‘n Lus ram vir ‘n tweeling

Oom Jorrie Breytenbach vat weer ‘n koffie by my lessenaar by die kêffie.  Nie dat ek omgee nie.  Hy bring altyd vir my ‘n pakkie van die heerlikste karingmelkbeskuit wat sy ma, Ouma Jana, self gebak het.  Nou Ouma Jana is stokoud, inteendeel vir die laaste dertig jaar vermoed ons al híérdie jaar is haar laaste, maar sy byt vas aan die tydelike en bak die heerlikste beskuit.  Oom Jorrie is vanoggend die ene giggels.

“Nou wat is dit Oom?” vra ek so tussen die beskuitkrummels deur.

“Ken ek die Visagie tweeling?” wil Oom Jorrie weet.

“Wie ken hulle nou nie?” wil ek terugweet.  Almal ken vir Gert en Frik Visagie.  Nie dat almal hulle wil ken nie.   Die twee boer reg langs mekaar op ‘n stuk grond wat met hul Pa se dood in twee gelyke dele verdeel is.   Merinodrif 1 en Merinodrif 2.  Wie se plaas wie s’n is maak nie regtig saak nie, mens ken in elk geval nie die tweeling uit mekaar nie.  Die Visagie tweeling is nie die mooiste mense wat ek al gesien het nie.  ‘n Mens kan seker aanvaar dat die liewe Heer se kunshand so nou en dan glip, maar dat Hy dieselfde fout twee keer en so kort op mekaar kon maak, gaan my verstand te bowe.  Op ‘n goeie dag lyk die Visagie tweeling soos twee pofadders met sproete wat besig is om aan suurlemoene te kou.  Dat nie een van die twee op 40 getroud is nie, is meer ‘n saak van verligting as bekommernis vir die gemeenskap.

“Het jy van hulle ram-kopery gehoor?” vra Oom Jorrie terwyl hy ‘n paar krummels van sy baard afskud.

“Nee, van dié het ek nou nog nie ‘n woord gehoor nie,” lieg ek.  Ek het al geleer dat die platteland vol stories is, maar dat ‘n spesifieke storie verskeie weergawes uit verskillende monde het.  Dalk wil ek nog eendag ‘n boek skryf, dan is dit beter om soveel bronne as moontlik aan te haal.  Dis nou vir feitelike bevestiging.

Oom Jorrie vertel sý weergawe:

Man, so begin Frik en Gert na hul pa se begrafnis boer.  Gert op sy afsonderlike helfte en Frik op sy helfte.   Soos die testament dan nou bepaal het.  Nou wat die tweeling van merino’s af weet kan nie te veel wees nie, maar darem genoeg dat die twee na drie powere lammeroeste besef hulle kort nuwe ramme vir hulle kuddetjies.  Daar word weinig tweelinge gebore en die enkelinge wat geboorte wel oorleef, se kondisie is maar swak en verskeie het een of ander vorm van gebrek.   Daar was heeltemal te veel inteling en die ramme wat hulle het lyk in elk geval half lusteloos.

Dit is dan ook op daardie stadium wat die tweeling te hore kom dat Oom Bastiaan van der Merwe van sy stoetramme wil verkoop.  Twee uitsoekramme uit sy stoet teen R30 000,00 elk.  As jy altwee gelyk koop, val die prys na R25 000,00 stuk.  Nou Oom Bastiaan hét ‘n uitsoek boerdery.  Groot bedryf daar in Colesberg se omgewing.  Maar almal wat Oom Bastiaan ken, weet ook darem dat die sukses van sy boerdery nou nie heeltemal op eerlikheid gebou was nie.  Maar die tweeling weet dit nie.  So maak Gert en Frik planne om die twee ramme saam te koop, maar net een sal koop, dan kry hulle darem die R10 000,00 afslag.  Nou almal weet vriende en besigheid loop gewoonlik nie saam nie.   Maar tweelinge en besigheid is natuurlik heeltemal op ‘n skaal van sy eie.

