Rugpille vir ‘n kêffie-special

Kinders is mos soos magnete.  Trek enigiets na hulle toe aan wat dan hardnekkig aan hulle lyfies vaskleef.  Modder, stof, toffies, kathare, wierook, eiergeel en goue stroop.  Hierdie besonderse magnetiese vermoë word ongelukkig verloor sodra die lyfie met ‘n grootmens in aanraking kom.

Vies probeer ek die ergste appelkooskonfyt en Weet-Bix vlokkies van my hemp afvee.  Ek en Kleintwak het sopas ‘n intense oggendstoei-speel gehad en orals sit opdrifsels van sy besonders interessante ontbyt aan my klere vas.  Daar is nie tyd om skoon aan te trek nie, ek is reeds laat om die kêffie te gaan oopsluit.

Op pad na die kêffie toe moet ek intensiewe blaasbeheer toepas, veral as mens deur die potholes ry.  Ek is ‘n gereelde man wat dit aanbetref en met Twakkies se gestoeiery vanoggend het ek dan ook my oggendpiepie gemis.  Dit sal maar moet wag tot ek klaar die kêffie se bankstaat op die internet getrek het.  Ek het gister weer ‘n hele paar tjeks uitgeskryf op ‘n onwrikbare geloof van toekomstige verkope, asook op die vertroue op die ontvangers van die tjeks se lakse bankgewoontes.

Ek het al ‘n hele tjekwissel-skedule uitgewerk.  Een vir elkeen van my verskaffers.  Simba bank net op Maandae, so ‘n mens het amper ‘n hele week kans as hulle op ‘n Dinsdag aflewer, om die nodige geldjie in die bank te hê.  Premier Foods wissel altyd na drie dae, terwyl Clover nooit meer as twee dae vat nie.  Coke is flukse bliksems wat die tjeks sonder uitsondering sommer al die volgende dag bank.  Oom Vollie van die aartappels ry altyd sommer direk van die kêffie af bank toe om my bankbestuurder te gaan verpes.

Maar dit gebeur tóg soms dat ‘n mal hanswors buite die skedule wat ek uitgewerk het,  gaan bank.  Dan is daar probleme en is daar ‘n baie kwaai tannie van ABSA wat mens uit Johannesburg  bel.  Sy dreig met enigiets van openbare ontmanning tot by tjeks wat sy met die druk van ‘n towerknoppie in rubber gaan verander.  Die kwaai tannie se skedule het ek ook nou al uitgewerk.  Sy bel so kwart voor nege in die oggend.  Dus as mens vinnig in die oggend ‘n staat trek en sien daar is probleme, kan mens uit die noodfonds oorplaas, dat dinge weer reg lyk teen half nege, dan bel sy jou nie.  Saterdae werk die kwaai tannie nie, maar weë jou siel as daar probleme is.  Sy bel vir jou Maandagoggend kwart voor agt en kak mens terugwerkend uit dat jy wonder wat van Sondag geword het.

By die kêffie storm ek my lessenaar.  As ek die rekenaar solank kan laat opstart en sy ding met die modem en netwerk laat doen, kan ek gou gaan piepie nog voor hy klaar is en dus geen belangrike sekondes verloor voor ek ‘n ogie op die bankskade gooi nie.

Ek haat dit as iets kraak as mens gaan sit.  Vir my beteken dit net een van drie dinge.  Eerstens kan dit my liggaam se protesterende natuurlike reaksie wees op die vorige aand se boontjiesop wat Mamma ruim voorgesit het saam met knoffelbrood.  Tweedens kan dit ook wees dat my lessenaar se stoel finaal onder my dik kêffielyf meegegee het en nou in sy laaste paar sekondes van veg-teen-swaartekrag verkeer.  In beide hierdie gevalle help dit om so hard as moontlik met jou fondasie te suig om die stukke bymekaar te probeer hou.  Maar vir die derde geval help fondamentele suig ongelukkig niks.

Dit is as my rug uithaak.  Klokslag eenmaal ‘n jaar.  En hierdie uithaak het gewoonlik géén agting vir enige skedule nie.  Ek probeer opstaan, maar dit voel of iemand my stuitjie met ‘n ou olifanttand moer, terwyl die iemand anders stomp Minora lemmetjies teen my bene af trek.  Ek kan nie roer nie.  Glad nie.  Ek begin kliphard lag.  Geensins ‘n masochis nie, moes daar tog iéts tydens my geboorte verkeerd gegaan het.  Ek lag as ek pyn het.  Sulke diep uitbundige roggellaggies uit my maag.  Ek onthou toe die veiligheidspolisie my destyds ondervra het oor ‘n ongelukkige voorval op kampus, het my laggie hulle vreeslik ontsenu.

Nou sit ek maar.  Krom en skeef soos ‘n omgeryde lamppaal.  As ek my een hand onder by die asblik hou, die ander hand op die boekrak agter my rug en met my een been bo-op die printer, dan voel dit effens beter.   Maar so kan mens nie die heeldag sit nie, ek sal moet plan maak.

