21 Mei 2011 Die Einde is Naby!

Kom die omie vanoggend aangesit na my lessenaar by die kêffie dat dit lyk asof die duiwel self hom jaag.  Opgewonde trippel die man op en af terwyl ek my Coke bestelling oor die foon gee.  Ek sê vir Coke ek sal maar terugbel want ek dink hier’s iemand wat ‘n aambei gebars het en nou dringend salf en ‘n Disprin soek.

“Ja, kan ek vir Oom help?” vra ek.

“Nee,” sê die oom en dit lyk nou of daar dalk meer as een aambei kan wees.  Hy kan MY help, sê die oom terwyl hy die pamflet voor my neus indruk.

“Die kêffie gaan nie lank staan nie,” sê die oom.

“Ek weet ja, met al die bleddie Chinese wat so oorneem, het ek dit ook nogal so geskat,” spreek ek my eie kommer uit.

“Nee, jy verstaan nie!” sê-skree die oom.  “Dis die eindtye.  Die wegraping is 21 Mei!  Nou Saterdag!”

“Gaan iemand die Chinese wegraap!” vra ek opgewonde, ek kan doen met ‘n bietjie goeie nuus.

“Nee!” skree die oom nou sy frustrasie.  Wel miskien kan daar ‘n paar Chinese ook weggeraap word, maar hy glo nie.

“Julius Malema?”

“Nee, beslis nie,” sê die oom versekerd van homself.

Ek is nou minder geïnteresseerd.  As nie Julius of die Chinese teen Saterdag weg is nie, bly nog net Marthinus van Schalkwyk en Jurie Els oor wat goeie nuus kan wees.

Voor ek vir die oom kan vra oor hulle, begin hy sy preek:

“Dis dié Wegraping!  Die einde van die wêreld!  Die aarde gaan vernietig word!”  Ek wil vir die oom sê met ons huidige munisipaliteit is daar nie veel oor wat vernietig kan word nie, maar ek laat hom maar begaan.

“Nou hoe so Oom?” vra ek terwyl ek rustig ‘n Stuyvesant opsteek.  Sy oë kry ‘n kyk van ‘dis meer as net jou sigaret wat gaan brand’ en hy gaan aan met sy storie.

Dis klaarblyklik die Bybel wat so sê.  Saterdag 21 Mei is die hel los.  Letterlik.  Daar gaan ‘n reuse aardbewing wees wat omtrent alles gaan vernietig.  Die grafte gaan oopgeskeur word.

Ek sê vir die oom dat na al die reën van die laaste tyd is die begraafplaas in elk geval heel in sy moer, so die skade kan nie so groot wees nie.  Nee, sê die oom, die dooies gaan opstaan.  Net dié wat weggeraap gaan word.  Ek wonder onmiddelik of oorle Oom Gertjie van Schalkwyk hier gaan verbyloop.  Hy skuld my nog geld en sy boedel was te klein om te eis.

“Nou waar in die Bybel staan dié ding?” vra ek die oom.  Ek is nou nie ‘n Skrifgeleerde nie, maar ek is darem seker ek sou onthou het as daar iets van 21 Mei 2011 iewers geskryf gestaan het.

Nee, sê die oom.  ‘n Mens moet ‘n paar somme maak.  Die formule word slegs aan ‘n paar uitverkorenes geopenbaar.  Maar dis Bybels.  100% Bybels.  So sê Oom Harold Camping, die ou wat die voorspelling gemaak het klaarblyklik.

“Is dit nou dieselfde Harold Camping wat voorspel het Liewe Jesus se wederkoms sou September 1994 gewees het?”  vra ek die omie.

Nee, hy weet nie van so iets nie, sê die omie.  Hy weet net van 21 Mei 2011.

“Nee wag,” sê ek vir die oom.  “Ek is seker ek het dit daar in die boks met die ou specials.”  Met elke voorspelling gooi ek ‘n Doomsday Special in die kêffie uit.  Laas het ek ‘n killing gemaak op blikkieskos en brandblussers.

Die oom sê daar’s nie tyd vir papiere soek nie.  Die einde is naby!  Ek sê vir die oom ek vermoed die einde van ons gesprek is ook naby, maar hy het my nog nie gesê hoe kom hy by juis 21 Mei uit nie.

Die oom wys my ‘n ingewikkelde som van die tyd toe Noag anker op die berg gegooi het tot by 21 Mei.  Jy tel die dae, deel hulle deur skrikkeljare en vermenigvuldig dit dan met sy vrou se menstruasie siklus.  Of so iets.  Ek vra die oom of dit nou ingesluit of uitgesluit is.

“Wat ingesluit of uitgesluit?”  wil die oom weet.

“Die 40 dae en 40 nagte se reën,” sê ek.   “Met die vloed nou,” sê ek by, ingeval die oom nie weet van watter reëns ek praat nie.

Nee, die omie weet nie.  Hy sal vir Oom Harold moet vra.  Ek sê vir die oom dan moet hy sommer oor 1994 ook vra.  Dit was ‘n kak jaar hier in Suid-Afrika, ek glo nie Jesus was naby nie.

Die oom vervies hom.  Hy sê mens kry drie soorte mense.  Dié wat sy storie glo, dié wat dit nie glo nie en dié wat daarmee spot.  Laasgenoemde soos ek sal ‘n ekstra swaar straf ontvang.

Ek sê vir die oom hy moet fokof ek wil specials maak.  Daar’s nie baie tyd tot die 21ste Mei 2011 nie.

This entry was posted in Uncategorized and tagged , , . Bookmark the permalink.

15 Responses to 21 Mei 2011 Die Einde is Naby!

  1. Letitia sê:

    Nie eens die seun van God of die engele in die hemel weet wanneer God sal kom om sy kinders bymekaar te maak nie ,hoe roem julle as mense om te weet wanneer God sal kom .Maar dat Hy kom is verseker! Hou julle eerder besig deur God se aan gesig te soek.

  2. Oom Wellie van KZN sê:

    Hi, as die 22 ste Mei kom , gaan die Camping volgelinge Jona van die Bybel se geval aanhaal, As julle kan onthou God het vir Jona na Nineva toe gestuur om hulle te waarsku dat Hy hulle gaan verdwelg oor hulle sondes in 40 dae. Toe roep die Koning n vas en bid dag uit, God spaar toe die volk. Die ouens gaan nou se dit is omdat hulle gevas en bid het, daar om is die Oordeel ver eers uit gestel.
    Enekys, ek sal nog steeds n appel boom plant, die 20 mei . al gebeur wat.

  3. Zena sê:

    Jou doring. So ‘n bek kort jam.
    LOL LOL LOL

  4. Jy skryf uitstekend, mooi bly.

  5. kopbeen sê:

    Haha! Dis goed!

    Ek dink omtrent almal sal kan doen met Chinese wat weggeraap word.

    Daar gaan die 22ste seker ‘n paar rooigesigte wees en dan gaan die datum uitgestel word na 2021.

  6. demoerin sê:

    😆 Jy het dit so mooi uiteengesit.
    Ai, ek weet nie of ek vir die Family Radio volgers moet bid of vir hulle lag nie – wat ek wel wonder is wat hul verskoning hierdie keer met sonsopkoms, Sondag die 22ste gaan wees.

  7. Krista sê:

    Whaaaahahaha!!!!

Gesels gerus saam

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s