Die pad na ‘n man se hart.

Oom Maans Viviers vat ‘n koffie saam met my oorkant die kêffie se lessenaar.

“Het die maag darem al losgekom Oom?” vra ek versigtig.  Oom Maans was vroeg die oggend van Nuwejaar in die kêffie om ‘n spul purgasiemiddels te koop.  Brooxlax, Laxa-pille en ‘n paar sakkies Eno’s net vir die wis en die onwis.

“Broer was dit nou ‘n storie!” sug-roep Oom Maans terwyl hy onwillekeurig oor sy besonders prominente middellyf streel.

Oom Maans vertel:

“Almal weet mos nou al dat ‘n hubare wewenaar op die platteland skaarser as pikkewyne in die Sahara is.  So het Tannie Sarie Erasmus en Tannie Sus Lampbrecht mos nou altwee hulle voelers uit vir my.  Nou nie een van die twee is nou te onaardig nie, miskien altwee bietjie belustig, die mans is mos lankal dood.  Nie dat dit nou regtig pla nie.  Die ding is altwee van hulle weet presies waar loop die paaie na ‘n man se hart.  Kook kan die twee kook.  En hulle voer vir my asof ek moet inweeg vir die slagpale.  So kom ek toe darem altwee oor die seisoen tegemoet en reël dat ek Kersdag by Tannie Sarie gaan eet en Nuwejaarsdag by Tannie Sus.

Op Kersdag kuier ek toe saam met haar hele familie op die stoele onder die koeltebome.  My kar se stof het nog nie behoorlik gaan lê nie toe is Tannie Sarie al by met die bordjie voor-eet-goedjies.  Die res van die familie moet self opstaan en gaan skep.  Ek word verplig om te bly sit, Tannie Sarie sal vir my skep – soos ou getroudes.  Nou ek vermoed Tannie Sarie moes een of ander stadium op die spoorweë gewerk het, want sy kén van laai.  Daai bordjie eetgoed is so gelaai met kaasworsies, ribbetjies en skilpadjies, ek moet amper op my stoel staan om die boonste stukkie by te kom.   En ek móét eet, dit is mos nou immers maar ‘n kwesbare stukkie deel van ‘n vrou se hofmakery.  Toe kom sy daar aan met die skaapboudskywe, hoenderborsies en koue frikkadelle.  Ek wil net vir haar sê sy moet darem nou wragtig stadig, toe sy sê ons moet kom aansit, die hoof Kersmaal is gereed.

Toe ek die pad net na nagereg vat stop sy ‘n emmertjie koue geskilde turksvye in die hand.  Nou kyk as daar een ding is waarvoor ek my siel op ‘n skinkbord sal weggee, is dit ‘n koue turksvy.  En dit was ‘n fout.  Die aand toe ek die troon bestyg weet ek dit was ‘n moerse fout.  Die emmertjie turksvye moes ek dalk nie so leeggemaak het na al die etery nie.  Maar ‘n man kom mos nie agter as ‘n mens so in die ry sit en peusel nie.  En turksvye het mos ‘n snaakse manier om heel onder te loop lê en ‘n prop te maak.  Daai prop sit stywer as ‘n bottel appelkooskonfyt se deksel wat lug gekry het.  Die heel week probeer ek elke aand.  Maar ek kry net ‘n paar los turksvypitjies uit.  Dit klink die heeltyd soos ‘n windbukspatroontjie wat ‘n blikkie skeef tref, maar niks verder nie.

Dis nou tot ek die purgasiegoedjies Nuwejaarsoggend by die kêffie kom koop het.”

“En toe Oom?” vra ek nuuskierig.  Die Kersmaal waarvan die oom vertel het, het nogal heel vullend geklink.

Oom Maans vertel verder:

“Ek het nou werklik gehoop die maag kom los voor die Nuwejaarsdag-etery, maar niks.  En een ding van Tannie Sus.  Op ‘n manier het sy uitgevind wat ek als te ete gehad het op Kersdag en als moes meer en beter.  En ek móét eet, anders is Tannie Sarie mos beter as Tannie Sus.  Hier teen oumiddag, net na nagereg en die vrugtekoek, voel ek die purgasiegoed het deurgewerk tot by die turksvye aan die onderkant.  En ek verskoon myself.  Ek moet terugjaag na my eie plaas toe, want ek weet wat kom en dit sal ongeskik wees om dit in iemand anders se ablusie te doen.

Nog nooit het die 60km pad plaas toe so lank gevoel het nie.  Ek is ook heel uit oefening uit, want die heel week druk ek al en nou moet ek skielik knyp.  Ek ry naderhand met my kop heel by die Isuzu uit soos die kajuit vrot van die voorwinde.  En ek besef hier is dit vyftig-vyftig, of ek dit gaan maak of nie.  En as die pad nou net nie ook so sinkplaat en hobbels was nie, was dit ook dalk beter.  Dit woel hier in my maag en dit voel naderhand of dit by my neus en ore ook wil uitkom.

By die plaas is daar nie eens tyd om die Isuzu af te sit nie.  Ek gooi net die deur oop en hardloop.  Ek weet dis vyftig-vyftig.  Ek gaan dit maak of nie.  Toe ek deur die kombuis hol is my belt reeds los en toe ek die draai vat in die gang af is ek klaar uit my broek uit.  Ek weet dis vyftig-vyftig.  Ek gaan dit dalk maak of nie.”

Die oom hou op praat en steek eers ‘n Lexington aan.

“En toe, het Oom dit gemaak, of nie,” ek sit al op die punt van my stoel van senuwees.

“Nee jong, jy weet mos nou al groot skrik en groot opelyf loop nie saam nie.  Nou wie die grootste geskrik het weet ek nie.  Ek of die twee inbrekers teen wie ek vasgehol het in die slaapkamer nie.  Maar een ding kan ek vir jou sê.  Ek dink nie enige inbreker, dief, skurk of plaasaanvaller gaan jou Oom Maans ooit weer in sy eie huis voorlê nie!”

This entry was posted in Uncategorized and tagged , , , , . Bookmark the permalink.

16 Responses to Die pad na ‘n man se hart.

  1. Francis sê:

    Nee man Jan, Ek sit in die kantoor en het nou al my makeup af gelag en ek kan nie ‘n geluid maak nie, want die rooinekke hier sal dit nie snap nie.

  2. demoerin sê:

    Bwahahahaha. Ai, jy het darem amar net ‘n manier…..

  3. murphy sê:

    Ek en vriendin praat net noudiedag van turksvymaag. Nie ‘n gawe ding nie.

    Lekker gelees en gelag, dankie!

  4. Son sê:

    😆 😆 😆 Toe is daai inbrekers kniediep in die…

  5. Sjoe, het ek nou net so lekker saamgelag ou Jan. Baie dankie vir nog ‘n goeie storie. Ek het dit terdeë geniet.

  6. Reinhardt sê:

    Dankie Jan, soos altyd het ons te lekker gelag!🙂

  7. Meesterlik, broer Jan!

Gesels gerus saam

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s