‘n Oog vir ‘n oog

Ek moes seker al onraad vermoed het toe die jongeling die dag met ‘n Ford Cortina by die huis langs ons gestop het. Dit is een van daai karre wat jy tien straatblokke ver al hoor aankom en ek praat nie van die enjin nie, dié hoor mens eers van so agt blokke ver. Die eerste gewaarwording van die snawel se naderkoms is gewoonlik so ‘n liggiese doef-doef op mens se sensitiewe dele, ek vermoed dis nou as hy min of meer die dorp binne ry. Dan word die doef-doef al hoe erger tot dit voel later soos ‘n hasie met ‘n hamer wat met Duracells gelaai is. Dan stop die lekkerte en die doef-doef skuif op tot by mens se borskas. As die klein stront met sy Cortina om die draai kom, sit die doef-doef in mens se keel en onderste harsings vas en dit voel of mens in die binnekant van ‘n lugdrukboor vasgekeer is. Daar was hoeka mos die ou grappie oor die chemiese formule van kak: XR6.

 

Dat die jongeling Oom Klasie van Vuuren se huis reg langs ons sou koop, sou ek nooit kon raai nie. Nou die ergste lawaai wat Oom Klasie ooit in sy lewe gemaak het, was miskien om ‘n ligte buikwindjie in die privaatheid van sy eie tuin te los. Maar ‘n mens waardeer mos eers rustige bure die dag as hulle weg is. Die nuwe knaap se eerste daknatmaak, die eerste Vrydag na sy intrek, was die ergste. Die man demonstreer die feit behoorlik dat sy musiekapparaat nie beperk is tot die Cortina nie.

 

“Los die kind man,” sê Mamma toe ek die haelgeweer uit die kluis haal. “Jy was ook mos eenmaal jonk.”

 

“Ja, en wie gaan miskien vir die ceiling betaal?” skree-vra ek omgekrap bokant die lawaai uit.

 

“Los man! Die ceiling was al lankal los. Ons skud net die deken af, dan’s al’s weer reg,” keer Mamma terwyl sy die geweer by my vat en weer toesluit. Die sleutels hou sy by haar.

 

So verdra ons toe maar die lawaai, maar ‘n huisdaknatmaak kan ook net so lank duur en ook nie langer nie. Die volgende Donderdagaand, stop Mamma self die haelgeweer in my hande en sê ek moet nou plan maak.

 

Sekere dele van die Bybel val maar nou net eenvoudig makliker op die oor én gemoed as ander. Soos die stukkie wat praat van ‘n oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand. Baie lekkerder as die “draai-die-ander-wang-stukkie”. Maar daardie aand beleef ons dorpie ‘n klankaanslag wat géén stukkie in die Bybel sou kon stil preek nie. Ek het mos self in my lewe musiek gemaak. Gróót musiek, onder andere by die Vrystaat Stadion. Die musiekstelletjie wat ek gebruik het, was darem self nie vir sissies nie. Ek sê vir Mamma sy moet solank ‘n paar lekker CD’s en dergelik bymekaar maak. Ek gaan my ou klanktoerusting by die kêffie se skuur optel. Vanaand wys ek die nuwe boorling wat ís musiek.

 

Op pad kêffie toe, tel ek eers vyf handlangers langs die pad op. Daar is baie speakers en hulle is groot en swaar. Na die eerste drie speakers gelaai is moet ek vyf vars handlangers soek om met die ander nege te help.

 

So slaan ek toe die hoëtroustelletjie op. Sommer daar in my agterplaas, met die speakers wat wys in buurman se rigting. Op buurman se klanksisteem blêr iemand van ‘n transvestiet wat se pantie te styf teen sy/haar bobeen druk. Ek haal Oom Boetie Kallis se Platboompolka uit en ek spéél. Ek speel daardie transvestiet heel uit sy onderklere uit en Brakanjan neem die loop soos ‘n vlakhaas wat slang gesien het. Mamma beduie en haar mond gaan oop en toe, maar niemand kan iets hoor nie.

