‘n Aparte hel vir Mechanics

 

Ek het onlangs my testament verander.  Ek wil begrawe word met die beste paar ‘Cat’ loopstewels op die mark.  Met ‘n hele paar spaar sole.  Ek besef in die hemel gaan mens baie moet stap. Vir ‘n baie lang tyd.  Daar sal nie motorhandelaars wees nie.  Indien ‘n geselekteerde paar dit dalk sou maak, met uitsonderlike genade van Bo (of hulle dalk in die plek in lieg), sal daar beslis geen mechanics wees om die motors te onderhou nie.  No ways.  Miskien is daar  ‘n aparte hel vir hulle gereserveer, gewone sondaars sal nooit saam met hulle kan huishou nie.  As daar wel ‘n aparte hel vir hulle is, hoop ek Lucifer stuur al sy gebreekte Tata bakkies en Land Rovers vir hulle om reg te maak.

 

Maar kom ons begin by die sondeval.  Ek onthou nog goed die dag, ‘n hele paar jaar gelede, toe ek my BMW 328i in Johannesburg gaan haal het.  Met ‘n leë bankrekening en ‘n vol gemoed durf ek die pad terug Bloemfontein toe aan.  Ek is windgat verby.  Die voertuig het twee exhauste en ‘n ‘sunroof’.  Ek is naderhand papnat gereent, maar dis my eerste ‘sunroof’.  As mens vinnig genoeg ry is die reën nie so erg nie.  Buite Johannesburg, op die highway, kan ek vir die eerste keer vinniger as 180 ry.  Ek maak maar die sunroof toe – ek kan nie meer die Klipwerf CD bokant die wind hoor nie.

 

Net voor Kroonstad bel ek vir Ouboet, my advokaat-vriend in Krugersdorp.  Hy moet homself reg hou om my te kom uit ‘bail’.  Daar het sopas ‘n spietkop voor my ingespring om my pret te bederf.  Ek had twee opsies.  Stop en slaap definitief in die tronk of jaag weg en slaap miskien in die tronk.  In my tru-spieëltjie word die agtervolgende blou liggies egter al kleiner en kleiner.  Maar ek is bang vir ‘n blokade by Kroonstad.  Dié dat ek solank bel om die regshulp op bystand te plaas.  Kroonstad se mobiele arrestasie eenheid kom nie vinnig genoeg tot aksie nie en ek haal Bloemfontein sonder verdere voorval.

 

Die BMW gee my jare se vreugde en harde kilos sonder enige probleme.  Toe gee ek die kar vir my vrou.  Op 360 000km, maar die voertuig lyk en ry nog soos nuut.  Ek skrik die dag toe ek saam met haar ry.  Op 170 sê ek vir haar sy kan maar oorsit vierde rat toe.  Nee, sê sy vir my, op die grondpad het die kar beter traksie in derde.  Maar ja dis seker een van die redes hoekom ek met my vrou getrou het.  Ry kan sy ry.  Hard en lekker, maar altyd in beheer.  Ook met karre.

 

Dit was seker net ‘n kwessie van tyd voor die oproep moes kom.  Vroulief bel my daardie oggend half tien.

 

“Jou kar is in sy moer.”

 

My liefde, my sielsgenoot, my kameraad het seergekry in ‘n ongeluk!  Gelukkig makeer my vrou niks.  Sy was oppad Dewetsdorp toe vir ‘n hofsaak.  Grondpad.  Derde rat.  ‘n Kar van voor, het ‘n klip onder die BMW gegooi.  Daar was ‘n harde slag.  Toe, wit rook en borrels wat onder en bokant die dashbord uitkom.  By die bonnet is die borrels groen.  Die kar wil nie meer ry nie en daar is ‘n duik van onder af op die bonnet.  Dit voel asof iemand die nuwe rookwet vir my voorlees.  My vrou sê ek moenie worry nie.  Die staatsaanklaer het ook daar verby gery oppad na dieselfde hofsaak toe.  Hy sal vir die landdros verduidelik en sommer die saak uitstel.  Hy ken die ou by ‘Rooikat Insleepdienste en Tweedehandse meubels’ op Reddersburg.  Hy sal haar kom insleep.  Jy kan net sowel vir my gesê het ‘n Kubaanse dokter gaan ‘n hartomleiding op my doen.  Ek klim in my Isuzu en jaag Reddersburg toe.  Ek is net betyds om te sien hoe my geliefde gehak aan ‘n rooi Ford-Cortina-insleeppatent, met ‘n wit rooikat op die bonnet, by die werkswinkel inry.

