Liksens vir ‘n huwelik

Vrydagoggende is melkdag.  Op ons buurdorp is ‘n melkplaas wat vir die laaste sewe jaar agtereenvolgend bekroon is vir die beste melk in die Vrystaat.  Sulke geel, dik, romerige melk wat, ten spyte van die feit dat dit nie gepasteuriseerd is nie, met bakterietelling van minder as ‘n kwart van die aanvaarde minimum standaard spog.  Elke Vrydag, douvoordag, steek Jan dus die Isuzu se neus Reddersburg toe, om vir die kêffie te gaan melk koop.

Mamma ry dié Vrydag saam vir geselskap.  Nou ons almal weet meeste dose is gewoonlik bruin van kleur.  Soms is hulle ook nie van karton gemaak nie.  So spring  die man met sy bruin uniform reg voor die Isuzu net lat ek wil oorsit vyfde rat toe.  Padblokkade!  Net buite Edenburg!  Nou wat die spul geregsdienaars gedink het hulle gaan by Edenburg vang, behalwe ‘n hoer oppad huis toe, weet net hulle alleen.  Maar die manne in bruin wil eers my bestuurslisensie sien voor enigiemand huistoe kan gaan.

Ek is onmiddellik so moerig soos ‘n motorbike-ryer met aambeie.  Almal ken my mos.  En ek dryf al van die slag wat ek Oupa Jan se Vaaljapie-trekker ge-erf het.  Okei, daai tyd was dit sonder liksens, maar ek ís mos gestraf na die ongelukkige voorval deur die pastorietuin.  Drie maande lank moes ek Oom At se spietkopkar elke naweek was.  Die liksens het ek op die dag van my agtiende verjaarsdag gekry.  En al moet ek nou beskeidenheid se kraan bietjie toedraai – dryf kan ek dryf.  My lisensie het sommer die eerste slag met erekleure gekry.  Dit, of Oom At was net bly om my vir ‘n slag wettig te kry.

En nou soek die moer in bruin my liksens.  Sulke voorbarigheid!  Ek wil net my stem tot ‘n Afrikaanse les verhef toe Mamma my been vasgryp en sê ek moet kalmeer, die saak met sersant Meyburg is ook nog hangende.  Kalmeer of te nie, my liksens lê in die kêffie se laai, so 500m terug dorp toe.  Mamma sê sy sal gou draf en die ding gaan haal, maar Meneer wil niks weet nie.  Ek moet die ding altyd by my hê as ek dryf.  Hy haal sy pienk slippieboek uit en begin sommer skryf asof ek klaar iets by hom gekoop het.  Mamma hardloop nietemin om die bewys te gaan haal, ek moet die man net so ‘n bietjie besig hou.

Dit is vrek moeilik om vir tyd te speel deur ‘n kort naam soos Jan Nel stadig uit te spel, maar ek praat maar so stadig en onsamehangend as moontlik, terwyl ek rookbolle in sy private spasie met ‘n Stuyvesant blaas.  Die man soek my straatadres, maar ek kan nie presies onthou nie.  Ek begin met die hoofstraatgeboue aan die anderkant van die dorp en een vir een tel ek nommer en besigheid hardop af, tot ek by die kêffie se nommer kom.  Mamma is vrek stadig, seker maar die hoëhakskoene van haar hofpakkie, maar sy is net betyds terug met die kaartjie toe die man by my ID-nommer kom.

Nee, ek ken nie die nommer uit my kop nie, maar hier’s my liksens hy kan dit sommer van daar afskryf.  Hy moet dan sommer op sy pienk slippie skryf waarvandaan hy die ID-nommer gekry het.  Die man sê daar is net plek vir sy R1000,00 op die slippie hy kan nie nog goed byskryf nie.  Die R1000,00 sal goedhartiglik R500,00 word, sodra ek my lisensie vir die aanklaer kan toon.

“Nou wat de fok het jy nou daar in jou hande!”  my humeur is op breekpunt.  Die man sê ek moenie so vloek nie en tik-tik waarskuwend op sy boeie.  Ek wil hom vra of hy al ooit boeie deur sy aambeie gehad het, maar Mamma sleep my weg.  Ons sal die sakie later uitsorteer.  Dienaars van die SA reg maak gewoonlik iewers ‘n fout in die geregtelike proses se uitvoering.

Met ons terugkeer van Reddersburg is die blokkade nog daar, maar die knape keer my nie weer voor nie. Hulle weet mos nou ek het die liksens by my.  Ek en die geliewe amptenaar kommunikeer nogtans so in die verbyry, dat dit lyk asof ons elkeen in die middel van ‘n vlieëplaag staan.  Terug by die kêffie bekyk Mamma die pienk slippie noukeurig.  Ons is aangekla van ‘n oortreding ingevolge Wet 95 van 1996.  Dit lyk nie vir haar nie reg nie, sy sal die wet netnou by die hof gaan trek om te sien wat dit is.

Op ‘n klein plekkie is dit nie onwaarskynlik dat die aanklaer by sy aangeklaagdes se kêffie kom koop nie.  Dawid, die streeksaanklaer kom koop elke keer as hy in die dorp is, sy padkoeldrank by my kêffie.  Dié middag is geen uitsondering nie, maar Dawid lag van oor tot oor toe hy by my lessenaar stop.  Mamma het toe die boete vir hom gebring en hulle moes diep gaan krap vir die wet op die slippie.

Hy het dit nog nooit strafregtelik gedoen nie, maar hy vermoed dat dit dalk heelwat goedkoper as die siviele proses kan wees.  As ons skuldig pleit is ek en Mamma amptelik geskei.  Ons is aangekla van ‘n padoortreding ingevolge The Divorce Amendment Act 95 of 1996.

This entry was posted in Uncategorized and tagged , , , , , . Bookmark the permalink.

9 Responses to Liksens vir ‘n huwelik

  1. demoerin sê:

    Bwahahaha. Shame, die oomblik was seker te groot en toe kry hy sy nommers deurmekaar.

  2. ekisanna sê:

    Kostelik soos gewoonlik. Wnneer kom daai boek jong?

  3. Son sê:

    Bwahahahaha! Ek beter volgende keer kyk onder watse artikel ek aangekla is as ek weer ‘n boete kry. You never know where your luck lies!😉

  4. Charms sê:

    Dis seker die goedkoopste en maklikste skeisaak ooit! Beteken dit dat daar nou weer ‘n bruilof gehou gaan word?

  5. Plasie sê:

    Nou wonder ek so in my stilligheid wat julle twee voor in daai bakkie aangevang het dat die ridder van die koelteboom gevoel het egskeiding is die gepasde straf vir die okkasie…nee sies Jan man, jy ry kos aan met daai bakkie.

Gesels gerus saam

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s