Die ongegeede roostertjie

‘n Paar jaar terug bel my ma my die oggend wakker.  Dit is reeds tien-uur, maar as ‘n mens in die klank –en videobedryf is, het tyd nogal die vermoë om sy normale betekenis te verloor.  ‘n Groot maatskappy het ‘n funksie die vorige aand gehad en die bedrywighede het tot na sonopkoms geduur.  Ek het maar vrywillig ‘n paar bykomstige take op my geneem, soos om te help dat die laaste oorblywende gaste uit die swembad uitkom en weer klere kry, al is dit dan nou nie hulle eie nie.  Om almal wat as metgeselle die vorige aand daar aangekom het, weer bymekaar te kry is ‘n onmoontlike taak en ek en my assistent het maar die mense in volgorde van nugterheid bymekaar gerangskik.  Die uitvoerende direkteur van die maatskappy is ‘n groot man en na ons ‘n hele ruk gesukkel het, het ons maar besluit om hom in die voue van die springkasteel te los om verder te slaap.  Sy sekretaresse lê darem langs hom vir geselskap en om verdere reëlings te tref met die wakker word.

Ma is op die lyn: “As jy weer hier verbykom, moet jy tog maar kom kyk wat met jou pa aangaan.  Hy sit nou al vir drie nagte aanmekaar op die stoep en peanuts eet en rooibostee drink.”

“Nou wat is dit nou weer?” vra ek.  Pa is op sy maklikste maar ‘n moeilike man en soos ek, kan hy nogal moeilikheid ten toon stel as hy die dag wil.  Soos die slag toe ons die steenkooldief vasgetrek het.  Maar die peanuts en rooibostee is vir my nuut.

“Is Pa se whiskey dalk klaar?” vra ek in die hoop om dalk meer inligting oor die rooibostee-ding te kry.

Nee, sê my ma, daar is darem nog ‘n hele spul bottels oor soos wat sy laas gekyk het.

Man, die whiskey-ding het so tien jaar voor daardie tyd gebeur.  ‘n Groot interlink trok met whiskey het so 5km van Edenburg omgeslaan.  In sy offisiële kapasiteit van kranige kommandolid, met my as assistent, haas ons ons na die ongelukstoneel om te gaan hulp verleen.  Ons ry met sy Ford F250.  Van net buite die dorp tot by die ongelukstoneel lyk dit soos een lang kettingbotsing.  Maar dit is nie karre nie, dit is kruiwaens.  Die woord van die whiskey-ongeluk het vinnig versprei, ook onder die plaaslike swart bevolking.  Die kruiwaens wat nog oppad is na die toneel word ywerig en fluks gestoot, maar die wat aan die terugkeer is, slinger-slinger saam met hul eienaars oor die pad.  Verskeie lê omgekeer met hul eienaars uitgepaas langsaan.  Dit is ver om met ‘n kruiwa te stap en die dors het seker maar meeste oorval.

Op die ongelukstoneel is Kaptein Brink in beheer.  Hy en sy manne het hul hande behoorlik vol.  Die versekeringsmaatskappy het klaar laat weet dat die los bottels maar ‘free-for-all’ is, maar dat die ongeskonde kaste tog asseblief behoue moet bly.  Ek kyk na die toneel.  Daar is nogal genoeg los bottels om ‘n paar knartsies te maak.  Meeste van die heel kaste is nog op die lorrie, dit is net die groot sleepwa wat omgeduiwel het en wat die skade gemaak het.

