Grofgeskut vir ‘n inbreker

GROFGESKUT VIR ‘N INBREKER

Die telefoon lui en ek plaas my bestelling:  “Een ham-en-kaas toebroodjie en ‘n glas aartappelsap asseblief.  En lekker baie peper oor die ertjies.”  Ek sit die foon neer en lê behaaglik terug in my bed.

Die telefoon lui weer en hierdie keer is ek effens meer wakker.  Die tannie aan die ander kant skree-gil angstig op my:  “Meneer, meneer!  Jy moet wakker word.  Dis nie die take-away nie!  Dis JBT van die alarms.  Jou alarm by die kêffie het afgegaan!”

Ek is nou baie meer wakker en kyk op my horlosie.  Dit is halfdrie in die oggend.  Bleddie inbrekers het ook g’n respek nie.  Ek skud vir Mamma hier langs my wakker.  Sy bestel ‘n worsbroodjie sonder mosterd.

“Mamma!  Jy moet roer!” probeer ek weer.  “Daar’s moeilikheid by die kêffie!”

“Daar’s altyd moeilikheid by die kêffie,” steun-sug Mamma, maar dit lyk darem asof sy besig is om wakker te word.

Nou een ding van ‘n noodplan, as mens nie die ding gereeld oefen nie, bly net die ‘nood’ oor en die ‘plan’ is in sy moer.  Die t-hemp het heeltemal te veel gate en Mamma help dat ek weer my kop uit die mou uit kan kry.  Uiteindelik het ek die ding reg oor my kop en kan ek my pistool uit sy geheime skuilplek langs die bed uithaal.  Halfdrie in die oggende lyk alles ook heelwat kleiner as gewoonlik en ek besluit ek moet ietsie groters as die pistool ook saamvat.

“Wat soek jy Pappa?” vra Mamma toe ek na 5 minute nog steeds in die groot instapkluis rondskarrel.  Sy staan reeds in die kamerdeur, gereed om die Isuzu se sleutels soos ‘n aflosstokkie aan te gee as ek verbykom.

“Die RPG-7 man!” roep ek gefrustreerd uit.

“Het jy hom nie nog laas vir Oom Jorsie geleen met die munisipale betogings in Trompsburg nie?”

“Shit!” sê ek hardop.  As mense ook net die goed kan terugbring as hulle dit klaar gebruik het.  Ek besluit maar op die pompaksie haelgeweer as alternatief.  Ek gryp en hardloop.

“Pappa!  Jou broek!” gil Mamma agterna toe ek in die gang afstorm.

“Shit!”

Ons beter weer ons noodplanne oefen dink ek, terwyl die Isuzu stofbolle na die kêffie toe maak.  Genoeg tyd het al verbygegaan om die kêffie leeg te dra én weer vol te pak.  Ek hoop maar vir die beste, toe ek voor die winkel stop.  Nou wat gaan nou vanaand met die haelgeweer aan? – wonder ek terwyl ek lood in die loop probeer pomp.  Ek maak die Isuzu se deur oop dat liggie kan aangaan om beter te sien.  G’n wonder die ding het so lig gevoel nie.  Klein Jaco se windbuks gaan nie veel deug teen aggressiewe inbrekers nie!

Dit is ek en my pistool alleen wat die keffie instorm, maar Magnum PI se moer.  Met ‘n dubbele bommelakiesie rol ek my dik lyf tot teen die een toonbankyskas om dekking te slaan.  Versigtig doen ek rondom-observasie.  Niks.  Geen hansworse met AK 47’s begroet my teenwoordigheid nie.  Dan merk ek ‘n beweging in die kombuis aan die agterkant van die kêffie.  Ek verwens weer vir Oom Jorsie wat nie my goeters teruggebring het nie.  Ek hou daarvan om my probleme vinnig, maklik en totaal op te los.

Nou vir my is daar net een ding erger as om kaalvoet in hondestront te trap en dit is as ‘n vlermuis in mens vasvlieg.  Ek dog die goed het flippen radars of iets, maar aan die ander kant het daai tannie buite die dorp in die tent, my lankal gewaarsku oor die kak aura wat ek uitstraal.  Vir iemand wat nog nie die ondervinding gedeel het nie, kan ek net sê, dit voel soos bewegende dood.  Koud en nat, maar woelig.  En ek praat natuurlik nie nou van die tannie in die tent nie.  Toe daai vlermuis teen my vasvlieg los ek onwillekeurig ‘n oorverdowende skoot, gelukkig nie ‘n natte nie en die pistool was nog op “safe”.

Die vlermuis kan ek ook nie net los om die kêffie se lugruim te verken nie.  Die ding gaan die alarm die heel nag bly afsit.  Sonder ‘n alarm kan die kêffie ook nie, dus moet ek maar die vyand konfronteer.  Nou om ‘n aspris vlermuis met ‘n pistool raak te skiet, sit nie in enigiemand se broek nie.  Dit kom ek agter na die tweede magasyn so halfpad is.  Behalwe die gate in die ceiling is daar ook drie gewonde paashaasversiersels wat van die dak afhang.  Verlede jaar se Vader Krismis is net-net gemis, maar daar sit skrapnel op sy baard.

