Rugpille vir ‘n kêffie-special (deel 2 en slot)

Deel twee en slot van die storie. As jy nog nie die eerste deel gelees het nie, beveel ek aan jy doen dit eers HIER.

Uiteindelik het Mamma vir Karin losgesny van my onderlyf. Mamma het gelukkig dadelik verstaan toe ek verduidelik van my rug wat weer uitgehaak het. Sy kén my rug die tyd van die jaar en weet ek is heel skadeloos ten op sigte van sekere normale genietinge. Nietemin het sy haar taak om die vroumens se kop by my onderlyf weg te kry met drif, ywer en spoed voltooi. Daar sit ‘n aansienlike klos van Karin se eens netjies haarstyl aan my belt vas, maar uiteindelik is alles los wat moet los en is my broek op my knieë. Karin lyk moerig-verleë oor die insident en natuurlik ook oor die hap in haar hare. Die feit dat sy met ‘n inspuiting in haar hand staan, maak dinge gevaarlik. Ek is met rede bekommerd toe sy sê ek moet buk. Nou kyk, sy druk daai naald in by my linkerboud dat hy reg deur my prostaat steek en die vel aan die onderkant my naeltjie van die binnekant af prik. Toe sê sy dit gaan nou bietjie brand.

‘n Halfuur later sit ek weer alleen by die lessenaar. Na ‘n vinnige koffie en herhaaldelike verduidelikings oor hoe ek die pille wat Karin gelos het moet gebruik, is Mamma weer terug hof toe. Ek mag blykbaar nie die pille gebruik binne drie ure van die inspuiting nie. Van Karin se belofte dat ek binne ‘n kwartier sou beter voel, het niks gekom nie. Die inspuiting het g’n niks gehelp nie. My rug is nog net so seer en nou moet ek nog boonop net op een boud sit, want die ander een is te seer waar Karin my ingespuit het. Ek raak desperaat en bekyk die pakkies pille wat sy gelos het. Daar is klein geel plat pilletjies, ronde wittes en ‘n paar fris geel kapsules. Ek trek die pakkie met die geel klein pilletjies nader. Die plakker sê “Trippelene” en ek moet enetjie drink, maar net in die aand voor ek gaan slaap. Ek wonder hoekom het Karin so geskryf? Ek het mos nóú seer. Vanaand is ek dalk beter, dan het Karin al die moeite verniet gedoen. Ek bekyk weer die klein geel pilletjies. Hulle is maar bitter klein, omtrent ‘n kwart van ‘n Smartie. Ek kyk af na my groot lyf en besef dadelik dat één kwart Smartie-pil nie gaan nie werk nie. Nadat ek vier van hulle saam met ‘n Red Bull afgesluk het, besluit ek om nog een ekstra ook te sluk – net vir ‘good measure’ – ek het mos baie seer.

Daar is ‘n pakkie waarop staan “Synap Forte” waarvan ek blykbaar een na ‘n maaltyd moet drink. Tweemaal per dag. Die ronde wit pille is darem heelwat groter as die geletjies en ek besluit om net drie te drink. Die son trek immers al water en eintlik moes ek dan mos nou alreeds een saam met ontbyt gedrink het.

Volgende aan die beurt is die sakkie met die fris geel kapsules waarop staan “Arthrexin”. Soos met die wit pille moet ek een, twee maal per dag net na ete drink. Ek voel al skuldig oor die pille op ‘n leë maag, maar met al die pyn en goed is ek regtig nie honger nie. Daar lê ‘n ou pakkie pippermente in my laai en ek eet maar een, net om iets in my maag te kry, voor ek twee van die kapsules wegsluk.

Ek is teleurgesteld. Daar is nie nog soorte pille nie, ek het gehoop Karin sou meer gebring het. Ek stuur maar vir Pascalina om vir my twee Disprins en ‘n koevertjie Grand-Pa uit die kêffie se rak ook te bring. Net om seker te wees.

Nou sit ek maar en wag. Ek kan nog steeds nie roer van die pyn nie, maar het nou ten minste ‘n gemakliker posisie gevind met my regterbeen bo-oor die rekenaarskerm. Na tien minute voel ek nog net so goor en wonder of die pille nie net ‘n spul placibo’s is nie. Na ‘n kwartier besluit ek om die vorige dosis te herhaal. Dis te veel moeite om die pilletjies so een vir een uit te tel en ek skud maar ‘n paar van elk in my hand, voor ek hulle met die Red Bull binne toe stuur. Ek besluit ook om hierdie keer ‘n ekstra koevertjie Grand-Pa’s te gebruik.

