Op ‘n plattelandse rak

My onderhandlelings met Vader Krismis hierdie jaar is in ‘n uiters sensitiewe fase, maar dit lyk darem of ons ‘n skikkingsooreenkoms van een of ander aard gaan bereik.  Ek het dus weinig tyd om nuwe stories te skryf en het maar ‘n paar stories wat op my eertydse  Litnet-blog was, gaan afstof.  So verskoon maar as jy ‘n deja-vu beleef as jy hierdie lees.  Hierdie eerste storietjie is eintlik ‘n goeie kennismakertjie met Jan Twak en gesin.

OP ‘N PLATTELANDSE RAK

In die moderne era is daar ‘n paar Middeleeuse-verskrikkings wat ‘n mens nog steeds te beurt kan val.  So kan ‘n mens opeindig as ‘n melkboer op Robert Mugabe se buurplaas of ‘n gratis kaartjie by SAL wen.  ‘n Mens kan selfs die Lotto wen en nadat jy ‘n urienmonster op jou baas se lessenaar gelos het, kan jy straks hoor jy deel die jackpot met agtien ander geheime wenners.

Maar die heel ergste verskrikking van almal is om ongetroud te wees op die platteland.

Digby puberteit begin die gemeenskap al raad, wenke en voorstelle vir ‘n toekomstige wederhelf maak, amper soos in een van daai lande waar huwelike besigheidstransaksies tussen families is.  Alhoewel geensins gespaar nie, het mans dit seker beter as vrouens, miskien so ‘n ekstra jaar of twee grasie.  Op die ouderdom van drie en twintig begin die mense vrae vra.  Op vier en twintig verander skimpe in onbeskaamde uitwysings van die teenoorgestelde geslag.  Op vyf en twintig is jy plain sleg en op agt en twintig glo almal jy kyk na ramme en nie na ooie nie.

Op dertig gee Ouma die familie se dooprokkie weg.  Wat ‘n bittere, bitter dag.  Ouma is ook dieselfde dag weg na Oom Siempie van Fouché & Fouché prokureurs, glo om haar testament te gaan verander.

‘n Paar bittereinder ou tannies volhard nog elke keer as hulle my sien: “Nou wanneer trou jy?”

Op twee en dertig raak ek moeg vir die vraag en uit desperaatheid deel ek die tannies mee dat ek ‘n rammetjies-man is en nie na ooie kyk nie.  Die leuen werk wonderbaarlik en die teistering is onmiddellik weg.  ‘n Wolkbreuk van skinder bars los, maar ek het die voordeel van die platteland. Geen woord van die skinner hoef ek self aan te hoor nie.  My ma is bitter ontsteld oor die stories (sy moes natuurlik meeste aanhoor), maar ek troos haar dat dit deesdae die in-ding is om so bietjie skeef te trek.  Van die meer liberales in die dorp begin selfs nou uitkyk vir ‘n mooi rammetjie-maatjie vir my.  Skerp hou die mense my en Poena du Plessis dop as ons saans ‘n dop by die hotel gaan maak en kyk of ons na die tyd elkeen na ons eie huis gaan.  Ons is lekker aspris en hou die dorpsmense gewoonlik tot so drie-uur toe wakker voordat ons gaan slaap.  Naderhand het ons die mense heel deurmekaar en was dit nie vir my growwe stem nie, het die mense seker gedink ek is ‘n hamel.  So trou Poena toe met ‘n danseres van ‘n wilde plek en selfs die ouderling kom skud my hand en hoor of ek orraait is.

Op vier en dertig ontmoet ek ‘n ou skool liefde, heel toevallig op een van my omswerwinge.  Agtien jaar se onopgeloste rusies en misverstande verdwyn in die niet en ons begin troureëlings tref.  Die feit dat sy ‘n weduwee met drie kinders is, pla my nie.  Dit sal help dat my agterstand met een slag ingehaal word.  My aanstaande vroulief is egter op daardie stadium in Potties woonagtig en praktiseer as ‘n prokureur. Ek is 800km verder in ramme-land.   Die Woensdagmiddag stap ek na Oom Siempie toe, hy moet sommer vir my ‘n magistraat of iets reël – ek is haastig om te trou.  Die langafstandvryery is duur teen R9,00 per liter en Ousus ry oor drie dae Afrika toe.  Sy is ‘n toergids en haar toere duur elk drie maande.  Troues is ‘n rare gebeurtenis in ons familie en sy sou dit nie graag wou misloop nie.  Vroeër is dus beter as later.  Oom Siempie sê dit werk nie so op die platteland nie.  Hy wil niks weet van ‘n magistraat nie, hy sal ‘n dominee reël.  Ek bel my aanstaande en sê sy moet haar liggaam op ‘n vliegtuig kry.  Ons trou dié Vrydagoggend in my ma se voorhuis.