Kaptein Brink het ‘n probleem.  Hy het heelwat van die vol kaste wat op die grond gelê het al gered, beduie hy na die poliesvan wat se gat ‘n sentimeter van die grond af hang.  Hy sal dit darem net in veilige bewaring wou gaan aflaai, maar hy soek iemand verantwoordeliks om in beheer te bly van die toneel.  Eintlik net iemand om sy eie manskappe op te pas wat in ‘n kring om die trok stelling ingeneem het om te keer.  Dis nou om te kyk dat hulle, hul werk behoorlik doen.  Sy oë skimp na my pa met sy kommando R1 in die hand.  Dis reg sê my pa, ons sal kyk.  Daar is nie tyd om ons in te sweer nie, maar so word ek en my pa, Kaptein Brink se ‘deputies’ en bevind ons, ons skielik in beheer van die ongelukstoneel.  Pa stop die R1 in my hande.  Ek moet gaan oppas.  Kyk dat die mense nie onbeskadigde kaste vat nie.  Hyself gaan darem net so ‘n draai stap om te sien of daar nie ‘n los botteltjie of twee is wat rondlê nie.

Kaptein Brink het ons eers heelwat later weer gesien.  Intussen daag die manne van die versekering ook by die toneel op.  Wat gered kan word, is immers nou hulle eiendom.  Hulle is baie dankbaar om twee verantwoordelikes in beheer van die toneel te vind.  As dankbetuiging word ‘n heel kassie whiskey vir my Pa aangegee.  My Pa sê dankie, maar hy het darem klaar al ‘n los botteltjie of twee opgetel.  Dis nou as dit reg is met hulle.  Nee, dit maak nie saak nie, die Oom moet die kassie vat.  Dis maar ‘n klein gebaar van hul dankbaarheid oor ons die skade so beperk het.

Later toe Kaptein Brink terug is, ‘clear’ ons die kassie met hom en groet die vriendelike manne van die versekering, voor ons terugstap na die Ford toe.  Ek sal sommer die kassie agter in die bak laai, beduie ek vir my pa, toe ek die kassie uit sy hande neem.  Nee, beduie hy terug.  Die kassie sal voor in die kajuit moet ry, daar is nie meer plek agter nie.  Nou my pa was nie ‘n ledige man nie.  Hy bevestig dit weer daai aand.  Om ‘n Ford F250 met ‘n canopy, vol whiskey bottels te pak, wil gedoen wees.

Nee, sê my ma.  Die whiskey kan nog nie op wees nie.  Dit behoort nog vir so ses en ‘n half jaar te hou, soos sy uitgereken het.  Ma sê Pa sukkel weer met die rekenaar.  Glo weer vreeslik gevloek en toe die ding bo in sy kas gegooi.  Ek verwens myself weereens oor die dag toe ek my ou skootrekenaar vir my Pa gegee het.  Ek het ‘n lekker boekhou programmetjie vir die kêffie geskryf en Pa het nogal vat aan die ding gekry, omdat dit nogal heelwat tyd spaar met die BTW, salarisse en ander kêffie-dinge.  Die probleem is, my pa hou van speel en probeer altyd ‘n ding beter maak as wat hy is.  Toe ek die aand Edenburg toe ry vermoed ek die ergste.

Ek kry vir Pa op die stoep.  Hy eet peanuts en drink rooibostee.  Hy staan darem op om my te soengroet.  Tradisies wissel seker maar van huis tot huis, maar in ons huis, was jy erfporsie-verlorende-kwaad as jy ‘n gesinslid nié die dag soengroet nie.

“En die peanuts Pa?” vra ek hom toe ons elkeen ons sit met ‘n Stuyvesant gekry het.

Die goed help hom dink, as hy so een vir een eet, sê my pa, terwyl hy weer enetjie vat en in sy mond pop, net om te wys.

“En die tee?” Ek ken my pa nie as ‘n teedrinker nie.  Glad nie.  Veral nie as daar nog whiskey is nie.  “Nee,” sê my pa.  Die tee is dat hy nie verstop van al die peanuts nie.

Omtrent sewentig peanuts later sit ons met die skootrekenaar op die stoeptafeltjie.

