‘n Gejaag na geld

Net na my studies werk ek as rep in die Noord-Kaap omgewing, met Kimberley as my basis.  Hier ontmoet ek die van Wyk’s.  Oom Abel, Tannie Katrien en hul dogter wat as ‘Poppie’ in die gemeenskap bekend gestaan het.  Sout van die aarde mense.  Oom Abel boer op ‘n plaas so dertig kilometer buite Kimberley en my eerste ontmoeting was in die groothandeltak in Kimberley, waar hy aankope vir sy plaaswinkeltjie gedoen het.  Oor ‘n tydperk het ek vir Oom Abel gehelp om sy klein plaaswinkeltjie uit te brei na ‘n algemene handelaar, waarby die hele distrik se boere en hul volk latertyd gestop het.  Ek het sommer met die eerste bladskud growwesout in hom gesien, wat my ‘n gereelde kuiergas op die plaas laat word het.  Verdienstelik om ook darem te noem dat sy dogter Poppie nogal nie te onaardig van aangesig was nie. Tesame met Tannie Katrien se kookkuns was my kuiers op die plaas meer as aangenaam.

Dan is dit Poppie se groot dag.  Sy het pas matriek klaar geskryf en wil haar vlerke vir so jaar of wat sprei om te gaan kinders oppas in Europa.  Daar is opgewonde trane by die bushalte terwyl die drietal staan en wag vir die bus wat Poppie na Johannesburg moet neem, waar sy op haar vlug gaan klim.  As familievriend is ek ook daar om vir Poppie af te sien.

Nou  die ongeluk is mos ‘n snaakse ding.  Hou hom altyd skuil totdat iemand hom by sy naam noem.  Dis Tannie Katrien wat die woord spreek:

“Pappa, jy moet die koevert vir Poppie gee, voor ons vergeet tussen die groetery,” sê  sy vir Oom Abel waar hy rustig saam met my ‘n twakkie teen die kar staan en maak.

“Maar Gogga, jy’t dan die koevert by jou.”

Die lengte van stilte is heel dikwels ‘n aanduiding van stront se diepte.

Oom Abel en Tannie Katrien staar mekaar in doodse stilte aan.  Selfs die getjirp van die voëltjie in die boom word stil en die rondloper Foxterriër wat eenkant onder ‘n boom lê, hou op om homself te krap.  Dit is ek wat die stilte uiteindelik verbreek, toe ek vermoed die moeilikheid is heeltemal te diep om koeverte daaruit te trek.

“Wat is in die koevert?” vra ek versigtig.

Die doodse stilte word verbreek deur twee mense wat gelyk begin praat.  Ek kan darem uitmaak dat dit Poppie se eerste week se reis en verblyf geld is, vir sodra sy in Europa land.  Dis nou voor sy haar by haar werkgewers sou aansluit.  Ses Duisend Rand.  Sy moes dit by Jan Smuts omgeruil het vir Duitse Mark.  Nou in daardie tyd was ‘internet’ nog net ‘n woord wat deur Hollanders in tenniswedstryde gebruik is en onmiddellike bankoorplasings het so drie dae gevat om te wys.   Die moeilikheid het inderdaad geen einde nie.  Die bus is oor tien minute daar, dus is daar nie tyd om plaas toe en terug te jaag nie.

Sedert ek die slag met ‘n AWB t-hemp in Soweto verdwaal het, weet ek daar is altyd hoop of ‘n oplossing.  Ek verneem of Oom Abel nie een van daai nuwe Outobankkaarte het nie.  Ek self het ook een van daai kaarte, maar die inhoud van my rekening is nie te bedrywig nie.

“Jy sien Pappa!  Ek het jou mos gesê ons gaan nog die ding eendag nodig kry!” roep Tannie Katrien opgewonde uit terwyl sy in haar handsak krap.  Dan gee sy die kaart vir my.  Ek wil nog vir die PIN nommer vra, toe sien ek dit is groot en duidelik met ‘n swart coci op die kaart self geskryf.  Ek sal maar later vir die twee preek oor bankveiligheid, dink ek toe ek na my voertuig toe hardloop.  Daar’s nie nou tyd nie.  Die bank is ver, maar gelukkig is ek die trotse eienaar van een van daai boksie BMW’s.  Ek behoort dit dalk net-net te maak.

Nou vir ‘n rep in die Noord Kaap kan jy niks van kortpaadjies leer nie.  Ek ken Kimberley soos die palm van my hand.  Ek weet waar om te ry om robots te vermy en belangriker nog, ook die spoedkameras.  Dit is nie baie minute later wat ek met skreeuende bande voor die bank stop nie.  Was dit nie vir die papwiel nie, was dit seker nog vinniger.  Daar is genoeg tyd om die BMW’tjie wat net soos myne lyk langs my te bewonder.  Die outobanke sit in die bank se voorportaal en ek haas my teen die trappe op.  Ek hardloop my amper des moers in ‘n groepie mans met sakke wat net so haastig soos ek die trappe afstorm.

