‘n Gespook met spoke (deel 2 en slot)

Vervolg van vorige inskrywing:

 

Ons kry vir ‘Nguru’-Ben Motsuwari wat destyds onskuldig by die muti-moorde in die dorp betrek is.  Mamma was sy prokureur en het hom suksesvol verdedig.  Op die ou end het dit uitgekom dat dit ’n ‘fly-by-night’- toordokter met geen kwalifikasies was, wat die lelike goeters in die gemeenskap gedoen het.  Nguru-Ben aan die ander kant, is ’n gerespekteerde toordokter in die gemeenskap met papiere van een of ander universiteit.  Hy is ons laaste uitweg na ons alreeds by die kerk ook was.  Ek en Dominee praat nou al jare nie met mekaar nie en ons het toe maar die happy-clapper-pastoor van die buurdorp op ’n dagpas by die tronk uitgekry om te kom help.  Die man het nogal mooi en dramaties gebid, maar toe hy na die gebed ’n visioen kry dat dit my gebrek aan tiendes vir die Evangelie is, wat dié ding op ons gebring het, jaag ek hom met kollektesakkie en al by die huis uit.

 

Nguru-Ben is dadelik gewillig om te help.  Hy skúld Mamma nog na die hofsaak.  Dié probleempie los hy sommer vinnig op.  Hy het al baie geeste uitgedryf én hy gee ’n sewejaar-waarborg op sy werk.

 

“Drie hoenders, twee akkedissterte en ’n pakkie Grand Pa’s?”  Ek verwonder my aan die lysie wat Nguru-Ben van ons nodig het, maar ek het die laaste paar weke geleer om nie meer vrae te vra nie.  Ek stuur solank vir Seeiso om akkedis in die skuur te loop soek.  Die drie hoenders sal ek die aand op pad huis toe by Tannie Raaitjie Vermeulen gaan leen.

 

Vroeg die volgende oggend is Nguru-Ben by ons voordeur.  Hy werk nooit in die aande nie en begin altyd vroeg, sodat hy heeldag se daglig het om ’n probleem uit te sort, ingeval dit groot is.

 

Waar het ons die meeste probleme? – vra Nguru-Ben terwyl hy ’n hoender en die akkedissterte by my vat.  Die ander twee hoenders en Grand-Pa’s moet ek eers bêre.  Dit is vir persoonlike gebruik, hy sal dit later vat.  Ons neem vir Nguru-Ben na Klein Twak se kamer.  Dit is daar waar die meeste opwinding in die laaste tyd was.  Oral in die kamer is half bevrore plassies water en ons wys hom die kot met die klomp gebreekte handspieëltjies.  Nguru-Ben lyk min beïndruk, tot ek vir hom die rooi woorde teen die oorkantste muur wys.  Ek moet vír hom lees, hy wat Nguru-Ben is, het nooit geleer lees nie.

 

Ek lees hardop: “Tot in die derde en vierde geslag.”  Nguru-Ben se oë rek effens en vir die eerste keer lyk dit of hy belangstel in sy omgewing.  Selfs die hoenderhen wat tot hede betreklik stil was, gaan te kere asof ’n eier teen ‘n aambei druk.

 

Nguru-Ben sit die twee akkedissterte strategies weerskante van die kamerdeur, voor hy beduie dat ons almal in ’n kringetjie in die middel van die kamer moet sit.  Eers gooi hy ’n paar beentjies, klippies en goed wat soos groen Nik-Naks lyk, in die middel van ons kringetjie.  Ek kyk skepties na die beentjies en wonder of hy werklik so onskuldig in daai muti-ding was.  Dan begin Nguru-Ben hardop praat.  Ek verstaan nie wat hy sê nie, maar dit klink asof hy met sy oupa en dié se oom aan’t gesels is.  Dan trek hy die kekkelende hoender nader en haal ’n lang Okapi-mes uit sy broeksak.  Mamma maak haar oë toe.