 

Die mechanic maak die bonnet oop.  Hy fluit.  Dis ‘n lang fluit afgwissel met ‘n klomp kortetjies en weer ‘n lange wat van hoog na laag gaan.  Die werkswinkelvoorman hoor die lawaai en kom ook kyk.  Hulle fluit nou saam in ‘n duet.  Ek stop die lawaai, ek soek ‘n diagnose, ‘n prognose.  Die voorman gee die diagnose, terwyl die mechanic weer begin fluit.  Dit klink soos in ‘n pastoor Ray McCauley diens net voordat kollekte opgeneem word.

 

Die radiator het ‘n gat in, die fan het toetaal gedisintegreer en die bonnet het ‘n duik in.  Die man vermoed dis die minste van die skade.  As die fan so vinnig vernietig is terwyl die kar op spoed was, is daar ‘n goeie kans dat die enjin in sy moer is.  As my vrou stadig gery het is daar miskien hoop.  Ek kyk vir my vrou, maar sy skud haar kop – daar’s nie hoop nie.  Rooikat Insleepdienste doen nie sulke ingewikkelde prosedures nie, maar hulle sal reel dat die voertuig by BMW Bloemfontein kom vir ‘n offisiele skadebepaling.

 

‘n Week later besef ek my versekeraar gaan dit ook nie tot in die hemel maak nie.  Hulle sal die bonnet regmaak, maar nie vir die enjinskade betaal nie.  Hulle glo nie dis ‘n klip wat die fan stukkend geskiet het nie, BMW’s se fans maak glo maar so as hulle oud word.  Ek vra hoe verklaar hulle dan die duik in die bonnet.  Nee dis maar toevallig dat dit op die selfde tyd gebeur het.

 

Vier weke en R24 000,00 later ry ek met die kar terug Edenburg toe.  Halfpad begin die kar brul soos ‘n jags leeumannetjie wat afgekamp is.  Ek stop dadelik en bel vir BMW.  Die mechanic wat aan die kar gewerk het verseker my die geluid is normaal, die enjin moet net ingeloop word.  My vloek -en skeltaal rol soos water van ‘n eend se rug af en ek vermoed dis nie die eerste keer dat iemand so met hom praat nie.  Ek hoor nog ‘n vloek en skellery aan die ander kant van die lyn en die mechanic sê hy moet nou gaan, daar is nog ‘n kliënt wat hom wil sien.

 

Ek ry Reddersburg om en vat die BMW na die garage reg langs die Rooikat-ouens.  Die plakaat buite die plek adverteer hulle kan alles, van gebreekte trekkers tot rondloper katte regmaak.  Die mechanic aan diens se naam is Bullet van Zyl en hy het voorheen by BMW Bloemfontein gewerk voordat hy hom bekeer het.  Ek hou van die man, al het hy ‘n tattoo van ‘n kaal tannie op sy voorarm.  Dis die manifault.  Hulle het hom nooit behoorlik vas gemaak nie.  Jy het spesiale spanners nodig en die enjin moet gelig word.  Ek moet die kar terugvat Bloemfontein toe.