So keer Frik toe die Dinsdag agtermiddag terug met die twee ramme op die Isuzu.  Daar is weinig te kus en te keer tussen die twee menere en na deeglike bestudering van hulle knaters, besluit die tweeling dit maak nie saak wie kry watter ram nie.  So is die twee met die Isuzu af na Gert se ooikamp toe.  Nou daai Isuzu het nog skaars gestop toe begin die een ram al kwyl gooi.  Hulle is nog besig om die klap oop te maak toe spring die ram sommer so bo-oor hulle koppe.  En hy vaar daai ooikamp binne.  Nou Frik vertel my later, dat so van ‘n aardigheid het hy nog nie in sy lewe gesien nie en hy het al baie flieks by Thaba ‘Nchu Sun gesien.  Gert is tevrede, dit lyk of hy waarde vir sy R25 000,00 gaan kry.

By Frik se ooiekamp is dit omtrent ‘n storie.  Soos ‘n 10 jarige seuntjie vang daai ram heel skrik vir die klomp ooie en na ‘n groot gesukkel het hulle hom uiteindelik uit die Isuzu se kajuit uit.  Maar van die ooie wil hy niks weet nie.  Gaan staan net eenkant verlore en lek aan die hamels.  Maar Frik is nie bekommerd nie.  Hy homself het darem ook al ‘n af dag of twee gehad.  Die skaap is miskien net ‘n bietjie preuts in die vreemde omgewing.

Maar na ‘n week is dit dieselfde storie.  Gert het intussen sy ram “Steve” gedoop en Frik se ram staan bekend as “Elton John”.  Na drie weke se selibate gedrag het Frik maar ‘n veearts uitgekry om te kom kyk.  Die nuus was nie goed nie.  Elton John is heel impotent, met addisionele gedragsafwykings.  Viagra sal dit net erger maak.

En toe is die tweeling aan mekaar.

Hulle bliksem mekaar van vroeg Saterdagoggend tot net na Kruis en Kroniek die volgende Sondag op TV gewys het.  Dit moet seker erg wees om jou tweelingbroer te donner, want dit voel of jy die heeltyd jouself slaan.  Die skade is soos om in ‘n spieël te kyk.  Dominee en vyf ouderlinge is toe maar naderhand af plaas toe om die twee se saligheid te probeer red, voor die dood intree.  Daar word tot ‘n vergelyk gekom.  Elton John moet geslag word, dan kan hulle darem so ietsie van hul geld terugkry met die velle en goed.  En Frik kan vir Steve leen.  Kosteloos so al om die tweede week.  Na die eerste lammeroes verkoop is, sal die tweeling 50/50 gaan om vir Frik ‘n nuwe ram te koop.  Maar nie by Oom Bastiaan nie.

Maar lammertyd het gekom en gegaan en die enigste nuweling op Merinodrif 1 én 2 was ‘n klein ooitjie van die stokou hanslam-ooi wat saam met Frik se ou ramme afgekamp was.  Die veearts is weer uitgeroep.  Dié het maar ‘n sample van Steve na Onderstepoort gestuur.

“En toe Oom Jorrie?” vra ek nuuskierig.  Ek het die storie nog net tot by die groot baklei gehoor.

“Nee jong, die tweeling het die toetse toe vanoggend teruggekry.  Alhoewel nou nie impotent nie, is Steve heel steriel.  Daar is géén hoop op ‘n nageslag nie.”

“Nou wat gaan Frik en Gert nou doen?” wonder ek terwyl ek die pak beskuit wegsit.

“Nee jong, die twee is vanoggend vroeg hier weg na Colesberg toe.  Ek kry Oom Bastiaan maar jammer.  Ek dink impotent en steriel gaan twee ligte woorde vir hom wees as die twee met hom klaar is.  En dit gaan ook nie voel asof hulle ‘n spieël donner nie!”

This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

8 Responses to ‘n Lus ram vir ‘n tweeling

  1. Jan Twak sê:

    Ek wonder hoekom🙂

  2. murphy sê:

    Jy weet natuurlik dat ek die tweeling-storie uitsonderlik baie geniet het.

  3. demoerin sê:

    Bwahahaha. Arme oom Bastiaan – wys jou net wat oneerlikheid jou in de sak bring.

  4. Marile Cloete sê:

    Mooi name wat die ramme het …

  5. ekisanna sê:

    Um, ja! Amper sê ek iets oor Steve en steriel, maar keer myself betyds en hou my bek heel.

Gesels gerus saam

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s