Blinkjan en ‘n geskikte stoot

Mamma kla altyd dat ek haar as hierdie agressiewe pantoffelregering kwaai vrou in my stories uitmaak.  Ek sê vir haar sy moet ontspan en die koekroller gaan bêre.  Ek sal weer ‘n mooi storie oor haar opdiep en vertel.  Behalwe vir die name en ‘n paar klein detail, is hierdie ‘n ware verhaal:

BLINKJAN EN ‘N GESKIKTE STOOT

Mamma is weer moerig die oggend.  Die bank wil op ‘n klomp van een van haar kliënte se goedere beslag lê.  As prokureur is dit haar plig om te keer.  Dit is implemente en voertuie wat Oom Otto van Zyl broodnodig  voor oestyd het om sy sukkel-boerderytjie te laat slaag.  En die bank bring altyd hulle blink advokate van die stad.  Die ‘groot’ menere met hulle goue Rolex horlosies en Pierre Cardin pakke onder hulle sy-togas.  Hulle dra krokodilvelskoene saam met bypassende aktetasse.  Dié blink manne stop gewoonlik voor die hof met sportsvoertuie platter as Minora lemmetjies.  Aan hul sy is hul blond-poppie-sekretaresses met ‘n IK net-net meer as die kar se ratte.  As hulle uit die kar klim lyk dit soos Clint Eastwood wat net voor ‘n tweegeveg van sy perd afklim.  Dan besigtig hulle die plattelandse hoffie uit die hoogte.  Stadig en heen-en-weer kyk hulle, voordat hulle die Ray-Ban sonbrille afhaal.

Mamma is besig om aan te trek.  Vandag is die groot stryd om die boer se oorlewing.  Nou gaan sy dan nie stort of hare was nie? – wil ek weet.  Haar hare lyk half oes en hang in toutjies teen haar slape af.

“Nee.”

Mamma kan “nee” op ‘n manier te sê, dat ‘n man dadelik ophou vrae vra.  Ek kyk belangstellend hoe sy een van haar oudste hofpakkies aantrek.  Die uitrusting lyk gehawend en stowwerig, maar is darem donker genoeg vir die hof se standaarde.  Toe sy haar stokou varsity toga uit die trommel aantrek, lyk sy soos Batman wat van ‘n dak afgeval het.  Toe sy die Jéép se sleutels vra, besef ek sy gaan ook nie make-up aansit nie.  Die gehawende Jeep behoort aan my suster.  Sy is ‘n toergids en sy stoor die rammelkas op ons werf, as sy vir drie maande op ‘n slag, in Afrika opfoeter.  Ek onthou iets van dat sy my nog gevra het om die erg raserige uitlaatstelsel te laat vervang voor sy weer kom kuier.

So daag Mamma met die brullende Jeep by die hof op.  Sy stop tussen die bank se Range Rover en die advokaat se silwer 6-reeks BMW.  Sy vat nie ‘n aktetas en boeke nie.  Net ‘n verslonste skryfblok en Bic Click pen, wat aan die bokant gekou is.  Sy gaan stel haarself voor aan die manne op die hof se stoep.  Sy is die verdediging se regspan.  Oom Otto is ook daar en die man lyk erg bekommerd oor sy keuse van verteenwoordiging.  Hy klap-klap so bietjie van die stof op Mamma se toga af om sy saak beter te laat lyk.

Die advokaat se relaas is kort.  Hy verwag nie veel repliek van die klein vroumensie hier skuins voor hom nie.  Sy is besig om stokmannetjies op die skryfblok te teken terwyl hy praat.  Hy gaan homself nie eens verwerdig om sy aktetas oop te maak nie.  Hy stel die bank se saak sommer so uit die vuis.  Hulle soek hulle se goed terug.  Die boer betaal nie gereeld en op tyd nie.

Mamma vra ‘n vyf minute verdaging toe Blinkjan klaar gerelaas is.  Sy wil net gou met Oom Otto konsulteer.  Oom Otto en sy regspan stap presies vyf minute later weer die hof in.  Mamma dra ‘n groot aktetas en Oom Otto sleep-dra ‘n massiewe boks met dokumente en boeke.  Blinkjan en sy kliënt se oë is groot terwyl Mamma die boeke een vir een uitpak.  Blinkjan wil iets protesterend sê, maar sy Lordship maak hom stil.  Hy het klaar sy beurt gehad.  Dis nou Mamma se beurt.

Mamma sê die bank en hul geleerde afvaardiging het nie die korrekte kennisgewings op Oom Otto beteken volgens die Kredietwet nie.  Blinkjan is dadelik op sy voete, hy maak beswaar.  Mamma sê hy moenie worrie nie, sy het vir hom ‘n kopie van die wet saamgebring.  Dis nou as hy dalk daardeur wil lees om homself op datum te bring.

Mamma sê die hofreëls met hul aansoek is ook nie nagekom nie.  Blinkjan spring weer op en Mamma troos hom deur haar boek met die hofreëls voor die man te plak.  Vir sy gerief is die toepaslike reëls in die boek onderstreep.  Sy soek net haar boek terug as hy klaar is.  Sy gebruik hom baie.  Blinkjan lees.  Terwyl hy lees sê Mamma dat sy sommer lus is om die bank van verkragting aan te kla.

“Verkragting?” vra Blinkjan en hy stotter.

“Ja,” sê Mamma en sy verduidelik dat hulle ook omtrent elke geskrewe reël in die nuwe Verbruikerswet verkrag en vir dood agter gelos het.

Blinkjan staan stadig op.  Sy gesig is rooi en sy woorde is ontneem van hul selfversekerdheid.  Hy vra sy Lordship om uitstel, koste aangebied.  Hy is ook seker hulle kan die sakie op ‘n beskaafde manier buite die hof skik.  Sy Lordship knipoog vir Mamma terwyl hy die saak uitstel.  Hy ken haar goed.

Nuwe afbetalingsreëlings vir Oom Otto, word sommer daar op die hof se stoepie geteken.  Mamma sal dit later vir sy Lordship neem om ‘n bevel daarvan te maak.  Maar eers moet Blinkjan en sy maatjie haar help om die Jeep te start.  Hulle moet stoot.  Dit is deel van die skikking.

Posted in Uncategorized | Tagged , , , , , , , | 25 Kommentaar

Fyn onderklere vir ‘n bekering

 

Stiena Visagie was een van daai mense wat ‘n gewyde betekenis aan die woord gereformeerd gegee het.  ‘n Stigtelike en behoorlike mens.  Haar gedrag en kleredrag was altyd onberispelik en die meeste wat die mans in die distrik van haar lyf te sien gekry het, was miskien ‘n glimpsie van ‘n enkel in ‘n onstigtelike oomblik as sy trappe geklim het.  Laag op laag klere het die vrou gedra.  Sou daar dalk ‘n laag wegglip met ‘n vorentoe buk, is daar drie ander in die pad ter ontmoediging van die nuuskieriges.  Ten spyte van die kleredrag was Stiena nogal nie ‘n onaansienlike mens nie.  Mooi gesiggie en als, die enkels wat mens so soms gesien het, ook nie te onaardig nie.  Maar op vyf en veertig, het haar gewyde sienings haar die titel van ‘oujongnooi’ verseker.

Maar die duiwel skuil oral, selfs in ‘n nagmaalkandelaar.  Daardie Sondag ontbloot hy homself en vaar die hele gemeente in.

