Ek wonder

Daar is min soorte mense wat deesdae hul vuurwapens stewiger en meer gereed vashou as ’n transito-veiligheidswag in Suid-Afrika.  Een van daai min soorte mense is ’n pa met ’n mooi veertienjarige dogter.  Met ons staatshoof as rolmodel en gratis kondome by skole is daar ’n klimaat geskep waar hiënas na ’n gratis spitbraai genooi word.  Ek loop met my gewere oorgehaal en bejeën elke lid van die menslike spesie, wat net lyk of hy in die besit van ’n penis is, met besonderse suspisie en gereedheid.

Veral as jou veertienjarige meer soos ’n agtienjarige lyk en nou al ’n jaar lank kop en skouers bo haar ma uittroon.  Vrydae is dit erger as hulle uitgaandrag by die skool moet dra.  Dan is dit bloes, skirt en sykouse.  Sykouse!  Vir ’n veertienjarige standerd sessie!  Demit, toe ek veertien was, was my uitgaandrag ’n vuil Adidas rugbybroekie om mee te gaan kleilat speel.

So laai ek nou die dag vars patrone in my gewere toe ek hoor Elize het gaan koffie drink by ’n seun.  Die seun is in matriek en die gevaarligte blits soos ’n disko in my kop.  Ek meen ek was mos sélf ’n matriekseun gewees.  Ek weet mos waaraan dink die goed van direk na ontbyt tot kort duskant slapenstyd.  En dis beslis nie koffie-drink nie!

My gemoed kalmeer effens toe ek hoor dit was by Marius Verwey.  Ek hou nogal van die seun.  Ek het eenmaal tydens skolerugby langs die veld gestaan toe hy met ’n rooikaart van die veld gejaag is.  Dit was vir ’n gevaarlike têkkel op ’n opponent van omtrent twee keer sy grootte.  In my boekies sê dit nogal iets van ’n mens.  En toe Marius na die afstuur langs my op sy knieë sak en sy frustrasie uithuil met ’n “bliksem, bliksem, bliksem, hoe kon ek so stupid wees?” het my hart nogal ’n sagte plekkie vir die seun gekry.  Nóg ’n paar punte in mý boekie.  Ek meen die seun het duidelik besef hy het ’n fout gemaak en was jammer daaroor.  Ek meen as jy ’n ou só wil têkkel, moet jy dit doen sodat die ref jou nie kan sien nie.

Dus ignoreer ek maar die koffie-drink voorval en maak nie te veel van ’n ophef nie.  Ek kén ook mos nou al ’n tiener.  Hulle wil en sal altyd die teenoorgestelde doen van wat jy sê.  Netnou wil sy by die ou gaan tee drink.

So werk ek nou die dag deurnag aan ’n videoprojek wat dringend moes klaarkom.  Hier by vyfuur die oggend raak ek uit twak uit en ry vinnig garage toe om weer in besit van ’n paar Stuyvesants te kom.  Ek kry vir Marius op my pad.  Dit is nog blouskemer en die son lyk traag in sy besluit om op te kom om die koue weer te trotseer.  Marius dra ’n massiewe pakkasie en loop met die spoed van ’n Kaapenaar wat wyn soek.  My eerste gedagte is:  “Ja bliksem waar het jy nóú oorgeslaap dat jy dié tyd van die oggend eers huis toe loop!”

Ek stop by Marius en verneem na sy vroeë oggend aktiwiteite.

“Ek lewer koerante af Oom,” sê hy half skaam.

Ek bekyk die pakkasie wat hy dra van naderby.  Dit is ’n massiewe stapel Volksblaaie.  En ék voel skielik skaam.  Om vyfuur die oggend in ysige koue, koerante af te lewer en dan nog reg te maak vir jou eindeksamen, sê nogal iets van ’n mens.  In my boeke selfs meer as om ’n groter ou as jy, te têkkel.

En ek sit en wonder toe ek wegry.  Ek wonder oor ons vooropgestelde persepsies.  Oor die stereotipes wat ons self geskep het.  Miskien is my dogter veiliger by ’n matriekseun wat koerante aflewer as by ’n standerd sessie met ’n broek vol planne.  Ek wonder.  Miskien moet ek nóg ’n geweer bykoop.

Ek wonder.

This entry was posted in Uncategorized and tagged , , , , , . Bookmark the permalink.

27 Responses to Ek wonder

  1. Anrich maais sê:

    Hallo hoe gaan dit daar ek wil graag net vra waar is die een wat jy se hoe n mens moet leer iets van jy moet n lekker bed kry en goeie musiek kry om te leer ek soek die wil graag lees maar kry dit nie DANKIE

  2. Ek het al gehoor dikwels oordeel mens ander d.m.v jou eie swakhede😉
    So, ja, goood for you, die laaitie kry ‘n tweede kans!
    (DANKIE vir tweede kanse, sê al die ma’s wat net seuns groot maak!!!!)