Ek krap in my laai rond en kom op my rugpille van die vorige jaar se uithaak af. Daar is Myprodol en Brufens. Ek neem drie van elk, twee vir my groter-as-normaal lyf en ‘n ekstra een – vir ‘good measure’ – natuurlik. Daar is ook ‘n pakkie van die happy-pills wat ek by my skoonma gekonfiskeer het toe sy te happy geraak het met haar vorige kuier. Al is my rug seer kan dit seker nie kwaad doen om happy daaroor te wees nie. Hulle is net so klein soos die geel pilletjies en ek sluk vier van hulle af saam met die laaste bietjie Red Bull in die blikkie.

My oog vang een van die pakkies pille se voubiljette. Ek begin maar lees om die tyd vinniger te laat omgaan. Behalwe vir die pyn voel ek nou effens lighoofdig ook en wonder of ek nie dalk die dosis pille nóg ‘n keer moet herhaal nie. Net vir veiligheid. Maar gelukkig lees ek eers die pamflet en is effens geskok oor die inhoud. Hulle behoort mens darem te waarsku met ‘n R18 V of so iets aan die bokant. Die vreeslikste goed kan met mens gebeur as jy te veel van die pille drink. Van versteurde hartritme tot halusinasies en impotensie. Ek is verskriklik bekommerd oor laasgenoemde en probeer somme maak van hoeveel ek van die pille gedrink het. Die volgende pamflet is nog erger en ek probeer weereens om te onthou hoeveel van sý pakkie se pille ek gedrink het. Maar die pamflette is nou ook deurmekaar en ek weet nie watter een hoort by watter pille nie. Ek besluit om vir eers maar nie enige dosis te herhaal nie, al is my rug nog seer. Ek besluit ook om nie verder pamflette te lees nie.

Na nog ‘n halfuur voel ek merkwaardig beter en die rugpyn is verminder na ‘n vae irritasie in my lae rug. Ek het weer moed om na die kêffie se belange om te sien. Dit is stil en behalwe vir die paashaas en groen likkewaan by die chips-rak is daar geen customers nie. Ek sal moet plan maak, dit is heeltemal te stil, miskien moet ek ‘n special of drie gooi.

Die telefoon lui en ek antwoord. Dis die kwaai tannie van ABSA.

“Jy is laat vandag,” sê ek vir die tannie.

“Wat?” vra sy na ‘n paar sekondes se stilte.

“Ek sê jy is laat! Ek is al laaaankal oor my limiet en jy bel nou eers!”

Ek en die tannie gesels lekker. Seker omtrent vir tien minute tot ons tot ‘n vergelyk kom dat sy my overdraft in haar grootste beskikbare liggaamsholte moet druk.

Met my finansiële probleme opgelos trek ek die kêffie se computer nader. Dis tyd vir specials maak. Ek voel regtig baie beter en wonder of Karin daai nice pilletjies op chronies ook kan voorskryf. Ek wens tog die stoel wil nie so sweef nie. Dis vrek ongemaklik om so in die lug te tik.

Ek het nog altyd van Clicks se “buy three for the price of two” – specials gehou, maar ek voel ek kan beter doen. Die dorp het nog nooit ‘n halfprys special gesien nie maar ék sal hulle wys. Ek gaan na die prysprogram en begin tik.

Suzan, een van my kassiere is eerste by die lessenaar. Haar til is geblok en wys ‘n boodskap van “under cost” as sy die meel wil scan. Sy dink die prys is ook verkeerd. Vanoggend was dit nog R49,99 nou is dit R26,99.

“Ja, dit klink vir my ook nie reg nie,” sê ek vir Suzan. “Ek het ‘n deelfout gemaak, dit moet eintlik R24,99 wees. Ek sal gou regmaak.” Ek gee vir haar my eie sekuriteitskaartjie om by die til te gaan scan, dan sal die “under cost” ook nie meer pla nie.

