Eersteplek vir ‘n natuurroep

 

So bevind ek my nou die aand, tydens pouse, langs Oom Piet Viljoen by die skool se seunskrippe.  Prysuitdelings het die manier om mans na die natuur te roep, maar ons stem beide saam dat  die pouse te kort is vir ’n goeie opelyf.  Nou piepie ons maar net. Getrou aan mans se aard kan ons ook net op een ding op ’n slag fokus.  Ons praat dus oor piepie.  Oom Piet vertel my van die trip wat hy een jaar met sy skoonsus af Suid-Kaap toe gehad het.  Dit was in die tyd toe hy nog in Kimberley gebly het.

Oom Piet vertel:

Jy weet Jan, jy kry mos mense met een of ander diepgewortelde allesoorheersende fobie of renons in hulle lewens.  Vat nou maar my skoonsuster Martie van Mosselbaai.  Eintlik weet ek nie of sy nou rêrig meer my skoonsuster is nie.  Broer Japie is darem nou al so ses jaar terug  begrawe.  Jy sien met die dood van ’n familielid is die oorlewende aangetroude familie amper soos ’n hanslam.  Mens is te jammer om die ding weg te jaag, maar jy weet daar wag later net probleme.  Ewenwil, Tannie Martie het ’n probleem met buite piepie.  Sy groet mens nie eens behoorlik nie, dan begin sy al kla oor hoe al die mans wat sommerso langs die pad stop om te piepie, haar irriteer.  Grensloos, asof dit die grootste sonde duskant rook en rassisme is.  Mens sou sweer sy het self nie ’n blaas nie soos wat sy tekere gaan.

So kom kuier Tant Martie toe vir ’n week daar by ons, soos sy nou al elke jaar sedert Japie se dood maak.  Gelukkig bodder sy nie om baie met my te praat nie.  Sy vertel my net vlugtig van die spul onbeskaafde toeriste wat teen een of ander treinstasie se muur gepis het en wend haar aandag verder na Mamma.  Ek weet mos sy dink ek is ’n sielsverlore ketter omdat ek so nou en dan die boompies in my eie tuin natlei.  Soos die ongeluk dit wil hê val haar kuier saam met daai groot reëns wat die Suid-Kaap gehad het.  Die treinspoor tussen George en Mosselbaai is heel verspoel en Tannie Martie kan nie terug nie.  Die spoor sou blykbaar maande vat om te herstel.  Daai boompies in my agterjaart sou dit nie nog ’n week kon maak sonder ’n nattigheidjie nie en ek bied toe maar dadelik aan om haar met my Chevy terug te vat.  Ons reël die terugvat vir die volgende Sondagoggend.

Soos die geluk dit wou hê, daag Vriend Hennie die Saterdagaand by my huis op na sy toer deur die hele Afrika. Ons moet eers help om sy sleepwa af te laai.  Hy het ’n paar biere gebring.  Synde ’n bierliefhebber soos ek, het hy in elke Afrika staat van Egipte tot Botswana ’n sespak van hul plaaslike bier gekoop.  In Windhoek het hy sommer vier kaste gekoop, hy hou van Duitse bier.

Daai Saterdagaand vat ons vas en met ’n padkaart voor ons, herleef ons sy toer deur Afrika.  Die vrouens kyk vakansieskyfies en ek en Oom Hennie drink bier.  Ons drink drie biere uit elke land op die kaart.  Toe ons deur die Sahara gaan, leen ons so bietjie van die bier wat hy in Windhoek gekoop het, dis mos maar warm en droog in die woestyn.  Ons vorder omtrent tot die bopunt van Angola, toe die vrouens ons stop.  Hulle het nou klaar skyfies gekyk en hul lyftaal sê ons het nou klaar bier ook gedrink.  Mamma gaan haal drie swart asbliksakke om ons leë bottels in te gooi.  Ons wou nog vir oulaas ’n draai in Mosambiek maak, maar Mamma sit haar voet neer.  Ek moet nog die volgende dag vir Tant Martie huis toe vat en sy weet mos hoe bier my kan laat slaap.

Slaap het ek geslaap daai aand, maar o hel, daai wakker word na die verslaap die volgende oggend!  Dit is vreeslik om na ’n toer deur Afrika na twee vrouens se geskree en sanik te luister terwyl mens haastig probeer aantrek.  Sommer so deur die verwyte van die twee vrouens oor my en Oom Hennie se toergewoontes, gryp ek net Tannie Martie se tassies en sorg dat ek by die kar uitkom.  Mamma sê ek stink na Uganda se brouery toe sy my koebaai soen.  Sy ry nie saam nie, dis haar beurt met die oggendtee by die kerk.