“Wat het met die muis gebeur?” vra ek toe ek die ding eenkant toe skuif.  Pa het destyds te veel gesukkel met die skootrekenaar se ingeboude muis, toe het ek maar ‘n eksterne een gekry wat hy aan die ding kon koppel.  Waar die eksterne muis se wysvingerknoppie was, is net ‘n paar flentertjies plastiek en ‘n gat.

My pa beduie hy het seker te hard gedruk.  Die ding wou nie kliek waar hy wou hê hy moes kliek nie.

“Nee, hy’s heel in sy moer,” sê ek vir my pa terwyl ek die muis aan sy eie draad oprol, “ons sal maar die laptop se eie muis moet gebruik.”

Ja, hy het ook nogal so gedink, met die gat en goed wat daar nou in die ding is.  Maar hy is nie eintlik oor die muis bekommerd nie, die keffie se program is ook heel in sy moer beduie hy.  Baie dae en aande se werk.  Hy kan dit nie verstaan nie.  Hy het niks gedelete nie.  Altyd net gesave soos ek hom gewaarsku het.  Hy het nou wel met my formuletjies en goed gespeel en ‘n paar probeer verbeter, maar hy het niks delete nie altyd net gesave.

Nou daai aand leer ek twee dinge van ‘n rekenaar.  Eerstens is dit veiliger om te delete as om te save.  Op ‘n manier kan ‘n mens nog iets undelete, maar as jy iets opgefok het en die fokop boonop dan save, sit jy met ‘n … uhm … wel, groot fokop.  En my pa hét die manier gehad om enigiets wat hy doen, ordéntlik te doen, soos met die whiskey laaiery nou as voorbeeld.

Die tweede ding is dat dit moeiliker is om ‘n program weer reg te skryf, as wat dit is om ‘n totale nuwe een te skryf.  Ons sit die hele nag om.  Ek skryf ‘n nuwe program vir die kêffie en my pa sit en gee advies en instruksies, terwyl hy peanuts eet en rooibostee drink.  Sy eie “dae en aande” se werk kon ek darem op ‘n manier red deur van die rou data na die nuwe program te copy.

Die volgende oggend is ek vroeg reg om verkas.  Nee, maar waantoe gaan ek so vinnig?  Hy het iets wat hy vir my wil gee.  Hy werk nou al lank daaraan.  En na my moeite met die rekenaar, is dit miskien ‘n goeie tyd om te gee.  Hy vat my garage toe.  Dit is die mooiste braairooster wat ek nog gesien het.  Op wiele met mags!  Die bloedrooi verf is hittebestand beduie my pa en die panele is van vlekvrye staal.  Die ding sal nie roes nie.  Hy wys my ook sy patent om die rooster gemaklik op en af te skuif.

“Het Pa die ding met Superglue aanmekaar gesit?”  komplimenteer ek hom.

“Nee,” sê hy.  Ek ken hom mos.  Hy sweis fyn, mens moet amper nie kan sien waar nie.

“Nou wou Pa nie die rooster self gebruik het nie?” wil ek weet.

Nee, die ding is heeltemal te groot vir hom en vir my ma.  Hy sal maar een of ander tyd as hy weer krag het, vir hulle ‘n kleintjie maak.  Maar vir eers is hy nou moeg roosters gemaak.  Dié een het nogal tyd gevat, beduie hy na my kosbare eiendom.

Toe ek later wegry, besluit ek om vir my pa ‘n klein roostertjie te koop.  ‘n Ordentlike een.  Self is ek te onhandig, maar ek het genoeg tyd tot sy verjaarsdag in Junie, om rond te shop, of om een te laat bou.

Sommer daardie selfde naweek sien ek presies raak wat ek wil hê.  Dit is ‘n braaiertjie wat uit ‘n kleinerige halfgesaagde gasbottel gemaak is.  Net die regte grootte vir hom en Ma se alleen braaie.  Die ou wat dit gemaak het, is soos my pa ‘n vakman en ek skat die roostertjie behoort my pa jare se vreugde te bied.  Die ding is duur, maar ek besluit om hom te kom koop net voor Pa se verjaarsdag.