 

Hardegat bliksem gee toe nie op nie. Ek vermoed hy het gedurende Oom Boetie se polka, sy Cortina se luidsprekers ook aan sy huisstelletjie gekoppel, want Lady Gaga sing soos ‘n swanger speenvark wat in ‘n pendoring getrap het.

 

Ek sê vir Mamma sy moet vir Oom Mynie Reyes se Wikkelvioolvastrap aangee. Hierdie slag koppel ek nog ‘n speaker, sodat daar twee is wat werk. Toe Lady Gaga haar laaste asem wegblaas, trek Oom Mynie los met sy viool en almal moet vastrap om staande te bly.

 

Maar sal die klein bliksem werklik dink hy kan my troef! Toe Oom Mynie daai laaste noot op sy viool trek, val die mannetjie wragtig weg met ‘n nommertjie van Ramstein. Op my beurt troef ek hom weer met ‘n wals van die Baardskeerdersbosorkes. Hierdie slag met drie speakers. Lékker man! So tussen die musiekbaklei gryp ek vir Mamma en ons doen ‘n rondte tussen die tuinstoele.

 

So gaan dit die hele aand aan. Hy speel ietsie van Black Eyed Peas en ek ietsie van David Kramer. Rihanna afgewissel met Carika Keuzenkamp. Britney Spears en oorle Sias Reyneke op ‘n stadium in duet. Snoop Dog sing op Kruitjie-roer-my-nie se wysie. Al harder en harder. Net sodra die mannetjie dink hy het my in ‘n hoek, sit ek nog ‘n speaker by. Op agt speakers tuimel sy DSTV skottel van sy stellasie af en my geyser bars. Op tien speakers moet ek en Mamma op die oorblywende twee tuinstoele sit, sodat hulle nie ook weghop nie.

 

Op elf speakers troef ek die klein rampokker heeltemal uit sy sokkies uit met ‘n duet van Jurie Els en Patricia Lewis. Dit laat sy Fokkofpolisiekar finaal fokkof en daar is ‘n doodse stilte toe Jurie klaar dankie gesê het. Dominee staan nader en sê ‘n dankgebed en die polisie klim weer in hulle voertuie. Een van ons ander buurmanne kom met Brakanjan en een van ons tuinstoele aangestap. Mamma en Klein Twak sukkel van die dak af. Daar is weer vrede en stilte in die buurt.

 

Die volgende oggend is die jongeling in die kêffie om ‘n koeldrank vir sy pad te koop. Hy het my seker nie as sy buurman herken nie, want hy merk droog op dat hy nie langer in hierdie dorp gaan bly nie. Sy bure is heeltemal te raserig.

 

 

 

 

****

 

 

 

 

Hieronder is ‘n foto uit ‘n promosiepamflet uit my musiekdae, seker so 15 jaar terug geneem.

This entry was posted in Uncategorized and tagged , , . Bookmark the permalink.

20 Responses to ‘n Oog vir ‘n oog

  1. Bella sê:

    Nee kyk hierdie lag van my het ek so nodig gehad..thx daarvoor.

    • Jan Twak sê:

      Altyd ‘n plesier om ‘n wangspier te trek!

      • Ai, Jan, ek het jou hulp sooo nodig. My bure het ‘n nuwe hi-fi, ‘n angle grinder en ‘n industriële stofsuier. My klanksisteem staan nie ‘n kat se kans nie!! Ek kry nie ‘n steek werk gedoen nie is gereed om my polse af te kou.

  2. Ingrid Marais sê:

    Great, so met ‘n lawaai is jy terug. Ek like, ek like sommer baie, dink daar is tye wanneer ek daai speakers nogal goed sou kon gebruik. Sommer so onwillekeurig het die prentjie van Macaulay Culkin op daai dvd van oorle MJ in my kop gekom waar die speakers ook die praatwerk gedoen het😆 Dankie vir die lag en lekker vredevolle naweek vir julle😆

  3. Charms sê:

    Jis Jan jy was so lank stil en nou kom jy terug met so verskriklike geraas. Ek hoop die toerusting het hulle weg gevind terug stoor toe.

