DIE OUJAARSAAND DANS

 

Die lewe is vol keuses.  ‘n Mens kan besluit om die Oujaar/Nuwejaar in die stadsgedruis met blink liggies, vuurwerke en diskomusiek deur te bring.  Indien jy skuldig voel oor jou gedrag in die vorige jaar, kan ‘n mens selfs kerk toe te gaan.    My oupa Jan het natuurlik geglo ‘n mens voel eerder skuldig op die dansvloer, as wat mens in die kerk sit en wens jy was elders.  ‘n Mens kan natuurlik ook ‘n plattelandse dorpie besoek en jou siel se saligheid onderwerp aan die plaaslike gholfklub se Oujaarsaandreëlings.

 

Die feit dat ek en my vriend Ouboet op 31 Desember 1994 by Edenburg se gholfklub opeindig was nie te wyte aan ons eie beplanning nie.  Wat ons oorspronklike planne vir die aand was, kan ek nie onthou nie.  Synde voorbeeldige studente by Kovsies het ons heel waarskynlik beplan om na ‘n rustige aandjie ons siele te gaan verfris by ‘n Oujaarsaand kerkdiens of iets dergeliks.  Maar die duiwel werk in vreemde maniere en hy gebruik nie altyd handlangers van sy eie kudde nie.  Oom Japie Theron is ‘n gerespekteerde man in Edenburg se gemeenskap.  Voorsitter van die gholfklub.  Die Oujaarsmiddag,  so vier-uur bel hy my met ‘n desperate stem:

 

“Jan, maak jy nog musiek?”

 

Oom Japie verduidelik dat Gielie van Tonder die musiek by die dans sou kom maak het, maar dié het blykbaar vroeër die middag van ‘n windpomp afgeneuk en is heel uit aksie.  My pa-hulle wat op Edenburg bly, het Oom Japie op my spoor gesit.  Hulle het nou nie geld om my te betaal nie, maar dit gaan ‘n lekker partie wees (mits daar natuurlik musiek gaan wees) en die musiekmaker se drankies en kos is natuurlik op die huis.  Die onderhandelings maak ongelukkig nie voorsiening vir ‘n assistent se drankies ook nie, maar Oom Japie sê Ouboet kan so veel eet as hy wil, hy moet net vir sy drankies betaal.  Nou met Ouboet is daar ‘n baie fyn skeidslyn tussen drank en kos. ‘n  Mens weet nooit waar die meeste skade gaan wees nie, maar ek stel Oom Japie gerus dat sy reëlings piekfyn is.  Ouboet sal seker iewers deur die aand net ietsie ligs gryp om aan te peusel.  Drankpryse by ‘n gholfklub op die platteland is in elk geval altyd beter as billik.

 

Toe ons so twee ure later voor die gholfklub stop, wag Oom Japie ons in met die twee glase brandewyn en Coke.  Nee, maar ons het dan gereël Ouboet sal vir sy eie drank betaal.  Hy drink ook nie brandewyn nie, maar whiskey.  Nee, sê Oom Japie.  Altwee glase is myne; hy is bang ek loop leeg.  Hy het ook die mense by die kroeg opdrag gegee dat daar nooit meer as een leë glas voor my mag staan nie.  Om die kroeg se boeke te laat klop het hy reeds twee vol bottels afgeskryf met my naam op.  Maar ek hoef nie bekommerd te wees nie.  As ek kort raak, skryf hy nog af, hy moet dit net aanteken dat die boeke kan klop.  Hy wat Oom Japie is, is erg dankbaar oor die onbaatsugtige diens wat Jan hier op kort kennisgewing hier aan die gemeenskap kom lewer en wil tog nie hê ek moet dalk vroeg pad vat weens ongasvryheid nie.  Die man raak erg emosioneel en steek sommer net daar vir die omstanders ‘n mooi spietsie af oor Jan se deugde en mooi dade in die gemeenskap.  Oom Japie sien ooglopend al ‘n geruime tyd al om na die belange van die kroeg.

 

Dan word ‘n groepie jong seuns bymekaar gegil en Oom Japie beduie waarnatoe hulle die klanktoerusting moet dra.  Ek moet net die drade aanmekaar sit.  Dit is ‘n besonderse lekker partytjie.  Die kroegman kwyt hom besonders goed van sy opdrag en so nou en dan kom loer Oom Japie ook om te sien dat sy instruksies tot die letter uitgevoer word.  Ouboet is ook heel tevrede.  Die drankpryse is minder as ‘n kwart as wat hy begroot het vir die aand se kuier in die stad.

