Die verdwaalde (duif)boer

DIE VERDWAALDE DUIF(BOER)

 

Die Dinsdag begin soos ‘n Maandag.  Ek is glad nie ‘n oggendmens nie en my oggendaktiwiteite is altyd tot die skerpste besonderhede beplan.  Ek wil so laat as moontlik opstaan, maar nog steeds betyds by my kêffie wees.  As ek ‘n knoopsgat mis, is ek laat.  As my blaas voller as gewoonlik is, is ek laat.

 

Die byl aan my vrou se kant van die bed, hou my op dié oggend.  Dit is ons braaivleisbyl wat gewoonlik in die tuin langs die rooster lê.  Daar is net een ding gevaarliker as ‘n vrou met ‘n byl en dis ‘n prokureur met ‘n byl.  My vrou is beide.  Ek probeer dink of ons dalk die vorige aand baklei het, maar kan aan niks dink wat ‘n byl sou geregverdig het nie.  Ek skraap maar moed bymekaar en vra op ‘n veilige afstand.

 

Mamma lag terwyl sy verduidelik.  Sy het vreeslik gedroom die vorige aand van mense wat ons aanval met byle.  Só erg dat sy in die middel van die nag wakker geword het.  Die byl buite, het haar gepla, toe gaan haal sy hom maar.  “As hulle ons wil doodmaak moet hulle, hulle eie donnerse byle bring.”

 

Ek is verlig, maar ek is laat.

 

Pyp Venter wag reeds voor my winkel, toe ek vyf-oor-agt oopsluit.  Hy brommel-brommel iets van dorpenaars, sonskyn en die tyd, terwyl hy vermakerig op sy horlosie beduie.  My personeel wag gedwee ‘n ent weg, terwyl ek sukkel om die traliehek oop te maak.  Hulle mag nie naby wees met die oopsluit nie.

 

“Wag, moenie daar stap nie!” keer ek hom betyds, voor hy nog, voor my, by die winkel kan instorm.  Ek moet eers die ‘alarm’ afsit.

 

Ek hou hom uit die pad terwyl ek versigtig die toutjie tussen die deur se kosyne oprol en van die haelgeweer se sneller afhaal.  Die ding is net met fyn donshael gelaai, ek hou van my verdagtes lewendig.  Pyp lyk nou minder haastig om in te gaan.

 

“Is daar nog?” wil hy weet, terwyl hy na die geweer in my hand beduie.

 

“Nee, net op Saterdagaande, dan raak dit soms rof met die inbrake,” sê ek terwyl ons instap.

 

Pyp se duiwe is klaarblyklik honger.  Hy het die vorige dag ‘n spul wedvlugduiwe op ‘n bankrotveiling naby Rouxville gekoop.  Die hele duifboerdery, hokke en al.  Ek wil vir hom sê die duiwe is dalk nie so goed of vinnig, as dit ‘n bankrotveiling was nie, maar ek wil nie die man voortydig ontmoedig nie.  “Wat eet duiwe nou eintlik?” vra hy my.  Ek weet nie.

 

Die gesamentlike kennis oor duiwe, tussen ‘n kêffie-eienaar en ‘n merino-skaapboer, is maar uiters yl.  Ons vaar my winkel se rakke in met ‘n trollie.  Hy moet maar ‘trial en error’.  Terugbring wat hy of die duiwe nie gebruik nie.  Ons laai die trollie.  Heel mielies, gebreekte mielies, gemengde voëlsaad, kanariesaad en rys.  Ek het iewers gelees mens kan klein voëltjies met ontbytpap red en laai ‘n paar bokse Pro-Nutro in die trollie.  By die swietsrak gryp Pyp ‘n volpak Bar Ones, ingeval die duiwe dalk ‘n soet tand het.

 

Die volgende oggend bel Pyp my.  Ek hoef nie te worrie nie, hy gaan niks terugbring nie.  Wat die duiwe, sy vrou en kinders, nie geëet het nie, sal hy probeer plant.  Maar hy wil weet of ek nie iemand ken, wat duiwe ken nie.  Hy wil die goed nou begin leer.  Hulle moet terugkom na sy huis toe as hy hulle iewers los.  Die naaste wat ek ken is Tannie Grieta Vermeulen met haar gansboerdery.  Ek gee vir Pyp haar nommer.

 

‘n Rukkie later bel Pyp weer.  Hy wil weet waar sit ‘n duif se eiers.  Tannie Grieta het gesê hy moet die duiwe knip.  Hier moet ek keer en vinnig ook.  Ek sê vir Pyp hy moet niks knip nie en wegbly van die duiwe se eiers en vlerke.  Ek sal bietjie ‘Google’ op die internet en hom terugbel.  Ek copy en paste vir Pyp ‘n lekker handleiding oor duiwe en bel hom met die inligting.  Hy moet alles in sy vermoë doen om die duiwe te laat tuis voel.  Hulle hokke moet skoon wees, genoeg water en lekker kos, stories vir hulle lees met slaaptyd en so meer.  As hulle die plek genoeg laaik, kan hy hulle na ‘n week loslaat, hulle sal terugkom.

