Die gemaskerde Snork

“Nee, hel Pappa, so kan dit mos nie aangaan nie. Jy sal moet plan maak,” sê Mamma terwyl sy die slaapkamer se meubels een vir een weer regskuif.

“Plan maak waarmee?” vra ek half in die war. Ek lê nog in die bed en hou nie van moeilikheid so vroeg in die oggend nie. Die feit dat die moeilikheid van my vrou en ‘n prokureur gelyktydig kom, maak dit erger en ek wens ons huishoudster was ‘n advokaat.

“Jou snorkery,” sê Mamma terwyl sy Oupa Jan se portret van die grond optel en liggies afstof, voor sy dit respekvol weer teen die muur ophang.

“Ag dis g’n so erg nie,” verdedig ek.

“Miskien nie vir jou nie, maar ons ander moet heelnag daarna luister. Kom-kom-kom roer jou dat ons die bed weer teen die muur kan kry!” beveel Mamma kwaai. “Kyk hoe lyk jy! Mens kan sien jy kry g’n niks slaap nie. Jy’s moeg nog voor jy opgestaan het! Jy skryf nie eers meer blogs nie! En Tannie Marie Greyvenstein sê sy moes jou nou die dag agter die kêffie se lessenaar wakker gemaak het.”

Ek en Mamma het ‘n ernstige gesprek. Sy beweer daar is net een ding erger as my gesnork en dis as ek ophou snork. Ek hou kort-kort blykbaar heel op met asemhaal tot ek hortend en hygend my arms in die lug opgooi soos Mel Gibson in daai Brave Heart fliek toe hy in die derms gesteek is. Dit is blykbaar ook daar waar enige verdere ooreenkomste met Mel Gibson ophou en dan begin die snork weer van voor af. Mamma vermoed ek ly aan slaapapnee en ek moet dringend iets aan die saak doen anders sal sy dit vír my doen!

‘n Week later bevind ek my in Bloemfontein Technikon se slaapkliniek. Ek en Oom Jorrie van Deventer lê saam in die saal. Snaaks hoe ellende se wederhelftes mekaar kan opsoek en saam ‘n ding kan aanblaas tot ‘n mens, jy kan nou maar amper sê, in die hospitaal lê. Ek en Oom Jorrie is ewe vies. Ons kan mekaar omtrent nie sien tussen al die drade en masjiene nie. En ons mag nie eens rook om die ellende minder te maak nie.

Die mooi sustertjie vra of ek op my rug, my sy of dalk my maag slaap. Sy wil weet hoe om die drade te koppel. Nou hoe antwoord mens nou beleefd: “Normaalweg op my rug, behalwe as ek wil poep?” Ek sê maar op my rug en verwens myself later dat ek nie maar gesê het “op my maag” nie. Die natuur is mos ‘n vreeslike ding. Sodra jy iets nie mag nie, wil die liggaam met alle geweld. Soos Eva met die appel. Toe daai nurse die laaste draad teen my borskas vasgedraai het, toe voel ek al klaar hier is moeilikheid soos laas by die baked beans en bloukaas seminaar.

Die dokter kom in en sê ons moet probeer ontspan en slaap. Ons hoef nie te worrie nie, sy masjiene sal elke liewe beweging monitor. Nou weet ek my poep is in sy moer. Mens soek tog nie sulke goed op rekord nie.

Die dokter sit die lig af, nou lê ons maar. Ek en Oom Jorrie. Nie een van ons praat nie, netnou registreer die ding dit as snork. Dit is nog nie eens agt uur nie en ek is vrek lus vir ‘n sigaret. Hoe ek ooit aan die slaap gaan raak met die spul drade aan my, weet ek nie. Ek probeer my boude effens lig om ‘n ligte enetjie te los, maar onmiddelik maak een van die masjiene “tweeeeet”. Die dokter praat iewers oor ‘n luidsprekertjie. Hy klink kwaai en sê ek moet stil lê, ek verrinneweer sy drade.

Nou tel ek maar skape. Ek was nog nooit ‘n boer nie en dit gaan moeilik. Later besluit ek om eerder stock in die kêffie te tel. Dis immers meer in my lyn en dan is ek ten minste produktief ook.