“Nou wat sit jy vanoggend soos ‘n seekat wat multi-tasking doen?”  Vonnie Fourie is die eerste customer wat by die kêffie instap.  Al het hy sy een arm in ‘n motorongeluk verloor, het hy nog altyd ‘n manier met woorde gehad.

“Ek wil gaan pis,” sê ek vir Vonnie.

“Was jy weer by ‘n AGS diens?” vra Vonnie bekommerd.

Ek verduidelik vir Vonnie my probleem.  Nee, sê Vonnie.  Hy sal my probeer help al het hy nou net die een beskikbare arm.  Hy dink ons moet dalk een van die kêffie se trollies kry, dan sal hy eenkant vat, terwyl ek aan die anderkant teen die trollie leun.

So sukkel ons drie af badkamers toe.  Ek, Vonnie en die trollie.  Stadig, skuifel-skuifel, terwyl ek kliphard lag.  Gelukkig is daar nie ander kliënte in die winkel nie, maar ek skat ek sal ‘n dringende personeelvergadering moet skeduleer.

By die piskrip sê Vonnie dis nou ongelukkig so ver as wat hy bereid is om my te help.  Ek moet my ding klaar doen, dan sal hy my weer terughelp lessenaar toe.  Dit gaan moeilik.  Sodra ek my arms onder heuphoogte bring skiet die verskriklikste pyne deur my fondasie tot by my linker kleintoontjie.  Uiteindelik het ek my stywe jean se zip losgewoel.  Ek en Kleingees, een van my varsity broers, het eendag ‘n argument gehad oor wat die lekkerste is.  ‘n Lekker opelyf of ‘n lekker pis.  Soos die verligting deur my liggaam vloei, begin ek al meer Kleingees se punt insien.  Hy was dalk reg.

Uiteindelik is ons terug by die lessenaar.  Vonnie sê ons moet my vrou in die hande kry.  Hy dink ek hoort in ‘n hospitaal of iets.  Afgesien van my rug, dink hy ek het dalk ‘n erge blaasprobleem ook.  Een van sy ou osse het eendag op ‘n vendusie ook so gepis voor hy inmekaar gesak het.  Ek sê vir Vonnie hy moenie worrie nie, Mamma is in die hof, maar ek sal sommer vir Suster Karin van die kliniek bel, dat sy my kom spuit en pille bring.  Karin is ‘n familievriend, wat weens haar kalifikasies, meer as gereeld handig inkom met ons gesin van vier kinders.

‘n Halfuur later is Karin daar.  Sy gaan my sommer daar in die kêffie se kombuis spuit.  Dis die naaste privaatplek aan my lessenaar.  Sukkel-sukkel vorder ons weer met behulp van die trollie tot in die kombuis.  My broek moet af, maar ek sukkel.  Die jean sit te styf om net so af te trek en ek kry nie my belt los nie.  Om een of ander rede sit die gespe vas en dit voel taaierig.

“Wag laat ek kyk,” Karin se geduld is op met die sukkelaar en sy sak voor my op haar knieë af om te help met die gespe.

Dan is dit doodstil.

“Wat is dit?” vra ek bekommerd van hierbo af.

“My hare sit vas.  Ek dink dit is goue stroop.  Hoe de hel kom dit op jou belt?  En hoekom is jou zip oop?”  vra Karin terwyl sy haar kop van my onderlyf probeer wegtrek.

“Wat de bliksem maak julle?” sê Mamma se kwaai stem skielik uit die kombuisdeur.

Vervolg…

This entry was posted in Uncategorized and tagged , , . Bookmark the permalink.

23 Responses to Rugpille vir ‘n kêffie-special

  1. CyhloeZen sê:

    😉 sorry ek weet ek moenie lag nie, maar dit is lagwekkend !!🙂

  2. Jeanne sê:

    Hallo Jan!🙂
    Ek like altyd jou stories!!!

  3. Hehehehe, dis ‘n MOER snaakse storie, ek het heerlik gelag!!

  4. Pingback: Rugpille vir ‘n kêffie-special (deel 2 en slot) | Jan se twak

  5. Pingback: Nuwe Bloed! « Kouevuur

  6. Son sê:

    😆 Ek kan nie wag vir die vervolg nie😆

  7. demoerin sê:

    😆 Werk dit nie maar so met die lewe nie – jy sal uitgevang word as iets heel onskuldigs, BAIE skuldig voorkom.

  8. Plaasjuppie sê:

    Laat ‘n mens nou so heel onskuldig so diep in die donkerbruin kan raak.

  9. murphy sê:

    Geluk, jou blog is in die Rooi Rose, hoor ek met die grapevine!

    • Jan Twak sê:

      So lees ek toe vir die eerste keer ‘n Rooi Rose en ek sien dit is ‘n gewyde tydskrif. Daai tannies is in vir ‘n ding as hulle blogland besoek..

      Nietemin sal ek die betrokke bladsy raam om eendag vir Kleintwak te wys sy pa se naam was ook al in ‘n gewyde publikasie, buiten nou as ‘n besprekingspunt op die sinodesitting se agenda.

  10. Charms sê:

    Soos die Ingelse sal sê “A sticky situation”.

Gesels gerus saam

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s