Geteelde moeilikheid

 

Tannie Gertie Gertenbach is een van die min vrouens in ons dorpie wat nooit getroud is nie.  Nie dat ek glo dat enige huwelik met haar in elk geval verder as die kerk se buite trappies sou vorder nie.  Dit sou verkeerd wees om te sê Tannie Gertie vat nie moeilikheid nie.  Nee, sy vat vir hom deeglik saam oral waar sy kom en gaan en daar is ‘n oorvloed om uit te deel.  As al die bedonnerdgeit van Brahmaanbulle, doringdraad, Skotsmanne en olifante met tandpyn, oor eeue heen in laboratoriums saam geteel was, is Tannie Gertie is na alle waarskynlikheid dáárdie genetiese eindresultaat.

 

Die een newe-effek van so ‘n getelery lê in die inboet van lengte van proefkonyn, vandaar die feit dat moeilike mense ook gewoonlik kort is. Tannie Gertie is oud.  Stokoud en kort.  Dalk was sy nog een van die oorspronklike bouspan wat aan die ark gewerk het.  ‘n Hele paar jaar terug het sy vir my gesê sy is drie en negentig en haar ID boekie vir my gewys.  Ek kon nie die boekie verstaan nie, want dit was in Hooghollands met Romeinse syfers by die datum.

 

Tannie Gertie se diensverskaffers verdwyn gewoonlik net so vinnig as wat hulle gekom het.  Geen loodgieter, elektrisiën, bank, afleweraar of telefoonmaatskappy kan met haar huishou nie.  Selfs die munisipaliteit het al op hul kaart ‘n rooi kring om haar huis getrek en amper soos Lesotho in Suid-Afrika, vorm Tannie Gertie se kaart en transport nie meer deel van die Edenburg munisipale distrik nie.  Toe die dorp destyds van handsentrale na outomaties oorgeslaan is, was Tannie Gertie die heel eerste huis wat gekoppel is en nie meer met die sentrale kon praat nie.

 

Dis ook nie net met diensverskaffers waarmee sy moeilikheid het nie, selfs die bietjie familie wat sy oor het loop sleg deur en dit is ‘n nimmereindigende proses soos sy haar testament kort-kort verander.  Oom Siempie Fouché van die prokureursfirma waar my vrou werk, het ook al by my kom kla.  Elke tweede maand moet hy loop testament verander.  Dan is sus en so onterf en Tannie Gertie weer afgekoel oor ‘n ander sus en so, wat maar weer kan erf.  Op een dag moes hy die testament al twee keer verander het.  Nou is hy ook van haar diensverskafferslys afgehaal en hy is nie seker of enigiemand enigiets gaan erf nie.

 

En snaaks genoeg vloek die tannie nie.  Nie ‘n skewe woord sal jy ooit oor die lippe van dié oud-musiekonderwyseres hoor nie, maar sy sê vir jou op sewentig verskillende maniere sleg dat dit amper melodieus klink.  Maar selfs ‘n onafhanklike staat kan nie heeltemal sonder die buitewêreld klaarkom nie.  Dis nou waar my kêffie in die verhaal pas.  Dit is die enigste diensverskaffer wat die toets van die tyd kon weerstaan.  Nie dat ek enigsins uitgesluit is van haar argwaan nie.  Nee, dit is maar net dat ek oor tyd geleer het dat daar soms ‘n kompliment in ‘n uitkak versteek is.  So lewer die kêffie dan al jare lank Tannie Gertie se kruideniers by haar huis af.  Sewe dae ‘n week, soms twaalf.

 

Die oproepe is ook altyd dieselfde.  Eers vra die tannie watse dag dit vandag is.  Ten spyte van ‘n kristalhelder brein vir haar ouderdom, het Tannie Gertie iewers tred verloor met die dae van die week en nooit weer opgevang nie.  Ek het al agtergekom dat sy so ‘n bietjie minder moeilik is, as mens sê dis Sondag, maar moet om hemelsnaam nie probeer om haar te konkel met ‘n ekstra Sondag in ‘n week om moeilikheid vry te spring nie.  Nee, die één keer wat ek dit probeer het, het sy my dadelik uitgevang en my twee Donderdae se moeilikheid in ‘n ry gegee.

 

As die tannie klaar die dag van die week verneem het, is dit eers tyd om die vorige aflewering te evalueer.  Item vir item word deurgewerk.  Prys, kwaliteit en algemene nut:

 

“Die tamaties was weer so pap ek kon niks met die goed doen nie.  En mens betaal ook ‘n plaas se prys vir die klomp sousballe!”

 

“En ek het mos gesê ek soek nie die blikkies Coke van die een met die dik lippe op nie!”

 

“Jy moet vir Ricoffy bel.  Ek is seker hulle het weer aan die resep gaan karring!”

 

“En jy stuur nie weer vir my blikkies vleis wat so moeilik oopmaak nie!  Ek is ‘n oumens onthou!”

 

“En die eiers het omtrent niks geel in nie, wat voer julle die hoenders?”

 

Na die evaluasie afgehandel is, is dit eers tyd vir ‘n vorderingsverslag.  Dit is nou die deel waar die vorige aflewering met die een voor hom vergelyk word.  Dit is dan ook hier waar die verskuilde komplimente in die uitkak gewoonlik lê:

 

“Daai piesangs van gister is effens beter as die gemors wat jy nou die dag gestuur het!”   Dit beteken dat die piesangs eintlik net ‘n doeanestempel kort, dan kan jy hulle maar uitvoer.

 

“Die joghurts wat jy eergister gestuur het, het omtrent niks ingehad nie.  Dit het nie eers ‘n dag gehou nie!” Dit beteken eintlik die joghurt is bleddie lekker, ek moet volgende keer meer of groter stuur.