Ek tokkel daai outobank se knoppies met so ‘n spoed dat hy vir my ‘n gratis dobbelbewys van Sun City saam met die geld uitspoeg.  Met die geld in die hand storm ek weer vir my BMW.  Sommer met die uitgaanslag by die bank se parkeerarea probeer die spietkop my al voorkeer.  Ek dink dadelik sy moer, want daar was nie spoedbordjies in die parkeerarea nie.  Hy moet maar sy maak, maak, dink ek terwyl ek links van die man verbyskiet.  Dan is ek in die straat.  Dis net polieste en spietkops waar jy kyk, maar ek vleg deur hulle soos ‘n dronk mamba.  Daai BMW’tjie trek onder hulle uit, dat dit lyk asof hulle straatinkopies doen.  In Langstraat probeer lede van die berede polisie my voorkeer, maar hulle perde vang skrik vir die klomp helikopters hier bo my en ‘n spul eindig op tussen die Lewis Store langsaan se sitkamerstel-specials.  Die res maal nog in hulle eie stront rond, toe is ek al om die draai op pad Groot Gat toe.

Daar is net een ding wat knaender is as ‘n gatvlieg en dis ‘n spietkop op ‘n motorfiets.   Daar is twee wat die heeltyd op my agterent bly, maak nie saak hoe vinnig ek deur die draaie vleg nie.  Dan is ek amper vas, maar ek het ‘n plan.  Die taakmag se Caspers versper my weg aan die einde van die pad en die twee motorfietse is nou amper bumper-aan-bumper met die BMW.  Dan vang ek hulle met ‘n slap draai en patenteer die heel eerste “drive-thru” in die land.  Ek jaag dwarsdeur Kentucky Fried Chicken se agterjaart en ek wen genoeg tyd om selfs die kolonel te salueer.  Daar is nou net een motorfiets agter my, die ander een het op ‘n Streetwise Two bestelling gegly en teen die speelparkie se slide opgery.

Dié ouens is besig om my tyd te mors, dink ek toe in Transvaalweg vir die eerste keer kan oorslaan 2de rat toe.  In Cemetry-weg moet ek regs draai bushalte toe, maar ek sien daar is nie plek tussen die twee tenks nie.  Maar nie alle kortpaaie is paaie nie en ek stoot die BMW se neus begraafplaas toe.  As ek net dáárdeur kan kom is die bushalte reg aan die ander kant.  Ek besef die rit gaan nie sonder opofferings wees nie, maar ek kies my roete goed.  Ek weet waar al die Tommie-grafte van die oorlog lê.  Hulle is mos in elk geval gewoond dat ‘n Boer oor hulle ry.  Daai dag ry ek Cecil John Rodes bo van sy perd af dat hy knus teen Barney Barnato gaan lepel lê.   Toe ek verby Saartjie Baardman se monument kan sien, sien ek die bus by die bushalte is reeds besig om weg te trek.  Gelukkig land ‘n Rooivalk-helikopter reg voor hom en hy moet stop.  Ek is betyds.  Poppie sal haar geldjies kry!

Toe ek uit die kar klim met die geld, het die hele weermag en polisie die plek omsingel.  Daar is selfs ‘n trok met een van die vloot se frigatte op ‘n trailer.  Maar daar is verwarring onder die gereg se magte.  Die ouens naaste aan my laat hulle RPG-7’s sak en iewers skree ‘n stem oor ‘n megafoon:

“Moenie skiet nie, dis die verkeerde ou!”

Nog ‘n paar sit hulle Gatlings op “safe” en die ander laat hulle R1’s sak.  Die een ou roep sy honde terug.

Dan hoor ons ‘n opgewonde stem oor ‘n polisie-radio: “The bank robbers  spotted on route to Dealesville.  I repeat!  Bank robbers in grey BMW spotted on R64 Dealesville road!”

Een vir een start die manne hulle engins en die voertuie verdwyn in ‘n stofstreep na Dealesville se rigting.  Niemand steur hulle meer aan my nie.  Ek is net daar om Poppie se geld af te lewer.  Die ou met die Rooivalk sukkel en ek moet hom eers help jump-start.  Dan is dit stil.

Oom Abel stap nader.  Hy lyk heel beïndruk.  Hy het altyd geweet ek het konneksies, maar só ‘n polisie escort het hy nog nie in sy lewe aanskou nie.   Daar is tyd vir twakkie maak, sê hy terwyl hy vir ons opsteek.  Die busbestuurder het gesê hy moet net gou iets anders aantrek voor hulle ry.  Poppie staan ook nader en haar afskeidskus is met dankbaarheid gevul.

Ek bekyk die skade aan my kar.  Behalwe vir Barney se graniet bokshandskoen in die bumper, is daar nie veel behalwe ‘n paar skrape en ‘n stuk Kentucky nie.

This entry was posted in Uncategorized and tagged , , . Bookmark the permalink.

10 Responses to ‘n Gejaag na geld

  1. twattie sê:

    Vrek snaaks!

  2. Lindie sê:

    Jitte, maar jy veroorsaak opskuddings!! Skitterend ;-D

  3. Caren sê:

    Briljant! So lekker om jou Afrikaans te lees. Giggel ek vir my nou.

  4. Eendjie! sê:

    Absoluut briljant!!!!

  5. Maryke sê:

    Excellent Jan Twak. Ek het nou so lekker gelag. Great Storie!!!

Gesels gerus saam

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s