Of dit die duiwel self of Oom Falie van Rensburg was, wat die onstigtelikheid veroorsaak het, weet niemand tot vandag nie.  Hy is ‘n swaar drinker wat altyd die rustigheid van die kerk opsoek om sy roes af te slaap.  Oom Falie het deur die hele seremonie geslaap en toe die dominee vra wie oorgeslaan is met die beker, gaan sy hand dadelik met ‘n verontwaardigde gebaar die lug in.

Weens gebrek aan kompetisie is Stiena reeds jare die hoofdiaken en sy haas haar met die beker om Oom Falie se oorgeslaande saligheid te gaan red.  Langs die tafel waar die hooggeplaastes van die gemeente sit, is ‘n massiewe kandelaar met kerse.  Die kandelaar word met elke nagmaal, sukkel-sukkel deur agt mans die kerk ingeskuif, om lig te werp oor die bediening.

Stiena Visagie verspeel nie tyd in haar eie bediening nie.  Met haar bekende trippel-trippel galop, storm sy met die beker van die tafel af weg.  Maar die kandelaar is soos ‘n haak-en-steek-bos.  Een van die menige skerp punte vang die tannie se gewaad hier digby die enkels en hy gryp vir haar goed en diep!  Met die momentum van ‘n oorhaastige sendeling, val sy oor haar voete en die kledingstuk skeur in twee.  Van onder tot bo.  Amper Bybels in die simboliek.  Daar is ‘n geskokte stilte in die gemeente.  Die manne snak na hul asems en hul oë staar met bewondering..  Die nuuskierigheid oor Stiena se lyf is uiteindelik bevredig.  Gelukkig vir haar, is ook haar onderklere stigtelik, miskien afkomstig hier uit die vroeë 1950’s.  Dominee is eerste tot die redding en met sy toga oor die vrou se skandes, lei hy haar na die konsistorie.  Die diens het nie aangegaan nie.  Een van die ouderlinge het met ‘n kort rympie-gebed afgesluit en Oom Falie het oorgeslaan gebly.

As iets daardie dag in Stiena gebreek het, was dit beslis haar inhibisies.  Of die skeur van die rok dalk verskuilde drange  wakker gemaak het, weet niemand nie.  Sy het seker maar iewers te hore gekom oor hoe die manne van haar praat en ‘n lekkerte daarin gevind.  Haar rokkies word al korter en korter en op enige gegewe dag sou ten minste tagtig mans die kleur van haar onderklere geweet het, ás sy dit die dag gedra het.  Haar bukkery voor mans word ook gereeld en meestal onnodig.  Maar hulle kla nie.  Hul uitsig is onversteurd onder ‘n los bloes na die twee wulpse vallende verleiers.

Waar almal altyd gewonder het, was daar binne ‘n maand honderd en veertig mans wat voor ‘n hof sou kon getuig, Stiena Visagie is beslis nie ‘n maagd nie.  Na ses egskeidings in die distrik en ‘n voorbladfoto van Stiena en die dorp se eerste rugbyspan, voel Dominee verplig om in te gryp.  Die kandelaar vorm lankal nie meer deel van die dienste nie en in toepassing van die kerklike tug, sou Stiena Visagie voortaan ook nie meer deel van die dienste wees nie.  Teen daardie tyd was meeste van die skade reeds gedoen en die enigste glimlaggende persoon is Sakkie Viljoen met sy privaatspeurder besigheid.

Die enigste persoon wat Stiena Visagie nie in haar dagboekie opgeteken gehad het nie, was Oom Doons Vermeulen.  Oom Doons is so twee jaar reeds ‘n wewenaar, maar is ‘n geen nonsens mens.  Hy hou hom nie op met vleeslike versoekings nie.  Maar dit maak van hom ‘n gesogte teiken in Stiena se boekie.  ‘n Tipe trofee of iets vir haar dagboekie.

Vir maande probeer sy.  Oop en bloot en sonder skaamte.  Van die gemeentelede hoop in hul stilligheid dat Oom Doons maar moet toegee.  Miskien kom die teistering in die distrik dan finaal tot ‘n end.  Maar Oom Doons wil niks weet nie.  Kort rokkies, oop toppies, onderklere, geen onderklere, vat-vat hier en vat-vat daar, beïndruk hom glad nie.  Selfs die aand toe Stiena kom suiker leen in ‘n deurskynende nagkabaai, swig hy nie.

Die nuus is dus met verbasende belangstelling begroet.  Soos ‘n veldbrand versprei dit: Oom Doons Vermeulen het Stiena Visagie genooi vir ete!  Dominee slaan sy hande hulpbehoewend in die lug.  Van die hele gemeente lyk dit of niemand meer die saligheid met ‘n stukkie ongeskonde heiligheid gaan betree nie.

Wat daardie aand by Oom Doons gebeur het, sou die gemeente ewig aan die raai hou.  Al wat hulle weet is dat Stiena Visagie oornag tot inkeer gekom het.  Sy is weer haar ou gewyde self en die stigtelike klere is terug.  Na ‘n maand laat Dominee haar weer tot die kerkbanke toe en na omtrent ‘n jaar kon sy weer help om sakramente te bedien.  Vir Oom Doons vermy sy soos pes en sit hy toevallig in haar bedieningsblok word hy summier oorgeslaan met die wyn en die brood.

Dominee beskou die oorslanery as ‘n offisiële rede om sy nuuskierigheid te bevredig.  Dit is immers al so twee jaar na Stiena se bekering en hy voel dit is hoog tyd dat Oom Doons moet bieg.  Na ‘n huisbesoek vra hy Oom Doons:

“Oom Doons.  Dit is tyd om te praat.  Wat het jy vir Stiena Visagie gemaak?”

Oom Doons gee ‘n giggel deur sy bosbaard en begin om te bieg:

“Jy weet Dominee.  Daardie aand wag ek vir haar mos in.  Nét in my japon.  Toe sy by die slaapkamer instap gooi ek hom oop.  Nou of dit my borshare onder die deurskynende bra was, weet ek nie.  Miskien was dit die rooi hoëhakskoene.  Miskien was dit die manier wat my klokke weerskante van die rooi  g-string afgehang het.  Miskien was dit my voortrekkersweep in die regterhand.  Ek weet nie, maar Stiena was nog nie weer hier nie.”

Dominee onderdruk sy lag tot ‘n giggel toe hy daar wegstap.  Hy besef dat ‘n bekering soms met fyn onderklere kan kom.

Posted in Uncategorized | Tagged , , , | 6 Kommentaar

‘n Gespook met spoke (deel 2 en slot)

Vervolg van vorige inskrywing:

 

Ons kry vir ‘Nguru’-Ben Motsuwari wat destyds onskuldig by die muti-moorde in die dorp betrek is.  Mamma was sy prokureur en het hom suksesvol verdedig.  Op die ou end het dit uitgekom dat dit ’n ‘fly-by-night’- toordokter met geen kwalifikasies was, wat die lelike goeters in die gemeenskap gedoen het.  Nguru-Ben aan die ander kant, is ’n gerespekteerde toordokter in die gemeenskap met papiere van een of ander universiteit.  Hy is ons laaste uitweg na ons alreeds by die kerk ook was.  Ek en Dominee praat nou al jare nie met mekaar nie en ons het toe maar die happy-clapper-pastoor van die buurdorp op ’n dagpas by die tronk uitgekry om te kom help.  Die man het nogal mooi en dramaties gebid, maar toe hy na die gebed ’n visioen kry dat dit my gebrek aan tiendes vir die Evangelie is, wat dié ding op ons gebring het, jaag ek hom met kollektesakkie en al by die huis uit.