 

Teen tien uur weet ek, ek moet nou plan maak, anders gaan ek die Nuwejaar bewusteloos in.  Brandewyn en Coke word uit ‘n nimmereindigende fontein voor my geplaas en daar is nie soveel as ‘n beseringstyd tussen doppe nie.  Ek gaan maak ‘n reëling met die Sampie die kroegman.  Ek wil nie ongeskik lyk nie, maar vir so uur of twee moet hy net vir my skoon Coke skink.  Daar is nie ‘n manier nie, sê Sampie.  Oom Japie kom kyk gereeld na die toestand van Jan se ‘privaatbottels’ en die man gaan erg afgehaal voel as daar nie vordering gemaak word nie.  Sampie lyk vir my besonders dors en ek bied toe aan, dat my drank in sý glas sal beland.  So sal almal tevrede bly en Sampie gaan in elk geval lankal nie meer na die AA vergaderings toe nie.

 

Teen half-twaalf het ek genoegsaam vernugter om agter te kom dat daar fout is.  Die dansvloer is besonders leeg en Ouboet is al ‘n geruime tyd nêrens te siene nie.  By die kroeg klink dit soos ‘n Vrydag-vendusie en die plekkie rondom die toonbank is gepak van die mense.   Ek stap nader.  Daar is ‘n nuwe kroegman aan diens.  Ouboet grynslag van oor tot oor deur sy dik snor, terwyl hy die mense bedien.  As nuweling in die gemeenskap, ken sy gewildheid geen einde daar agter die kroegtoonbank nie.  Ek stap maar om die toonbank, om vir Ouboet te gaan help.  Hy het baie meer klante as wat hy kan hanteer.  Ek wonder in elk geval oor hoe Ouboet, wat ‘n kortkop of drie korter as ek is, my skielik loodreg in die oë kyk.  Dis Sampie, beduie Ouboet na sy voete.  Die man het uitgepaas en daar is nie genoeg plek nie, nou staan hy maar bo-op hom.

 

“Wat kos die drank?”  vra ek vir Ouboet terwyl ek vir my eerste klant skink.

 

Nee, hy weet nie, maar hy hou dit maar maklik vir die kleingeld se onthalwe.  Hy vra ‘n Rand vir ‘n dubbel met mix.  Dieselfde vir twee biere.  As dit te duur is, sal hy netnou Happy-Hour roep.

 

“Waar is Oom Japie?” is my bekommerde reaksie toe ek die drankpryse hoor.

 

“Jy praat seker van die Oom wat netnou so aangedaan was toe ons hier aangekom het.  Nee, hy’t netnou gesê hy gaan maar kerk toe.  Sal nou-nou terug wees.”

 

Met die terugkeer van Oom Japie word die kroegman summier van sy pos onthef en die musikant kan ook maar huis toe gaan.  Niemand is meer in staat om te dans nie.  Nou waar ek Ouboet presies verloor het daardie aand, weet ek nie.  Ek sluip maar alleen in my ouerhuis in en slaan dadelik neer op my slaapbank.  So ses-uur Nuwejaarsoggend maak my ma my wakker.  Happy New Year!   Maar sou Ouboet nie ook saamgekom het nie?  Ek is nou erg bekommerd en verduidelik maar dofweg vir my ma, dat Ouboet ‘n spul ou vriende raakgeloop het en verder daar gaan kuier het.

 

Om ‘n dronk man by die huis te sien aankom is klaar interessant.  As dit iemand anders se huis is verkry die interessantheid dokumentêre gehalte.  Ek hou die toneel deur die sitkamervenster dop.  Dit is ‘n geel gehawende Ford Sierra wat Ouboet voor my ouerhuis aflaai.  Die man is erg serebraal aangetas en ek vermoed sy after-party was nie by geheelonthouers nie.  Ouboet strompel-slinger en sy gesig is in konsentrasie vertrek om op die tuinpaadjie te bly.  Halfpad na die deur, poep hy en dit is hard genoeg om hom tot stilstand te dwing.  Pynlik stadig draai hy voetjie vir voetjie om, om te kyk wie raas so.  Daar is niemand agter hom nie en hy draai met dieselfde omslagtigheid weer terug en sukkel maar verder tot by die voordeur.  Uit my pa en ma se slaapkamer hoor ek giggels en ek besef hulle is besig om dieselfde toneel deur húlle venster gade te slaan.

