Skoene vir Ore

Soos ek verstaan ondervind sommige mense die aankoop van nuwe skoene as ‘n uitsonderlike stimulerende, lekker en ontspannende ervaring.  Veral vrouens.  Wel, ek moet bieg, ek moet nog die man ontmoet wat die ervaring enigsins in die rigting van eufories sal beskryf.  Die laaste keer wat ek kan onthou dat ek opgewonde oor skoene geraak het, was toe ek nog kind was en die skoene wieletjies aan die onderkant gehad het.

Wanneer ‘n mens groot voete het raak die skoenkoop-ondervinding meer iets in die rigting van ‘n slegte uitdaging.  As jy vir die verkoopspersoon noem dat jy ‘n nommer twaalf dra, word jy na ‘n klein rakkie aan die agterkant van die winkel gelei.  Die keuses word uiters beperk en ‘n mens mag geensins kieskeurig oor handelsmerke of kleur wees nie.  Tog kry ‘n mens darem altyd iets, al is dit dan nou ‘n stel pienk Mickey Mouse plakkies in plaas van kerkskoene.

As ‘n mens die dag oorslaan na ‘n nommer dertien, vermeerder die moeilikheid eksponentaal.  Sonder uitsondering moet die verkoopspersoon eers ‘n leer gaan soek.  Jy word gelei na ‘n deel van die winkel wat mens nie gedink het bestaan nie en die verkoopsman klim op een van die heel hoogste rakke aan die agterkant van die winkel se personeelkombuis.  As jy gelukkig is klim hy weer die leer af met een, miskien twee verslonste bokse.  Dit is soos om ‘n lucky packet oop te maak.  Jy weet nie wat binne is nie, maar jy weet dat jy sal moet vat wat jy kry.

Ek is deel van ‘n klein deeltjie van ‘n gelukkige groepie mense wat ‘n nommer veertien skoen dra.  Ek het al geleer om die nuus so sagkens en diplomaties as moontlik aan die verkoopspersoon te breek.  Met ‘n baie sagte stem fluister mens: “Ek soek ‘n nommer dertien, miskien veertien.”  ‘n Mens noem maar altyd die dertien ook, dit help om die skok bietjie te breek.  Dit maak egter nie saak hoe diplomaties die syfers gegee word nie, jy word nog steeds aangekyk asof jy ‘n sirkusnar is wat toebroodjies soek en daar word openlik na jou voete gestaar.  Dan word ‘n mens se naam op ‘n waglys geplaas en ‘n aansoek word na ‘n fabriek in Singapoer gestuur.  Soms gee hulle vir ‘n mens ‘n hulppakkie van die OVV ook.  Die skoenversameling wat ek het is dus uiters kosbaar en beperk.  Al drie pare word met sorg en respek behandel.

Ons huis het ‘n vreemde aantrekkingskrag vir troeteldiere.  Miskien is die aantrekkingskrag grootliks te wyte aan die feit dat ek en my vrou ons huis met vier korter mense deel.  Die diere word ook so goed weggesteek dat ek gewoonlik eers na ‘n paar maande agterkom dat daar al weer ‘n ekstra inwoner is.  Soms vang ek hulle uit met die kospakkies wat in die kombuiskas is.  ‘n Blikke katkos lei gewoonlik tot die ontdekking van ‘n ekstra kat in Elize se kamer.  ‘n Sakkie hondpille lei tot die ontdekking van ‘n bosluishond wat onder Jaco se bed slaap.  Die pakkie “Jolly Jumbo African Grey Mix” verklaar die etter wat my laatnag so in my eie huis vloek.  Comien kom nou die dag met ‘n brulpadda by die huis aan.  Na ek haar mooi verduidelik het dat paddas nie in mense se huise kan bly nie, stel sy my gerus.  Die padda is nie om te bly nie, sy het net ietsie lekker vir haar nuwe slang gekry.