 

Nguru-Ben is dadelik gewillig om te help.  Hy skúld Mamma nog na die hofsaak.  Dié probleempie los hy sommer vinnig op.  Hy het al baie geeste uitgedryf én hy gee ’n sewejaar-waarborg op sy werk.

 

“Drie hoenders, twee akkedissterte en ’n pakkie Grand Pa’s?”  Ek verwonder my aan die lysie wat Nguru-Ben van ons nodig het, maar ek het die laaste paar weke geleer om nie meer vrae te vra nie.  Ek stuur solank vir Seeiso om akkedis in die skuur te loop soek.  Die drie hoenders sal ek die aand op pad huis toe by Tannie Raaitjie Vermeulen gaan leen.

 

Vroeg die volgende oggend is Nguru-Ben by ons voordeur.  Hy werk nooit in die aande nie en begin altyd vroeg, sodat hy heeldag se daglig het om ’n probleem uit te sort, ingeval dit groot is.

 

Waar het ons die meeste probleme? – vra Nguru-Ben terwyl hy ’n hoender en die akkedissterte by my vat.  Die ander twee hoenders en Grand-Pa’s moet ek eers bêre.  Dit is vir persoonlike gebruik, hy sal dit later vat.  Ons neem vir Nguru-Ben na Klein Twak se kamer.  Dit is daar waar die meeste opwinding in die laaste tyd was.  Oral in die kamer is half bevrore plassies water en ons wys hom die kot met die klomp gebreekte handspieëltjies.  Nguru-Ben lyk min beïndruk, tot ek vir hom die rooi woorde teen die oorkantste muur wys.  Ek moet vír hom lees, hy wat Nguru-Ben is, het nooit geleer lees nie.

 

Ek lees hardop: “Tot in die derde en vierde geslag.”  Nguru-Ben se oë rek effens en vir die eerste keer lyk dit of hy belangstel in sy omgewing.  Selfs die hoenderhen wat tot hede betreklik stil was, gaan te kere asof ’n eier teen ‘n aambei druk.

 

Nguru-Ben sit die twee akkedissterte strategies weerskante van die kamerdeur, voor hy beduie dat ons almal in ’n kringetjie in die middel van die kamer moet sit.  Eers gooi hy ’n paar beentjies, klippies en goed wat soos groen Nik-Naks lyk, in die middel van ons kringetjie.  Ek kyk skepties na die beentjies en wonder of hy werklik so onskuldig in daai muti-ding was.  Dan begin Nguru-Ben hardop praat.  Ek verstaan nie wat hy sê nie, maar dit klink asof hy met sy oupa en dié se oom aan’t gesels is.  Dan trek hy die kekkelende hoender nader en haal ’n lang Okapi-mes uit sy broeksak.  Mamma maak haar oë toe.

 

 

Ek ken nie regtig motorfietse nie, maar ek dink dit was ’n Harley Davidson gewees. ’n Gróóte.    Een van daai wat soos ’n dragster-kar lyk met sulke lang handvatsels.  Ek sou nie presies kon sê nie, want die beeld wat ek gesien het was wasig, amper soos ’n uit fokus video.  Met ’n gebrul wat meer geklink het na ’n geween en kners van tande, bars die motorfiets deur die muur, maar daar is geen stene of sement wat spat nie.  Vooraan die motorfiets is flikkerende blou ligte en sy wasige bestuurder dra iets wat lyk soos ’n Tweede Wêreldoorlog weermaguniform.  Met ’n oorverdowende lawaai jaag die motorfiets deur ons kringetjie en jy sien net bene en hoender spat.  Die motorfiets verdwyn deur die oorkantse muur en is so vinnig weg as wat hy gekom het.  Ek kyk vlugtig op en wonder hoe ons die hoender van die dakwaaier gaan afkry.

 

Nguru-Ben gee ’n bloedstollende kreet en spring orent.  Hy hardloop.  Harley Davidson’s val nie in sy kurrikulum nie.  By die kamerdeur val hy hom desmoers as hy op ’n akkedisstert gly, maar dit breek nie juis sy spoed nie.  Ek wonder of hy sy Grand-Pa’s en twee hoenders later gaan kom haal.

 

Die motorfiets episode is genoeg vir ’n ultimatum.  Mamma het klaar tas gepak, sy en die kinders gaan by my Ma plak.  Wat ek ook al doen, is my saak, maar in hierdie huis bly Mamma nie langer nie.  Ek het ook nie ’n besonderse begeerte om langer aan te bly nie en ek gooi maar my skeergoed en dinge by Mamma se tassie in.  Later die middag ry ons aktekantoor toe om kopieë van die titelakte te kry – ons gaan maar verkoop.

 

Dit is in die aktekantoor dat die hele ding skielik lig kry en begin sin maak.  My oë dwaal toevallig oor die vorige eienaars van die huis en die ‘koue-rilling-spinnekop’ soek weer bytplek toe ek die naam raak lees.  Die huis het vroeër aan oorle Oom At Greyling behoort.

 

“Dooie donner!” sê-skree ek hardop en ’n paar mense in die kantoor kyk simpatiek na my kant toe.  Baie mense het al slegte goed uitgevind in ’n aktekantoor.

 

Mamma sleep my summier buite na die kar toe.  Sy sien ek het ietsie op die hart en dit moet uit – dadelik uit!

 

Buite in die kar vertel ek haar die storie:

 

Ek was nog ’n tjokkertjie toe ek al met Oom At Greyling te doen gekry het.  Hy was ’n lang man met ’n uitsonderlike ernstige gesig en dit het gelyk of hy heeltyd aan ‘n stuk suurlemoen gesuig het.  Oom At was ’n spietkop, eintlik ’n “Provinsiale Inspekteur” soos hy graag wou bekend gestaan het.  Maar ’n spietkop bly ’n spietkop, maak nie saak hoeveel sterre hy op sy skouers het nie.  Oom At het in elk geval nie net sy dienste tot die N1 buite die dorp beperk nie.  Nee, hy was ’n geregsdienaar van formaat, wat enige ding van ’n fiets sonder liksens tot ’n polisiekar met ’n stukkende flikkerlig geskryf het.  Selfs my eie oorle Pa het hy geskryf oor hy Disprins na vyfuur in die aande by die kêffie verkoop het (daardie tyd was dit nog teen die wet en spietkops was ook ‘algemene’ geregsdienaars).

 

Die groot moeilikheid het eintlik begin toe my Pa besluit het om te boer.  So ’n ‘side-line’-stokperdjie naas die kêffie.  Ons huis was op die punt van die dorp en reg oorkant was ’n massiewe munisipale kamp, wat Pa toe gehuur het.  Pa kry toe ’n skaaphond, ’n motorfiets en tweehonderd skaap om die boerderytjie aan die gang te sit.  Met al die rondloperhonde en ander gediertes wat skaap eet, was die boerderytjie van die begin af gedoem.  Op die ou end het net die hond en die rooi 200cc Kawasaki oorgebly.  Laasgenoemde was die oorsaak van die ding tussen ek en Oom At.

