Skaapselle

Ek ontdek hierdie enetjie in die trommel vrybriewe agter in die klerekas.  Dit is ‘n brief wat ek aan my verloofde gestuur het tydens ons langafstand- vryery (sien op ‘n Plattelandse Rak).  Ek het rugprobleme en loop soos die toring van Pizza van die pyn.  Die brief volg op ‘n klaagliedere brief van my aanstaande (toe) se dag by die werk en my poging was om haar te laat verstaan dat sy nie alleen in haar ellende was nie.

 

 

Beste Ilze

 

Na ‘n vinnige blik oor jou brief van jou rowwe dag by die werk, het ek besluit om geen pittige opmerkings daaroor te maak nie (hell has no fury, like a woman scorned).  Na jou en my ma se dreigemente, het ek ten einde laas besluit om ‘n rugspesialis te sien.

 

Eers moet ek afsit na die hospitaal om x-strale te neem.  Die dokter sien jou klaarblyklik nie, as jy nie kiekies saambring nie.  By die hospitaal moet ek van my broek ontslae raak en so ‘n groen jurkie bo-oor my hemp aantrek.  Enige beweging is vrek moeilik en my rug is kromgetrek van die pyn.  Die suster het my lyf ook heel verkeerd opgesize en die jurkie kom toe net-net oor my naeltjie en baie knap oor die skouers.  Ek sê vir die suster my hemp is langer as die jurkie.  Sy sê ek moet die jurkie aanhou, dis prosedure.  So stap ek toe maar met die kort jurkie en die lang hemp sonder ‘n broek, deur ‘n saal vol wagtende mense tot by die fotokamer. Fyn giggel laggies word onderdruk, maar verdwyn heeltemal as ek ‘n paar goed geoefende donderweerkyke gee.  In die fotokamer maak die suster my op ‘n plankie staan.

 

“Jy moet reguit staan,” sê sy.

 

“Ek kan nie, ek het seer,” pleit ek vanuit my krom posisie.

 

Sy kry ‘n vasberade uitdrukking op haar gesig van “dan doen ons dit maar op die moeilike manier.”  Sy strap my staande vas teen ‘n harde bed-bank-ding.  Die kontrepsie met my daarin, stoot sy tot voor ‘n massiewe kamera-masjien.  Ek dink dis nie so sleg nie, tot sy met die ding se knoppies begin vroetel.  Die hele stellasie draai heen-en-weer en op-en-af na die suster se smaak.  Ek en die straps volg.  Iets kraak – dis nie die bed nie. Ek kry fokken seer en noem dit vir haar. Dit dien egter as aansporing en sy vroetel met hernude ywer met die knoppies.  Ek roep na my ma, verskeie kere.  Na ses-en-sestig-en-’n-kwart-uur haal sy my uiteindelik uit die straps.  Haar gesiggie is vol aangesitte deernis en simpatie.

 

“Ons is klaar ou grote, ek gaan net gou die kiekies maak.”

 

Ek trek die groen jurkie uit en my broek weer aan.  Ek gaan wag in die saal tussen die ander mense.  Meeste sit met hul hande voor hul rooi gelagde oë, die ander kyk beleefd weg.  Ek het dalk harder gekerm as wat ek gedink het.  Gelukkig het die hele ding redelik anoniem verloop, dink ek terwyl ek myself so gemaklik moontlik uitstrek op die stoel.

 

Op daardie oomblik bulder ‘n stem kliphard oor die massas: “Mnr. Nel!  Mnr. Jan Hendrik Nel, u plate is gereed!”

 

Ek wag ‘n paar sekondes om te kyk of daar nie nog ‘n Jan Hendrik Nel in die saal is nie.  Daar is nie.  Ek sukkel verleë orent en kry die massiewe koevert by die nurse.

 

Op pad in my kar na Dr Vermaak se spreekkamers, maak ek die groot koevert oop.  Ek wou nog altyd sien hoe lyk ek van die binnekant.  Die prentjies maak nie eintlik sin nie en ek wonder of ek nie ‘n beter fotograaf kon kry met die R400,00 wat ek spandeer het nie.  Daar is ‘n verslag ook tussen die foto’s. Dit begin met “Moeilike tegniese ondersoek” en dan ‘n paar mediese terme en gebreke met klomp letters en syfers wat lei tot “rug-spierspasma.”  Ek is verlig; ek het nog nie van baie mense gehoor wat van spierspasma dood is nie.

 

Dr Vermaak is ‘n man van 74 jaar.  Hy lyk soos ‘n atletiese, vegetariese, gesondheidsaktivis en ek is skaam oor my eie dik 34 jaar oue lyf.  Hy laat my ook op ‘n bankie lê, maar strap my gelukkig nie vas nie.  My broek moet weer waai. Sonder seremonie of waarskuwing strek hy sy hand uit en betas my iewers tussen my toekomsplanne en binne-bobeen.  ‘n Geweldige pyn skiet deur my hele lyf.  “Is dit seer?” vra hy.  Ek kry net ‘n halfhartige “bliksem” uit.  Die oubaas lyk in sy skik, sy diagnose is met my intense pyn bevredig.

 

“Jy het degeneratiewe spondilose in vlak L4 en L5.  In Afrikaans beteken dit jou rug is in sy moer.  Daar is nou groter spasies tussen die werwels as wat daar moet wees, dan kom die senuwees daarin en dit knyp vas, dan gee dit jou spierspasma, dis wat so seer is!”

