Viagra 2

Hier is dan die beloofde opvolg op die vorige storie,”Steekproef met ‘n pil”.  Net ‘n ligte waarskuwing. Sensitiewe lesers mag nie tussen die lyne lees nie. 

 

MAW

 

R18 SL (maar net vir die evil minded)

VIAGRA 2

So ‘n paar maande na ek en Mamma die eerste keer die wonderpilletjie getoetsbestuur het, word ek en sy met ‘n slapriem gevang om ook ‘n bemarkingsaamkoms van Viagra by te woon.  Ek was half skepties, want by ‘n vorige saamtrek was dit net mans en dit was maar ‘n langdradige affêre.  Nie dat ek enigsins kort van draad is nie, maar dit het net later gevoel of mens die draad van die storie heeltemal verloor.  Hierdie slag mag ons manne toe darem ons gades laat saamkom en die uitnodiger het beloof dat die aand ‘n uithang geleentheid vol hoogtepunte sou wees.  Die uitvinder van Viagra sou ook self glo kom.

As ek maar net geweet het dit gaan so ‘n stywe funksie wees het ek en Mamma vroeër gery en nooit laat gekom nie.  Maar soos met Viagra, het gedane sake geen keer nie en moes ek en Mamma maar verleë deur die vol saal mense stap om ons plekke heel voor in te neem.  Dominee en Mevrou sit ook aan ons tafel en met ons sitslag maak hy al half verskoning oor sy teenwoordigheid by die funksie.  Hy is klaarblyklik daar om toe te sien dat die gemeentelede nie hand uit ruk nie.  Mevrou Dominee maak ook verskoning, maar sy kan skaars praat.  Sy het nie geweet die goed is net vir mans nie en nou sit die pilletjie halfpad in haar keel vas, met die gevolg dat als toegeswel is.  Dokter Manie van Staden is ook aan ons tafel.  Hy het weer gehoor die pilletjies kan vir erge brandwonde help.  Dit help nou nie gesond maak nie, maar dit hou ten minste die lakens van jou lyf af.  Hy wil ook ekperimenteer met ‘n mengsel van Deep Heat om die ouens met rugprobleme weer ferm te kry.

Die hoofspreker van die geleentheid was maar half afgesaag, inteendeel dit het gelyk of hy reeds getrek was en selfs sy vrou het maar half aangeklam gelyk. Met sy skyfievertoning het daar darem ‘n paar koppe gelig.  Na die hoofspreker was daai ou van the Naked Chef aan die beurt, wat gedemonstreer het hoe ‘n mens met die hulp van Viagra, van gewone meel, selfraising kan maak.  Voor hy kon wys hoe maak mens van ‘n rooiworsie ‘n Russian, het  Oom Jorsie Vermeulen opgespring en wou wys hoe mens met net so min moeite bruismeel kan maak, maar is vriendelik die saal uit begelei.  Na die orde herstel is, was die uitvinder van Viagra ook aan die beurt.  Hy het verduidelik dat hy en die pilletjie al ‘n langpad saamkom en dat die eindresultaat nie sonder ‘ups and downs’ bereik is nie.  Wel ek moet sê, die man se besigheid se groeikaart was nogal heel indrukwekkend.   Na ‘n paar minute is hy egter van die verhoog af geboe, want toe begin hy dinge uitrek en ons kon almal sien sy produk het die man grootkop gegee.

Na al die speeches afgehandel is, was daar geleentheid vir vrae en Tannie Marie van Tonder vra toe of mens dit oor die toonbank ook kan kry.  Die man antwoord toe ja, maar dan sal haar man ten minste drie pilletjies moet drink.

Dominee wou weet of hy die goed saam met sy Prozac kan gebruik.  Die man sê ja, dit kan hom seker opbeur, maar dan moet Dominee net beskerming ook gebruik, want depressie is nogal aansteeklik.

Dokter Manie vra wat die effek sal wees van ‘n oordosis.  Die man sê dan sal die Dokter se ore swel, maar dit sal hom beter laat hoor.  Dokter Manie sê die man verstaan hom verkeerd, hy bedoel eintlik oordosis, soos in te veel.  Die man sê “O” –  as daar te veel dosis moet Dokter Manie net meer pilletjies drink.  Nee, sê Dokter, die man verstaan hom nog steeds verkeerd.  Hy bedoel of daar newe effekte sal wees as hy te veel Viagra drink.  Die man sê die enigste newe effek kan dalk ‘n ligte kopseer wees.

