Plaasjapies, rekenaars en skroewedraaiers

Groot humorsin rakende my tegnologiese –en handvaardighede was aan die orde van die dag, toe ek in my moederskoot gevorm is.  Vir my is die woord tegnologie maar net ‘n ander spelling vir die woord moeilikheid.  Soms is dit juis my oorywerige begeerte om myself bloot te stel aan die tegnologie, wat die moeilikheid maak.  Dit is seker maar een of ander sielkundige afwyking wat een of ander fancy naam in Freud se boeke het.

 

Ek gebruik nou nog die ou Nokia selfoon wat ek die slag probeer herstel het, vir ‘n sigaretaansteker.  As jy ‘n nommer bel is daar iewers ‘n kortsluiting en kan jy ‘n Stuyvesant by die aerial aan die brand maak.   Op skool was die houtwerkklas ‘n nagmerrie vir beide my en my  houtwerkonderwyser.  My laaste projek was ‘n hangkas, wat na onherkenbare verminking van houtpanele, uiteindelik verklein is tot ‘n juweelkissie met ‘n skewe deksel.  Die kissie staan nou nog in my ma se slaapkamer, seker maar uit ouerlike plig of iets.  Gelukkig kon ek in standerd sewe, houtwerk vir skeinat verruil, maar na ‘n paar ongelukkige voorvalle waarby die skool se versekering ook betrokke geraak het, is ek verbied om enige verdere eksperimente in die klas uit te voer.

 

‘n Mens kan seker nostalgies raak oor die verlede, maar dit help niks vir my huidige probleme nie.  Rekenaarprobleme.  By nabetragting was die groot probleem eintlik toe ek vir Seeiso gesê het om die skroewedraaier te gaan haal.  Seeiso is al vir jare lank my algemene assistent/handlanger en ken my vaardighede met enige stuk gereedskap goed.  Aan die manier waarop hy sy kop skud en brommel-brommel stoor toe loop, kan ek sien hy verwag weer die ergste.  Sy agterkop en dele van sy nek is nou nog pienk nadat ons een van die kêffie se vrieskaste oorgesprei het.

 

Ek is moedeloos en ‘n mens sal kan lood sweis met my Stuyvesant se kooltjie.  Die een rekenaar in die kêffie bly sulke blou skerms uitgooi.  Nes jy lekker werk of kyk, gaan staan alles stil en ‘n aaklige blou skerm waarsku jou in ‘n spul onverstaanbare tegniese detail, dat jy nou groot moeilikheid het.  Wanneer ‘n mens se tikvaardighede tot twee stywe, lettersoekende wysvingers beperk is, is die frustrasie ekstra groot, as ‘n mens sien hoe ‘n lang getikte (ongesave) dokument in die niet van ‘n blou skerm verdwyn.

 

Daar is nog ‘n rekenaar op my lessenaar, maar die kêffie se tille werk deur hom.  Synde ‘n kenner van myself, bly ek weg van die internet of enige nie-werksverwante take as dit by daardie rekenaar kom.  Nadat ek talle bindende regsdokumente moes teken, het Mamma dus vanoggend maar haar skootrekenaar vir my geleen, sodat ek kon ‘Google’ vir ‘n oplossing.  Die manne wat weet, sê die probleem met blou skerms lê by die rekenaar se RAM.  Nou, ek weet met boerdery ook, as jy te min ram het of jou ram wat jy het werk nie, dan het ‘n mens probleme.  Dit is glad nie so ingewikkeld nie, ek stuur dus vir Seeiso om die skroewedraaier te loop haal.

 

Met die rekenaarkas ontkoppel op my lessenaar begin ek oopskroef.  Die paneel wat ek oopgeskroef het sit effens vas, maar Seeiso is byderhand met die tang.  Hy trek, terwyl ek die boks vashou.  ‘n Paar niksseggende plastiese knippies skiet deur die lug, maar uiteindelik is die rekenaar oop.  Daar is ‘n magdom elektroniese fieterjasies en ek verwonder my aan die mens se vordering met tegnologie.  Nou moet ek die RAM-parte soek.  Daar is geen duidelike aanwysings of plakkertjies op die komponente nie en ek vroetel maar rond en kyk of iets nie dalk skeef of los is nie.  So gaan ek nie regkom nie, besef ek na ‘n rukkie, maar ek het ‘n plan.  Selfs in vandag se terme, is my rekenaar by die huis, ‘n fris masjien.  Ek het die ding gebruik toe ek video’s geredigeer het (ja hierdie plaasjapie het video’s geredigeer).  Ek onthou destyds het ek gesukkel om die bruide wat ek afgeneem het aan die beweeg te kry en Jacques by die rekenaarplek het gesê ek moet heelwat meer RAM kry om enigiets op die skerm te laat beweeg.  Die RAM het hy toe ingesit.  Meer as genoeg as ek moes oordeel aan wat die spulletjie my gekos het.  Omtrent ‘n Merino-ooi per RAM of so iets.

