‘N SLEUTEL OM TE VERGEET

Dis vroegoggend in die kêffie en Oom Vollie van Niekerk en sy vrou, Tannie Katrien, stap in vir hul weeklikse aankope wat moet saamgaan plaas toe.  Sommer met die inkomslag sien ek al daar is fout.  Tannie Katrien vaar kruppel-kruppel die rakke binne, sonder om eens te groet, maar oudergewoonte stap Oom Vollie darem na my lessenaar toe vir ‘n oggendkoffie.  Oom Vollie het ‘n massiewe Rayban-donkerbril op sy gesig, een van daai oues wat die windgat vlieëniers altyd dra.

Ek bestel koffie en waag dit om te vra: “Hoe dit met die operasie gegaan?”

“Operasie?” vra Oom Vollie effens in die war.

“Het Oom nie katterakke laat uithaal nie?”  Uit ondervinding weet ek nou al dat as ‘n oumens in die omgewing ‘n donkerbril op het, beteken dit een van twee dinge; of katterakke is verwyder of in meer ernstige gevalle was daar dalk ‘n lensoorplanting.  Dominee kondig nie meer katterakke af vir die gebedslys nie en daar was niks van ‘n lensoorplanting vir Oom Vollie in die kerk se pamfletjie nie.

“Nee dis nie katterakke nie,” sug Oom Vollie terwyl hy sy donkerbril afhaal.  Oom Vollie is gemoer, erg gemoer.  Die eenkant van sy gesig is in ‘n bol geswel en die een oog is potblou.  Bokant sy wenkbrou is ‘n pleister vasgeplak.

“Was Oom weer by ‘n Angus manne-aand?” vra ek.

Die Oom beduie nee, ek weet mos nou al hy mag nie weer na een toe gaan nie.  Nee, dis iets heel anders.  Hulle praat nie eintlik daaroor nie, maar hy sal my maar vertel.  Hy weet mos iets wat hy hier in die kêffie vertel, bly konfidensieel en tref nie verdere ore nie.

Oom Vollie vertel:

Op haar ryke telling in lewensjare kry die tannie toe mos gesondheidsprobleme.  Vroumensgoeters, hy weet nie presies wat nie.  Hulle behandel die ding toe met hormone.  Spuit vir haar elke week in daar by die kliniek.  Maar ek ken mos nou van hormone.  Dit laat mens mos dinge vir gate soek en gate vir dinge soek wat mens nie voorheen gesoek het nie.  In elk geval nie so erg nie.  Maar die tannie se kop haak toe heel uit.  Sy begin rokkies dra, ai die Vader weet, as daar net ‘n ligte windie waai, sien mens haar naeltjie-ring.

“Naeltjie-ring?” onderbreek ek die oubaas verbaas.

“En die tattoo,” sê Oom Vollie.

“Tattoo?” ek is nou meer verbaas, dié ding klink erg.

Amper asof hy met homself praat beduie Oom Vollie na sy linkerbors en sê: “So ‘n klein seuntjie wat teen ‘n klip staan en pis.”

Oom Vollie vertel verder en dit klink meer of hy met selfberading besig is, as wat hy besig is om met my te praat.  Ek kan sien die ding het kwaai aan die oom gevat.

Waar en wanneer die tannie die tattoo laat opsit het, weet die oom nie, maar hy was darem by met die naeltjie-ring.  Met die borsvergroting het hy sy voet neergesit.

Die storie bereik toe sy hoogtepunt so twee aande terug.  Waar die tannie die polisie boeie gekry het, weet hy nie, maar toe hy weer sien sit hy op ‘n eetkamerstoel met sy hande agter sy rug vasgeboei.  En die tannie dans.  Op die eetkamertafel.  Onaardig.  Hormone moet ‘n verskriklike ding wees.  Die nightie wat sy aanhet lyk soos daai slim koning in die storie se klere – PG Glass se moer.  Alles skud en dril soos die tannie tekere  gaan.  Die klein seuntjie pis die klip naderenhand heel mis soos sy haar bates swaai, maar die tannie dans.

Die oom dink die tannie wou seker maar haar voet suggestief bo-oor sy kop swaai, maar die ouderdom en voete swaai, loop mos nie altyd saam nie.  Daai rooi hoëhakskoen tref vir hom so vol in die gesig dat sy hom heel omskop en dat hy en die stoel so saam  dwars-dwars teen die kaggel gaan lê.  Die tannie self verloor haar balans en val haar desmoers van die eetkamertafel af.   Daar lê hulle toe.  Die oom kan nie roer nie, want hy is geboei en die stoel is in die kaggel vasgehaak.  Die tannie kan nie roer nie, want sy het te seer en die eetkamertafel is bo-op haar.

“En toe Oom?” vra ek nuuskierig.

“Nee jong ons kom toe eers die volgende oggend daar los, toe ou Solomon kom kyk wat van ons geword het.  Hy wou toe dadelik bel, maar ek sê toe vir hom geen polieste nie.  Solomon kry ons toe darem op ‘n manier los en weer mobiel.  Die boeie se ketting kon hy afsaag maar nie die boeie self nie.”

“Het die polieste vir Oom toe darem losgemaak?”

“Nee,” sê die Oom terwyl hy sy arms met die staal om sy polse na my toe uitstrek.  “Jy het nie dalk ‘n sleutel nie?”

This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

11 Responses to ‘N SLEUTEL OM TE VERGEET

  1. ekisanna sê:

    Oh my soul! Ek wil nie weet wat die oom gesien het net voor die rooi hakskoen hom teen die kop getref het nie! N jy mag maar skryf. Jy is ‘n tonic vir die siel.

  2. Zena sê:

    En ek het gelag dat die trane loop. Dankie Jan.

  3. BB sê:

    Waaaaaaaahahahaha!!!

  4. Marile Cloete sê:

    Ek gaan sukkel om daai prentjie uit my kop te kry!

  5. Soos altyd: briljant!!

  6. Marius sê:

    …. briljant – ek het behoorlik gelê soos ek lag – daai “mental image” gaan my lank bybly !!

  7. Krista sê:

    *giggel**snork*

Gesels gerus saam

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s