Mamma het ook al intussen gebel.  Die polieste het haar gebel om te hoor of alles oukei is by die kêffie.  Hulle het skote gehoor, maar na verlede jaar se ongelukkige voorval met my by die kerkbasaar, is hulle te bang om te kom kyk.

In ‘n kêffie moet mens gedurig loop en somme maak.  Teen hedendaagse ammunusiepryse kan ek net sowel ‘n nagwag loop huur, eerder as om verder te skiet.  Dan gaan die lig vir my aan!  ‘n Geweer skiet mos baie akkurater as ‘n pistool.  Jaco se windbuks lê nog voor in die bakkie.  Met daai geweertjie kan mens ‘n huisvlieg op 15 treë tot die Joodse geloof besny as mens net fyn korrel.  Gelukkig is daar een koeëltjie in die loop, so ek het één kans, anders moet ek weer terug huis toe.  Daai windbukspatroontjie tref die vlermuis inderdaad in sy stoksielalleenheid.  Maar dis ‘n doodskoot en na ‘n paar swierige summersaults maak die gevaarte ‘n onsuksesvolle noodlanding in ‘n mandjie paaseiers.

Die voorval leer my weereens twee dinge in die lewe:

Die klein stronte in die lewe kan mens nie altyd met grofgeskut hanteer nie.

en

Al is jy die wenner, ruim tog die oorlogstoneel na die tyd op.  Dit het Tannie Sarie Labuschagne my duidelik laat besef toe sy die volgende dag ‘n paaseier uit die mandjie wou haal.

This entry was posted in Uncategorized and tagged , . Bookmark the permalink.

19 Responses to Grofgeskut vir ‘n inbreker

  1. Krokodil sê:

    Ag, Jan, jy maak my dag, jong!

  2. toortsie sê:

    Twee dinge: Arme tannie Sarie,,, en … dit sal jou leer om jou kind se windbuks te lig te weeg!
    Dankie, dit was ‘n lekkerlees storie (soos almal van hulle!!)

  3. bloedbek sê:

    Aggenee Jan man weet jy nie vlermuise is ‘n bedreigde spesie nie. Ek sien glad nie die humor in hierdie ding nie. Grote wat ‘n kleinkie boelie. Sies man!

  4. Charms sê:

    Dat ‘n onderstebohangende rot nou jou bestelling nou so kan omkrap – tsk. Gelukkig het oom Jorsie darem nog nie die RPG teruggebring nie anders was die hele keffie dalk na moer.

  5. Kotie sê:

    Welldone Jan, hoekom het jy nie lankal van jou webblad gese nie – bef*k

  6. Pikkelik sê:

    Bwhahahahaha! Jitte ek het nou my hart uitgelag! Uitstekkend! Arme vlermuis, wonder of dit rerig die windbuks was of eerder ‘n hartaanval wat hom laat sneuwel het?! 😀

  7. PlaasJuppie sê:

    Pa het altyd gesê geweld kan jou vinger in jou gat ook afbreek, maar ek hou meer van jou manier. Maksimum vuurkrag op die doelwit, en as daar dan nog iets roer moet dit so kruppel wees dat selfs ‘n vettie soos ek nog kan weghardloop.

    Praat so van vuur…jy het nie dalk n’ verdwaalde vlamwerper waarvoor jy nie nut het nie? Ek moet in die huis se dak inklouter en as die agtbeen monster wat my vanmore in die stort ge-ambush het enige indikasie is van wat daar bo in die plafon bly, gaan ek nie ongewapen daar in nie. As een van die monsters daar bo in die donker teen my been opklouter is daar nie die gerief van ‘n drein en warm/koue lopende water om die gemors skoon te maak nie.

    • Jan Twak sê:

      Jong ek het ongelukkig my laaste vlamwerper verlede jaar by ‘n basaar gebruik, maar ek behoort een van die dae weer die RPG van Oom Jorsie af terug te kry.

  8. Adoonsie sê:

    Ai Jan. Puik , soos altyd.
    Goed om weer jou stem te hoor.

    Hoe gaan met jou boek ?

    • Jan Twak sê:

      Dagsê Adoons!

      Nee wat, Tafelberg het hulle neuse opgetrek vir my boek, maar hulle is darem nie die enigste varkies in die kraal nie.

  9. Marile Cloete sê:

    Vir ‘n vlermuis het ‘n mens eintlik ‘n tennisraket nodig …

  10. Krista sê:

    Jy’s vreeslik funny!!! Sou dit graag wou beleef het as toeskouer (agter die Coke-yskas natuurlik!)😀

  11. Het jy al die storie van die kerkbasaar gepubliseer êrens, sou graag daai een ook wou hoor!

    • Jan Twak sê:

      Man dit is eintlik ‘n vreeslike hartseer storie, maar as jy verlede jaar se NG sinodesitting se notas in die hande kry, sal daar seker iets daaroor wees.

Gesels gerus saam

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s