Later die Saterdag, ry ek egter terug na die plek toe.  Die lewe is te kort om vir verjaarsdae te wag.  Ek gaan sommer nou die roostertjie koop en die volgende naweek vir my pa vat.  So gemaak en vir die volgende paar dae, ry ek opgewonde met die roostertjie in my boot.  My pa sal bly wees.

Die oproep kom te gou. Daardie volgende Dinsdag net na eenuur die middag. 10 Februarie 2004.  Ek onthou Dominee se woorde een vir een: “Jan, jy moet sterkstaan.  Ek het eintlik vir jou slegte nuus.  Jou pa is vanoggend in ‘n motorongeluk oorlede.”

“Dominee?”

“Dit was tussen Bloemfontein en Edenburg, jy moet asseblief nie ry nie, dit is nie mooi nie.”

Die N1 is stil.

Doodstil.

Ek is die enigste voertuig op die pad en die wit strepe tel haastige eeue af soos ek ry.

Veraf hoor ek iemand oor die radio sê dat die N1 gesluit is, mense moet asseblief alternatiewe roetes gebruik.

Vir my is daar nie alternatiewe roetes nie.  Dis ‘n pad wat ek móét ry.  Fok Dominee.  Vir my eie bloed het ek nie grille en giere nie.  Al wyk die vrees vir wat ek moet sien, nie vir my hardegat nie, gaan ek nogtans voort.  Die enigste voertuig wat ek op my pad teekom is die ambulans wat sonder sirenes of haas van voor af kom.

“Waar’s Pa?” wil ek by die poliesman in beheer van die toneel weet.

“Die liggaam is sopas verwyder en weg Bloemfontein toe,” sê sy stem en ek hoor sy job het hom hard gemaak.

“En sy bakkie?”

Hy wys my die opgevrommelde hoop staal langs die omgekeerde interlink.  ‘n Verdwaalde Goodyear wiel tussen die puin wys dit was eenmaal ‘n voertuig gewees.  ‘n Nissan se hardbody is nie so hard as ‘n interlink-trok daaroor ry nie.  My glimlag is wrang as ek besef my pa het ook hier wat hy gedoen het, ordéntlik gedoen.  Dit was ‘n behoorlike ongeluk en ek vermoed die N1 een gaan nog ‘n hele ruk gesluit wees.

Eenkant verdwaal, amper verwaaid, lê ‘n kosblikkie.  Ek tel hom op en maak die deksel versigtig oop. Binne is my twee toebroodjies.  Ma het my eendag vertel dat sy altyd twee ekstra moes maak, want Pa het geweet ek verras hom soms by die groothandelplek waar hy aankope gedoen het.  Dan het ons altyd eers geëet.  Die ekstra twee het hy altyd vir die personeel met sy terugkeer gegee, as ek nie daar was nie.  Fok die personeel, dink ek terwyl ek met die gewydheid van ‘n nagmaal eet.

My vrees slaan ‘n paar maal bollemakiesie terwyl sy die gordyntjies ooptrek.  Dit is die volgende dag en ek moet die uitkenning by die staatslykshuis doen.  Die plek waar die hoop op ‘n nagmerrie met die werklikheid vervang word.

“Dame, ek kan met alle eerlikheid nie vir jou sê dis my pa nie,” sê ek vir die vroue-kaptein.  “Ek kan ook nie vir jou sê dis nié hy nie.”

“Ek is regtig jammer Meneer, maar jy sal moet mooi kyk.  As jy hom nie positief kan uitken nie, sal ‘n ander familielid dit moet doen,” haar stem is sag, maar die waarskuwing is hard.