Net anderkant Hopetown begin die probleme.  Ek besef dat in al die geharwar van die verslaap, ek nooit my oggendbehoefte geledig het nie.  Dit voel soos ’n volskaalse revolusie in my blaas en ek vermoed dis die Kadaffie Premium Lager waarmee ons ons toer begin het.  Ek loer skuins na Tannie Martie se rigting.  Sy lyk soos ’n brulpadda wat aan ’n suurlemoen suig en ek laat vaar dadelik enige gedagtes van ’n vinnige stop langs die pad.  Ek weet mos nou sy hou nie van mans wat langs die pad piepie nie.

Ek knyp maar vas, ek sal maar by De Aar indraai en by ’n vulstasie gaan leegmaak.  By die Oranje rivier moet ons eers op die brug stop.  Tannie Martie wil eers Mamma se ingepakte brêkvis nuttig.  Dis mooi daar op die brug.  Sy hou van riviere.  Veral as die water so heerlik oor die klippe kabbel na die goeie reëns.  Hier diep binne my begin ’n Keniaanse Milk Stout ook woel en ek probeer om my dowe oor na die rivier te draai.  Gelukkig eet Tannie Martie nie baie nie, maar sy drink my blikkie Coke ook op na ek dit vriendelik, maar baie beslis van die hand wys.  Sy is klaarblyklik baie dors na die biltong wat sy al die heelpad aan sit en peusel.

By Vanderkloof dam moet ek aan die stuurwiel vasbyt om nie my broek nat te maak nie.  Tannie Martie sê ons moet eers weer gou stilhou, sy het nog nooit die dam gesien as al sy sluise oop is nie.  Ek trippel op en af op die maat van die water se geraas en genadiglik help dit om van die vog van my blaas te verplaas na ander organe.  Tannie Martie maak die waterbottel wat aan die Chevy se grill vasgemaak is los en skink eers ’n paar blikbekers water.  Ek probeer om weg te kyk, maar die Satan laat kyk mens mos altyd kyk waar jy nie moet nie.  Daai dun straaltjie water soos sy skink laat my droom van rye en rye kareebome waarteen mens jou blaas kan ledig.  Tannie Martie bied vir my ook ’n beker water aan.  Sy kan nie glo ek wil nie ook hê nie, die biltong maak haar dan so dors.

Net voor De Aar, toe ek besef ek gaan dálk die dorp met ’n droë broek haal, kry ons die konvooi abnormale lorries.  Daar is omtrent twintig lorries in ’n ry en hulle is gelaai met massiewe konstruksie masjinerie.  Teen die afdraandes ry ons darem so 5km/h.  Daar is nie ’n kans om verby te gaan nie.  Hulle ry die hele pad vol en die voertuie wat van voor af kom, moet heel van die pad aftrek vir die stoet om verby te gaan.  Reg voor ons ry ’n tenkwa vol water.  ’n Dun straaltjie water spuit met ’n sierlike boog by ’n stukkende pyp uit, reg voor ons in die pad.  Ek sê die Onse Vader in my gedagtes op, maar inplaas van my daaglikse brood, vra ek vir die afdraaibordjie De Aar toe.

Tot my ontsteltenis draai die lorries een na die ander af na De Aar toe.  Dit is egter ook ’n gulde geleentheid om verby die konvooi te kom en teen my blaas se beterwete besluit ek om eerder vir die garage op Drie Susters te jaag.  Netnou beland ek weer agter die konvooi as ons tyd mors in De Aar.

Die vulstasie se bordjie by Drie Susters lyk soos manna uit die hemel, maar my moed sak tot baie vêr onder my skoene as ons die perseel binne ry.  Daar is omtrent dertig Road Link busse geparkeer en die hele terrein wemel van skoolkinders wat op pad terug is van een of ander sportbyeenkoms.  By die toilette se deure staan ’n tou mense langer as by ’n Sias Reinecke konsert.  Daar is nie ’n manier dat ek voor sonsondergang ’n beurt sal kry nie.

Tannie Martie hardloop gou by die kêffie in om ’n paar Cokes te koop.  Sy sê sy sal my twee blikkies ook maar drink toe ek dit van die hand wys.  Sy is nog steeds lekker dors na al die biltong en die waterbottel is ook nou al leeg.  Sy bied ook aan om ’n rukkie te bestuur, ek lyk glo vir haar effens bleek om die kiewe.  Ek stem onmiddellik in, miskien is die drukking effens ligter as ek op die Chevy se agterseat lê.  Beaufort-Wes is darem nie te vêr nie.

