Kousband vir ‘n loslappie

Ek pak bietjie kas reg en kom af op my versameling kousbande.  Jip, daardie sexy kanterige goedjies wat vrouens normaalweg dra.  Nee, dit is nie ‘n geheime fetish van my om soggens as Mamma werk toe is, in haar klerekas in te vaar en myself te tooi in haar ondergoedjies en hoëhakskoene nie.  Sy hét nie eers hoëhakskoene nie en die ander goed pas in elk geval nie.  Nee, dit is ‘n versameling kousbande wat ek bymekaar gemaak het met vangste by troues in my losloper dae.  My aansienlike lengte en die feit dat ek weens die aard van my beroep, waarskynlik meer troues bygewoon het as vyftig gemiddelde mense saam, speel natuurlik ‘n groot aandeel in die hopie ondergoedjies.

Nou of die kousbandgooiery ‘n Afrikaanse ding is weet ek nie, ek was al by baie Engelse troues ook en hulle doen maar dieselfde.  Die Engelse meisies se bene is net witter.  Aan die anderkant blyk die Pommie-seuns weer slimmer of dalk meer ervare met die uittrek van die stukkie onderklere te wees.  Ter stawing hiervan, is daar tussen my versameling kousbande, ook die mooi pêntie wat ek op ‘n troue in Kuruman gevang het.

Gelukkig gebruik ons altyd twee kameras om die kaperjolle af te neem, dus kon my assistent altyd seker maak dat die betalende bruidspaar agterna sien dat hul videograaf se talente nie net tot afneem beperk was nie.  Maar soos ek die storie agter die storie verstaan beteken die ruiker –en kousbandstorie eintlik dat die vlugvoetige vangers volgende in die ry staan om te trou.  Totale snert!  Soos gesê was daar veertig-plus kousbande en ‘n pêntie in my kas voor ek die dag op die rype ouderdom van vier en dertig self getrou het.  Ter wille van Mamma het ek toe maar ook opgehou om kousbande op troues te vang.  Prokureurs sien mos egskeidings en geld met die geringste mate van provokasie.

By verlede naweek se troue sien ek die ou Ingelse tannie raak.  Hoe oud sy was, weet ek nie, maar wat ek wel weet is dat vrouens op daardie ouderdom, eintlik moet rokke dra wat hul groottone ook toemaak.  Maar dié tannie dra ‘n verkorte weergawe van ‘n 1960’s mini.  Saam met die mini dra sy ‘n swart pêntie waardeur mens die selluliet op haar onderste boudvelle kan sien.  By nabetragting kon dit seker erger gewees het en ‘n mens moet seker dankbaar wees vir die feit dat sy wel onthou het om daardie uitsonderlike belangrike deel van haar uitrusting aan te trek.

Erger as haar uitrusting, is die tannie se lus.  Sy gaan erger tekere as ‘n foksterriër tussen ‘n klomp einde-van-die-maand maltese.  Sy flirt van tafel tot tafel en dis nié met die ou ooms nie.  Iemand sê vir my sy is al deur ses huwelike.  Ek merk op dat geen man dit seker met haar flirtery kon hou nie.  Nee, sê die iemand vir my.  Haar vorige mans is almal dood.  Skielik kry ‘spyker in die doodskis’ vir my nuwe betekenis.

So vorder die aand tot by die ruiker –en kousband gooiery.  Ek spring nie, ek neem af.  Ek is mos getroud.  Met ‘n prokureur.  Maar die tannie staan gereed tussen die klomp jong ongetroude meisies.  Sy lyk lus om te trou.  Die bruid gooi!  Dis ‘n hoë gooi, amper soos Naas Botha as hy gesien het iemand wil hom têkkel.  Maar die tannie spring net so hoog.  Haar mini wip op en ek sien sy het ‘n swart bra ook aan.  Sekere dinge wens mens jy het nooit afgeneem nie.  Maar ek word betaal en ek het ‘n werk om te doen.  Die toneel moet vir die nageslag bewaar word, al besef ek dat die Film –en Publikasieraad heel moontlik die video ‘n R18SV gradering sal gee.

Die ander meisies het geen kans gehad nie.  Met ‘n flambojante beweging pluk die tannie die ruiker uit die lug en sy is gereed om aan haar volgende huweliksmaat voorgestel word.  Sy bly op die dansvloer staan en met valkoë hou sy die gaste dop terwyl die seremoniemeester afkondig dat dit nou die losloper manne se beurt is om nader te staan om die kousband te kom vang.  Daar moet natuurlik gedans word met die een wat die kousband gaan vang.

Daar is geen ongetroude mans tussen die honderd en tagtig gaste nie.  Niemand stap nader om die kousband te kom vang nie.  Na ‘n paar skerp dreigemente deur die seremoniemeester en ook die uitwysing van ‘n paar spesifieke ongelukkiges, drentel ‘n paar ongetroude skepsels traag nader.  Daardie aand besef ek ‘n huweliksertifikaat is soms goud werd.  Ek sou ‘n fortuin gemaak het as ek myne daardie aand kon opveil.