 

Min dinge is windgatter as ’n standerd-agt leerling met ’n 200cc Kawasaki.  Natuurlik ook te jonk vir ’n liksens van enige aard, maar daardie feit was geensins beperkend op my rygenot deur die plattelandse dorpie nie.  En Oom At het dit geweet.  Male sonder tal het hy my probeer voorlê.  Maar vang kon hy my nie vang nie, want ek ken al die kronkelpaadjies waar sy spietkop-kar nie kon ry nie.  Bewyse vir agterna vervolging was te skraps om my aan te kla, want ek ry die motorfiets sonder ’n nommerplaat en met my gesig onder die helmet, sou hy nooit eerbaar kon getuig dat dit ék was op die motorfiets nie.  En Oom At is ’n man wat dinge binne die reëls doen.  Vang moes hy my selwers vang, vir enige moontlikheid van vervolging.

 

Oom At se groot geleentheid om my te vang kom toe saam met Boswell Willkie se tentopslanery by ons buurdorp.  Die skool gons en almal maak planne en rygeleenthede om by die affêre uit te kom.  Sirkusse was raar, inteendeel ongekend in ons omgewing.  Ek spog natuurlik openlik dat ek sommer die paadjie na Trompsburg op die Kawasaki gaan aandurf.  Die sirkus is die volgende dag en ek sal so 5-uur ry om betyds 6-uur daar te wees.  Ek sal natuurlik die ou pad ry, daar is te veel spietkops en spesifiek Oom At op die N1.  Op een of ander manier kom Oom At toe tehore van my planne, sekerlik uit die mond van ’n jaloerse klasmaat of iets.

 

Gelukkig het Saartjie Nortjé ’n ogie op my.  Sy is mal oor mans op motorfietse en sy kom waarsku my.  Hulle bly reg langs Oom At en sy het toevallig gehoor hoe hy sy voorlêplanne met sy vrou in hulle tuin bespreek.

 

Jopie van Graan is effens verbaas toe ek die Vrydagmiddag my Kawasaki se sleutels vir hom gee.  Hy is so twee jaar ouer as ek, maar ons deel omtrent dieselfde postuur.  Jopie ry ook motorfiets, maar hy het liksens.  Sy vrae droog op toe ek die gratis sirkuskaartjie in sy hand stop.  Nee, hy sal ry.  So vyf uur se kant.  Ek waarsku hom weer dat hy sy liksens moet saamvat.

 

Sélf vat ek die middag die pad met my ou dikwielfiets in die rigting van Trompsburg.  Die ding trap swaar, veral so teen die steil bult net buite die dorp, maar ek wil nie die pret mis nie.  Ek is omtrent halfpad teen die bult uit, toe Jopie my verbygaan met die Kawasaki.  Op die kruin van die bult sien ek vir die eerste keer die helikopter raak en ek weet Oom At het ’n dééglike padblokkade gereël.

 

Waar hy al die spietkops en hulle karre gekry het weet ek nie, seker maar die hele Vrystaat se mag bymekaar geskraap.  Bloemfontein se weermag en blitspatrollie is ook daar en ’n paar ouens stap met polisiehonde in die veld langs die pad.  Langs Oom At staan Oom Boelie Meyburgh, ons dorp se burgemeester, ketting en al.  ’n Paar meter verder staan ’n paar tannies van die OVV en pannekoek bak en ons skoolhoof staan met Dominee en gesels.

 

Arme Jopie.  Toe die manne hom gewaar sak hulle soos een man op hom toe en vir die eerste keer sien ek ook die ouens van die plaaslike kommando se ruiterklub.  Jopie val hom amper disnis toe die helikopter reg voor hom land.  Dan is die man omsingel en met sy hande in die lug stap hy tot by een van die karre waar een van die spietkops sy hande agter sy rug vasboei.

 

My dikwielfiets kruie rustig teen die heuwel af en van ver af hoor ek al vir Oom At te kere gaan toe hulle Jopie se helmet afhaal.  Ek ry die blokkade min of meer binne, toe Jopie sy liksens vir die manne wys.  Oom At is net besig om Jopie se boeie oop te sluit, toe ek met die dikwielfiets langs hulle stop.

 

“Middag Oom At.  Het julle probleme?” wou ek vroom weet.  Nou of Oom At ‘middag’ gesê het, kan ek nie onthou nie.  As hy het, was dit die laaste woorde wat hy ooit met my gepraat het.

 

So twee jaar na daardie voorval, is ek by die spietkops se kantore in Edenburg.  Oom At moet my toets.  Ek is nou oud genoeg en ek soek ’n liksens vir die motorfiets.  Oom At het my op en af gekyk, omgedraai en die liksens gaan skryf, sonder om my te toets.  Hy wéét mos ek kan motorfiets ry.  Oom At het nie baie jare lank daarna geleef nie en sy aftrede was suur en bitter, kenmerkend van iemand met onafgehandelde besigheid.

 

Die dinge in die huis begin vir haar ook nou sin maak, sê Mamma toe ek klaar vertel het.  Die lang oom met die boekie, die bruin uniform op die motorfiets, die blou ligte en selfs die episodes van ‘CHiPs’ wat op die gebreekte TV gewys het.  Maar nie ek of Mamma verstaan die ‘derde en vierde geslag’ deel nie.

 

Mamma se oë verhelder skielik: “Pappa jy moet plan maak!  Hy kon jóú nooit vang nie, nou gaan hy die kinders terroriseer!”

 

Die soveelste koue rilling gly teen my ruggraat af terwyl ek die woorde hardop sê:

 

“En die sondes van die vaders sal besoek word tot aan die derde en vierde geslag…”

 

Ek klop vir Tannie Elsie Steenkamp by haar huis op.  Sy is ’n klerk by die spietkops se kantore.  Sy moet gaan oopsluit, dis dringend.  Op pad na die kantore kry ek vir Snor van Zyl in die hande.  Hy moet saam, hy is deesdae die hoof-spietkop in die dorp.

 

“Wat is die boete vir ry sonder liksens?  Ek wil ’n skulderkenning betaal.” sê-vra ek vir Snor.

 

“Maar Jan, jy hét mos liksens,” sê Snor met ’n vraagteken op sy gesig.

 

“Wat is die boete!” ek raak ongeduldig.

 

Tannie Elsie sien hier is moeilikheid en antwoord vinnig: “Dis ’n R1000,00 en as jy jou lisensie agterna kan toon, maak die aanklaer dit R500,00”

 

“Skryf!” beveel ek vir Snor, “Die volle duisend Rand!”  Snor sien hier moet hy vinnig skryf of gemoer word.  Hy skryf.

 

“En maak die datum vir 1988, enige dag!  Ek kan nie onthou wanneer dit presies was nie!” sê ek vir Snor terwyl ek die duisend Rand se note aftel in Tannie Elsie se hande.

 

“Nee, los maar Tannie,” sê ek toe sy die kwitansieboekie nader trek, “My kwitansie is in die hart.”

 

Daar is ’n vreemde rustigheid oor ons huis toe ons later die aand instap.  Vir die eerste keer in ’n lang tyd, trek Mamma haar baadjie uit.  Dit is warm in ons huis.

 

Later die aand toe ek vir Klein Twak in sy kot neerlê sien ek die pienk slippie in die vensterbank raak.  Ek tel dit versigtig op en lees:

 

“Erken ontvangs van afkoopboete in volle en finale vereffening van skuld.”  Die datum op die slippie is 7 Oktober 1988.