Ek vra toe wanneer die goed beskikbaar sal wees, want mense vra al daarvoor by die kêffie.  Die man vra om verskoning, maar die besending is gesteel.  Die polisie soek klaarblyklik na ‘n paar geharde kriminele, maar hulle verwag binnekort ‘n deurbraak, want een van die rampokkers het sy makkers in die rug gesteek.

Oom Sollie Verwey het ‘n klagte.  Die pilletjies is net soos die Mary-go-rounds by die skou as dit besig is.   Jy moet ‘n uur wag voor jy kan ry.  Dan is daar nog die ontrekkingsimptome ook as jy ophou om die pilletjies drink.

Oom Danie Schoeman is weer vol lof vir die produk.  Vandat hy dit ‘n maand terug begin gebruik het, het sy sekslewe ‘n beduidende oplewing gehad.  Nou wat sê die tannie daarvan?- wou die spreker weet.  Nee, sê Oom Danie.  Hy weet nie, hy was nog nie weer by die huis nie.

Daar is ‘n klein afvaardiginging van Supreme Hoenders, wat ook vol lof was vir die produk.  Nadat hulle Viagra ontdek het, groei hul hoenders so vinnig, dat hulle glad nie meer pekelwater hoef te spuit nie.  Hulle voëls is inteendeel nou so groot, hulle oorweeg om die volstruismark te penetreer.

Oom Appie Maasdorp wil toe dadelik weet of hy die goed op sy stoetbulle kan probeer.  Nee, sê die man.  Die bulle sal vir hom doodskop, behalwe as ‘n bul dalk per geluk gay is.

Tannie Elsie van Vuuren is alleen daar.  Sy waarsku die mense om dit tog nie as ‘n setpil te gebruik nie, want haar Oom Fanie lê nou al ‘n week in die bed met hardlywigheid.  Vandat hy die pilletjies eerder drink, lyk dit darem of dinge besig is om los te kom.

Oom Rosenberg van die Joodse kêffie agter die dorp vra of mens net die pilletjie kan lek tot mens reg is en dan die res spaar vir ‘n volgende geleentheid.  Die man sê nee, die oom moet dit asseblief nie probeer nie, want dit lei glo tot vallende siekte.

So uur na ons die gratis voorbeelde gekry het, is dit spitstyd by die saal.  Almal wil gelyk ry en ek wonder of almal by die huis gaan kom.

Die volgende oggend vroeg vra Mamma my baie vriendelik of ek nie lus is vir ‘n lekker ontbyt nie.  Spek, eiers, toast en so meer.  Nee, sê ek.  Die Viagra vat mens se eetlus heel weg.  Die middag lyk Mamma minder vriendelik en sy vra of ek nie lus is vir ‘n lekker bord gekookte kos nie.  Nee, sê ek.  Die Viagra vat mens se eetlus heel weg.  Vroegaand lyk Mamma hoogs bedonnerd en sy vra of ek nie lus is vir braai nie.  Daar is lekker T-bones in die vrieskas wat sy gou kan ontvries.  Nee, sê ek.  Ek het mos gesê die Viagra vat mens se eetlus heel weg.

Mamma vra dat ek dan asseblief vir ‘n slag moet afklim, want sý is nou flippen honger!

This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

8 Responses to Viagra 2

  1. demoerin sê:

    😆 Net die regte medisyne vir my post-seevakansie-depressie.

  2. Son sê:

    Bwahahaha! So, dis ‘n lekker dieet pil ook op die koop toe?

  3. Adoonsie sê:

    Jislaaik, ek is maar bly ek het nie tussen die lyne gelees nie. Ek was in ‘n Tegniese Seunskool en as ek tussen die lyne moes lees sou ek my nou deurmekaar gelag het vir al die snaaksighede wat ek beslis nie tussen die lyne gelees het nie.

  4. PlaasJuppie sê:

    Klink of dit ‘n uitgerekte besigheid was, maar een wat darem ‘n paar hoogtepunte opgelewer het.

    Die verskil tussen Viagra en Niagra…at least Niagra falls🙂

Gesels gerus saam

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s