Na sy eerste wettige verkenning van sy metgesel se onderlyf, is die bruidegom gereed om die kousband te gooi.  Die groepie wat moet vang lyk minder gereed.  Dan trek die kousband deur die lug.  Niemand spring nie, maar dit is so ‘n warra-warra dwarsgooi wat die kousband reg op die gesig van ‘n jongeling laat beland.  Ek wonder of die seun al uit matriek is, maar die tannie wonder oor niks.  Sy gryp die verstomde jongman vas en begin dans nog voor die musiek kan begin speel.  Die arme man is in ‘n greep wat net ‘n hofbevel sal kan losmaak.  En die tannie dans.  Daar is iets meer as liefde in haar oë terwyl Kurt Darren gepas van sy loslappie sing.  Om die draaie is die tannie se mini losser as ‘n loslappie en ek sien sy het ‘n moesie op haar stuitjie.

Gedurende ‘n troudag het die videograaf heelwat diskresie oor wat om af te neem en wat om nie af te neem nie.  Sekere dinge is egter verpligtend soos die toneel waar die paartjie die ringe aansteek.  En natuurlik die dans van die ruikervanger met die kousbandvanger.  Ek besluit om die reël so ‘n bietjie te buig en draai my kamera weg van die dansende spektakel om so ‘n bietjie van die gehoor af te neem.  Dit lyk soos ‘n klomp visse wat by die Kalahari uitgespoel het en meeste se monde is oop asof hulle na asem hyg.  Ek loer na my assistent en sien dinge gaan nie veel beter aan sy kant van die kamera nie.  Hy is besig om ‘n artistiese toneel van die plafon se bedrading te skiet.  Ek draai maar weer terug na die dansendes.  Dit moes vir die DJ ook ‘n onaardige besigheid gewees het, want Kurt het nog nie sy loslappie gekry nie, toe die musiek al begin verdof.

Die jongeling het ek nie weer die aand gesien nie.  Ek dink dit gaan ‘n geruime tydjie wees voor enigiemand hom weer sien.  Mense is al vir geringer dinge by psigiatriese instansies opgeneem.  Ek dink ook nie hy gaan gou trou nie.  Later die aand toe ek oppak, sien ek die tannie sit op die barman se skoot.

Die ergste van die video-bedryf is die redigering.  Dan moet mens alles weer kyk.

This entry was posted in Uncategorized and tagged , , , , , , . Bookmark the permalink.

19 Responses to Kousband vir ‘n loslappie

  1. MaanKind sê:

    Ek kan die prentjie sien…

  2. demoerin sê:

    Bwahahaha. Shame. Troues is somtyds lekkerder en interessanter vir al die dinge wat gebeur rondom die gaste…nie noodwendig die bruidspaar nie.

  3. Die arme jongeling! Ek wens ek kon die video sien.

  4. Flenters sê:

    “Bid – or – buy” hierbo kry skielik nuwe betekenis…….
    🙂

  5. BAIE sterkte vir daardie redigering, mense is al vir heelwat minder hoog op die gemeente se gebedslys ook geplaas!

  6. Charms sê:

    In die ou dae was dit ‘moes trou’ en nou sit mense met ‘n ‘moes nooi’ dilemma lyk dit my.

    • Amelia sê:

      Dit is nie altyd ‘n moes nooi delema nie. My oupa het vir die derde keer vrou gevat. Hy het die ander twee albei oorleef, toe vat hy vir tannie annie, wat 2 jaar ouer as sy oudste kind was. Maar nou ja, so het ons troue gehou, maar daar was ‘n jong man met ‘n “maak my sterk hempie” aan en ‘n meisietjie met ‘n mini wat ook net die nodige toemaak. Dit is asof die tweetjies net nie ingepas het nie, maar hier is hulle nou. Ons dink dit is van die aangetroude familie en die aangetroude familie dink dit is van ons en so se niemand niks nie. Later die aand sou my pa agterkom hulle behoort nie aan een van die twee families nie. Hulle het agter gekom hier is ‘n dans, toe val hulle net dood eenvoudig in.

    • Jan Twak sê:

      En later met die “Moes maar liewer nie-” genooi het dilemma!

  7. groenwyn sê:

    “… daardie sexy kanterige goedjies wat vrouens normaalweg dra.”
    Ek weet nie of ek moet vra in watter dorp of watter planeet jy bly nie maar wat kos eindom daar? Hehehe!

  8. bbnut sê:

    Miskien kan jy ‘n goeie geldjie maak op Bid-or-Buy met jou versameling . . .

  9. doulien sê:

    Beginnende met die versameling kousbande . … kon amper nie glo wie is die versamelaar nie !!! Dit was nou prettig !!

Gesels gerus saam

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s