LAMPPALE EN PROKUREURS

LAMPPALE EN PROKUREURS

‘n Student se voertuig is nie ‘n aanduiding van sy ouers se liefde of hul geldelike vermoëns nie, maar wel van hul vertroue in hom.  Om te kom waar ek wou wees, moes ek in my eerste jaar voetslaan of van die munisipale busdiens gebruik maak.  My vriende Ouboet en Kleingees stap saam.  Toe hy met die eerste uitnaweek sonder ‘n arrestasie rekord by die huis kom, word Ouboet toevertrou met ‘n gekanselleerde-prototipe Datsun 1300 bakkie uit die jare voor ons geboortes.  Net op afdraandes ry ek saam met hom, dan is dit vinniger as wat ek kan stap.  Later sou ons die bakkie die “Kakkie” doop.

My vriend Rysmier se windgat Opel Kadet was meestal in die basement geparkeer.  Vir hom was dit ‘n geval van óf geld vir drank óf geld vir petrol.  Die Kadet was daar vir uitsonderlike noodgevalle.  Rysmier was in elk geval die enigste ou wat ek geken het, wat vir R1,50 se petrol kon vra, met ‘n gesig wat lyk asof die garage se voortbestaan afhang van sy transaksie.

Soos ons studentejare gevorder het, bou ons krediete op by die ouerhuis.  In my tweede jaar daag ek by die kampus op, met ‘n grasgroen Toyota Corona Outomaties, wat onmiddellik die “Jurassic Classic” gedoop word.  Ouboet vorder tot by 1977 se Motor van die Jaar, ‘n lollipop-blou Renault 9 met ‘n gebreekte clutch.  Rysmier ry ‘n Jetta met meer valves as sy IK.  Kleingees is nou ook die trotse eienaar van die Passionwagon, ‘n Cressida stasiewa uit die jare van die Duits-Wes rebellie.  Met dieselfde Passionwagon vernietig hy later my ouerhuis krediete, toe hy in die Jurassic Classic vas-reverse.  My varsity-loopbaan het ek kláár gemaak met die groen Corona.

Nog ‘n jaar later het Ouboet genoeg krediete opgebou en kwalifiseer vir ‘n upgrade.  Sy ma gooi alle verantwoordelikheidsin oorboord en oortree die Elfde Gebod:

“Jy mag nie vir ‘n student ‘n Ford Laser gee nie!”

Voeg ‘n bottel Tequila by die kombinasie en jy sit met iets gevaarliker as Einstein met ‘n klont uraan.  Vir ‘n brannewyn-en-coke liefhebber is die konsep van Tequila met sout en suurlemoen maar swaar om te sluk.  As drink dan nou net oor dronk word gegaan het, kan jy jouself mos net sowel binneaars met ‘n bottel mampoer voed.  Of Rysmier en Ouboet hul alkohol daardie aand binneaars gekry het, weet ek nie.  Ek was nie by nie.  Ek hou nie van Tequila nie.  Die storie is vol gebreke en wasige oomblikke, wat selfs hulle twee nie kan inkleur nie.

Nou normaalweg was ek en my vriende nogal heel verantwoordelik met drink-en-bestuur en het gewoonlik ‘n nugter eerstejaar geskraap vir ‘n bestuurdery na ‘n partytjie.  ‘n “Verpligte Oorslaap” het baie keer gevolg as die ‘designated driver’ sy designation langs ‘n bottel drank verloor het.  Of daar daardie aand nie ‘n nugter mens in hul onmiddellike radius was nie en of die beskikbares dalk hul designations verloor het, weet ek nie, maar gelukkig is dit die enigste uitsonderingsgeval waarvan ek weet.

Maar soos meeste hartseer stories begin dié een ook met ‘n bottel Tequila.

Elk.

Na die drinksessie is hulle soos twee Cowboys, wil net perdry en kak maak.  Die naaste aan ‘n perd is Ouboet se Laser en die twee vaar Bloemfontein se strate binne.   Rysmier deel Ouboet mee dat hy te dronk is om die Laser tot sy volle potensiaal te laat gedy.  Hy wat Rysmier is, sal vir Ouboet wys wat steek in ‘n Ford Laser.  Hulle ruil sitplekke en Rysmier wýs.  Al wat toe op die einde in die Ford steek is ‘n lamppaal.  Op ‘n skerp draai iewers in Fichardtpark.  Die Laser het so drie maal gerol voordat dit die lamppaal uit sy fondasies geruk het.  Ouboet en Rysmier is shaken, but luckily not stirred.  Ek glo Ouboet se wortels as advokaat, het al daardie aand geskiet.  Hulle slaap nié in die tronk nie.  Die ergste wat hulle oorhou van die ongeluk is ‘n rekening van die munisipaliteit, vir die lamppaal.  En natuurlik die Laser se wrak en verduidelikings aan die ouerhuis.  Ouboet keer na die vakansie terug met sy Kakkie.