Dit is ‘n goeie special dink ek na ‘n uur. Die kêffie is heelwat besiger en selfs my eie kassieres het al begin koop. Suzan het reeds ses sakke meel en twintig blikkies baked beans gekoop, wat sy agter my in die kombuis kom bêre. Maar dit is harde werk om so te tik en die pryse te verander. Ek moet dit item vir item doen en om een of ander rede raak dit ál moeiliker om te deel. Dan kry ek ‘n ingewing. In plaas van ‘n halfprys-special kan ek dit mos ‘n “buy two for the price of one” maak. Dis tog dieselfde ding met baie minder moeite. Ek roep die kassieres nader om te verduidelik. Hulle moet nou twee items gee as ‘n ou een vat. Suzan wil weet van die goed wat nou reeds halfprys gemerk is op die sisteem. Ek weet nie hoekom wil hulle altyd dinge so complicated maak nie. Ek sê dan maak ons dit maar ‘n Spécial-Special! Buy four for the price of one! Maar net op die goed wat ek reeds afgemerk het, ‘n mens kan nie te spandabelrig raak nie. Suzan vra of sy maar die goed wat sy reeds gekoop het kan teruglui en weer scan.

Dit is vrek warm vir ‘n wintersoggend en ek besluit om my baadjie en hemp uit te trek en die air-con aan te sit. Die kêffie is nou gepak van die customers en ek sukkel om die agtergrondmusiek te hoor. Ek sit die hi-fi heelwat harder met ‘n Klipwerf CD. Oorle Tannie Sarie Viljoen het ook intussen ingekom en ek vat haar vir ‘n wals, sommer so tussen die kêffie se rakke in.

Later is Mamma ook in die kêffie. Daar is drie van haar en ek skree vol bravade:

“Ek soek julle al drie! Ja, júlle drie!” en ek point die drie susters, “Vanaand! In my bed!”

Ek kan nie verstaan nie. Die drie Mammas lyk glad nie lus vir ‘n woeps nie en jaag al die customers by die winkel uit. Dan sluit sy die kêffie se deure. Ek kon nog nooit vroumense verstaan nie. Hulle het geen besigheidsin nie. Dit was dan so lekker besig en nou maak sy toe. Sy kom terug saam met Dokter Manie van Staden.

“Hei, gee terug my pille!” skree ek vir hom toe hy die pakkies op die lessenaar vat en bestudeer. Niemand, maar NIEMAND vat my pille nie! Ek is lus vir boks, maar ek voel te dronk. Seker maar te veel gewals. Karin is ook daar en sy het ook drie van haarself saamgebring. Hulle het maar ‘n kak haarkapper dink ek by myself. Ek sê maar liewer niks van ‘n woeps nie, want ek weet mos na vanoggend hoe kwaai Mamma kan raak en Karin steek in elk geval te seer.

Dan druk die spul drielinge my vas en Dokter Manie kom nader met ‘n inspuitingnaald. Gelukkig steek hy nie so seer soos Karin nie.

Later word ek wakker van ‘n gelek in my gesig. Dit is Brakanjan. Ek kom agter dit is vrek koud en ek lê bleddie ongemaklik. Dit is stikdonker en ek kyk op my horlosie. Dit is drie uur in die oggend. Ek verken my omgewing en skud die ergste ryp van my lyf af. Ek wonder hoe ek in Brakanjan se huisie in die agtertuin beland het. Miskien het ek weer iets verkeerd gedoen, maar Mamma weet mos nou al sy kan my nie so ongemaklik in die dog-box laat slaap nie. Netnou haak my rug uit!

This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

12 Responses to Rugpille vir ‘n kêffie-special (deel 2 en slot)

  1. CyhloeZen sê:

    Ek wil ok by jou kom specials koop as jou rug uithaak.😉

  2. MaanKind sê:

    EK mis jou stories! WAAR is jy?

  3. Hallo Jan, hoekom so stil?

  4. Dellie sê:

    Bwhahahahahaaa! Jy het absoluut my dag gemaak! “Dit is stil en behalwe vir die paashaas en groen likkewaan by die chips-rak is daar geen customers nie. ” Ek kan nie ophou lag nie!😆

  5. Charms sê:

    Ek het nou so gevaarlik gelag dat ek net moes keer dat ek nie van my stoel afval nie – netnou haak my rug ook uit!

  6. demoerin sê:

    😆 Bwahahaha – jy kan darem maar net ‘n storie vertel!

Gesels gerus saam

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s