 

Posted in Uncategorized | Tagged , , | 6 Kommentaar

‘n Gespook met spoke

Hierdie het ek uit die argiewe gaan opdiep.  Dit is gegrond op ware gebeure.  Ietwat langer as my normale stories, plaas ek hom in twee dele:

Wat begin het as die onskuldige klap-klap van ’n deur teen sy kosyn, het ontwikkel tot  dramatiese wendings met ’n insiggewende einde.  Dit was omtrent ‘n jaar terug dat ek die eerste keer uit die bed gejaag is:

“Pappa, gaan kyk tog wat gaan nou weer aan met die deur wat so klap-klap.  Daar’s seker weer ’n venster oop of iets,” sê Mamma die aand net dat ek die cowboy-boekie neersit en wil lig afsit.  Klere en beddens het nog nooit vir my saamgeloop nie en ek trek eers die rooi uitgeskopte onderbroek weer aan, voor ek dit in die gang af waag.  ’n Mens moet darem ordentlik lyk as jy in iets of iemand vasloop.  Ek wag nog vir my pistool na die ongelukkige voorval met Sersant Meyburgh en vat maar die byl wat deesdae aan Mamma se kant van die bed lê.  Dis nou na ’n ander ongelukkige insident.  Met die byl en die rooi onderbroek lyk ek soos iets tussen Superman en Grensvegter; kort net ‘n bietjie bloed en ‘n blond, dan kan mens kiekies vir ‘n fotoverhaal vat.

Dit is die deur by klein Comien se kamer wat so raas.  Dit is ’n warm somersnag, maar dis  koelerig, amper koud, in die kamer.  Ek sit die byl in die gang neer en stap dadelik venster toe om toe te maak.  Fronsend draai ek kom.  Dit kan nie die venster wees nie, dié is stewig toegegrendel.  Die deur het ook sopas gestop met sy lawaai.  Dan vang my oog vir klein Comien.  Sy sit kiertsregop in haar bedjie.  Haar gesig is bleek en daar is kringe om haar oë.

“Wat is dit Comien?” vra ek toe ek langs haar sit en my warm arm om haar koue lyfie sluit.

“Dit is die oom,” sê sy en ek kan nie agterkom of haar lippies van koue of vrees bewe nie.

“Watse oom, Comien?” Ek druk haar stewiger vas.

“Die lang oom met die boekie,” sê Comien fluisterend en ek is skielik bly ek het die byl in die gang gelos.

Vir ’n halfuur troos ek vir Comien en lees uit Paddington Bear.  Comien slaap weer en die kamer is heelwat warmer.  Ek is nou wawyd wakker en stap terug kamer toe met die hoop op die gebruik van my huweliksvoorregte.  Mamma is egter vas aan die slaap en ek lees maar verder van die dronk cowboy vir Wyatt Earp oor sy snor terg.  Die res van die nag en volgende oggend is sonder insident, behalwe toe Mamma vroegoggend oor die byl in die gang neerkletter.

“Nou wat is dit met die vroumens?” vra ek vir Mamma die volgende middag toe sy my bel met die nuus.

“Ek weet nie, maar sy’t alles net so gelos en die kinders by jou Ma gaan aflaai!” raas Mamma.

Sanna het na jare se diens besluit genoeg is genoeg.  Van wat weet ek nie, maar sy het pad gevat.  Klein Twak en Comien is darem veilig by hulle ouma.  Ons ander twee kinders is in die week in die koshuis by die buurdorp.  Ek probeer aan iets dink wat Sanna dalk kon ontstel het, maar ek is tog seker dat ek my onderbroek vanoggend in die wasgoedmandjie gegooi het.  Dit kan nie dít wees nie.  Die advertensie teen my kêffie se muur vir ’n plaasvervanger vir Sanna werk ook nie.  Na twee weke het niemand soveel as eers kom vra as “wat’s die pay” nie.

“Het jy dit gehoor!” roep ek die nag so twee uur verskrik uit.  My lyf is seer en koud en my voorkop is natgesweet.

“Is dit weer ’n deur of venster?  Of is dit die TV?”  vra Mamma moeg.  Die kringe om haar oë is donker van die min slaap.  Die afgelope paar weke het die subtiele klap-klap van deure en venster gevorder tot uitdagende en oorverdowende oop –en toeslanery.  Ons kon nog alles hanteer, maar toe die ou episode van ‘ChiPs’ die aand uit die bloute op die TV in die spaarkamer begin wys het, het iets in Mamma gebreek.  Dit is nie soseer dat sy nie van Eric Estrada se toneelspel hou nie.  Nee, die TV in die spaarkamer is al maande terug deur die weerlig uitgepiets.

“Nee, nie ’n deur of ’n venster nie.  Dit was ’n stem,” ek is deurmekaar en weet nie of ek dalk net gedroom het nie.

“Ek het jou gesê jy moenie joghurt in die aande eet nie, Pappa!” raas Mamma maar sy sit nietemin regop.  “Watse stem?”

“Ek kon sweer ek het ’n man hoor praat.”

“Is dit nie dalk weer die TV nie?” vra Mamma en ek kan sien sy is ook nou heeltemal wakker.

“Nee, man.  Dit was hier.  In die kamer.  Ek kan sweer… dit was so helder.”

“Wat het hy gesê?” vra Mamma en sy trek die kombers stywer teen haar vas.

“Ek weet nie… ek kan nie onthou… Ek dink iets van: Tot in die derde en vierde geslag.”

“Is die kinders orraait!” roep Mamma beangs uit.  Ek kry ook haar vrees en spring uit die bed op.  Fok die onderbroek, as ek vanaand in iets vasloop, is dit mét my geweer!

Ek kon sweer ek het ’n flikkerende blou lig by Klein Twak se kamer gesien, maar as dit daar was, is dit net so skielik weg.  Die gang se vloer voel nat en koud onder my kaal voetsole terwyl ek my na Klein Twak se kamer toe haas.  Sy kamer voel soos ’n vrieskas en nat druppels roller plek-plek teen die mure af.  Klein Twak is wakker.  Sy oë is oop, maar dit is asof hy nie sien nie.  ’n Pof babahandjie wys na die venster toe.

Die kamer se gordyne waai woes heen en weer, vasgegryp deur iets wat nie die wind kan wees nie.  Al ons vensters in die huis is nou al vir ’n week in hul skarniere vasgesweis.  Op die vensterbank lê ’n boekie met pienk blaaie wat wapper asof iemand daardeur lees.  Ek gryp vir Klein Twak en haal hom uit sy kot.  Die kind kort ’n droë doek, dink ek eers, voor ek besef sy héle lyfie is koud en nat.  Die gordyne verloor hul lewe as ek vir Twakkies uit die kamer vat en na ons kamer toe stap.  Later keer ek terug om die boekie te soek.  Daar is niks en die kamer is so stil soos die leë kot sonder kind.

“Dis verregaande!” sê ek vir Mamma toe sy die volgende middag vir my die pamflet van die geesuitdrywers gee.  “Jy weet mos daar is nie sulke goed nie.”  Ek het nog nooit in spoke, geeste en sulke goeters, of hul uitdrywers, geglo nie.  Vir elke ding in die lewe is daar ’n logiese verklaring.  Ek het klaar ’n vermoede dat dit weer Oom Japie van der Merwe en sy streke is.  My moer is nou nog suur oor die poets wat hy destyds op my getrek het met die “SPAR OPENING SOON” bordjie op die oop veld oorkant my kêffie.

Later die middag kry ek vir George Visagie, my oud konneksie met die kampus-AWB, in die hande.  Dit is nou nie dat my handtekening op enige AWB-papier verskyn nie, maar ek glo in konneksies – op alle fronte!  Ek het reeds vir Julius ook gebel, maar hy kon my nie help nie.  Die hof het klaarblyklik op van sy goed beslag gelê, onder andere die goed wat ek nodig het.