Teen elfuur besluit ek om my self te ontslaan. Ek kry niks geslaap met die spul drade nie en die voorraad in die kêffie is nou al reeds twee keer gedouble check. Ek draai op my sy om bietjie wind af te blaas en die dokter te roep. Hy moet nou maar moerig wees as hy wil, behalwe vir Mamma is ek immers uit vrye wil hier, ek wil huis toe gaan. Verbaas kyk ek na die dokter wat reeds langs my bed staan. Daar is geen drade meer aan my borskas nie.

Die dokter verseker my ek het soos ‘n klip geslaap. Maar soveel van snork en apnee het hy nog nie gesien nie. Hy wil graag ‘n groter masjien op my koppel en ‘n paar van sy kollegas bel om ook te kom kyk. Hy het reeds vir Oom Jorrie na ‘n ander saal geskuif. Dié kon dit blykbaar nie meer uithou met my snorkery nie.

Terwyl hy die nuwe masjien koppel vra ek of ek hierdie slag maar op my sy kan slaap. Sy instemming bring besonderse verligting toe hy uit die kamer uitstap. Iewers protesteer iets weer “tweeeeet” op my verligting, maar ek worrie nie meer nie. Ek is moeg en gaan nou lekker slaap, drade en al.

Maar dis Oom Jorrie wat my wakker maak. Hy sukkel met die hout. Saggies en fyntjies probeer hy die massiewe houtstomp met ‘n petieterige figuursagie deurkloof. Ek sê vir Oom Jorrie hy sal nooit die hout so kloof nie. Ek sal hom help! Ek stop die eenkant van die treksaag in sy hande terwyl ek die ander kant vasgryp. Ons saag saam. Lekker man! Daai lem is naderhand rooiwarm maar die stomp wil nie bes gee nie. Ek sê vir Oom Jorrie ons moet iets beter probeer. Oom Jorrie sê hy het toevallig twee kettingsae byderhand, ons moet dié probeer. Ek sê dis reg, maar Oom Jorrie het my verneuk. Hy gee vir my die dieselmodel wat vreeslik raas, terwyl syne met twee flitsbatterye werk. Met ons nuwe tools vorder ons goed. Een groot stomp na die ander. Later is daar ‘n ou wat wil hê ons moet op kontrak brandhout vir Siberië saag.

Ek het net die kontrak klaar geteken toe die dokter my weer wakker maak. Rondom my bed staan ‘n skare manne met wit jasse. Party het skryfborde en een staan met ‘n videokamera. Meeste skud hulle koppe amper simpatiek toe ek heeltemal wakker is. Die dokter stel hulle een vir een aan my voor. Dit is almal sy kollegas, hy wou hulle net my besondere geval wys. Met die laaste ou praat hy Duits en ek kom agter dit het iets met biologiese oorlogvoering te doen.

Later toe almal weg is sit die dokter soos ‘n vertroueling by my bed se voetenent. Hy verduidelik dat ek akute slaapapnee het. Tegnies versmoor ek elke paar sekondes voor my brein my weer bewustelik wakker ruk om asem te haal. Gemiddeld 80 keer per uur. Van ‘n diep rustige slaap is daar geen hoop vir my nie. Maar hy wat die dokter is, het vir my hoop. Hy gaan my koppel aan ‘n CPAP-masjien. Dit is ‘n ding wat heeltyd lug by ‘n mens se lugweë inforseer en keer dat jy kort-kort wil versmoor. ‘n Mens snork ook glad nie meer as jy die masjien op het nie. As dit vir my werk sal hy een voorskryf wat ek huis toe mag neem.

Ek sê dis reg, Mamma sal daarvan hou, miskien kry ek dan weer ietsie. Die dokter kom nader met ‘n groot tipe suurstofmasker wat met ‘n pyp na ‘n masjien toe loop. Al my hoop op ‘n ‘ietsie’ vervaag. Mamma sal haar doodskrik as ek met so ‘n masker moet slaap. Die dokter sê ek moenie worrie nie. Hy slaap self met een. Vandat sy vrou fantasize hy is Tom Cruise in ‘n Top Gun vliegtuig, het dit wondere vir hul huwelikslewe gedoen.