 

Ouboet staan en wieg voor die voordeur.  ‘n Lywige bossie sleutels word uit ‘n broeksak te voorskyn gebring.  Een vir een word die sleutels probeer.  So twee of drie keer moet gebuk word om die bossie van die vloer af op te tel.  Dan is die wiskundige eliminasie-proses deurmekaar en word daar van voor af met sleutel nommer een geprobeer.  Uiteindelik besef Ouboet, dis nie sy eie huis nie.  Die feit dat dit eintlik my ouerhuis is, moes ook iewers deurgeskemer het, want dit is ‘n hele paar minute later voor die man moed kry om die klokkie te druk.  Hy spoeg-spoeg bietjie in sy hand en probeer dan met ‘n bewerige veeg, sy deurmekaar hare bietjie platstoot.  Hy wil darem nie soos ‘n hierjy lyk as dit dalk my ma is wat die deur oopmaak nie.

 

Toe ek die deur uiteindelik oopmaak, is daar duidelike verligting in Ouboet se oë.  Hy is bly dis nie my ma of pa nie.

 

“Ouboet! Jy moet kom happy-happy sê!” daar is ‘n aspris-klankie in my pa se stem waar hy vanaf hulle slaapkamer skree.

 

Ouboet se oë word soos ‘n bobbejaan wat slang gesien het en hy skud sy kop: “Ssjê vir tjou pa ek ssshal nou-nou…”

 

“Ouboet ons wag!”  my pa hou sy stem gemaak kwaai.

 

Die gang is besonders lank daardie oggend en ek ondersteun maar vir Ouboet terwyl hy sy ‘dead man walking’ roete stap.  My ma se kant op die bed is naaste aan die deur en sy staan op.  Ouboet se glimlag span reg om sy gesig terwyl hy my ma lomp omhels:

 

“Hêppppy-Hêppy Ssstannie!”

 

My ma wikkel haar gou los uit sy greep.  Die man ruik nie te lekker nie. Maar Ouboet het ‘n massiewe probleem.  Om by my pa se kant uit te kom moet hy reg om die bed stap.  Dit is ver en Ouboet staan met sy verstarde glimlag die situasie en oorweeg.  Hy wil nie hê die mense moet sien hoe hy loop nie, netnou dink hulle hy is dronk.  Genadiglik kom my pa tot die man se redding en stap maar self om die bed om vir Ouboet te happy-happy.

 

Waar Ouboet daardie aand was, weet hy self nie.  Aan sy beskrywing van die huis en die Cortina in die boom, neem ek aan dat hy by die du Ploy’s geland het.  Nié die vernaamste mense in die dorp nie.  Toe hy my vertel, hoe hy die eerste keer in sy lewe gesien het hoe donner ‘n vrou haar man, het ek meer as bloot die vermoede.

 

Die middag met ete lyk alles heelwat nugterder en na vyf Grand Pa’s en ‘n bottel Bioplus, is  Ouboet gereed om sy opsomming oor ‘n Oujaar op die platteland te maak:

 

“Hêppie-Hêppie!”

This entry was posted in Uncategorized and tagged , , , . Bookmark the permalink.

8 Responses to DIE OUJAARSAAND DANS

  1. 🙂

    Ha ha. “Picture the scene”, dis moer funny.

  2. Charms sê:

    Hahaha daai sleutel storie klink baie bekend. Ek het self ook so sit en lag op ‘n dag en toe maar die man uit sy penarie gehelp en oopgesluit. Dit was natuurlik na ‘n hele paar minute se lag dat die trane rol.

    • Jan Twak sê:

      Dit is erg frustrerend as jy die volgende dag hoor jou vrou het eintlik die deur vir jou oopgelos omdat sy geweet het jy gaan sukkel en dat jy dan self weer die deur gesluit het in jou poging om dit oop te kry!

  3. Ek is so bly jy help uit op kort kennisgewing. Ek moet vanaand preek en is te siek deesdae, sal jy dit asseblief kom waarneem?

  4. aikona sê:

    Klink so bekend !!!

Gesels gerus saam

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s