Diensgeld

My skoonsus vra ek moet hierdie verhaaltjie weer op die blogs plaas.  Synde ‘n man wat nie met sy skoonfamilie sukkel nie, het ek hom maar in die trommel geskrifte gaan opdiep.

DIENSGELD

Nee, sê die vroumens van ABSA vir my.  Ek moet asseblief nie so op haar skree nie.  Dan moet sy haar ore oopmaak, sê ek terug en my stem klink bietjie meer beheersd, maar ek wonder nog steeds oor twee goed.  Hoe het dié vroumens ‘n bestuurder by ABSA geword?  En hoekom het ek vir haar koffie en koekies aangebied?  Dis nie ‘n affirmative action, BEE of een of ander opheffingsprogram-geval nie.  Sy’s spierwit en het nogal mooi bene en ‘n oulike bloes aan.  Ek probeer weer vir haar gesig kyk en verduidelik…

Na dertig jaar besluit ABSA toe hulle gaan ons familiebesigheid begin fooie vra vir ons kleingeld aanvrae.  ‘n Rand op elke honderd Rand.  ‘n Kêffie op die platteland sonder kleingeld, is soos brannewyn sonder ys.  Dit kan net nie werk nie.  Ons gaan deur baie kleingeld in ‘n week.  Dit gaan baie kos.  En ABSA het ‘n tang tussen my bene.  Hulle is nie die beste bank in die dorp nie – hulle is die enigste.  Eers dog ek die brief wat ek van hulle kry in die verband is ‘n grap, maar die realiteit tref my toe Tshepo ons handlanger die dag van die bank af terugkom.

“Hier’s net 19 pakkies!” skel ek hom wantrouig toe oor die R2000 se R5 stukke waarmee hy opdaag.  Tshepo delf in sy broeksakke en kom te voorskyn met R80 se los munte.

“Hulle het hom gevat,” sê hy en sy gesig lyk asof hy ‘n misdaad gepleeg het.

“Wat gevat?” brul ek.

“Die commission, R20.”  Tshepo kry duidelik skaam oor die bank se gedrag.

Daar is baie nadele om met ‘n prokureur getroud te wees,  maar die gratis regsadvies maak op daarvoor.  Mamma deel my mee dat dit diensgeld is.  ABSA is BTW-geregistreerd en ek moet ‘n BTW-faktuur kry vir die twintig Rand.

Ek stuur vir Tshepo terug bank toe.  Ek soek my ‘slip’.

Tshepo kom terug met ‘n handgeskrewe slippie met die ou Volkskas logo op. Dit is ‘n ‘General Ledger Deposit’ strokie met  “Commission Twenty Rand” rof oor die kolomme geskryf.  Ek besef oombliklik die tang tussen my bene is weg.  Die groot en magtige ABSA bank is besig om diensgeld te hef sonder om dit aan die Ontvanger te verklaar.  Hierdie geld gaan ooglopend na ABSA se Kersfeeskoekiefonds toe.  Ek skryf ‘n brief aan ABSA.  ‘n Lang en fancy brief.  Mamma help met die Latynse woorde en uitdrukkings en voeg ‘n paar verwysende hofsake by as ekstra gewig.

Die brief het ons vergadering tot gevolg.  ABSA se bestuurderes kom sien my by my besigheid – eerste keer ooit – en ons drink koffie met koekies.  En ek skree klaarblyklik op haar.  Op daardie oomblik stap Mamma ook by die besigheid in en gluur wantrouig na die koffie, koekies en die vrou met die mooi bene.  Dan sien sy die ABSA-badge op die vrou se bloes en haar gesig versag dadelik.  Mamma sal my alleen op ‘n eiland vol Viagra saam met ‘n ABSA amptenaar vertrou.

ABSA is weer aan die woord.  Dit is mooi.  Sy is driftig en haar borste hop op-en-af onder haar bloes.  Tye is taai en die bank kan nie langer vir liefdadigheid werk nie.  Sy het navraag by haar ouditeure gedoen en die slippie is reg.  ABSA se ouditeure sal nie foute maak nie.

My vrou verseker haar ABSA se ouditeure maak gereeld foute.  Sy het al baie sake teen banke gedoen en nog nooit een verloor nie.  Woekerwins, ongetekende kontrakte, onregmatige terugnemings, swendelary en prostitusie.  Noem maar op.  Die Volkskas-slippie is beslis NIE ‘n BTW-faktuur nie.

Ek sien die vergadering gaan nêrens kom nie en vat die bord met koekies voor die vrou weg.  Ek het ‘n ander plan.  Later die dag bel ek vir Oom Gielie van der Merwe die afslaer.  Oom Gielie is hoofouderling.  Hy bid soos hy veilings hou.  Die een woord na die ander en hy hou nie op voordat iemand nie sy hand opsteek nie.

Oom Gielie bel vir ABSA.  Hy maak of hy die Ontvanger is.  Hulle wat ABSA is moet asseblief hulle BTW-fakture vir diensgeld gehef op kleingeld vir hom faks.  Hy het klagtes ontvang.

Nog later is ABSA terug in my winkel.  Sy gee my twintig Rand terug.  Nee hulle het besluit hulle sal nie meer diensgeld hef op kleingeld nie.  Maar net vir goeie kliënte.  Ek is bevoorreg.

Ek weet die Kersfeeskoekiefonds is tot niet, maar ek is ‘n goeie seun.  Daardie Kersfees stuur ek vir die bank ‘n pakkie ‘Eet-Sum-More’.

***

Parodie-fiksie:  Enige ooreenkomste met persone en instansies in die werklikheid is bloot toevallig.

This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

6 Responses to Diensgeld

  1. demoerin sê:

    Bwahahaha – dis mos nou hoe mens ‘n plan maak!

  2. ekisanna sê:

    Ek gaan nou dadelik my bankstate deurgaan om te sien of ek nie ook tot hul Kersfeeskoekiefonds bydrae nie en as so iets kry, kontak ek dadelik vir Mevrou Twak:mrgreen: Toemaar, gelukkig bank ek nie by ABSA nie (nie dat ek my eie bank ten volle vertrou nie, hulle strokies vertel my al te gereeld dat hulle nie fondse beskikbaar het nie), maar ek het weereens hierdie storie baie geniet. Dankie Jan.

  3. Nena sê:

    Dankie Jan! Weer baie geniet!

Gesels gerus saam

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s