 

So twee weke daarna is Pyp weer by my in die winkel.  Hy is moerig verby.  Hy súkkel met die duiwe.  Hy wil weet of ek nie dalk klein kompassies verkoop nie.  Hy het twee dae terug, vyftig van die duiwe by Trompsburg gaan aflaai.  Daar is nog nie een terug nie.  Ek stel voor dat dit goedkoper gaan wees om een papegaai met ‘n kompas te koop.  Dan kan dié vir die duiwe vertel waarnatoe om te vlieg.

 

Pyp is weer ernstig.  Ons moet weer Google.  Ons kom tot die konklusie dat hy nie dadelik die duiwe na ‘n vreemde plek toe moes gevat het nie.  Hy moet eers net die hokke vir so week oopmaak, dat hulle kan kom en gaan soos hulle wil.  Dan kan hy die aflaai-ding probeer, verkieslik nie weer met so klomp duiwe gelyk nie.

 

So drie maande daarna loop ek vir Pyp raak op ‘n troue.  Hy wil weet of ek nie belangstel in duiwehokke nie.  “Hoe dan nou?”  vra ek hom.  Ek het aangeneem geen nuus is goeie nuus en sy vrou koop nog gereeld Bar Ones in my winkel.  Pyp sê ons moet sit voor hy vertel.

 

Hy vat die duiwe toe so vyf-vyf op ‘n slag Trompsburg toe.  Die eerste slag kom daar net een uit die vyf terug.  Die tweede slag darem twee.  Nog ‘n week later verbeter die sukses na drie op ‘n slag, maar daar steek dit daar vas vir ‘n hele paar keer.  Net toe hy dink hy het nog so maand voor hy uitgeboer is, kom al vyf duiwe terug.  Seker maar die kaf van die koring geskei of so iets, want van toe af kom al die duiwe elke keer terug.  Hy laai hulle nou ook op verskillende plekke af, maar dis elke keer vol punte!

 

Maar toe gebeur die ding.  Die probleem is, dink hy, sy besigheid was nog altyd Suid van Edenburg.  Hy moes nooit die kans gevat het met al sy duiwe, Noord van Edenburg nie.  Maar hy moes Bloemfontein toe gaan, toe vat hy maar die duiwe saam.  Almal.  Al honderd-en-dertig.  Die eerste dag niks, maar hy worrie nie.  Bloemfontein is ver.  Tweede dag ook niks.  Na twee weke het hy maar ‘n koper vir die hokke begin soek.  Omtrent drie weke daarna gewaar hy toe iets in die plaaspad.  Dit is een van sy duiwe wat stadig en kruppel-kruppel in die pad afstap, op pad hokke toe.  Hy skree toe sy frustrasie uit:

 

“Jy moet vlieg donner, nie stáp nie!”

 

Ek sê vir Pyp hy moet geduldig wees, miskien gaan die ander ook nog daar aankom.  Dié duif is dalk net ‘n vinnige stapper.  Nee, sê hy vir my.  Die duif het hulle maar saam met die kind se kokketiel in ‘n hokkie gesit.  Ek dink by myself.  Was dié duif nou ‘n papegaai, sou hy seker ‘n lekker storie kon vertel het.

This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

8 Responses to Die verdwaalde (duif)boer

  1. demoerin sê:

    Baie cool storie!
    Miskien moet hy die duiwe by die plaas waar die veiling was gaan soek het😆

  2. Bella sê:

    Kan nie wag vir die volgende storie nie…Baie goed geskryf. My man het ook op ñ tyd duiwe gevlieg en daarom kon ek die storie so geniet.

    • Jan Twak sê:

      Die kenners sê ‘n mens moet altyd skryf oor ‘n onderwerp wat mens goed ken. Ek dink ek het sopas die teendeel bewys🙂

      • Ingrid Marais sê:

        Since when worry ons wat die kenners se? jy weet in elk geval beter as hulle, want jy’t die bewyse😉 Gaan ons nie bietjie een of ander tyd ‘n boek in die hande kry met al jou stories in nie? Ek weet van ‘n hele paar mense wat hom weer en weer sal lees.

        • Marile Cloete sê:

          Die eerste blogroman in Afrikaans het hoeka onlangs uitgekom. Dalk kan jy die tweede een wees?

  3. Lekker storie! Dankie, Jan!

Gesels gerus saam

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s