 

Na die vorderingsverslag volg die nuwe bestelling.  Elke produk word in detail bespreek en ek moet rekord verskaf van wanneer iets gesaai, geoes, gemaal en verpak is.  Ook die roete en tydperk van die vervoer van die produk van produksie tot op my winkel se rakke.  Dan sal sy met ‘n groot miskien en met groot protes, die produk goedgunstiglik bestel.  Die goed moet vars wees.  Alles behalwe die piesangs.  Op haar ouderdom koop sy nie meer ‘n groen piesang nie.

 

Na die bestelling is die formele deel van die oproep afgehandel en Tannie Gertie verneem vinnig na my welstand.  Ek het al geleer daar is geen manier om die laaste stap te omseil nie, en na ‘n vinnige “Nee, dit gaan goed Tannie,” is ek onder streng verpligting om te vra: “En hoe gaan dit daar by Tannie?”  Wat dan volg is gewoonlik ‘n uiteensetting van alle meganiese, sosiale en tegnologiese probleme wat die aardbol in die laaste eeu getref het.  Dit word afgerond deur ‘n volledige mediese verslag van haar eie welstand.  Ek het al geleer om die telefoon se gehoorbuis eenkant te sit en aan te gaan met ander werk.  Sodra ek die woord artritis hoor, weet ek sy is naby klaar en sê dan maar net: “Ja Tannie, vandag se dokters beteken ook niks meer nie!”  Behalwe vir ‘n derde bevestiging van wanneer sy haar bestelling sal ontvang is dit min of meer die einde van die oproep.

 

Maar so is niks ook geheim op die platteland nie.  Die mense het gou agtergekom dat ek min of meer die enigste persoon of onderneming is wat Tannie Gertie se aanslae kan oorleef.  Ek word dus amptelike tussenganger tussen Tannie Gertie en die res van die gemeenskap wat uit noodlot iets met haar te doen moet hê.  Dan bel ek maar:

 

“Tannie Gertie, Eskom het gebel.  Hulle gaan vandag by die pale naby Tannie se huis werk.  Hulle vra dat Tannie tog net nie weer moet skiet nie!”

 

“Tannie Gertie, die OVV wil weet of Tannie hulle Kersete vir bejaardes wil bywoon.”

 

“Tannie Gertie, Die Volksblad het gebel en sê dis Dinsdag vakansiedag.  Daar sal nie koerant wees nie.”

 

Selfs die Ontvanger van Inkomste het my hulp al ingeroep om noodsaaklike dokumente van die Tannie se pensioen te laat gaan teken en een keer ‘n maand moet ek saamgaan as die polisie hulle oumensbesoeke doen.

 

Dit is vroeg op ‘n Woensdagoggend toe die Tannie weer bel en ek trek my notaboekie nader om die bestelling en gepaardgaande instruksies af te skryf.  Nee, sy sal later bel vir die bestelling.  Sy soek eers ‘n prokureur.  Dis dringend, maar sy soek nie vir Oom Siempie nie, hy is heeltemal te traag.  Ek sê maar vir die Tannie ek ken ‘n baie goeie vroue prokureur, maar versuim om te noem dat dit eintlik my vrou is.

 

Die Woensdagmiddag stap Mamma die kêffie binne.  Sy is klaar met haar afspraak by Tannie Gertie en dit lyk asof sy koffie nodig het.

 

“Hoe’t dit toe gegaan?” vra ek versigtig vir Mamma.

 

“Goed.  Jy erf alles,” sê Mamma.

 

 

 

This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

17 Responses to Geteelde moeilikheid

  1. Karin sê:

    Dit laat my opnuut na my Pa verlang wat die stingels van die skorsies afgebreek het voordat dit geweeg moes word.

  2. Toortsie sê:

    So bly jy is die erfgenaam! Want dit klink my jy is voltyds in haar diens! IEWERS sal sy darem vir jou moet vergoed!😆

  3. Reinhardt sê:

    Jan, ek het hierdie storie terdeë geniet! Soos altyd, baie goed geskryf! Ek sien uit na die troue-storie…

  4. Ek het dit nou baie geniet! Ken ons nie almal ‘n Tannie Gertie nie? Well done en 10 uit 10!

  5. Olga sê:

    kan jy nou glo? Ek is ontroon.😉 Ai, sterkte. Veral vir mamma. Dit was die eerste testament van baie.:mrgreen:

  6. Son sê:

    😆 😆 Net tot jy weer pap tamaties stuur, dan is jy ook onterf🙂

  7. Scraps sê:

    Daar word gesê elke mens in die lewe het n tweeling… Ek ken ‘n tannie op ‘n plaas in Botswana wat Tannie Gertie se tweeling sussie is!

  8. Ou Jan, jy kon die dominee gewees het!

    • Jan Twak sê:

      Self het ek al 2 verskillende paartjies so te sê self in die eg verbind. Dit was in my video en klank dae. In die een geval was dit ‘n Afrikaanse dominee wat ‘n paartjie in Engels moes trou (die bruidegom was ‘n rou Tommie). Op die kritiese oomblik waar die vrae gevra moet word hak die dominee toe heel vas. Ek dink hy was oorselfversekerd en het gedink hy ken die vrae in Engels ook uit sy kop uit, want hy het sonder papiere gepreek. Toe help ek hom maar hier van agteraf van die videokamera deur die vrae hardop te gooi! Hulle het nie gewag dat die dominee die vrae herhaal nie en my direk geantwoord tot groot vermaak van almal. So dit is seker tegnies debateerbaar wie hulle getrou het. Die ander geval…wel miskien is daar genoeg materiaal vir ‘n Jan Twak storie.

Gesels gerus saam

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s