 

Die plan is om my rekenaar by die huis gaan haal en ook oop te maak.  Dan moet ek kyk vir ‘n part waarvan daar baie is.  Dit sal die RAM wees.  So beplan, so gemaak en ‘n ruk later is die huis se rekenaar ook oop en op my lessenaar.  Ek lyk heel indrukwekkend tussen al die elektroniese apparaat en daar is ook al heelwat omstanders, soos die kêffie se kliënte nuuskierig naderstaan om die spektakel te bekyk.  Ek het reeds twee bestellings om na Oom Koos van Zyl en Apie Badenhorst se rekenaars ook te kyk.

 

My plan werk.  In die huis se rekenaar is daar vier fris elektroniese komponente in ‘n ry langs mekaar.  Ek vat die draadtang en trek een versigtig uit.  Daar is weer sulke wit knippies wat deur die lug trek, maar hulle lyk nie te belangrik nie.  Ek bekyk die komponent voor my.  In fyn skrif aan die een kant staan geskryf: “RAM DDR3 2Gig”.  Ek is op die regte spoor, ek weet nou hoe RAM lyk.  Nou moet ek net vir dieselfde tipe ding in die ander rekenaar soek.  Daar is inderdaad ‘n soortgelyke stafie wat eenkant en verlate op ‘n stroombaanbord uitsteek.  G’n wonder die ding was so stadig nie.  Natuurlik heel oorwerk in sy alleenigheid.  Ek vat die tang en verlos hom van sy vashouplek.  Bleddie plastiek knippies!  Ek bekyk die komponent in die tang se bek aandagtig.  Dit is definitief ook RAM, daar staan geskryf: “RAM 400 512MB”

 

Ek is heel in my skik, ek vorder.  As RAM die probleem is, gaan ek dit sommer tjop-tjop fix.  Ek gaan sommer die RAM wat ek nou reeds by die huis se rekenaar uitgehaal het oorplaas na die gebreekte rekenaar toe.  Daar is mos nog 3 RAMME oor vir die ander rekenaar.  Dit behoort genoeg te wees, ek doen nie meer die video-ding nie.  Maar daar is ‘n probleem.  Die nuwe RAM wil nie lekker pas waar die oue in was nie.  Die ding bly skeef ingaan.  Druk jy eenkant in, lig die anderkant weer op.  Ek stuur vir Seeiso om die hamer te kry.

 

Met ‘n paar goed gemikte houe is die komponent uiteindelik in.  Die stafie staan ‘n effense bol in die middel, maar verder lê hy soortvan reguit.  Daar is nou heelwat meer nuuskierige omstanders rondom die lessenaar, maar Oom Apie kanselleer sy bestelling.  Hy kan sien ek is ‘n besige man, hy sal maar sy rekenaar stad toe vat.  Om nie die parte te laat rondlê nie sit ek die ou RAM by die ander drie RAMME in die huis se rekenaar.  Ek sukkel weer om die ding in te kry, maar hier hoef ek darem nie die hamer te gebruik nie.

 

Nou vir die groot toets.  Ek koppel weer al die drade, maar hou die kas oop.  As die probleem dan nou nie opgelos is nie, hoef ek ten minste nie weer te sukkel met die oopmaak nie.  Ek is gereed om aan te skakel.  Die omstanders staan almal versigtig terug en ek sien nie vir Seeiso nie.  Daar is ‘n gespanne stilte terwyl ek my vinger na die knoppie strek.  Ek hou my lyf sover moontlik weg en sit my vry hand beskermend oor my oë.  Dan druk ek die hoofskakelaar in.  Behalwe vir die vonk en ‘n bietjie rook, gebeur daar verder niks nie.  Die skerm wys “No Signal” maar hy is darem nie meer blou nie.  Die omstanders loop een vir een, tot net Oom Koos van Zyl oorbly om ook sy afspraak met die herstelwerk te kanselleer.