 

 

Ek ken nie regtig motorfietse nie, maar ek dink dit was ’n Harley Davidson gewees. ’n Gróóte.    Een van daai wat soos ’n dragster-kar lyk met sulke lang handvatsels.  Ek sou nie presies kon sê nie, want die beeld wat ek gesien het was wasig, amper soos ’n uit fokus video.  Met ’n gebrul wat meer geklink het na ’n geween en kners van tande, bars die motorfiets deur die muur, maar daar is geen stene of sement wat spat nie.  Vooraan die motorfiets is flikkerende blou ligte en sy wasige bestuurder dra iets wat lyk soos ’n Tweede Wêreldoorlog weermaguniform.  Met ’n oorverdowende lawaai jaag die motorfiets deur ons kringetjie en jy sien net bene en hoender spat.  Die motorfiets verdwyn deur die oorkantse muur en is so vinnig weg as wat hy gekom het.  Ek kyk vlugtig op en wonder hoe ons die hoender van die dakwaaier gaan afkry.

 

Nguru-Ben gee ’n bloedstollende kreet en spring orent.  Hy hardloop.  Harley Davidson’s val nie in sy kurrikulum nie.  By die kamerdeur val hy hom desmoers as hy op ’n akkedisstert gly, maar dit breek nie juis sy spoed nie.  Ek wonder of hy sy Grand-Pa’s en twee hoenders later gaan kom haal.

 

Die motorfiets episode is genoeg vir ’n ultimatum.  Mamma het klaar tas gepak, sy en die kinders gaan by my Ma plak.  Wat ek ook al doen, is my saak, maar in hierdie huis bly Mamma nie langer nie.  Ek het ook nie ’n besonderse begeerte om langer aan te bly nie en ek gooi maar my skeergoed en dinge by Mamma se tassie in.  Later die middag ry ons aktekantoor toe om kopieë van die titelakte te kry – ons gaan maar verkoop.

 

Dit is in die aktekantoor dat die hele ding skielik lig kry en begin sin maak.  My oë dwaal toevallig oor die vorige eienaars van die huis en die ‘koue-rilling-spinnekop’ soek weer bytplek toe ek die naam raak lees.  Die huis het vroeër aan oorle Oom At Greyling behoort.

 

“Dooie donner!” sê-skree ek hardop en ’n paar mense in die kantoor kyk simpatiek na my kant toe.  Baie mense het al slegte goed uitgevind in ’n aktekantoor.

 

Mamma sleep my summier buite na die kar toe.  Sy sien ek het ietsie op die hart en dit moet uit – dadelik uit!

 

Buite in die kar vertel ek haar die storie:

 

Ek was nog ’n tjokkertjie toe ek al met Oom At Greyling te doen gekry het.  Hy was ’n lang man met ’n uitsonderlike ernstige gesig en dit het gelyk of hy heeltyd aan ‘n stuk suurlemoen gesuig het.  Oom At was ’n spietkop, eintlik ’n “Provinsiale Inspekteur” soos hy graag wou bekend gestaan het.  Maar ’n spietkop bly ’n spietkop, maak nie saak hoeveel sterre hy op sy skouers het nie.  Oom At het in elk geval nie net sy dienste tot die N1 buite die dorp beperk nie.  Nee, hy was ’n geregsdienaar van formaat, wat enige ding van ’n fiets sonder liksens tot ’n polisiekar met ’n stukkende flikkerlig geskryf het.  Selfs my eie oorle Pa het hy geskryf oor hy Disprins na vyfuur in die aande by die kêffie verkoop het (daardie tyd was dit nog teen die wet en spietkops was ook ‘algemene’ geregsdienaars).

 

Die groot moeilikheid het eintlik begin toe my Pa besluit het om te boer.  So ’n ‘side-line’-stokperdjie naas die kêffie.  Ons huis was op die punt van die dorp en reg oorkant was ’n massiewe munisipale kamp, wat Pa toe gehuur het.  Pa kry toe ’n skaaphond, ’n motorfiets en tweehonderd skaap om die boerderytjie aan die gang te sit.  Met al die rondloperhonde en ander gediertes wat skaap eet, was die boerderytjie van die begin af gedoem.  Op die ou end het net die hond en die rooi 200cc Kawasaki oorgebly.  Laasgenoemde was die oorsaak van die ding tussen ek en Oom At.

