‘n Kaartspel met vreemde mense

In die tye wat ek lui is om te skryf trek ek so nou en dan ‘n skryfsel uit wat op ander forum verskyn het.

Die spietkops raak ook deesdae al meer soos dominees.  Werk ook nou op Sondae en op die ou end kos al twee jou geld.  Goed, toegegee al twee beroepe is seker maar edel op ’n manier en probeer jou op die regte pad hou, maar dan moet hulle nie jou spoed breek nie.

So breek die twee jafels in bruin dan ook my spoed Saterdagmiddag toe ek terugkom van die stad na ’n blits-aankope-besoek.  Ek ken die twee se gesigte nie, hulle is seker maar nuut aangestel, anders sou hulle dit nooit gewaag het nie.  Die geluk is aan my kant, want dit is net voor die brug waar ek moet afdraai Edenburg toe, dus is my voet reeds van die petrolpedaal af.  Die Isuzu en die sleepwa is ook lekker gelaai en ek kon dus nie jaag nie.  Só wys die een jafel my op sy fancy masjien dat ek slegs op 170km/h was toe hulle my afgetrek het.

 

Spietkop: “Meneer ons sal jou ongelukkig moet arresteer, jy het bo 160km/h gery, ons mag nie net skryf nie.”

“Maar julle kan my mos nie net sommer so arresteer nie!” roep ek verontwaardig.

“Meneer, ons moet ongelukkig, die wet sê so!” sê die spietkop beleefd.

Ek: “Maar julle kan nie!”

Spietkop: “Hoekom nie?”

Ek: “Julle is net twee.”

***

Die aand sit ek en Sersant Meyburgh en kaart speel in die polisieselle.  ‘Sy Lordship’ by die magistraatskantore werk nie oor naweke nie, maar gelukkig kon Mamma reeds die laatmiddag vir my polisieborg reël, maar toe was ek en die sersant reeds aan’t speel.  Vir die eerste keer in jare, na die ding met die loskruitpatrone en my skoonma, praat ek en Sersant Meyburgh weer met mekaar.  Later is ‘sy Lordship’ ook daar.  Hy het gehoor van my arrestasie en het kom kyk hoe dit gaan.  Ons nooi hom om saam te speel, maar hy sê hy moet darem net eers ietsie gaan haal.  Mens kan nie so droëbek sit en kaart speel nie.

Later is die twee spietkops ook daar.  Hulle het nooit geweet dis my kêffie wat nou so gesluit staan nie.  Die gemeenskap het gekla, maar hulle is seker hulle masjien kon dalk ’n fout gemaak het.  Met al die potholes in die paaie hou die kalibrasie van hulle goed nooit lank nie.  As dit reg is met ‘sy Lordship’ sal hulle die klag terugtrek.

‘Sy Lordship’ nooi hulle om saam te speel.  Toe ek later my Royal Flash voor hulle gooi dink ek by myself:

“Soms is dit die stront in die lewe wat vreemde mense bymekaarbring.”

This entry was posted in Uncategorized and tagged , , , . Bookmark the permalink.

15 Responses to ‘n Kaartspel met vreemde mense

  1. Flenters sê:

    Goeie Burger, jy.

  2. Toortsie sê:

    Ou storie of nie, dis n lekker een.🙂

  3. brieweuitdievreemde sê:

    🙂 Ja, truth is stranger than fiction. Elke dag.
    Stem saam met Louwie hierbo – like jou stories!

  4. Louwie sê:

    Ek dink dis tyd dat ek leer kaart speel😀
    Like jou stories. Is vrek snaaks.

    • Jan Twak sê:

      Ek weet nie wat ek verkeerd doen nie. Ek probeer altyd met my stories ‘n stemmige, ersntige, spannende en gereformeerde gewyde atmosfeer skep en dan lag mense daarvoor. 😉

  5. Reinhardt sê:

    Uitstekend!!🙂

    • Jan Twak sê:

      Dit is nou wragtig law of attraction en ek lieg eerlikwaar nie! Ek het sopas op jou link gekliek om te sien wat van jou geword het, toe pop jou comment op! Hoe gaan dit down under – jy is baie skaars (eintlik ek ook) maar ek sien jy het darem iets in Sept weer geskryf, sal nou gaan lees!

  6. Vega sê:

    Het iemand al vir jou gesê jy’s flippen snaaks?

Gesels gerus saam

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s