Ek kyk weer na die verrinneweerde liggaam.  Bokant die vormlose gesig is ‘n welige bos grys hare.  Dit is my enigste leidraad, maar is bevestiging genoeg.  Ek ken nie nog iemand wat op 60 nog so welige bos hare gehad het nie.  “Dis my pa,” sê ek vir myself, maar sy hoor ook en trek die gordyntjies toe.  Ek is effens dankbaar.  Dit moes vinnig gewees het.  Miskien selfs vinniger as ‘n patroon.  Pa het altyd gesê as hy kon kies hoe om te sterf, moet ‘n skerpskutter hom omklits.  Sommer so vinnig-vinnig, sonder dat hy daarvan weet.

Die vrou in die uniform gee my die plastiese sak.  Die bondel bloed met die klere in.  Later gee ek dit vir my ma.  Dit word haar vashou-pakkie.  Of sy al gelos het, weet ek nie.  Buite in die kar staar ek na die foto.  Die beeld wat ek wil onthou moet die een wat ek gesien het verdring.

Ons groet hom langs die pad.  Ek, my ma en my suster.  My beste vriende is ook daar.  Ook vir hulle was hy ‘n pa.  Kleingees het deurgery van Suid-Wes.  Ons plant die eenvoudige houtkruisie diep in die grond.  Die volgende dag was die begrafnis.  Die fancy lykswa het ek weggejaag.  Vir Pa het ek met sy Ford graf toe gevat.  Op haar blokfluit het Carlize vir hom Chiquitita van Abba gespeel, terwyl ons hom laat sak.  Hy het meer daarvan gehou as van die Jesus-liedjies.  Pa was nooit skynheilig nie.

Maar die finale groet was daar langs die pad.  Daar waar ons die houtkruisie geplant het.  Daar waar my pa se pad opgeraak het.

Tot vandag toe stop ek nog daar as ek verlang.  Die houtkruisie is intussen vervang met marmer, maar dit bly my koebaai-sê-plek.  Ook my hallo-sê-plek as ek nou en dan ‘n Stuyvesant daar rook.

En as ek regtig verlang en begeer dat hy net éénkeer sy Klein Twak kon sien, maak ek vuur.  In die ongegeede roostertjie.

This entry was posted in Uncategorized and tagged , , . Bookmark the permalink.

28 Responses to Die ongegeede roostertjie

  1. Michelle Brink (Botha) sê:

    Very moving Jan. Skies vir die Engels. Ek weet nie hoekom nie, maar sedert Johan (de Wet) se afsterwe, sukkel ek om hierdie spesifieke emosie te verwoord. -In enige taal…

    Jou blog maak my opnuut dankbaar vir die behoud van my eie pa: drie jaar terug op 60, het hy van die huis se dak afgeval. Hy het sy rug en 5 ribbes gebreek en sy longe deurboor. Die dokters het gesê hy moes dood wees. Al wat ek vir my ma-hulle bly sê het, was dat hy sal leef as hy dit deur die nag maak en sy hardegatgeit inskop. Hy het die eerste nag oorleef, teen alle verwagtinge. Die volgende dag het sy gesê hy is vreeslik ongeskik met die nurses en daar is net een wat naby hom mag kom. Toe weet ek hy sal leef… Vandag loop hy met ‘n kierie, maar hy loop en hy is steeds hardegat. My ma sê sy dink hy het sy kop vrek hard gestamp met die val.

    Die foto van jou pa herinner my aan my pa met sy ewe dik bos grys hare. (Wat hy opsluit ‘n paar jaar terug swart gekleur het weens ‘n midlife crisis – lang storie).

    En die emosie wat ek met die lees van jou storie ervaar? Iewers langs die pad tussen Bultfontein en Kimberley moet ‘n houtkruisie wees vir Johan. Tot vandag weet ek nie presies waar die ongeluk was nie, maar elke Irawa-trip Kimberly toe was my hallo- en koebaai sê plek iewers daar in die vaal landskap.

