Moeilike Reëlings

 

“Moes jy nie maar liewer die Silwer Valke gekry het nie?”

 

Mamma is bekommerd oor my vermoë om reëlings te tref vir die formasievlug met vliegtuie oor die huis

 

“Nee,” sê ek vir Mamma, “Hulle is darem rêrig te duur.  Oom Harry van Deventer vra my niks nie en net ‘n bottel brannewyn vir elke ekstra loods wat hy in die hande kan kry.”

 

“Ja, maar dit is dan gifspuitvliegtuie,” Mamma is nog steeds nie lekker met die idee nie.

 

“Juis,” verduidelik ek.  “Dis hoekom dit so goedkoop gaan wees.  Hulle gaan sommer Oom Basie van Tonder se lande aan die anderkant van die dorp spuit.  Dis op hulle pad as hulle klaar oor die huis gevlieg het.”  Dit gaan miskien ‘n over kill op Oom Basie se lande wees, daar is al elf vlieëniers, maar hulle wil die geleentheid vir geen geld misloop nie.  Agt van hulle soek nie eens brannewyn nie!

 

“Onthou net,” waarsku Mamma.  “As dit ‘n flop is, gaan jy verduidelik.  Die man is nogal puntenerig met sulke dinge en onthou, dis ‘n eenmaal in ‘n leeftyd gebeurtenis.”

 

Ek knik maar my kop instemmend.  Ek het self my bedenkinge oor ‘Oom Harry en die Vrystaatspuiters se vermoëns, maar ek hou dit maar vir myself.  Oom Harry ly al die laaste twee jaar aan een of ander siekte wat ‘n mens laat ruk, maar dit lyk nogal heel akrobaties as hy vlieg.  Sy vliegtuig rook ook van nature, sonder dat jy ‘n knoppie hoef te druk.

 

“Het almal al geantwoord op die uitnodigings?”

 

“Ja almal kom, niemand wil dit mis nie.”  Ek sug maar gelate en probeer elke vraag na die beste van my vermoë antwoord.

 

“Is die spyseniers nog reg?  Hulle weet daar mag nie uie of sampioene in die kos wees nie?”

 

“Ja, Mamma.  Alles is gereël.  Hulle weet van die uie en sampioene.  Die chef sê hy ken nie van ‘n kaaskrulpastei nie, maar hy sal sy bes traai.”

 

“Hy sal doen wat ons vir hom sê, ons betaal hom goed!” Mamma raak skoon humeurig en ek kan sien die senuwees pla oor al die reëlings.

 

“En jy bel nóú vir Belinda Conradie en kanselleer die uit-die-koek-springery-ding.  Ek gee nie om hoeveel sy vir die operasie betaal het nie, dit is nie die tyd of geleentheid om haar tieties vir almal te wys nie!”

 

“Ja, Mamma.”  Ek is nogal teleurgesteld oor die kansellasie.  Belinda sou dit verniet gedoen het en almal wonder hoe haar nuwe tieties lyk.  Persoonlik dink ek dit sou ‘n magic touch aan die geleentheid gegee het.

 

“En jy gaan koop vir jou ‘n nuwe hemp by die pak klere.  Ek wil nie hê jy moet soos ‘n hier-jy lyk nie!”

 

“Ja Mamma.”

 

“Is jou speech reg Pappa?  Lees bietjie weer dat ek hoor!”

 

Ek trek maar weer die stuk papier nader en begin lees:

 

Geagte meneer die President; die Minister van Finansies; die hoofbestuur van die OVV; Piet Byleveld; mister Obama – there on our live satellite link; verteenwoordigers van die media; Oom Wouter; ander eregaste;  dames en here. 

 

Dit is met groot trots dat ek vandag ons hoof eregas aan u voorstel.  Vir hierdie taak skuif ek u gedagtes terug na die besonderse aand van 18 Februarie 2009.  ‘n Aand van groot pyn, lyding en ‘n gevloek en verbale aanvalle op die mediese professie, maar tog, op die ou einde, groot vreugde en geluk. 

 

Dit is dus my groot voorreg en uitsonderlike trots om vir ons eregas te sê:  Geluk met jou derde verjaarsdag Klein Twakkies.  Mag jou lewe ryklik gevul wees met ‘n magdom van liefde, uiterste gesondheid, velvaart, plesier, rykdom en bo alles, mag jou klokhelder en vreugdevolle lag tot aan die uiteinde van die heelal weergalm!

 

 

This entry was posted in Uncategorized and tagged , , . Bookmark the permalink.

31 Responses to Moeilike Reëlings

  1. Skerp soos altyd. Geluk met die verjaarsdag. Lekker om jou weer hier raak te lees.

  2. Toortsie sê:

    Jy moet versigtig wees – hulle kan jou blog as “verouder” rapporteer. Jy kannie so ‘n kans waag nie!

  3. demoerin sê:

    LOL…jinne het ek visioene van gif wat oor ‘n huis uitgespuit word!

  4. blikskottel sê:

    Solank die cherrie uit die koek spring en nie die koek uit die cherrie nie, is alles mos okay. Jou vrou moet reggehelp word hieroor.

  5. Son sê:

    Geluk klein Twakkies! Jy het sommer magic ouers wat vir jou SO ‘n partytjie reel! Nou moet jy hulle net oorreed dat jy ‘n lugballon “ride” wil hê vir nommer 4! 😆

  6. Toortsie sê:

    JaNee. Vir so ‘n belangrike geleentheid moet die vliegtuie vlieg!! 🙂

  7. Sonel sê:

    Hi Janna. Ek voel jy verdien ook die Awesome Blog Content Award. Gaan loer hier :
    http://sonelscorner.wordpress.com/2012/02/18/awesome-blog-content-award-really/
    *hugs*

  8. Charms sê:

    Oe aeries en rook en kaaskrulle! Baie geluk klein Twakkies.

  9. Genugtig , is jy al so oud ?
    Geniet die dag en sorg dat al die groot mense na jou luister en doen wat jy se .
    Ek meen dis moes jou dag die .
    Lucas

  10. Marius sê:

    geluk aan klein Twakkies – ek kan daai party “sien” … lol

  11. Jan Jacobsz sê:

    Baie geluk met klein Takkies se verjaarsdag.Ek sou graag die uit die koek springery wou bywoon al is dit net om te sien hoe my bril opstoom!!!Sterkte daar.

  12. MaanKind sê:

    Een van die dae vlieg Twakkies self daardie aerie!

  13. Krista sê:

    Baie geluk aan klein Twakkies se opkomende verjaarsdag!

    Hoop die vliegery draai goed uit en die caterers onthou van die instruksies. Laat weet tog hoe die kaaskrul pastei proe!! 😉

  14. Sonel sê:

    Baie geluk klein Twakkies en baie geluk aan julle ook Janna! Geniet sy daggie saam met hom. 🙂

Lewer kommentaar op Jan Twak Kanselleer antwoord