Bruilof in Suid-Wes

 

 

Iewers op ‘n ashoop in die Suid-Vrystaat is ‘n gebreekte badkamerskaal wat tot 120kg kon weeg. Die ding het nog gewerk, voordat ek destyds op hom geklim het. Dit was ‘n hele paar jaar terug (ek weet nou van beter as om op skale te klim) en ek was vir ‘n universiteitsvakansie by die huis. Gelukkig was dit nie een van daai praat-tipe skale nie, maar ek was tog seker hy wou iets vir my sê, voordat die meganiese binnewerke finaal onder die aanslag van my gewig beswyk het. Met die eerste weeg na my (stille) verwoesting, was Ma was baie beïndruk met haar nuwe 51,2kg figuur, maar het die skaal summier weggegooi toe sy die volgende dag 106,8kg weeg.

 

Ten spyte van my gewigtige probleem, moet ek darem sê dat my amperse twee meter lengte effens help om die probleem eweredig te versprei. Ongelooflik vir enige praktisyn van die mediese professie, is die feit dat ek uitermate gesond is. Behalwe vir my rug wat so eenmaal ‘n jaar uithaak (heel beheerbaar met ‘n oordosis pille) het ek geen mediese kondisies nie. My besoeke aan dokters was deur my hele leeftyd uiters beperk en gereserveer tot uitsonderlike noodgevalle. In my kinder -en skooldae was die besoeke beperk tot my geboorte, waterpokkies en die slag toe ek teen Boelie Wessels moes skrum. Op universiteit was dit eenmaal met ‘n ingroei toonnael. Eintlik tel dit nie regtig nie. Die nael is uitgesny deur een van ons koshuis se eerstejaar mediese studente, met goedkoop brandewyn vir narkose.

 

Na universiteit doen ek aansoek vir ‘n lewenspolis. Die invul van my gewig en die regmerkie in die “rook-jy?-blokkie” verseker my van ‘n verpligte, baie deeglike mediese ondersoek. Dit is by ‘n vrouedokter met ‘n Juffrou Rottenmeier gesig. Intensief ondervra sy my. Sy kom by die gevreesde vraag en ek weet ek is onmiddelik skuldig bevind aan die grootste misdaad (toe was rassisme nog nie teen die wet nie) van die twintigste eeu. Ja, ek rook. Met my gewig as verswarende (letterlik) omstandighede lei sy my na die strafkamer.

 

Sy verbind ‘n magdom drade van my borskas tot by ‘n fênsie masjien en ek moet trappies klim. Op en af. Na dertig sekondes is ek moeg en kyk vraend na die dokter of dit nou genoeg was.

 

“Nee,” beduie haar lang wysvinger my terug na die trappies, “Nog lank van klaar.”

 

Na ‘n minuut is ek totaal uitasem en dit klink of die masjien wat my hartklop meet, ook sukkel. Ek lyk soos ‘n oorgewig Superman na ‘n geveg met die Incredible Hulk, terwyl ek die trappies een vir een in my rooi onderbroekie aandurf. Na ‘n halfuur vrees ek, ek gaan dieselfde effek op die masjien hê as op Ma se badkamerskaal van ouds. Ek sweet, kerm en vloek, maar Juffrou Rottenmeier is onsimpatiek en bleddie aspris.   Ek is seker sy en die masjien kon reeds sien wat hulle wou sien na die eerste drie minute. Net voor ‘n polis in elk geval te laat sou wees, sê sy ek kan maar stop en sy ontkoppel my van haar kontrepsie. Sy beskou die papiertjie wat die masjien uitgespoeg het aandagtig. Op en af lees sy, ‘n paar keer oor en oor. Sy kan kwalik die resultate glo. Sy trek ‘n optelmasjientjie nader en toets of die masjien nie dalk verkeerd opgetel het nie.

 

“Jy is dik, onfiks, maar uiters gesond mnr Nel,” ek kan sien sy is effens teleurgesteld. Dit lyk asof sy graag ‘n lang lysie siektes en toestande wou vind, waaroor sy my formeel kon berispe.

 

Die lewenspolis het ek toe darem gekry, effens belaai met omtrent R10,00 per kilogram.

 

My volgende besoek aan ‘n dokter was omtrent vyf jaar daarna. Ek werk as konsultant vir ‘n nasionale groothandelgroep en is besig met ‘n paar laaste take op kantoor, voordat ek op verlof sou gaan, Namibië toe. As stokperdjie maak ek musiek by troues. ‘n Goeie universiteitspêl, Kleingees, se suster trou dié langnaweek op Mariëntal en ek het ingestem om hulle te help met die musiekprobleem.