  4. Jan Twak, dit is Dominee hier. Broer, ek sal met jou moet kom praat- jou klein stront van ‘n buurman, jou naaste, se musieksmaak klink vir Dominee baie beter as joune! Nou ja, Dominee stem saam met jou oor die broertjie se voertuig, selfs ‘n Shitty Golf sou beter wees. Op ‘n ligter trant as die kerkraad eers verdaag het- my kamermaat het op ‘n stadium Kovsies se buitelig klankstelsel hanteer, baie jare gelede. Daardie klankstelsel was gereeld in ons kamer. En as die manne van de Wet en Verwoerd so ernstig sit en studeer om 23h00, dan word die speakers uitgedra om hulle bietjie te bemoedig- ek dink Annelie van Rooyen se Ek Lewe was nommer 1, gevoel deur verskeie ander diere- en voertuiggeluide in stereo. Dit was darem maar baie lekker om raasgat te wees toe ons jonk was, dat almal van jou kennis kan neem.

    • Jan Twak sê:

      Dominee! Ramstein is reguit van die hel. Een akkoord op hul kitare sal jou hele ewigheid besoedel!

      Hehehe.

      Ek self was in Karee UOVS. Saam met die klanktoerusting was daar ook ‘n massiewe stel tromme!

  5. Adoonsie sê:

    Bly om te sien jy leef nog. Lanklaas van jou gehoor.

    Ek het ook op n stadium in my lewe met klank gespeel. Nooit regtig my eie goed gehad nie , maar ek het die voorreg gehad om met SUKOVS se toys te speel in die Sand en en Andre.

    Groot pret.

    • Jan Twak sê:

      Ek het gereeld in die Sand en André gespeel, maar ongelukkig nooit met hulle grand goeters nie.. Die akkoestiek is so goed daar mens kan regkom met ‘n baie klein stelletjie.

  6. toortsie sê:

    Wys hom, boetie, wys hom!
    My dogter het altyd gesê sy wil nog eendag met ‘n baie grand motor deur die dorp ry, vensters afgedraai en KLASSIEKE MUSIEK luid speel. Ek wonder darem…

  7. Nena sê:

    Baie skerp! Jan en Plaasjuppie.

  8. Krista sê:

    Klink my jy en die BB se H3 kan kopstukke gesels . . hy draai ook die speakers op die boonste verdieping so na die bure se kant toe en vergas hulle op Pantera se “F*ck you” of so iets – dit kom in die lirieke voor – dat die buurvrou by die muur staan en dit agterna skreeu – na sy kant toe nogal!

    En dit nadat sy die hele wetterse nag tot watter tyd haar bes probeer het om sy badkamerteëls te laat afval!

  9. PlaasJuppie sê:

    Ek het eintlik nogal so klein bietjie simpatie met die knaap, sovêr die die raaskar aangaan in elk geval. Sien, die enigste ding wat ‘n rit in een van daai rook-en-kook Cortina’s semi- verteerbaar gemaak het is as jou klank hard genoeg was om die kar se rattles uit te doof. Met die musiek by sy huis is die mannetjie op sy eie. As jy saam met die groot honde wil hardloop….

    Anyway…gaan oortuig tog net vir oom Kosie in die volgende blok dat hy maar uit sy bomskuiling kan kom, dit was toe nie WWIII nie. En as jou tuinstoele sulke groenes is, ek het een in ‘n mielieland gesien lê so 3 kilos buite die dorp…Bloem se kant toe.

    • Jan Twak sê:

      Dankie vir die verwysing, ek het die tuinstoel gekry. Nee, die Cortina is geen verskoning nie, daai ‘mags’ is meer geld as my Isuzu!

  10. Son sê:

    Ek vee nou eers die trane af van al die lag!😆 My dogter het op ‘n stadium ‘n kêrel gehad met so ‘n raas motor, net dit was ‘n Nissan. Hy het ook sy broek so hanggat ge’skip’ en ons het maar hard gebid dat die kys moet sneuwel. Gelukkig werk gebed nog😈

Gesels gerus saam

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s