George sê hy kan my help.  Hy is tans op maneuvers in die Bloemfontein area, hy kom sommer self deur die volgende dag.  Hy sal my help om die huis deeglik te ‘sweep’ vir ‘bugs’ en ander goeters.  Hy wil ook weet of ek nie dalk nog van die granate oor het, wat ek destyds by hom geleen het nie.  Dinge raak klaarblyklik effens warm op sy front.

“Nou waarna soek ons?” vra George die volgende oggend toe ons my huis instap.  Hy het vreemde apparaat orals oor sy lyf en ’n stel oorfone op sy kop.  In sy regterhand dra hy ’n ding waarmee ’n mens landmyne kan kry.

“Ek weet nie regtig nie, maar ek dink ’n versteekte aircon of waaier.  Miskien ’n luidspreker of iets ook, waarmee ’n mens iets wat soos ’n stem klink, kan uitsaai.”

“As daar iets is, sal ek dit kry,” sê George selfversekerd en dit lyk of hy elke dag na waaiers en speakers in huise soek.   George ‘sweep’ die huis.  Van hoek tot kant.  By Mamma se onderklere laai stop ek hom.  Ek het reeds deeglik daar gekyk.  George kry niks behalwe die stoute video agter in een van die kaste nie.  Seker maar daar vergeet deur een van die huis se vorige eienaars.  Wat skuld ek hom, vra ek vir George toe hy later sy apparaat in die bakkie laai.  Nee, dis doodreg, ek skuld hom niks, maar hy hou maar die video wat hy gekry het.  Dit is “WWE Lesbian Wrestle nr 8”, hy het dit klaarblyklik nog nie gesien nie.

Ek en Mamma is moedeloos.  George se ‘sweep’ het niks gehelp nie.  Die wind en waaiery in die huis pla my nie so erg nie, ek kry gou warm, maar Mamma is nogal ’n koulike mens en dié ding is besig om haar somer te bederf.  Daar wys nou ook elke aand ’n nuwe episode van ‘ChiPs’.    Wat my die meeste pla is dat ons nou ons bed met Comien en Klein Twak moet deel.  Naweke is erger dan kom Jaco en Elize ook by.

Dit is die ding met die spieëls wat my laat toestem tot hulp van bonatuurlike oorde.  Mamma kla haar lyf is uitsonderlik seer, die oggend toe sy opstaan.  Ek skrik toe ek die bloed sien.  Gelukkig is dit net twee klein snytjies op haar boude.  Ons grawe deur die komberse om die oorsaak te soek.  Dit is ’n stokou goue handspieëltjie waarop Mamma geslaap het.  Die spieël is op drie plekke gekraak en fyn stukkies glas lê oor die deken versprei.  Mamma gluur my net aan.  Vandat ek geweier het om ag te slaan op die pamflet met die geesuitdrywers, praat ons nie meer baie met mekaar nie.  Sy het ook nog nooit van George van die AWB gehou nie.

Maar dit is eintlik die woorde op die badkamerspieël wat my tot drastiese aksie laat oorgaan.  In die hitte van my skeerwater wasem die woorde op:

“Tot in die derde en vierde geslag.”

Soos ’n spinnekop wat bytplek soek, kruip die koue rilling by my ruggraat af.  Dit is beslis nie Mamma se handskrif nie, want dit is duidelik en ’n mens hoef nie tweemaal te lees nie.   Comien en Twakkies sukkel nog om te skryf.

Stadig maar seker kraak die spieël reg voor my oë en die koue-rilling-spinnekop kry finaal bytplek aan my teelgereedskap.  Asof iemand met drie onsigbare diamante oor die glas trek vorm die drie krake gelyktydig oor die spieël.  Nou het ek ook genoeg gehad, besluit ek terwyl ek vinnig in die gekraakte spieël klaar skeer.  Dit is moeilik met die krake en Mamma moet drie ‘spot on Elastoplasts’ aangee.  Ek en Mamma is nou altwee vol bloed en ek sien in haar vasberade gesig, sy het ook nou genoeg gehad – die bloed het gevloei!

VERVOLG

Posted in Uncategorized | Tagged , , , | 7 Kommentaar

Gebed vir ‘n bottel

Dit is net na elf die aand toe Oom Sors Duvenhage die oproep kry.  As ouderling beteken ’n oproep so laat in die aand net een ding en as hy hom met sy kamerjas en pantoffels na die telefoon haas wonder hy wie van sy wyk nou die ewige betree het.

Dit is ’n baie besope Wolf Terblanche wat hom bel.  Die agtergrondgeluide is onmiskenbaar dié van die tiekieboks by die hotel: “Oom Shorrss!” sleep Wolf voort en hy klink erg aangedaan.  “Oom, ek kan nie meer nie, ek wil dié ding losshh!”

Oom Sors luister opgewonde.  Hy is ook glad nie meer ontsteld oor die tyd nie.  Mense kom op snaakse tye tot inkeer en om ’n verlore skaap te red vra nie tyd van dag of nag nie.  Van al die mense in sy wyk is Wolf die enigste waarvan Oom Sors nou nie eintlik sou kon voorspraak maak by die poorte nie.  Die bottel en Wolf kom al ’n lang pad saam.  Eintlik is dit meer as een bottel.  Op ’n slag.  Vir Wolf om net een bottel op ’n slag te drink is gelykstaande aan ’n romantiese skemerkelkie op ’n eerste date.  En dan is daar nog die goed wat mense praat oor wit drank.  Wolf drink Cane in die aand en Vodka deur die dag.  Wolf glo mens kan nie Vodka ruik nie en ’n mens wil darem soortvan respektabel by die werk lyk en ruik.  Die platteland skop nie sommer sy probleme weg nie en wonder bo wonder het Wolf al die jare nog sy pos as laaimeester by die stasie gehou.  Die stasiemeester het later van tyd maar vir Wolf ’n kantoor aan die agterkant van die een pakhuis laat bou, sodat hy sy ongeneeslike vermaak ten minste uit die publieke oog kon geniet.  Ten minste was Wolf goed in sy werk, dronk, minder dronk, maar nooit heeltemal nugter nie.

Oom Sors het ’n warm gevoel op die hart terwyl hy na Wolf se gesanik luister: “Ek wil dit lossh Oom, ek wil dit lossssh!  Ek willlll dit nou finaallllll losssshhh!”

Oom Sors besef elke mens ontdek seker maar self in hom ’n versadigingspunt.  Wanneer genoeg nou uiteindelik die dag genoeg is.  Wolf is op daardie punt en Oom Sors weet hulle moet slaan terwyl die ysters nog warm is.  Synde ’n diep kerkmens, glo Oom Sors in die krag van gebed.  Hy reël met Wolf om hom dadelik by Dominee Berry se pastorie te kry.  In ’n geval soos Wolf s’n moet die spreker van die gebed darem soortvan ’n rang hê.  ’n Hierjy gebed van ’n ouderling sal nie die bottels weghou nie.  Wolf klink skepties oor die bid ding.

“Isssh jy sssheker dit shall werk Oom Shorrrs?”

“Broer, die krag van gebed ken nie eindes of beperkinge nie.  Ek bel solank vir Dominies Berry en sê ons kom.”

