedoel het nie.

Ek is besig om die toilet te spoel net voor my eerste oggendpiepie, terwyl Mamma die boodskap gee.  Sedert die ongelukkige voorval met die paraffien-heater spoel ek altyd eers vóór ek piepie.  As die kontrêpsie kan spoel, dan weet ek dit is ‘n toilet waarvoor ek staan.

Mamma praat:  “Vanaand……… Ek…… gaan…… kinders…..my Sussie ……..aflaai …….. en ……….. Kleintwak by Ouma………. wil ……….laat werk.  Dan……… ons ook vir ‘n slag……. rustig…….vrede……. kafoefel…….sonder kinders in die huis.”

Ek: “Ja skat.”

Mamma: “Het jy nou gehoor wat ek gesê het?”  Die toon van haar stem het nogal die vermoë om die vaakgeit weg te kry.

Ek: “Natuurlik Mamma!”

Mamma: “Nou wat het ek gesê?”

En dit is nou net hier waar dinge uiters gevaarlik begin raak.  My brein werk oortyd om haar eerste boodskap te verwerk en in die regte volgorde te kry:

“Wel uh, jy het gesê ek moet vanaand die kinders by Ouma gaan aflaai en jou sussie gaan spyker, sodat jy vir ‘n slag rustig laat kan werk sonder my en die kinders.”

Dit is merkwaardig hoe sommige dae aansienlik swakker as ander begin.

This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

10 Responses to MISVERSTAND

  1. eric sê:

    Is daai oog nog blou ?

  2. Joh sê:

    LMGA

    Skoonsus kry amper die verrassing van haar lewe.

  3. ekisanna sê:

    Oeps en Eina! Wonder net hoe die aand afgeloop het na so ‘n slegte begin in die oggend.

  4. demoerin sê:

    Bwahahaha – dit is baie snaaks. Ek is ‘n oggendmens – no problems.

  5. Son sê:

    Bwahahaha! Ek HAAT oggende. Ek lyk glo soos Chucky in die oggend – nie so lelik nie, glo net so kwaai. Dus, niemand waag eers om met my te praat nie😈

Gesels gerus saam

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s