Bynaam vir ‘n weerprofeet

Synde karakterontwikkeling maar nog uiters beperk is met geboorte, kry ‘n  doopnaam maar ‘n slegte tweede plek as ‘n bynaam eers gegee is.  Tensy daar natuurlik uitsonderlike karaktertrekke met geboorte aanwesig is word byname gewoonlik eers later in die lewe gekry na aanleiding van een of ander verdienstelike karaktertrek of episode.  Dit is nou behalwe vir die paar ongelukkige uitsonderings as ‘n baba met aanskoue van sy eerste lewenslig vir die res van sy lewe as byvoorbeeld Ore van Zyl, Pinocchio van Deventer of Klokke Labuschagne bekend sal staan.

‘n Bynaam vertel mens natuurlik so bietjie meer van ‘n persoon selfs nog voor enige ontmoeting en dien partymaal as ‘n waarskuwingskoot voordat blad geskud word.  Dink maar aan Os du Randt, Pote Fourie en Domkrag Erasmus.

Dit is nie net karaktertrekke nie maar ook unieke gebeurtenisse wat aanleiding tot ‘n bynaam kan gee.  Uit my vroeë werksdae en veral universiteitsdae was daar ‘n legio persone met interessante byname.  Glips van Tonder, Jaap Kortpaadjie, Freefall Jackson, Kots Vermeulen, Kleingees van Zyl, Apla Coetzer, Bandiet Venter, Traangas Ferreira, Orgie Bezuidenhout, Broekloos Coetzee en Jan Brandewyn, om maar net ‘n paar te noem.  Elkeen natuurlik met sy eie tragiese verhaal van herkoms.

In Edenburg het Oom Koos Conradie met ‘n ongelukkige voorval sy Nissan Skyline deur Oom Gert Roos se tuin gerol op pad terug van een of ander kuier.  Drie bome is ontwortel en ‘n paar tuinkabouters is ontman.    Vir ewig sou almal agterna praat van Koos Tuindienste.

So ruil ek en Stef Kruger eendag tydens ‘n saketransaksie stories oor ons universiteitsdae uit.  Ons is beide oud Karee-koshuis manne, Stef ‘n hele paar jaar my senior.  Ek vertel hom van ‘n ontgroeningspraktyk wat in my jare plaasgevind het.  As eerstejaar het ons in skofte die koshuis se voorportaal beman om voordeurdiens te doen.  Amper iets soos ‘n ontvangsdame.  Ons moes inkomende oproepe na die regte telefone in die gange herlei, inwoners inlig oor besoekers wat op hulle wag en ook ander algemene afkondigings oor die koshuis se interkomstelsel maak.  As reël moes die eerstejaar wat eerste op diens is, die “ooms” met ‘n vriendelike rustige stem wakker maak oor die interkom.  ‘n Mens moes terselfdertyd ook ‘n volledige weervoorspelling gee sodat die ooms hul dag se beplanning na behore kon doen.  Dinge soos wat om aan te trek, of dit miskien beter sal wees om in die bed te bly, of dalk ‘n buitelug partytjie te reël.  ‘n Presiese temperatuurlesing moes ook gegee word.  Vir daardie doel is ‘n liniaal in die voorportaal gelos.  Die eerstejaar moes ‘n belangrike anatomiese deel van homself meet en dan die temperatuur in sentimeter in plaas van grade Celsius gee.  ‘n Tipiese afkondiging het dan min of meer so geklink:

“Goeie more al die ooms van Karee.  Indien u wil klas bywoon, is dit nou tyd om op te staan.  Dit is ‘n heerlike bewolkte dag met ‘n paar verfrissende druppels reën wat reeds val.  Die huidige temperatuur is 14 sentimeter.”

Nou deur die wet van gemiddeldes toe te pas en ‘n paar wiskundige omskakelings te doen, kon ‘n mens nogal ‘n redelike akkurate afleiding oor die weer maak, al was dit dan nou net in sentimeters gegee.  In die winter was dit aansienlik makliker en hoef mens nie eens die wiskunde te gedoen het nie.  Vyf sentimeter was inderdaad dan min of meer 5 grade Celsius.

Stef knik sy kop instemmend en lag.  Dié spesifieke praktyk was al reeds in sy tyd as eerstejaar ook in gebruik.  Dit is waar die legende van “Die Weerprofeet” sy naam gekry het.

“Weerprofeet?” vra ek nuuskierig.

“Nee, Dié Weerprofeet.  Altyd ‘n respekvolle “Dié” voor die naam Weerprofeet,” sê Stef en hy gaan aan met sy vertelling.

Dit was in die middel van ‘n ysige winter toe eerstejaar Kobus Venter die eerste keer geleentheid op oggenddiens  kry om die weer te meet.  Dit is bliksems koud, maar Kobus kondig af sonder om te blik of te bloos:

“Goeie môre ooms.  Dit is nou tyd om op te staan.  Dit is ‘n effense winderige dag, maar die son skyn en die temperatuur is 22 sentimeter.”