 

Min dinge is windgatter as ’n standerd-agt leerling met ’n 200cc Kawasaki.  Natuurlik ook te jonk vir ’n liksens van enige aard, maar daardie feit was geensins beperkend op my rygenot deur die plattelandse dorpie nie.  En Oom At het dit geweet.  Male sonder tal het hy my probeer voorlê.  Maar vang kon hy my nie vang nie, want ek ken al die kronkelpaadjies waar sy spietkop-kar nie kon ry nie.  Bewyse vir agterna vervolging was te skraps om my aan te kla, want ek ry die motorfiets sonder ’n nommerplaat en met my gesig onder die helmet, sou hy nooit eerbaar kon getuig dat dit ék was op die motorfiets nie.  En Oom At is ’n man wat dinge binne die reëls doen.  Vang moes hy my selwers vang, vir enige moontlikheid van vervolging.

 

Oom At se groot geleentheid om my te vang kom toe saam met Boswell Willkie se tentopslanery by ons buurdorp.  Die skool gons en almal maak planne en rygeleenthede om by die affêre uit te kom.  Sirkusse was raar, inteendeel ongekend in ons omgewing.  Ek spog natuurlik openlik dat ek sommer die paadjie na Trompsburg op die Kawasaki gaan aandurf.  Die sirkus is die volgende dag en ek sal so 5-uur ry om betyds 6-uur daar te wees.  Ek sal natuurlik die ou pad ry, daar is te veel spietkops en spesifiek Oom At op die N1.  Op een of ander manier kom Oom At toe tehore van my planne, sekerlik uit die mond van ’n jaloerse klasmaat of iets.

 

Gelukkig het Saartjie Nortjé ’n ogie op my.  Sy is mal oor mans op motorfietse en sy kom waarsku my.  Hulle bly reg langs Oom At en sy het toevallig gehoor hoe hy sy voorlêplanne met sy vrou in hulle tuin bespreek.

 

Jopie van Graan is effens verbaas toe ek die Vrydagmiddag my Kawasaki se sleutels vir hom gee.  Hy is so twee jaar ouer as ek, maar ons deel omtrent dieselfde postuur.  Jopie ry ook motorfiets, maar hy het liksens.  Sy vrae droog op toe ek die gratis sirkuskaartjie in sy hand stop.  Nee, hy sal ry.  So vyf uur se kant.  Ek waarsku hom weer dat hy sy liksens moet saamvat.

 

Sélf vat ek die middag die pad met my ou dikwielfiets in die rigting van Trompsburg.  Die ding trap swaar, veral so teen die steil bult net buite die dorp, maar ek wil nie die pret mis nie.  Ek is omtrent halfpad teen die bult uit, toe Jopie my verbygaan met die Kawasaki.  Op die kruin van die bult sien ek vir die eerste keer die helikopter raak en ek weet Oom At het ’n dééglike padblokkade gereël.

 

Waar hy al die spietkops en hulle karre gekry het weet ek nie, seker maar die hele Vrystaat se mag bymekaar geskraap.  Bloemfontein se weermag en blitspatrollie is ook daar en ’n paar ouens stap met polisiehonde in die veld langs die pad.  Langs Oom At staan Oom Boelie Meyburgh, ons dorp se burgemeester, ketting en al.  ’n Paar meter verder staan ’n paar tannies van die OVV en pannekoek bak en ons skoolhoof staan met Dominee en gesels.

 

Arme Jopie.  Toe die manne hom gewaar sak hulle soos een man op hom toe en vir die eerste keer sien ek ook die ouens van die plaaslike kommando se ruiterklub.  Jopie val hom amper disnis toe die helikopter reg voor hom land.  Dan is die man omsingel en met sy hande in die lug stap hy tot by een van die karre waar een van die spietkops sy hande agter sy rug vasboei.

 

My dikwielfiets kruie rustig teen die heuwel af en van ver af hoor ek al vir Oom At te kere gaan toe hulle Jopie se helmet afhaal.  Ek ry die blokkade min of meer binne, toe Jopie sy liksens vir die manne wys.  Oom At is net besig om Jopie se boeie oop te sluit, toe ek met die dikwielfiets langs hulle stop.

 

“Middag Oom At.  Het julle probleme?” wou ek vroom weet.  Nou of Oom At ‘middag’ gesê het, kan ek nie onthou nie.  As hy het, was dit die laaste woorde wat hy ooit met my gepraat het.

 

So twee jaar na daardie voorval, is ek by die spietkops se kantore in Edenburg.  Oom At moet my toets.  Ek is nou oud genoeg en ek soek ’n liksens vir die motorfiets.  Oom At het my op en af gekyk, omgedraai en die liksens gaan skryf, sonder om my te toets.  Hy wéét mos ek kan motorfiets ry.  Oom At het nie baie jare lank daarna geleef nie en sy aftrede was suur en bitter, kenmerkend van iemand met onafgehandelde besigheid.