    “If you really love somebody, there can be no happy ending”… (Ernest Hemingway)

  2. MaanKind sê:

    Jou pa lyk of ek hom moet ken. Hy is dan my portuur! Ek ken sy siel, deur jou. En jou gesin.
    XXX

  3. thestonemaidendiaries sê:

    Jy, maar veral Klein Twak trek baie op jou pa, Jan. Dis al wat ek wou sê.

  4. Louwie sê:

    Mens wonder altyd oor die kruise langs die pad. Nou weet ons weer dit is maar altyd iewers gekoppel aan seer en verlang.
    Sterkte.

  5. Kerneels sê:

    Ai jai jai… Oral staan daar kruisies langs die pad… En elkeen het ‘n seer aan hom gekoppel.
    Ek weet. Ons het ook een op daai einste pad.

    Ek het lanklaas gehuil Jan. Lanklaas… Tot nou vandag.

  6. Pingback: Vrydagskool…Pret101 « Demoerin

  7. toortsie sê:

    Dis hoekom mens die HELE post moet lees. Want ek het die whisky-deel SO GENIET en gedink wat ek wil antwoord…. en toe lees ek aan en nou sit ek, nes almal hierbo, met ‘n sopnat gesig!! Nou verlang ek sommer na my eie pa ook!!!
    Jy het dalk nie ‘n video van hom nie, maar in jou hart is daar ‘n wonderlike video van jare se herinneringe.

  8. Charms sê:

    Jan jy het nou my binnegoed geruk hiermee. Dis vir my nou al twaalf jaar later en al wat oorbly is die gemis en die onthou.

  9. Nena sê:

    Roerend en baie goed geskryf Jan. Sommer baie spesiaal.

  10. demoerin sê:

    Hierdie stukkie ongelooflike onthou, is mooier as enigiets anders. Herinneringe is een van die mooiste dinge ooit.

  11. Berwick sê:

    Jan, jy het my het my nou bietjie onkant en huilerig gevang hier. Groetnis en mooi bly.

  12. Ingrid Marais sê:

    Ai ou Vriend hoe laat jy nou die trane loop soveel dat daar sterng gesê word hou op lees. ‘n Groot druk vir jou en ‘n saluut vir ‘n seun uit een stuk.😥

  13. mykopop sê:

    Ai Jan. Maar hier het jy nou ook ‘n mooi monument vir hom staangemaak.

  14. Adoonsie sê:

    Ag shit Jan, nou moet ek hard op my tande byt om nie hier in die kantoor tussen die anders manne te sit en tjank nie.

    Ek onthou daai marmer kruisie. Ek het nog een dag daaroor gewonder hier op die blogs nadat ek hom vir die eerste keer gesien het.

    Niks wat ek hier skryf kan ‘n verskil maak nie , so weet maar net dat ek hier was. Ek het gelees. En ek het gedeel in jou hartseer.

    Mooi geskryf.

  15. Lindie Loock sê:

    Ai Jan, nou sit ek vroeg-oggend met blink trane in my oe!! Dis pragtig en sterkte xx

  16. PlaasJuppie sê:

    Die gemis gaan nooit weg nie en word nooit minder nie, en dit is goed so, dit is hoe dit hoort.
    Ek lees tussen die lyne dat die braairoostertjie die enigste ding tussen julle was wat ongesê en ongegee was, dit beny ek jou. Hou vas aan daai memories.

    • Jan Twak sê:

      Die enigste waaroor ek regtig spyt is, is die feit dat ek in die videobedryf was en nie eers één behoorlike video van my Pa het nie.

  17. Krista sê:

    Ai . . . so loop ons elkeen maar ons pad, nê?

  18. Wow, dis wonderlik geskryf Jan.

  19. therina sê:

    Ai Jan laat jy my nou huil oor jou pa en hy was ‘n mooi man, maar soos jy sê sy pad het daar ge-eindig en ons het net die herinneringe oor….so huil ek nog oor my pa ook.

Gesels gerus saam

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s