Na wat net soos tien minute gevoel het, word ek wakker van die vreeslikste pyn in my middellyf.  Ek vermoed dit is die Tanzanië Draft wat nou saam met die Angolese lager ’n ritmiese toy-toy in my blaas doen.  Ek leuen vooroor na Tannie Martie agter die stuurwiel.  Ek vra hoe vêr is ons nog van Beaufort-Wes af.  Nee, sê die tannie vir my.  Ons is lankal deur Beaufort-Wes, sy het nogal daar by ’n garage gestop om koeldrank te koop en ek het nie eens wakker geword nie.  Ons is nou net voor Meiringspoort.  Dit voel vir my asof ek sommer net daar die tannie van agter af kan nat pis.

Oom Piet vra vir my of ek Meiringspoort ken.  Ek sê vir die oom ja, dis mos daar wat mens so baie oor dieselfde rivier ry.  Die oom sê juistement.  Dis net so.  Vir hom het dit gevoel of hulle of hulle omtrent sewentig keer oor die rivier is.  En dis sleg om met so ’n vol blaas oor ’n rivier te ry, veral na die goeie reëns.

Oom Piet vertel verder:

Jy weet Jan, ons is omtrent halfpad deur daai poort toe die tannie skielik remme aanslaan.  Dit voel of daai Etiopiese bier hom desmoers bommelakiesie slaan oor ’n Windhoek Lager.  Die tannie stop die Chevy langs ’n pragtige waterval.  Ek wil net my hart finaal uitbaklei toe ek die tannie se gesig sien.  Haar oë is groter as ’n uil wat met ’n windbuks raak geskiet is.  Die tannie sê vir my sy móét nou gaan.  Sy kan nou nie langer uithou nie.  Al die koeldranke en water roep haar nou vir ’n boompie, al is dit nou ook ’n kleintjie.

Oom Piet sê dit was ’n belewenis soos min toe hy en die tannie daai dag elkeen ’n lekker boompie langs die waterval kry om broek los te maak.  So met die dreunende water vir begeleiding.  Ek wil hom amper vra “hoe veel en hoe vêr?” maar ek besef dit is half ongeskik om oor sulke privaat goed te vra.

Maar Oom Piet sê toe sommer self: “Jy weet Jan, as daai pis by ’n prysuitdeling was, het ek en die tannie eerste plek gedeel.”

This entry was posted in Uncategorized and tagged , , , . Bookmark the permalink.

23 Responses to Eersteplek vir ‘n natuurroep

  1. Lewies sê:

    Lekker om weer jou stories te lees Janneman!

  2. Pingback: Die gróót knyp |

  3. brieweuitdievreemde sê:

    Op die land se lang en soms verlate paie kan ‘n mens wraggies nie anders nie – ek sluit vroue in😉 En almal ken daai oomblik wanneer jy op ‘n doodstil pad stop – geen karre vir ure gesien nie – en dan net as jy agter die bossie neersak, kom daar van nerens af nie twee voertuie uit beide rigtings aangery….😦

    • Jan Twak sê:

      Weens ‘n paar fundamentele anatomiese verskille, het mans dit darem effens makliker in die natuur as vrouens.

      • lekkerjeuk sê:

        Lekker storie. Maar effens makliker? Het jy al gesien hoe ‘n ou tannie dit doen as haar artritis-kniee so pla dat sy nie weer kan opkom as sy eers haar sit gesit het nie?

  4. Son sê:

    My pa het so gery van die Kaap af tot in Johannesburg – ons kinders moenie kom sê ons wil pie langs die pad nie. Ons mag net wanneer hy stop vir petrol. Naderhand pyn mens se ore van die knypery. En dan moet ons hol as hy stop vir petrol. Een keer het ek en my sus om die garage gehol en agter in die bosse gaan sit, want die ry was ook te lank binnekant😳

  5. murphy sê:

    Nou wil ek ook gaan.

  6. gidivet sê:

    Laat my nou weer dink aan die stadige skoolbus tussen Windhoek en die Paarl. Daar was ook in daardie tyd nie ‘n toilet op die bus nie. Ek dink hy het net op Keetmans en Van Rynsdorp gestop. Sal bietjie blog oor die gróót knyp.

  7. Flenters sê:

    Ons het twee-en-‘n-half dae agter in ‘n C130 met een mini krippie Frankryk toe gevlieg en toe weer terug. Ons kon heeltyd die blou see ver onder ons sien, maar ons kon net kyk……..

Gesels gerus saam

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s