Alle paaie lei na Edenburg

Mamma stap oudergewoonte lunch-tyd by die kêffie in, om ’n ietsie vir die maag te gryp.  So tussen ’n paar Provitas en kaas vra sy of ek nie dalk ’n doos met van haar prokureurspapiere gesien het nie.

 

Ek sê nee, die enigste wat ek gesien het, was die spietkop wat net-nou ’n pastei en Coke gekoop het.  Hy het papiere by hom gehad, maar ek glo nie dit is Mamma s’n nie.

 

Mamma sê die papiere wat sy soek hét nogal iets met die spietkops te doen.  Die provinsiale paaie owerheid kla klaarblyklik nou vir Oom Sarel van Deventer vir diefstal aan of dan nou opsetlike saakbeskadiging in die alternatief.  Hulle beweer Oom Sarel het een van die afstandbordjies net buite die dorp langs die N1 verwyder.  Oom Sarel ontken natuurlik alles en Mamma kan ook nie insien hoekom iemand nou ’n afstandbordjie langs die pad sou wou steel nie.

 

Ek sê vir Mamma dat Oom Sarel dalk nie heeltemal so onskuldig is as wat hy voorgee nie.  Ek kén dié storie met afstandbordjie.  Mamma sê ek kan maar vertel, dit sal nie haar kliënt benadeel nie, want wat ek vertel is net hoorsê en sy tree in elk geval net op volgens haar kliënt se instruksies.  Ek vertel haar die storie:

 

Nou die van Deventer’s is redelike gesiene mense in ons buurdorp Trompsburg, se distrik.  Gróót kerkmense en finansieel gevestigde boere.  Oom Sarel se tjekboek is dikker as die nuwe HAT woordeboek en op ’n goeie dag koop hy meer karre as wat ek sigarette rook.  Maar in elke kan melk kom daar soms ’n surigheid.  En as die surigheid jou eie afstammeling is, is dit erger.

 

Jorsie van Deventer is die jongste van Oom Sarel se vier seuns.   Dit is dan ongelukkig so dat die naaste wat Jorsie aan ‘gesiene’ kom, so tussen twee-uur en twee-uur in Edenburg se hotel is.  In Trompsburg se hotel waag Jorsie dit nie meer nie, sy pa kom haal vir hom daar uit en die laaste was met sy seekoeisambok.  Jorsie drink dus vir ’n geruime tyd maar skelm hier in Edenburg en hoop Pa-Sarel kom dit nie agter nie.  In die middernagtelike ure keer hy dan met sy geduikte Isuzu terug na sy stukkie erfporsie-plaas net annerkant Trompsburg.

 

Parallel met die N1 loop ’n smal teerpaadjie tussen Edenburg en Trompsburg vir omtrent 40km.  Vroeër jare was dít die N1 tot die groot pad verby die dorp gebou is.  Weens die gebrek aan dose met papiere is dit dan ook elke nag, Jorsie se gekose roete van Edenburg Hotel tot by sy eindbestemming.  Nou of Jorsie gedink het die dik tjekboeke van sy pa loop saam met onnoselgeit, weet ek nie, maar Oom Sarel vind toe sommer gou-gou uit van dié buurdorp-drinkery.  Die geluk is egter aan Jorsie se kant, want Oom Groot-Koos Greyling spandeer ook sy vrye tyd in Edenburg se hotel.  Destyds was daar een of ander skaaptransaksie wat skeefgeloop het tussen Oom Sarel en Oom Koos en die laaste woorde wat die twee ooit met mekaar gepraat was toe Oom Koos vir Oom Sarel geskree het, “Vir jou donner ek op sig!”

 

Oom Sarel kan dit dus nie naby Edenburg se hotel waag nie, want Oom Koos is minstens dubbeld enigiemand in die distrik se size.  Maar soos gesê, dik tjekboeke loop nie saam met onnoselgeit nie en Oom Sarel het ander planne om sy afstammelinge weer onder beheer te kry.

 

Dis toé dat hy hom wend tot die “EDENBURG 10” – bordjie op die N1 van Bloemfontein se kant af.  Die bordjie het hy een naweek laatnag heel uit sy pale geboor en agterop sy bakkie gelaai.  Die eerste Maandag wat kom, maak Oom Sarel eers seker dat Jorsie se Isuzu reeds voor Edenburg se hotel staan, voor hy sy ding doen.  Die “ENDENBURG 10” skroef hy toe mooi netjies bo-oor die “TROMPSBURG 10”- bordjie, duskant Trompsburg op die ou pad.  Later die aand moet Tannie van Deventer vir Oom Sarel by die bordjie gaan aflaai, waar hy homself gaan skuil maak.  Hy wil darem eerstehands sien of sy plan werk of nie.

 

Dit is dan ook so by 2-uur die oggend dat die Isuzu se ligte so slinger-slinger oor die pad aankom.  Net na hy by die bordjie verby is, is dit net stof en klippe soos Jorsie ankers gooi.  ’n Paar minute gaan stil verby, voor Jorsie ’n U-turn maak.  Stadig ry hy weer verby die bordjie en kyk terug deur die venster.  Die bakkie hou weer vir ’n oomblik stil voor dit uiteindelik slinger-slinger terugbeweeg Edenburg se rigting toe.

 

Nou wat in Jorsie van Deventer se kop daai aand aangegaan het, sal niemand seker weet nie.  Al wat ek kan sê, is dat alles laatnag dieselfde lyk op die Vrystaatse vlaktes.  Selfs die dorpe se liggies.  Jorsie was seker nugter genoeg om te besef dat hy dronk genoeg is om iewers verkeerd te gery het.  Een ding het hy geweet; hy moet by Trompsburg uitkom en nié Edenburg nie.  By Edenburg se “EDENBURG 10” – bordjie, is daar natuurlik wéér omgedraai.  Oom Sarel het nog so tweemaal gekyk hoe Jorsie U-turns maak by die bordjie digby Trompsburg en toe die Tannie op sy selfoon gebel dat sy hom kan kom haal.

 

Hoeveel keer Jorsie daardie aand tussen Edenburg en Trompsburg gery het, sal hy seker self ook nie kon sê nie, maar dis vroeg die volgende oggend toe hy sy Pa bel om hom te kom haal.  Die Isuzu se tenk is heel leeg gery.

 

Nou wonder altwee dorpe se mense of Oom Sarel darem vir Jorsie op die regte plek kon kry.  Dié het blykbaar vir Oom Sarel laat weet hy het gaan staan net so 10km duskant Edenburg.

This entry was posted in Uncategorized and tagged , , , . Bookmark the permalink.

7 Responses to Alle paaie lei na Edenburg

  1. Smurfi sê:

    Hallo Jan Twak, net gou kom inloer, maar jy skryf mos baie goed . Ek het nou jou storie so geniet.

  2. Ingrid Marais sê:

    Jan, lekker om hier by jou te kom inloer. Ja ek ken daai vlaktes goed, hoe laat jy my lang paaie terug loop. Altyd net so verby gewoerts van Reddersburg af Bloem toe. Lekker ou wêreld van jull daai.

  3. Skeletor sê:

    Jan wat de donner soek jy nou hier op WordPress swaer???

  4. toortsie sê:

    ai tog… so hou hulle mekaar toe lekker besig!!

Gesels gerus saam

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s