 

Vroeg in my lewe het ek al geleer dat jy nooit vir ‘n mechanic sê wat jy reeds gedoen het nie.  Jy moet dit sê asof jy dit nog wil doen.  Te oordeel aan hul reaksies kan mens dan ‘n redelike akkurate kostebepaling maak van die reeds gedane sake.  Ek bel my getroue rekenaar-mechanic by House of Computers in Bloemfontein en lig hom in oor wat ek wil doen.  Jacques sien nie ‘n probleem met my plan nie, ek moet net “om hemelsnaam seker maak die RAM wat ek skuif dieselfde is!”  As ek byvoorbeeld DDR3 by ‘n 400 gleuf probeer indruk sal ek die moederbord fataal beskadig.  Ek verseker Jacques dat ek in my lewe nooit so iets onverantwoordelik sal doen nie.  Ek sal liewer die masjien inbring dat hy na hom kyk.  Jacques klink effens verlig toe ons groet.

 

Nadat ek alles min of meer teruggesit soos dit was, vat ek die pad Bloemfontein toe.  Jacques sal moet help.  So ‘n dag daarna kom die verwagte oproep: “Jan ek weet nie wat hier gebeur het nie, maar dié masjien is heel in sy moer.”  Moederbord, hardeskyf, en natuurlik die RAM.  Hy weet nie hoe dit gebeur het nie, maar daar is ook ‘n half gerookte Stuyvesant in die processor.

 

So ‘n week later toe ons van Bloemfontein af terugry met ‘n splinternuwe rekenaar, sê Mamma vir my dat ek seker soos ‘n  opgewonde kleuter is oor ‘n nuwe speelding.  Nee, sê ek vir haar.  Ek moet nog die huis se rekenaar ook weer aanmekaar sit.  Daar mag heel moontlik weer vonke wees.  Ek weet ook daar wag nog vele oproepe na Jacques voor die nuwe masjien weer ou gewoontes gaan hê.

This entry was posted in Uncategorized and tagged , , , . Bookmark the permalink.

27 Responses to Plaasjapies, rekenaars en skroewedraaiers

  1. bloedbek sê:

    Gebruik net die volgende tools en jy maak enigiets reg. Draadtang, Shifting en draad. dis waar jy dalk verkeerd gegaan het, jy het nie ‘n shifting gebruik nie. Die bobejaan spanner gebruik ek net om alles af te rond….liefie is ook nogal skrikkerig as sy sien ek het die bobejaan spanner innie hand dan weet sy, nog ‘n ding wat vervang moet worre.

  2. Hansie Heinemann Jnr sê:

    Hi Jan jy herstel nie dalk vergasers (caberators) van ou motors ook nie, ek het ‘n hele klompie van hulle daar in ‘n ou laai daar in die grage wat dringend aandag nodig het?

  3. Charms sê:

    Ja-nee as jy iets nie met ‘n hamer of tang of skroewedraaier kan regkry nie dan wil die ding nie reggemaak word nie.

  4. demoerin sê:

    Bwahahaha… gebeur dit nie maar met almal nie?

  5. toortsie sê:

    ek het so ‘n gevoelentheid dat jy binnekort TWEE nuwe rekenaars gaan he!! Dan moes jy eintlik sommer net een LAPTOP gekoop het wat jy ALTYD by jou kan hou…

  6. Raymond sê:

    Die rook moet net binne bly,AS die rook uitkom werk hy nie meer nie.

  7. thysleroux sê:

    Goed geskryf Jan!

  8. twattie sê:

    Jan, dis vrek snaaks!

  9. Kerneels sê:

    Hehehehehehe
    Ek het darem so effense idee van hoe die binnekant van die goed lyk, maar try jy nou ‘n lêptop regmaak wat ook net ‘n blou skerm wys.
    Klein Luan is nou net een week oud, maar toe ek nou die aand sien hoe verveeld hy aan sy ma se tiet suig, gee ek die ding vir hom om mee te speel.
    Hy het egter net so snaakse gesig getrek, waarop sy ma genoem het dis winde, en toe bekots hy die ding.
    Hy het darem meer reggekry met hom as wat ek kon.

  10. PlaasJuppie sê:

    Hoe groter die probleem, hoe groter die hamer. Glo my jy kan nie verkeerd gaan nie

  11. Adoonsie sê:

    By the way – is Jacques se van Walters ? if so – dan was ek en hy saam op skool.

  12. Adoonsie sê:

    ROFL !!!

    HAHAHA Jan. Wat my bekommer is dat jy hierdie geskryf het soos ‘n man met ervaring.

  13. Dirk sê:

    Het jy geweet rekenaars werk met rook? As die rokie wat die rekenaar laat werk eers uitgekom het dan kry jy dit nooit weer terug nie.

Gesels gerus saam

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s