Die koste van die lamppaal is natuurlik vir Rysmier se rekening.  Hy maak ‘n afbetalingsooreenkoms met die munisipaliteit se versekeraar.  Die gevolg is dat Rysmier toe met drie keuses sit; Die lamppaal, petrol óf Tequila.

So jaar of drie na die voorval (ons werk toe al almal) vertel ek die storie een aand vir my baas.  Sy vrou begin dadelik lag.  Haar maatskappy is die munisipaliteit se versekeraar.  Sy kén die storie en die outjie wat wou kom afbetaal.  Hulle het maar later die rekening afgeskryf.  Ek bel vir Rysmier met die goeie nuus.

“Is jy seker?” vra hy effens aangedaan.  Iewers onder sy krokodilvel het die rekening tóg by hom gespook.  Ek verseker hom hy hoef nie te worrie nie, maar vat nietemin nota oor sy gemoedstoestand.  So ‘n jaar later, rondom 1 April haal ek die nota weer uit my gedagtes.

Rysmier is verlief en wil trou.  Geld is skaars en hy moet minder drink om ‘n verloofring te kan koop.  ‘n Dag voor ek die brief vir hom stuur, laat weet hy dat hy nou uiteindelik genoeg geldjies gespaar het vir die ring-koop-ding.

Ek faks die brief.  Vanaf ‘n anonieme faks lyn op ‘n baie mooi en professioneel ontwerpe briefhoof: “Botha en Vermaak Prokureurs”.  Dit is ‘n rekening vir die lamppaal.  Ek het die rekening simpatieloos opgestel:

ESR 330 Lamppaal:                 R7 250,00

Opsporingsfooi:                       R1 820,00

Korrespondente Rekening:     R1 530,00

Admin -en Litigasie fooie:       R2 870,00

TOTAAL:                                  R13 470,00

Dit is Vrydag, die saak is kamtig op die Maandag-rol in Bloemfontein geplaas.  As Rysmier die prokureur bel voor Maandag en reël om die geld te betaal, sal hulle nie voortgaan met die saak en nog ekstra kostes oploop nie.  Ek sit my baas se nommer langs prokureur Botha se naam.  Hy antwoord in elk geval altyd sy foon met ‘n kortaf “Botha” wat jou laat wens jy het nooit gebel nie.

Rysmier bel my eerste.  Hy skree-huil op my:

“Maar jy het dan gesê hulle het dit afgeskryf!”

“Wat afgeskryf?” wil ek ewe dom weet.

“Die fokkkkeeeeen lamppaal!”

Rysmier vertel my van die rekening.  Ek simpatiseer, troos en verseker hom dat ek onder die indruk was die ding is afgeskryf.  Ons vriendskap hang aan ‘n dun draadjie.  Sy verlowing ook.  Ek stel voor hy moet die prokureur bel en traai om ‘n reëling te maak.

Later bel my baas my.  Hy dink ek moet maar liewer vir Rysmier bel en red wat daar te redde is.  Rysmier het hom gebel en na tien minute se geween en sanik het hy die outjie jammer gekry en vertel dis net ‘n grap.  Ek is kwaad vir my baas maar hy verseker my; ‘n Grap is ‘n grap, maar hierdie ding sou familiemoord geword het.

Rysmier praat nie met my nie.  Twee maande lank.  As ek bel sit hy die foon neer.  As Alana (sy vrou met die mooi verloofring) optel, smeek sy hom om te vergeef en met my te praat, maar dit help nie.  Later kry ek selfs my ma om met die ou te praat, maar hy weier nog steeds botweg om met my te praat.  Na twee maande kan ek darem via Alana met hom praat (sê vir Jan ek sê so en so) en na nog ‘n maand praat die man uiteindelik weer met my.

Selfs tot vandag begroet Rysmier die onderwerp soos ‘n politikus oor reis –en verblyfkostes; praat glad nie graag daaroor nie. Ek besef een ding.  Studente, prokureurs, lamppale en Tequila hoort nie in dieselfde pad nie.

This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

6 Responses to LAMPPALE EN PROKUREURS

  1. Charms sê:

    Whahahahaha. Briljant Jan.

  2. Pikkelik sê:

    😀 Ag nee sies man! Mens maak nie die sambreel nog oop ok nie!!! 😀 😀

  3. Hehehehe, jou nasty mens😀

Gesels gerus saam

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s