Boelie Plathand is die eerste senior wat by die trappe afstorm.  Hy is geklee in ‘n swembroek en handdoek.  Hy gaan swem.  Dit was ‘n bleddie koue winter en daar was lanklaas so ‘n lekker dag.  Tuna Rautenbach is kort op sy hakke met sy hengelgerei.  Vandag gaan hy nie klasdraf nie, die weer is te lekker.  Verskeie ander seniors drommel almal by die trappe af, elkeen met sy eie gedagtes oor hoe om die lekker warm dag te gebruik.  By die voordeur draai almal natuurlik om.  Die weer is sleg en dit is bliksems koud.  ‘n Formele klag word teen Kobus Venter gelê.  Huis Karee verdra nie leuenaars nie!  Die verhoor sal plaasvind met die volgende huisvergadering.

Dinge lyk sleg vir Kobus tydens die huisvergadering.  Een na die ander senior kom na vore om te getuig oor die emosionele trauma en teleurstelling wat hulle tydens die dag van die misdryf ondervind het.  Verskeie se reeds wankelrige klasdrafrekords is in hulle moer, sommige sit met verkoue omdat hulle nie warm genoeg aangetrek was nie en Tuna Rautenbach het sy deposito by die visvangplek verloor.

Dan kry Kobus darem ook geleentheid om sy saak te stel.  Hy wil dit graag in die privaatheid van die Primarius se kantoor doen.  Met ‘n liniaal.  Die huis is in rep en roer maar die versoek word toegestaan.  Dit is ‘n ernstige klag en die man moet geleentheid kry om homself te verdedig.  So is Kobus, die primarius en die liniaal weg om die nodige getuienis te bied en aan te hoor.

Daar is absolute stilte terwyl die huisvergadering vir die partye wag om terug te keer.  Na omtrent 5 minute keer die primarius grootoog terug.  Kobus is kort op sy hakke.  Hy is rooi in sy gesig, maar daar is darem ‘n effense glimlag.

‘n Mens kan ‘n speld hoor val terwyl die primarius sy bevinding gee: “Namens Huis Karee ons opregte apologie vir die valse beskuldigings teen eerstejaar Kobus Venter.  Alle klagte word hiermee formeel laat vaar en die huis onderneem ook om ‘n langer liniaal vir die voorportaal aan te koop.  Menere,” en die primarius draai effens om sodat hy vir Kobus kyk, “Ek stel aan u voor:  Dié Weerprofeet!”

“Dié Weerprofeet!”  roep almal in die vergadering hardop terwyl hulle opstaan en vir Kobus respekvol salueer.

“Ja,” sê ek vir Stef. “Soms is daar ‘n langer verduideliking nodig vir die oorsprong van ‘n bynaam.

This entry was posted in Uncategorized and tagged , , . Bookmark the permalink.

11 Responses to Bynaam vir ‘n weerprofeet

  1. Hendry Brand sê:

    Het nou lekker gelag Jan, al van te vore van jou stories gelees en voel vannaand sommer trots om uit te vind jy is n Kareeman! Die plek is darem maar in n mens vir die res van jou lewe. Vertel bietjie die verhaal van Freefall Jackson……Byekorf groete. Bul Brand

  2. ludwick sê:

    Jàn twak of sal ek se oom jan. … Ek is die huidige primarius van Huis Karee. Ek wil dankie se vir die karakter wat vir ons nagelaat is. Ek is besig om bietjie ou man stories bymekaar te maak en bietjie te vergelyk met onlangse stories ek is ook besig met ons 40 jaar reunie en sal graag bietjie met oom wil praat! baie dankie vir die moerse nice storie geniet dit baie > my epos is ludwickg6@gmail.com

  3. Jan, ons het die ewe(knie) van Die Weerprofeet in Olienhout op Tuks gehad. So kleinerige mannetjie met die bynaam Magalies

  4. Toortsie sê:

    Bloedrooi gebloos

  5. Dis nou die eerste mooi storie wat ek uit Huis Karee uit hoor🙂 Dankie Jan, hoop Die Weerprofeet is nog geseënd en vooruitstrewend in wat hy aanpak!

  6. Dirk sê:

    Het n broer wat nie geseen is nie maar gestraf>Had ek dit vroeer geweet sou ek hom gevra het om diesel deur die depot se heining te steel in die dae toe ek nog getransport het

  7. Plasie sê:

    Eendag in die showers gehoor by SAW en Seuns Korporasie (Edms) Bpk. Hey troep, waar gaan jy met daai deng? Jy gaan mos moeg word met daai deng!
    Klink my Dié Weerprofeet val ook in daai kategorie, synde ouens te wees wat nie sukkel met haal uit en wys nie maar slegs met groot moeite kan oprol en bêre

Gesels gerus saam

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s