Nadat Wolf die telefoon neergesit het en beloof het hy sal Oom Sors by die pastorie ontmoet, bel Oom Sors die leraar.  Half deur die slaap is Dominee Berry egter net so opgewonde oor die verlore siel wat terugkom huis toe.  Hy sal solank voorberei.  Ter ondersteuning van die gemeenskaplike goeie doel, bel Oom Sors ook vinnig ’n paar ouderlinge en sy diaken.  Hy vertel hulle van Wolf se voornemens.  Hulle moet saamkom.  Die krag van gebed lê in die aantal mense wat saam daaroor bid.  En met Wolf gaan hulle gebed elke greintjie krag nodig hê.

Niemand kon seker vir Wolf blameer dat hy nie geweet het waar die pastorie is nie.  Na ’n betreklike ongelukkige insident tydens ’n Nagmaal jare terug, is Wolf persona non grata by die kerk en al sy instellings verklaar.  Die grootste fout wat hy kon maak is om eerste aan Tannie Sarie Eksteen se deur te klop.  Sy werk by dorp se handsentrale en het al werksaanbiedinge van beide BBC en Sky News gehad.  Sy beduie vir Wolf in die regte rigting van die pastorie, maar met ’n ompad.  Sy het eers ’n paar oproepe om te maak en dan wil sy self gaan kyk.

“Ek wil dit losssh my antie.  Ek willll dit lossh!  Ek kannie meer nie,” sanik hy in haar rigting terwyl hy in die straat afslinger.  Tannie Sarie is reeds besig met haar eerste oproep.

’n Halfuur later staan die hele kerkraad in die pastorie se tuin en wag.  Dominee Berry het maar die sarsie uitgeskuif tuin toe, die pastorie se massiewe sitkamer het te klein geword.  Dominee van Staden van die buurdorp het ook deurgejaag saam met ’n paar gerespekteerde ouderlinge van sy gemeente.  Pastoor Vonnie is ook daar en hy sien uit na die gebeurtenis.  Hy het lanklaas geleentheid gehad om duiwels uit te dryf.

Oom Sors het net begin bekommerd raak dat Wolf nie gaan opdaag nie, toe hy die skare mense in die pad sien aankom.  Dit lyk min of meer na die hele dorp en heel voor slinger Wolf.  Hy het in sy soektog na die pastorie by nog ’n paar huise aangeklop en sy voornemens aan almal vertel.  Almal ken vir Wolf en almal wil sy pastorale genesing aanskou.

Daardie aand bid Dominee Berry lank en innig.  Sommer daar in die pastorie se tuin met die hele gemeenskap as ooggetuies.  Dis ’n gebed uit die hart en hy gaan haal hom vêr in die geskiedenis.  Sommer al daar by die druiwepriële in die paradys.  En Noag se misbruik van die voggies en die skaamte wat hy oor die familie gebring het.  Dominee bid oor die straf van dié wat volhard in hul sondes, maar veral oor die vergifnis van dié wat dit los.  Dominee sê dankie vir die openbaring wat oor Wolf gekom het en dat hy nou uiteindelik die bottel gaan los en ’n voorbeeldige lid van die samelewing gaan word.

“Shkuuuus Dominies, maar ek dink daarssh  ’n mishverstand!” roep Wolf skielik en daar is ’n geskokte stilte oor die skare mense.  Niemand het dit nog gewaag om Dominee Berry in die middel van ’n gebed te onderbreek nie.  Selfs Pastoor Vonnie haal sy hande uit die lug uit.

“Ja, broer?” sê-vra Dominee Berry.  Hy is hoopvol op een of ander teken van Bo wat Wolf gedurende die gebed gekry het.  Dat hy nou daaroor wil getuig.

Wolf praat weer:  “Shkuuuus Dominies, maar ek dink hiersh ’n moerse mishverstand!  Ek wil nie die drank losssh nie, ek wil my vrou lossh!”

Posted in Uncategorized | Tagged , , , | 4 Kommentaar

Aan my beste vriend

Elke jaar op die 21ste September vier ek en my vrou ons huweliksherdenking.  Vandag het ek dit gelukkig onthou.  Sy het my vroegoggend self daaraan herhinner.  Netnou kry ek ‘n mooi gedig van ‘n onbekende skrywer wat my vrou vir my in my epos gelos het.  Getrou aan haar kennis van my aard, is dit nie ‘n soppie liefdesgediggie nie, maar nogal iets waarvan ek ook hou.

vandag gaan ons ‘n papier kontrak teken
en die partye moet asb. op die volgende punte reken
met die oog op ‘n eksklusiewe produksie reeks
sal vervaardinging daarvan geskiet regstreeks

die produk sal met ‘n onderhouds waarborg kom
die termyn sal bepaal word deur ‘n geldelike som
vervolgings die produksie se eie terme en skedulering
dit sal vrysgestel word met geen party se goedkeuring

geen derdeparty konsultasies
en ook geen leierskap abdikasies
daar bestaan absolute monopolieë
en geen kortermyn amnestieë

alle bates bly steeds persoonlike eiendom
in geval een party bankrot speel of omkom
en in geval van onophoudlike situasies
dan word voorgestel wetlike anneksasies

en alle roerend of onroerend kapitaalbates
sal deur die hof opgedeel word in (on)gelyke mates
en die kontrak word geteken met ‘n goue band
…. gee mekaar die regterhand

Ek is nie regtig ‘n gedigtemens nie, maar ek is mal oor ‘n cowboy-liedjie.  En dit is ook die soppieste wat julle my in ‘n lang tyd gaan sien.  Met respekte aan Don Williams wat die woorde geskryf het.  Ek plaas dit vir my vriend, my heel beste vriend:

 

Posted in Uncategorized | 13 Kommentaar

Afstyg

Daar is twee dinge in die lewe wat my verskriklik opgewonde maak.  Ek vermoed, seker maar met enige man so.  Kaal vrouens en vliegtuie.  En as daar vliegtuie in die omgewing is, kom vrouens in ’n baie slegte tweede plek.  By laas jaar se lugskou by Tempe-lughawe kon daar vyftig kaal vrouens voor my verbygeloop het en ek sou nie daarvan geweet het nie.  Toe daai Rooikat aanvalshelikopter sy masjiene start en die klank van brute perdekrag die lug vul, is my broek onmiddellik twee nommers te klein.  Toe die “Cheetah” Mirage III teen meer as die spoed van klank oor ons koppe deur die lug sny, wil ek uit my nate bars en lyk soos daai ou in Basic Instinct net voor Sharon Stone hom doodgesteek het.

Dit is natuurlik elke man se grootste fantasie (naas die begeerte om ’n gesinnetjie soos Zuma te hê) om in ’n vliegtuig se kajuit te klim en sommer self die stokke te gryp om daai vliegmasjien te dryf.  Om soos ’n wafferse James Bond summersaults bokant die Pentagon te maak met veertig Russiese vegvliegtuie op jou hakke.  Deesdae is die beskerming van die parlement en Unie-geboue in Suid-Afrika van minder sentimentele belang.

So ’n jaar of vyf gelede skaf ek toe ’n vliegtuigspeletjie vir die rekenaar aan.  Flightsim X.  Volgens die vervaardigers is dit die naaste wat ’n mens kan kom aan regtig vlieg, maar sonder die kots.  Dit is ’n bul van ’n program en op my ou rekenaar het die ding maar redelik gehakkel en die vliegtuie was rukkerig.