 

Die dinge in die huis begin vir haar ook nou sin maak, sê Mamma toe ek klaar vertel het.  Die lang oom met die boekie, die bruin uniform op die motorfiets, die blou ligte en selfs die episodes van ‘CHiPs’ wat op die gebreekte TV gewys het.  Maar nie ek of Mamma verstaan die ‘derde en vierde geslag’ deel nie.

 

Mamma se oë verhelder skielik: “Pappa jy moet plan maak!  Hy kon jóú nooit vang nie, nou gaan hy die kinders terroriseer!”

 

Die soveelste koue rilling gly teen my ruggraat af terwyl ek die woorde hardop sê:

 

“En die sondes van die vaders sal besoek word tot aan die derde en vierde geslag…”

 

Ek klop vir Tannie Elsie Steenkamp by haar huis op.  Sy is ’n klerk by die spietkops se kantore.  Sy moet gaan oopsluit, dis dringend.  Op pad na die kantore kry ek vir Snor van Zyl in die hande.  Hy moet saam, hy is deesdae die hoof-spietkop in die dorp.

 

“Wat is die boete vir ry sonder liksens?  Ek wil ’n skulderkenning betaal.” sê-vra ek vir Snor.

 

“Maar Jan, jy hét mos liksens,” sê Snor met ’n vraagteken op sy gesig.

 

“Wat is die boete!” ek raak ongeduldig.

 

Tannie Elsie sien hier is moeilikheid en antwoord vinnig: “Dis ’n R1000,00 en as jy jou lisensie agterna kan toon, maak die aanklaer dit R500,00”

 

“Skryf!” beveel ek vir Snor, “Die volle duisend Rand!”  Snor sien hier moet hy vinnig skryf of gemoer word.  Hy skryf.

 

“En maak die datum vir 1988, enige dag!  Ek kan nie onthou wanneer dit presies was nie!” sê ek vir Snor terwyl ek die duisend Rand se note aftel in Tannie Elsie se hande.

 

“Nee, los maar Tannie,” sê ek toe sy die kwitansieboekie nader trek, “My kwitansie is in die hart.”

 

Daar is ’n vreemde rustigheid oor ons huis toe ons later die aand instap.  Vir die eerste keer in ’n lang tyd, trek Mamma haar baadjie uit.  Dit is warm in ons huis.

 

Later die aand toe ek vir Klein Twak in sy kot neerlê sien ek die pienk slippie in die vensterbank raak.  Ek tel dit versigtig op en lees:

 

“Erken ontvangs van afkoopboete in volle en finale vereffening van skuld.”  Die datum op die slippie is 7 Oktober 1988.

 

This entry was posted in Uncategorized and tagged , , . Bookmark the permalink.

6 Responses to ‘n Gespook met spoke (deel 2 en slot)

  1. Okkie C Jansen van Vuuren sê:

    Ek het die gawe (vloek?) om die spoke te kan sien en wou nog altyd ‘n verklaring kry. In die losiesplek waar ek lank terug gebly het het ‘n dametjie gedwaal wat met die materiele kon werk. As ek my koffiebekers of vuil wasgoed laat lê het sy gesorg dat die wasgoed in die mandjie kom en dat die bekers skoon kom.
    So vra ek een aand die en_gee predikant se mening maar hy wou nie glo nie. Toe vra ek “haar” om vir hom ‘n beker aan te gee. Toe die beker so ses duim bo die toonbank lig en na hom aangesweef kom is hy BITTER vinnig uit met iets oor duiwelswerk op sy lippe. Snaaks genoeg het die Bliksem nooit weer kom kolekteer nie

  2. Ai, die motorfietse kan ‘n man groot probleme voorsien, op hierdie planeet en in al die paralelle heelalle waar ‘n mens nog motorfiets ry…

  3. gidivet sê:

    Boeiende storie.

  4. AHA …. BAIE goeie STORIE…… So amper of ek dog dis die waarheid.

  5. Boskabouter sê:

    Een van die beter spookstories wat ek al gehoor het. Baie goed geskryf!

Gesels gerus saam

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s