 

Die pyn tref my. Ongelooflik erg en baie skielik. Iewers op die kant van my maag voel dit of iemand my met ‘n elektriese tienpond-hamer slaan. Die pyn is geweldig en ek sak inmekaar. Vyf minute later jaag een van my reps met my hospitaal toe. Op pad soontoe braak ek van die pyn. My netjiese kantoorhempie is heel vol kots en lyk soos ‘n Sjinese vleismark. Ek maak my onderdaan omdraai na my huis toe. Ek weier om ‘n dokter met ‘n gekotste hempie te sien. Dit voel in elk geval of ek gaan sterf en ek kan dit net sowel by die huis gaan doen. Snor van Zyl, my buurman, sien die spektakel raak toe ons by my huis aankom. Hy is ‘n spietkop en neem onmiddelik beheer van die situasie. Met ‘n vars hempie aan my lyf vleg ons onder bloulig-begeleiding deur die verkeer, hospitaal toe.

 

“Nierstene.” So sê die nooddokter aan diens na sy vinnige ondersoek.  My kennis daarvan is beperk, maar ek onthou iewers het ‘n tannie eenmaal gesê sy kraam eerder ‘n tweeling as om weer nierstene te kry. My kennis van kraam is net so beperk, maar om ‘n tweeling te baar klink na ‘n welkome alternatief tot my pyn. Die dokter laat my summier opneem, hy moet opereer, dieselfde aand nog. Intussen gee hy my ‘n inspuiting wat lyk na iets wat Wouter Basson sou jaloers maak.

 

Na omtrent ‘n halfuur gee die pyn in onder die aanslag van die inspuitingsous en my gedagtes word helderder. Ek moet die dokter sien. Hier kan ek nie bly nie, ek het ‘n troue in Namibië.

 

Die dokter is simpatiek, hy is dan self ‘n oud Suidwester uit Karibib se omgewing. Hy verstaan die impak van die situasie. ‘n Troue in Suid-Wes is nie net ‘n troue nie, dit is ‘n bruilof. Ongevraagd vertel hy nostalgies meer. Dit is ‘n feestelike geleentheid wat nie net beperk kan word tot een dag nie. Dit is ‘n geleentheid wat in Alkoholiste Anoniem en Weigh Less se handleidings onder die top 10 gevaarlikste goed ter wêreld beskou word. Dit begin gewoonlik met ‘n welkom-spitbraai die Donderdagaand voor die troue. Die gaste kom van heinde en verre – hulle sal honger en dors wees want Suid-Wes het nie water nie. Die troue self is op die Vrydagaand, sodat die manne kan deurnag dans en nog steeds hul heiligheid vir die Sondag kan behou. Die Saterdag word daar weer van vooraf vuur opgesteek vir ‘n deeglike nabetragting van die huwelik.

 

“Dit is net so,” sê ek vir die Dokter en hy glimlag, “Ons program lyk net so!” Ek vertel hom dat ek verantwoordelik is vir die musiek.

 

In daardie geval sal hy my móét help. Daar sal musiek by die bruilof moet wees. Hy weet ek moet ry. Soos met ‘n skelm dwelmtransaksie stoot hy ‘n pakkie kapsules geheimsinnig oor sy lessenaar na my kant toe.

 

“Dié goed, sal help. Ek is nie veronderstel om dit uit te gee nie, maar jou pad is lank Broer.” Die blote feit dat ek op pad Namibië toe is, is genoeg vir hom om my as familie te beskou.

 

Dan voeg hy by: “Neem net een op ‘n slag, net as jy voel jy kan nie meer nie. Altyd op ‘n vol maag. As jy drake en vlieënde varke sien, lê plat vir so tien minute tot hulle verby is.”

 

Die kapsules lyk soos miniatuur duikbote uit die tweede-wêreldoorlog. Ek het skielik moed vir die 1400km na Mariëntal terwyl ek die ‘ontslag op eie risiko’ vorm van die hospitaal teken.

 

Die agtermiddag stop ek by my fotograaf vriend Heinemann se woonstel. Hy is die geleentheid se amptelike fotograaf. Hy gaan saam met my die 1400km tog na Mariëntal aanpak.

 

Gelukkig hoef ek nie self te bestuur nie, dink ek toe ek pynbeneweld uit my kar klim en na Heinemann se voordeur toe stap. Die fotograaf sal bestuur, terwyl ek op die agtersitplek sal lê en myself jammer kan kry.