  3. oe hoe bly is ek my leendogters is uit die huis, dit was ‘n nagmerie om tweeling geskool en groot te kry, want tong indie kies moet ek sê, hulle is pragtig en so gewild gewees dat my klonki kind daarby gebaat het, met ali vriendinne wat naweke daar by my huis gekuier het, maar gelukkig is hulle nou uit die huis en alby, glo ek, met standvastigheid, en as trotse moeder kan ek sê, die meisiekinders het altyd saam klonki gery, vir jol en wat ookal aangesien hy die enigste nugter klong tussen die lot was………. ek glo dit het miskien te doen met die ongeluk waarop hy een oggend so twee uur (na ‘n lang lekker jol van Stellenbosch af gekom het, en net so paar km van die huis af een van sy pelle, ongelukkig noodlottig)afgekom het

    die ding is die persepsie storie, is die samelewing se skuld, want kinders wat eintlik nog net kinders moet wees is deesdae besig met grootmens dinge

  4. Sussie sê:

    …en gelukkig is sykouse deesdae mos koekerig…dalk weet die juffrouens beter as jy. Ek gaan vir my gidse sykouse laat aantrek. Verpligte safari uniform.

    • Jan Twak sê:

      Nog ‘n probleem wat ek daarmee het om vir ‘n standerd ses sykouse te gee. Ons moet ELKE week ‘n bleddie nuwe paar koop, want na een dra is hulle geleer. Ek dink dit gebeur as sy boomklim.

  5. Sussie sê:

    hoe gaan ek my persepsie verander van dat ek op die oomblik net eunuchs as gidse wil aanstel..?

  6. avega sê:

    Staple gun. Werk die beste. Dan kan jy sê dis per ongeluk, jy was besig met alterasies

  7. brieweuitdievreemde sê:

    Ai tog, have a heart vir ‘n ma met drie tienerseuns. ‘n Mens probeer deur die koppe kry van persoonlikheid en innerlike skoonheid wat belangriker is as ‘looks’, dit word geesdriftig beaam maar dis maar waar dit in hierdie stadium bly – by die be-amery…..

  8. lekkerjeuk sê:

    Ja, dit klink vir my die Marius is ‘n reg outjie. Ek beaam biddend alles wat jy skryf. Biddend van dankbaarheid omdat my groen koring op die lande gelukkig nou mooi geelryp is. Sterkte vir die volgende 8 jaar.

    • Jan Twak sê:

      Ons jongste is nou maar drie en ‘n half…

      Dit maak dit effens meer as 8 jaar – dankie vir jou samehorige ondersteuning.

  9. Flenters sê:

    Eg Vrystaats!

  10. Ek vind dat holpunt ammunisie beter en goedkoper werk as ‘n volgende geweer. ‘n Stomp mes is egter ook ‘n noodsaaklikheid vir die vader van die jong estrogeenfabriek…

    • Vlooi sê:

      holpunt ammunisie? jissou – dankie Bileam’tjie, daar leer ek nou ‘n waardevolle les. Ek het ‘n rasper op hand maar ‘n stomp mes sal dan seker ook werk

    • Jan Twak sê:

      Punt ammunisie in die hol werk net so goed. Ek verkies egter ‘n stomp langsteel byl, mens mors minder op jou klere.

  11. Pienke Volla sê:

    Jebo, vooropgestelde persepsies is ‘n bliksem!!!

    Daar is nog wonderlike kinders wat ons onderaardse betree, wat egter vir my allerbelangrik is, is die verhouding tussen jou en jou dogter. En natuurlik die voorbeeld, pa! 🙂

    Die beste beproefde manier om die belaglike, blinde verliefdheid te laat kwyn is natuurlik om net mooi en goeie dinge van hom te sê en hom redelik te prys, ens… dan beginne sus later wonder of die fout dan by haar lê, en heroorweeg… hehe!

  12. MaanKind sê:

    Mooi man. Jy vorder. Gaan haal uit daai patrone…

  13. Vlooi sê:

    Vooropgestelde persepsies gaan hand aan hand met eie-gevolgtrekkinge. Ongelooflike gevaarlike kombinasie wat jou bloedbek kan slaan as jy nie oppas nie.

    Hierdie ma is die ‘eienaar’ van ‘n wilgerlat-lyf-hap-aan-17-jaar-dogter – koop ‘n ekstra dubbelloop haelgeweer. Moenie eens verder wonder daaroor nie. Ek laat by tye ‘n transito-veiligheidswag rustig en ontspanne lyk.🙂

    Dankie tog vir hierdie Marius-kind wat ‘n mens herinner dat daar goeie kinders met vaste beginsels iewers op hierdie aarde loop.

Gesels gerus saam

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s