Dit is vrek moeilik om met die masjien te slaap. Veral as mens teen die instromende lug moet uitasem. Dit is soos om teen jou eie poep te blaas, maar ek raak tog later met pyp en al aan die slaap. Vir die eerste keer in ‘n lang tyd slaap ek rustig en diep. Ek droom van Top Gun en hul byvoordele.

This entry was posted in Uncategorized and tagged , , . Bookmark the permalink.

20 Responses to Die gemaskerde Snork

  1. Ons het ‘n slaapkliniek in Pretoria, ja die meeste van die mans is skepties, “weet nie wat ek hier doen nie, niks fout met my nie” tot en met die volgende oggend wat ons bewys kan lewer wat deur die nag gebeur, dan kan dinge nie vinnig genoeg gebeur nie, skielik doodbang om dood te gaan in die middel van die nag ( ons ergste geval was ook 120 keer pr uur wat pasient ophou asemhaal.)Dit kom ook nie net voor by mans of oorgwig pasiente nie, of ‘n seker ouderdom nie.Sodra die pasient ook eerte nag geslaap het met cpap, kan ongeveer 80 % die volgende oggend getuig hulle voel soos ‘n ander mens. Ja dit is in die begin vir party pasiente ‘n aanpassing, maar vandag is die meerderheid van ons pasiente se grootste vrees om sonder hulle cpap te slaap. Soos van hulle se ek pak eerste my cpap dan worry ek wie anders in die kar is. Die cpap red ook nie net lewens nie, maar ook huwelike,glo my die vrouens kry net so swaar, sy moet wakker bly of van jou balke wat jy saag, of dat sy jou moet wakker maak wanneer jy nie meer asemhaal nie, indien sy dit wel nog doen, weet dat nog lief is vir jou, andersins nie, weet sy jou polisse betaal goed uit as jy sou iets oorkom. En ja dit verrig wondere vir die huwelik, soos een “ou” oom oggend na sy cpap slaap gese het, daar het iets saam hom wakker geword hy moet vinnig by die huis kom…….

  2. CyhloeZen sê:

    En die monster word getem!

  3. Olga sê:

    Jy stoei omtrent met ‘n tameletjie, Jan. Sterkte.

  4. Toortsie sê:

    Welkom, welkom!

  5. demoerin sê:

    Jinne. Welkom terug!😆 @ Topgun

  6. Pingback: Doringrivier balkesaag kampioen « Wosonki

  7. Son sê:

    😆 Miskien moet mamma nou vir haar een van daai alien uniformpies kry om in te slaap😈

  8. Charms sê:

    Hallo Jan! Wie het nou ‘n decorator nodig as jy naby is? Hoop jy slaap nou al beter. Dit lyk seker nou soos Beauty and the Beast in die slaapkamer.

  9. Jan Twak sê:

    Darth Vader! Nog ‘n fantasie! Dankie! Mamma kom nader dat ek jou met my light saber kan looi! (Die Top Gun raak nou al vervelig)

  10. Plaasjuppie sê:

    Ons het jou so lank laas hier gesien ek voel ek kan jou met die hand groet. Dag swaer, die naam is Juppie…Plaas Juppie. Ek bedryf die liegfabriek hier neffens jou kêffie.
    Die man wat laasjaar my neusgaaie oopgeboor het op plek te maak vir die neurochirurg se gereedskap het ook iets beduie dat ek moet kom vir toetse by die slaapkliniek. Ek het hom ignoreer en net vir mamma slaappille en oorpluisies loop koop. Daai slaappille werk nou nie meer nie en mamma begin nou opstroppelis raak oor my “beweerde” gesnork. Klink my daar is een van daai darth vader bedrywe in my nabye toekoms ook

  11. ekisanna sê:

    Ek wonder mos nou hoeveel rus die arme Mamma inkry tussen die ge-sweet-afvee-met-‘n-sakdoek-van-die-mure-af en die ge-meubels-rondskuiwery. Sterkte vir julle altwee. (Jammer ek het jou gemis by die kêffie op pad terug van die Kaap af. Ek sou jou regtig graag wou ontmoet het.)

Gesels gerus saam

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s