 

Ek verstaan die Afrikaanse deel en knik instemmend.  Hy sê ook ek is te dik vir my rugstring, dit maak dit glo ook erger.  Ek verstaan dié deel ook.  Hy sê daar is hoop.  Hy gaan my inspuit met skaap-stamselle.  Dit sal die werwels herstel en versterk, glo wonderlike goed.  Die enigste newe effekte is dat ek dalk kan blêr en gras kan begin eet.  As ek skaapooie aanloklik vind moet ek hom weer kom sien.

 

Ek moet omdraai op die bankie, op my maag lê, met my hemp opgetrek.  Onnodig hardhandig vroetel hy die naald in my rugstring in.  Ek byt die bankie se kussing vol gate en wens vir genadedood of dan ten minste net ‘n glas skoon brannewyn.  My pyn benewelde brein skiet vol waasbeelde en iewers begin ‘n paar kaal meisies dans.  Veraf hoor ek sy stem: “Dit gaan nou so bietjie brand.”

 

‘n Rukkie later sit ek met nat geswete klere (ek glo meeste was sweet) voor die dokter se lessenaar.  Die dokter sê ek moet elke week, vir nege weke inkom vir ‘n skaap-inspuiting.  Ek dink by myself as ek beter voel na een of twee keer sien hy my wragtag nie weer nie.  Die dokter is slim.  Hy laat my vooruit betaal vir die inspuitings.  Ek sal hom maar seker maar weer moet sien om waarde vir geld te kry.  Ek vra hom of hy dan nie intussen ietsie vir my pyn het nie.  Hy kyk af na my pens en ek merk iets van ‘n grynslag in sy oë.  “Nee mnr. Nel, ek is hier om jou rug reg te maak, nie om jou pyn te verlig nie.”

 

Ek probeer my maag effens intrek, maar dit werk op my rug.  Ek gee op, ontspan my spiere en my maag plons weer oor my belt.  Ek kan sien die dokter is bly oor my pyn en daar is ‘n “sal jou leer” sadistiese uitdrukking in sy oë.  Ek is teleurgesteld oor die dag se simpatie wat ek ervaar het van die mediese professie.

 

Jy moet maar vinnig kom kuier.  Op pad terug van die dokter was daar was ‘n snaakse vlindergevoel in my borskas.  Dis nou toe ek die troppie skape langs die pad sien wei.

 

Blêr

Jan

 

 

Nou ja hierdie een is geplaas in antwoord op die naam-krater-maak-uitdaging.  Ek tag vir Maankind, Adoonsie en Demoerin om ook te vertel.

This entry was posted in Uncategorized and tagged , , , , . Bookmark the permalink.

22 Responses to Skaapselle

  1. ilde sê:

    Werk die stamselle regtig. Ek gaan more vir my eerste inspuiting!

    • Jan Twak sê:

      Haai Ilde Vir my het dit beslis gewerk. Die dokters wou net sny, maar gelukkig het ek eers die skaapstamselle-ding beproef. Moet net nie na ‘n paar weke moed opgee nie. Ek kon eers ‘n verskil voel (eintlik was dit ‘n oornag eensklaps herstel) na sewe weke se weeklikse inspuitings. Groete en Sterkte Jan Nel (Jan Twak)

  2. demoerin sê:

    Huiswerk gedoen!

  3. demoerin sê:

    Bwahahaha. Sorry, ek moenie lag nie… maar by “rug is in sy moer” kon ek net nie meer nie…. ek sal aan ‘n storietjie moet gaan dink…mmmm

    • Jan Twak sê:

      My rug is seker nou al vir 4 of 5 jaar 100% reg, maar waar ander ouens die Playboy koop, is my eerste keuse die Landbou-Weekblad.

  4. Pingback: Ek sit nou met ‘n yslike probleem | adoonsie

  5. Pingback: Ietsie vir my CV « Maankind Amalgam

  6. MaanKind sê:

    Wag, wag wag! Ek is nuut hier! Ek kan nie nou al kraters maak nie! Wat gaan die mense dink??

  7. toortsie sê:

    Jan, ek onthou nou skielik!!! Dit was dieselfde dag wat ek vir plate gegaan het! Was dit JY wat daar verbygekom het???? hehe

  8. Smurfi sê:

    Jan ek het gou gaan lees daar by “Wie is Jan” en ek sien toe Ilze was mal oor die brief en het sommer kom intrek daar by jou 😆

  9. Smurfi sê:

    Ek kom sit hierso en dink , Ok. dis ‘n lang brief maar ek gaan gou lees, en ek lees en ek lag en so gaan die gelag net aan en aan, ek sien al die prentjies so duidelik asof ek langs jou staan terwyl al hierdie dinge aandie gebeure is. En die jurkie wat so net net toemaak ai jai jai!!! Jan se twak is die moeite werd……… En het sy toe gou kom kuier??? Dankie vir hierdie lekker lag storie! “Made my day!”

  10. Son sê:

    Dankie – ek het so pas besluit ek loop eerder met my laerugpyn as wat ek dokter toe gaan!😈

    • Jan Twak sê:

      My rug is seker nou al vir 4 of 5 jaar 100% reg, maar waar ander ouens die Playboy koop, is my eerste keuse die Landbou Weekblad.
      🙂

  11. Hehehehe! Nou heerlik gesit en smile hier!

  12. Ingrid Marais sê:

    😆😆😆

  13. toortsie sê:

    Ja. My rug is nou seer van die skud van my lyf. Dankie en geluk! Jy het jou naam BEHOORLIK gat gemaak!!😀

  14. BB sê:

    LMGA!!! Oits!! Ek het nou só lekker gelag – wag, laa’k my maskara eers van my se wange loop afwas!!! Oh my jimmel!!!😆

Gesels gerus saam

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s