Die vinnige troue het die skinnerbek-brigade stomgeslaan, maar hulle trek nietemin hulle kerkalmanakke nader en trek ‘n rooi kruisie op ‘n datum so nege maande later.  Die vrou het mos immers al haar vrugbaarheid bewys, as mens nou so na die drie kinnertjies verwys.  Nege maande is later verby en plek-plek duik van die rammetjie-stories weer op.  So ses maande daarna betaal ek uiteindelik my belasting aan die gemeenskap en die nuus van vroulief se swangerskap versprei soos cholera in Zimbabwe.

Die een moderne marteling wat Middeleeuse mans vrygespring het, was die teenwoordigheid by vroulief se kraam.  Vroeg-vroeg sien ek daar is geen wegkomkans nie, bystaan sal ek moet bystaan.  Die gemeenskap verwag dit.  Jy is die naam van “vader” nie werd as jy dit sou durf waag om buite te wag, soos mans al die eeue lank maar gedoen het nie.  Jy SAL die bloedige verrigtinge in ‘n klein groen jurkie bywoon!

Om drie-uur die middag van die 18de Februarie begin vroulief se eerste kontraksies.  Ek sien die bodem van twee pakkies dertig Stuyvesant, voordat die dokter daardie aand om twintig voor twaalf, vir Vroulief beveel om te druk.  Ek onthou skielik daardie rugbywedstryd toe ek teen groot Boelie Wessels moes skrum.  Druk, druk en DRUK, maar niks gebeur nie.  Ek staan getrou by die koppenent van die bed.  Vroulief hou my hand vas om my krag te gee.  Sy het verkies om die ding sonder ‘n epiduraal te doen, amper soos om teen Boelie te skrum sonder ‘n skrumpet.  Vir vyftien minute lank wonder ek of my vrou intense plesier of pyn beleef.  Sy het vreemde gesigsuitdrukkings en ek vrees dat ek my romantiese streek vir ewig gaan verloor.  Sy deel ‘n paar Crimen Injuria spreekwoorde van die prokureursberoep met my en die dokter.  Die dokter is oud en baie rustig, klaarblyklik opgehou tel by tienduisend babas.  Hy steur hom min aan my vrou se geskree en dit lyk amper of hy verveeld is.  Ek wonder stilweg of ‘n cracker onder sy agterstewe hom sal laat lewe kry, maar gee later aan myself toe, dat ‘n opgewonde dokter in die kraamsaal miskien onvanpas sou wees.

Hardnekkig klou Klein Twakkies aan die 18de Februarie 2008 vas.  Vyf minute voor middernag vra Oom Dokter of ek die naelstring wil knip.  Ek wys dié deel van die outopsie beleefd van die hand.  Ek voel ek het meer as my deel gedoen.  Hy kan maar die knipwerk doen.

Alle Pa’s glo seker hulle kinders trek na hulle, maar ‘n vreemde gevoel werskaf in my siel toe ek vir Twakkies by die verpleegster neem.  Hy trek sy gesig en neus op vir hierdie vreemde, moeilike wêreld.  Hy frons en dit voel asof ek in ‘n spieël kyk.

This entry was posted in Uncategorized and tagged , , . Bookmark the permalink.

10 Responses to Op ‘n plattelandse rak

  1. MaanKind sê:

    Hy is ‘n pragtige ding! Wys ook. Hy sal defnitief vir mamma eendag bystaan.

  2. Krista sê:

    Ons is eers getroud rondom 31 en het die troue gereël binne 2 weke. DIs nou al amper 7 jaar later en die familie hou nog steeds die almanak dop!!

    • Jan Twak sê:

      Nou ken ek ook die storie agter jou email adres!

      • Krista sê:

        Ons het die storie elkeen op Wosonki deurgeworstel (daar was ‘n blog met daai naam ook) – agv George kan ons nie. Sad. But true. Party dae meer as ander.

        • Jan Twak sê:

          Ai Krista – ek sal dit gaan opsoek. Jy laat my weer vanoggend besef dat ek baie ryker is en meer rykdom het as wat enige geld ooit kan koop. Ek voel skaam dat ek depressief was toe ek vanoggend na my bankstaat geloer het.

  3. MostlyDazed sê:

    Herder, het ek nou weer lekker gelag. Ek kan so saam jou voel. Ek is tans op die drumpel (en ek bedoel erg naby daardie verdomde drumpel) van 32, ongetroud en woonagtig in ‘n klein dorpie…

    Dankie vir die lekker lag.

Gesels gerus saam

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s