 

Omtrent ‘n jaar daarna kla my vrou oor ‘n vibrasie op die stuurwiel as sy oor 180km/h ry.  Ek het gesweer BMW Bloemfontein sien my nooit weer nie en ek vat die kar vir Bullet.  Hy het intussen sy vrou met ‘n fanbelt en dryfas bygekom, sy werk verloor en toe sy eie garage in die dorp oopgemaak.  Ek is bietjie bekommerd, die nuwe werkswinkel lyk soos ‘n ontploffing in ‘n Hyundai fabriek, maar ek trek nietemin die BMW oor die put.  Dis die ‘front cotrol-arm se bushes’, hulle moet vervang word.  Ons moet self die parte gaan koop, hy het nie geld of vervoer nie, maar hy sal dit vir ons insit.  Ek het simpatie met die man se situasie en gaan koop die parte.

 

‘n Week later oorhandig ek die kar weer aan my vrou.  Dieselfde middag kla sy nog steeds oor die vibrasie op die steering.  Dis nou erger, al op 160km/h.  Ek bel vir Bullet.  Nee ons moet eers die kar se ‘alignment’ laat stel.  Dit sal nou uit wees na hy aan die kar gewerk het.  Ons vat die kar na Speedy in Bloemfontein vir die alignment.  Die gedagte van ‘n aparte hel vir mechanics kom by my op toe ek later Speedy se nota op die dashboard kry.

 

“Unable to set alignment – Please replace front control-arm bushes.”

This entry was posted in Uncategorized and tagged , , , , . Bookmark the permalink.

12 Responses to ‘n Aparte hel vir Mechanics

  1. demoerin sê:

    Bwahahaha…dis nie vir jou ongeluk nie, dis vir jou ongelooflike manier van iets raak beskryf.

  2. Olga sê:

    Kyk, my grootste klagte teen mechanics is dat die wetters so tydsaam is. Dis nou die ford manne. In my tuisdorp, hoor ek, loer ‘n sekere mech nou nog, veertien jaar nadat ons getrek het, steeds goed rond voordat hy ‘n straat oorsteek. Ek het hom gewaarsku ek gaan hom platry en het dit twee keer byna reggekry. So ons hoop maar dat hulle hulle eie hel gaan hê.

  3. Son sê:

    Ek het agt jaar lank gewerk met statistieke van al ons grootste motorhandelaars en mense se terugvoere oor spikslinternuwe karre. Ek mag nie name noem nie, maar daar is sekere fabrikate waarmee jy my nie lewendig of dood sal vang nie, nie in hierdie lewe of in ‘n volgende een nie. Daar is ‘n sterk moontlikheid dat motorverkoopsmanne ook maar erger as die kameel deur die naald se oog sal sukkel om deur die poorte te gaan.😈

  4. Soos die dag wat my wit 200sx (100 % “original”) ingaan na ‘n baie betroubare erkende Nissan meganikus om die koppelaar se meester silinder (wtf ??) clutch cylinder ….. te vervang.

    Die bliksemse noobab (wat meeste van die werk gedoen het) se overall knoop het oralste voor op die bonnet sulke krapmerke tot deur die verf gemaak. Fok. Ek was befok ! “Toemaar” “Ons sal dit uit polish – hy het vergeet om ‘n lap oor die bakwerk te gooi voor hy beginne werk het. Fok ..

    EK het daai wit sx sommer netso gou-gou verkoop – befok verby. Die hele dorp weet van die donnerse mech en sy noobab.

  5. MostlyDazed sê:

    Hier op Nelspruit is ‘n mechanic wat ek oortuig is sal die poorte binne gedra sal word. Eerlik tot op die punt waar dit aan goddelikheid grens. Laat ek jou vertel, dis fantasties om hom te ken. Hy het sy eie werkswinkel. Dis erg as jy nie die werkswinkels van die onderskeie motorhandelaars eers meer kan vertrou nie. EK kan jou sories vertel wat jou hare sal laat uitval van skok.

  6. ekisanna sê:

    Ai Jan, jy kan ‘n ding darem maar raak saamvat. Jy het my volle meelewing….ook al so gevoel. Teen hierdie tyd kon jy gewoonlik al amper ‘n nuwe kar gekoop het, maar ja, ‘n man (of vrou) se kameraad bly sy kameraad.

Gesels gerus saam

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s