So bevriend Kleintwak homself met ons swart bure se hond.  Nogal ‘n netjiese klein wollerige bruin hondjie met swart kolle.  Die hond dra ‘n naamplaatjie wat sê hy wil graag “Ore” genoem word.  Nou of dit werklik hulle hond is weet ek nie, ek het baie swart vriende en kennisse en nie een noem hulle honde “Ore, Pote” of iets dergeliks nie.  Hulle hou meer van name soos, “Jaap, Eugene of Hendrik” as die hond baie kwaai is.  Nou sit ons met ‘n tweestryd.  Die bure wil niks daarvan weet dat ons die hond aanneem nie, maar Kleintwak en die hond is onafskeidbaar.  So begin die hond toe brekfis, later middagete en nog later al sy etes by ons huis nuttig.  Dit maak my effens ongelukkig dat ons vir ander mense se hond moet sorg (hy kry duidelik nie genoeg kos aan hulle kant nie), maar nie kaart en transport vir die hond het nie.  Na Mamma al die bosluise afgetrek het, ontdek ons ook dat die hond eintlik heel bruin is en nie regtig swart kolle het nie.

En so speel Kleintwak en Ore.  Onafskeidbaar.  Dag en nag.  Soos Twakkies die hond dra vermoed ek die hond gaan inderdaad een van die dae op sig, sonder ‘n naamplaatjie, “Ore” genoem word, maar die hondjie gee nie om nie.  Hy is lief vir Kleintwak.  ‘n Paar keer kry beide ‘n loesing as hulle my huisreël van geen diere in die huis oortree.  Met gemengde gevoelens weet ek egter dit moet stop.  Halwe eienaarskap met diere werk nooit uit nie.  Een of ander tyd trek die bure dalk, of ons word kwaad vir mekaar en dan gaan Ore die bron van groot hartseer wees.

Vanoggend is Mamma en Kleintwak albei demoer in vir my.  Daar is ‘n stilte vol bliksemstrale in die Twakke se huis.  Ek voel ook effens skuldig, maar my skoene is my skoene.  Ek dink ek het reeds iewers kortliks genoem dat hulle redelik moeilik bekombaar is.  Laasnag word ek wakker van ‘n “njam-njam-grrrr-njam” voor my bed.  Half deur die slaap sien ek vir Ore.  Hy is besig met ‘n midnight snack.  Dit is my skoene.  Hy is besig om hulle fyn en flenters te kou.  Ek oorweeg my opsies.  Met my kussing kan ek nie die hond gooi nie.  Dan is dié vol hare en ek sukkel reeds met ‘n allergie.  Met my skoene wat gewoonlik voor my bed staan kan ek hom ook nie gooi nie, Ore is reeds besig met hulle.

Mamma praat uiteindelik wat op die hart is: “Maar die bedkassie, Pappa!  Hoe kan jy ‘n hond met ‘n bedkassie gooi?”  Mamma het op die sensitiewe oomblik wakker geword toe die hond klaar gegooi is en met ‘n moerse lawaai by een van die laaitjies uitgepeul  en toe met ‘n vreeslike hartseer rumoer deur die badkamervenster sy vryheid gaan soek het.  Die bedkassie het ook by hom ‘n blywende indruk gemaak.

So is dit nou al ‘n paar dae wat die hond nie meer by ons eet nie.  Die bure het ook kom verneem, want Ore was lanklaas daar.  En as Kleintwak en Mamma verwytend die onderwerp aanroer, sê ek maar net:

“My skoene, is my skoene.”

This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

8 Responses to Skoene vir Ore

  1. Son sê:

    Nou wonder ek…

  2. Pingback: Toe herders « OLGA SE OKSELTJIES

  3. Reinhardt sê:

    Ja-nee, daar is net sekere goed van ‘n man waarmee jy nie mors nie.

  4. My vriend CJ was die SA hoogspring kampioen. Size 16.
    Sy buddy Franz Kruger het diskus gedoen en ek dink hy was ‘n 18.

    Elke keer as CJ in ‘n winkel kom waar daar skoene was wat hom pas het hy hulle gekoop.

Gesels gerus saam

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s