Met die aanskaf van ’n nuwe rekenaar waarmee ek hoë definisie video redigeer, lyk die speletjie aansienlik beter.  Flightsim-entoesiaste wil natuurlik die horries kry as mens praat van ’n “speletjie”.  Nee!  Dit is nie ’n speletjie nie, dit is ’n simulator!  Geskryf deur regte loodse, vliegtuigtegnici en aggressiewe Moslems.  Die verskeidenheid vliegtuie en helikopters is geprogrammeer om te hanteer en te reageer soos hul boeties in die werklike lewe.  Gee te veel vet op die verkeerde tyd met jou Boeing 747 en jy en 300 fiktiewe passasiers is in hul moer!

Die wêreld in die “speletjie” is ook regtig.  ’n Mens kan selfs meer detail van die internet aflaai.  So het my program nou al elke Suid-Afrikaanse pad (teer en grond, maar sonder potholes), rivier, berg, lughawe, dorp en die Kaapstad toiletprojek.  Alles is in detail korrek, selfs die lengte en rigting van die aanloopbane. ’n Mens kan nie met die vliegtuie skiet nie, want hulle het ongelukkig nie missiele en sulke goed nie.  Maar daar is niks lekkerder as om met ’n volgelaaide Airbus in jou skoonma se huis vas te vlieg nie.

So stap my driejarige Kleintwak in die kantoor, terwyl ek besig is om te speel vlieg.  Hy is dadelik 100% gefokus en die ogies blink van opgewondenheid.  Die speletjie simulator is die beste en mooiste ding wat hy nog in sy lewe gesien het.  Op driejarige ouderdom is ’n kaal vrou in elk geval niks werd nie.  Na hy my vir ’n hele paar minute dopgehou het en homself deeglik van Burgerlugvaart se reëls vergewis het, is Kleintwak gereed om self die stokke te vat.  Hy wil ook vlieg.

Stewig op sy pa se skoot, moet Kleintwak eers ’n geskikte vliegtuig kies.  Hy soek ’n groene.  Die enigste vliegtuig beskikbaar in die kleur, is ’n grasgroen mikroligte “AirCreation Trike”.  Kleintwak wil weet of dit ’n motorfietsvliegtuig is en hoekom die ding met ’n sambreel moet vlieg.  Ek begin verduidelik en stop halfpad.  Ek wonder nou self en toegegee is Kleintwak se beskrywing van ’n motorfiets met ’n sambreel redelik akkuraat.

Kleintwak besluit om liewer vir sy tweede beste keuse, ’n rooi vliegtuig, te skik.  Die naaste aan sy gunsteling rooi is ’n “de Haviland Beaver” wat op water kan ry.  Dit is ’n heerlike “bootvliegtuig” en Kleintwak verseg om op te styg.  Hy hou meer daarvan om om tussen (en deur) die ander onskuldige bote op die Vaaldam te jaag.  Na omtrent ’n halfuur se bootvaart is Kleintwak gereed vir sy eerste kommersiële vlug.  Hy kies ’n wit “Learjet”, daardie mooi vliegtuie waarmee die sakemanne rondkerjakker.   Die “wit” is seker maar om sy reinheid in die lugruim ten toon te stel.

Die vliegtuig is groot genoeg om ’n paar mense op te laai.  Ons moet by Kaapstad se lughawe begin, sodat hy sy Tannie Marietjie kan oplaai.  Sy kom immers altyd vir hom kuier in haar skreeulelike oranje Mango vliegtuig.  Dit is nou sy beurt om háár te kom haal in sý vliegtuig.  Ek moet die vliegtuig se deure oopmaak en Tannie Marietjie klim in.  Die boeties en sussies moet ook saam.  Jaco, Comien en Elize bestyg ook Kleintwak se Learjet.  Ouma gaan ook saam en sy moet voor langs hom sit.  Sy is die “co-pilot”.  Tannie Lassie en haar kroos volg op haar hakke.  Kleintwak voel tóg sy Tannie Talla en haar gesin moet ook inklim.  Hoe sy so vinnig van Potgietersrus in die Kaap gekom het, is haar probleem.  Die Learjet is nou stampvol met mense, maar Oom Coenie van die kerk moet ook saam.  Die vliegtuig begin soos ’n taxi na Pietersburg lyk as ons buurtannies, Tannie Naomi en Tannie Zuna ook inklim.  Hulle gee hom immers altyd melk en koekies.  Hulle gades mag ook saamkom.

“En Pappa en Mamma?  Mag ons ook maar saamvlieg?” vra ek net voor ek die vliegtuig se deur toemaak.

Meer uit plig as liefde stem Kleintwak halfhartig in.  Ek en Mamma mag ook maar saamvlieg.  Uiteindelik is die vliegtuig se deure toe en die wat moet binne is binne.  Nee, ek moet weer oopmaak.  Ore, sy basterbrak, moet ook saam.  Hy moet voor saam met Kleintwak en Ouma ry.  Voor ons enigiets verder doen, moet daar eers vir “Niewe Jiesis” gebid word.  Kleintwak sê ’n mooi tafelgebed op en ons is gereed.

Ek wil nog vir Kleintwak beduie van radioprosedures, vlugplanne en voorritinspeksies, maar Kleintwak het sy pa goed dopgehou as hy die vliegtuie start.  Die Learjet se enjins brul reeds in volle glorie.  Hy is haastig, hy wil nou opstyg.  Vlugplanne en inspeksies is totaal oorbodig.  Aanloopbane ook.  Met ’n dolle vaart trek hy uit sy parkeerterrein weg en jaag reguit op die beheertoring af.  Hulle sê rekenaars het nie emosie nie, maar daai tannie in die toring skree uit volle bors dat Kleintwak nie toestemming het om te doen wat hy doen nie.  Ons mis die beheertoring rakelings en ’n sipresboom se takke sit aan die wiele vas as ons met fluitende alarms opstyg.

In die lug gaan dit effens beter.  Ek het die radio’s afgesit en die mense skree nie meer op ons nie.  Behalwe die motorfietsvliegtuig wat ons heel uit sy sambreel vlieg is daar nie ander insidente, behalwe die 747 wat liewer terugdraai Amerika toe nie.  Dan begin Twakkies met die knoppies speel.  Met ’n paar interessante verstellings op die flappe en “auto pilot” voer die Learjet fratse uit wat ’n F18 vegvliegtuig na ’n ossewa laat lyk.  Ek vermoed sommige van ons passasiers is reeds aan natuurlike oorsake dood en daar behoort kots teen die vliegtuig se dak te wees.

Dan is Twakkies moeg gevlieg.  Hy wil nou “afstyg”.  Ek wil eers verduidelik dat “land” ’n beter woordkeuse is, maar die kind se logika maak vir my sin.  “Afstyg” is tog immers die teenoorgestelde van “opstyg”.

Behalwe die stok wat aggressief vorentoe gedruk word, is daar geen ander “afstygprosedures” nie.  Aanloopbane is weereens oorbodig.  Kleintwak is haastig om te land en ons pyl met ’n dolle vaart op die Kaapse Waterfront af.  Daar is darem genoeg tyd om die wiele te laat uitkom en ’n stuk van die sipresboom val op die kabelkar se dak.

Met ’n oorverdowende lawaai vlieg ons teen die grond vas en dit is net stof, klippe, rook en enjinparte.  Iewers in die vliegtuig (en sy talle passasiers – may they rest in peace) se finale oomblikke het Kleintwak weer die radio’s aangeskakel.

’n Kwaai oom praat met ons: “Learjet Alfa Juliet seven zero zero, you do not have permission to land!”

Nonchalant en met ’n giggellaggie antwoord Kleintwak die oom: “Ons kyk net die grond!”

Posted in Uncategorized | Tagged , , , , | 32 Kommentaar