 

Die fotograaf strompel-kruip by sy voordeur uit. Sy gesig is vertrek van die pyn terwyl hy verduidelik. Hy het hom ook voortydig uit die hospitaal ontslaan na ‘n rugoperasie. Hy dink nie die operasie was so ‘n groot sukses nie. Hy het baie pyn en sal maar op die agtersitplek lê om homself jammer te kry. Terwyl ons sy toerusting sukkel-sukkel by my klankmasjiene in die sleepwa laai, besef ek dit gaan ‘n laaang trip wees.

 

Ons ry in 30km skofte. Eers ek en toe ek nie meer kan nie, Heinemann, tot hy nie meer kan nie. Dan ruil ons weer. Later word dit 10km skofte en ons eksperimenteer met mekaar se pynpille. Gelukkig hoef ons net tot in Kimberley te ry, waar ons die aand sal oorslaap by ‘n tannie van my. Ek kry nie geslaap nie en draf al om die tannie se huis om my aandag van die pyn af te lei. Selfmoord is ‘n baie aantreklike opsie, maar my lewenspolis is te nuut. Ek moet nog twee jaar wag voor ek sulke goed mag doen. Heinemann het vir hom ‘n traksie-apparaat uit die tannie se home-gym gebou. Hy slaap aan sy voete opgehang.

 

Ons ry die Donderdagoggend vroeg, vir die groot skof Mariëntal toe. Die dokter se pynpille werk as jy hulle twee-twee saam met ‘n bier drink, maar veroorsaak die vreeslikste drogbeelde. Solank ‘n mens onthou die varkies met die rooi truie is eintlik ander karre, kan mens nogal jou eie voertuig op die pad hou. So nou en dan begin ‘n paar van die varkies vlieg, dan moet ek eers vir ‘n paar minute stilhou, of weer vir Heinemann laat bestuur.

 

Dit is Desembermaand en dis warm. Die kar se lugversorger werk oortyd tot op Upington. Toe werk dit nie meer nie. Nee, eintlik het dit het nie net ophou werk nie. Die ding is elektronies en het gaan vashaak en blaas nou net warm lug in die kar in. Ons kry nie die ding afgesit nie en ons ry maar verder in die snikhete sonskyn met die heater aan. Die son brand ons gaar en ons het seer.

 

By die Namibiese grens sukkel ons met die paspoortbeampte. Nie ek of Heinemann toon meer die vaagste ooreenkoms met ons paspoortfoto’s nie. Ons is rooi en geswel en lyk soos twee ou omies wat te veel gedrink het.

 

By Keetmanshoop begin Heinemann in tale praat. Die man lyk nou regtig sleg en is erg deurmekaar. Ek vra hom of hy weer van my pille gedrink het. “Nee,” sê hy vir my. Nie op Dinsdae nie, maar ek moet tog die kar se heater aansit, hy kry koud. Ek besef die laaste skof is myne en myne alleen.

 

By Mariëntal stop ek eers by die apteek. Daar is toevallig ‘n dokter ook en hy ondersoek die liggaam aan die passasierskant van die voertuig. Heinemann bestel ‘n melkskommel en ‘n shifting-spanner terwyl die dokter sy temperatuur meet. Die dokter skud sy kop. Heinemann het sonsteek en moet dadelik ‘n drup kry. Met ‘n drup op ‘n klerehanger en ‘n vars pakkie pille, is ons daar weg om te gaan bruilof.

 

Gelukkig is die Suidwesters nie te puntenerig oor musiek nie. Ek sit ‘n paar Klipwerf CD’s op en gaan soek ‘n stil plekkie om te vrek. Kleingees se een oom kom op my af. Hy weet presies wat die probleem is.

 

“Jy kan nie pynpille saam met bier drink nie,” sê hy vir my, terwyl hy sy flessie mampoer vir my aangee.

 

Die res van die naweek oorleef ek op pynpille en mampoer. Heinemann het darem in so ‘n mate herstel dat hy ‘n paar kiekies van die feestelikhede kon vat. Die Sondagoggend eenuur vat ons die pad terug Bloemfontein toe. Ek wil vroeg by die huis wees, ek het die Maandag ‘n vergadering in Johannesburg. Nadat ons ‘n hamer by Kleingees se pa geleen het, het ons darem die lugversorger op ‘n manier reggemaak dat dit nie meer warm lug uitblaas nie.

 

Voor Keetmans tref die ongeluk ons weer. ‘n Klip slaan ‘n gat in die kar se radiator. Gelukkig nie ‘n te groot gat nie, maar die enigste oop garage in Keetmans het nie ‘radiator sealant’ nie Ons koop maar ‘n paar leë kanne en maak die goed vol met water. So elke 20km moet ons eers stop en water gooi. Tussendeur stop ons ook by elke plaashuis, plaasdam of windpomp wat ons sien, om die kanne weer vol te maak. Later probeer ons maar die plaashuise vermy. Ons is dik gesuip aan koffie, want in Suid-Wes kan jy nie aan ‘n deur klop sonder om koffie te kry nie. Ons mors ook te veel tyd deur elke keer ons tragiese verhaal aan die nuuskierige Samaritane te vertel.

 

Dit is so nege-uur die Sondagoggend toe die Spar op Upington oopmaak en ons die botteltjie doepa kan koop. Wonderlike goed. Ons ry sonder (verdere) probleem tot by die Oranjerivier. Die sleepwa se band bars net annerkant die brug.

 

Die dag toe ek my kar gekoop het, het ek al daardie petieterige slinger jackie vervang met ‘n netjiese trollie-garage-jack. Met trots haal ek die ding uit my kar se boot. Ek is naderhand blou gepomp maar die jack lig nie ‘n duit nie. Ons moet die sleepwa afpak. Dit is reeds warm en die toerusting is swaar. Met die sleepwa leeg, sien ek kans om die ding op te lig. Ek lig. My nierstene doen bollemakiesies op eenwielfietse, maar ek hou, tot Heinemann ‘n luidspreker onder die as kan inskuif. Ons ruil die bande en pak alles weer terug.

 

Sommige stories het seker maar die integriteit van ‘n minister se universiteitsgraad, maar wragtig waar, net voor Kimberley bars die kar se linkeragterband ook. Daar is nie ‘n manier wat ek ‘n kar kan optel nie en ek wend my maar weer tot die gebreekte jack. Toe die ding klaar gestrip is, sê Heinemann dit lyk vir hom of die een silindertjie baie droog is. Hy glo die ding moet juice van een of ander aard inhê. Ons suig bietjie van my kar se briekolie. Gelukkig het ons nog Heinemann se leë drup met sy pypies byderhand. Versigtig maak ons die silindertjie vol en wragtig – ‘n halfuur later is ons weer op pad! Op Kimberley klop ons die bande plek se eienaar uit sy Sondagmiddag-slapie op. Daar is nie ‘n manier wat ek die laaste deel van die reis aan die onvoorsienigheid oorlaat nie.

 

Ons is stukkend en gaar gebruilof toe ons die aand in Bloemfontein stop. Terwyl ek my tassie vir die tog Johannesburg toe pak, weet ek dat die lewe hom nie laat ophou deur sukkelaars met nierstene nie.

This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

13 Responses to Bruilof in Suid-Wes

  1. LekkerLag sê:

    Ek wil ook inskryf, en ek is nie jou Skoonma nie, so ek hoopie hie is `n probleem nie.

  2. Reinhardt sê:

    Jan, jy het iets reg gekry wat geen ander blogger nog reg gekry het nie. Ek sit en lees jou storie op my foon terwyl ek op die trein sit op pad werk toe, en is so verdiep in jou sage van opoffering en deursettingsvermoeë dat ek skoon my stasie mis waar ek moet afklim. Gelukkig het jou storie klaar gemaak by die volgende stasie want ek was goed op pad om by Brisbane lughawe ‘n draai te gaan maak. Ek wil ook liewer nie weet wat die ander mense gedink het van daardie onnosele ou wat vir sy foon sit en kyk en lag dat alles tril nie. As my baas tog net Afrikaans kon praat sou hy meer simpatiek wees en verstaan hoekom ek laat daar aankom!

    • Jan Twak sê:

      Ai tog, jy moet maar vir jou baas ‘n stuk biltong vat. Al verstaan Aussies nie Afrikaans nie, verstaan hulle die smaak van biltong – ek is bly jy geniet!

  3. toortsie sê:

    As die dinge gebeur, gebeur dit nie tip tip tip nie…… maar sjorrrrrr🙂

  4. Charms sê:

    Genade Jan, bly julle het darem oorleef😯

  5. Liewe donner.
    En liewe donner vir Donkie se groot woorde !!

  6. My vriend, wat ‘n epiese verhaal van pyn en lyding, deursettingsvermoë en onvervalsde naasteliefde! Ek staan nou op aandag en salueer jou en jou vriend- julle is MANNE! Soveel het julle opgeoffer om daardie paartjie se groot dag die moeite werd te maak. Hierdie verhaal sal vir jare voorgehou kan word, as voorbeeld van altruïsme tot by die uiterste grense…

  7. demoerin sê:

    😆 Goeie genade…wat ‘n trip!

Gesels gerus saam

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s