Blinkjan en ‘n geskikte stoot

Mamma is weer moerig die oggend.  Die bank wil op ‘n klomp van een van haar kliënte se goedere beslag lê.  As prokureur is dit haar plig om te keer.  Dit is implemente en voertuie wat Oom Otto van Zyl broodnodig het voor oestyd, om sy sukkel-boerderytjie te laat slaag.  En die bank bring altyd hulle blink advokate van die stad.  Die ‘groot’ manne met hulle goue Rolex horlosies en Pierre Cardin pakke onder hulle sy-togas.  Krokodilvelskoene saam met bypassende aktetasse.  Dié here en hul attachments stop gewoonlik voor die hof met sportsvoertuie platter as Minora lemmetjies.  Aan hul sy is hul blond-poppie-sekretaresses met hul swart pakkies en ‘n IK net-net meer as die kar se ratte.  Die blink advokate klim altyd uit hul karre soos Clint Eastwood van sy perd, net voor ‘n tweegeveg in ‘n cowboy-fliek.  Dan besigtig hulle die plattelandse hoffie uit die hoogte.  Heen-en-weer, voordat die Ray-Ban of Oakley sonbrille afgehaal word.

Mamma is besig om aan te trek.  Vandag is die groot stryd om die boer se oorlewing.  Nou gaan sy dan nie stort of hare was nie? – wil ek weet.  Haar hare lyk half oes en hang in toutjies teen haar slape af.

“Nee.”

Mamma kan “nee” op ‘n manier te sê, dat ‘n man dadelik ophou vrae vra.  Ek kyk belangstellend hoe sy een van haar oudste hofpakkies aantrek.  Die uitrusting lyk gehawend en stowwerig, maar is darem donker genoeg vir die hof se standaarde.  Toe sy haar stokou toga uit die trommel aantrek, lyk sy soos Batman wat van ‘n dak afgeval het.  Toe sy die Jéép se sleutels vra, besef ek sy gaan ook nie make-up aansit nie.  Die gehawende Jeep behoort aan my suster.  Sy is ‘n toergids en sy stoor die rammelkas op ons werf, as sy vir drie maande op ‘n slag, in Afrika opfoeter.  Ek onthou iets van dat sy my gevra het om die exhaust te laat vervang.

So daag Mamma met die brullende Jeep by die hof op.  Sy stop tussen die bank se Range Rover en die advokaat se silwer 6-reeks BMW.  Sy vat nie ‘n aktetas en boeke nie.  Net ‘n verslonste skryfblok en Bic Click pen wat aan die bokant gekou is.  Sy gaan stel haarself voor aan die manne op die hof se stoep.  Sy is die verdediging se regspan.  Oom Otto is ook daar en die man lyk erg bekommerd oor sy keuse van verteenwoordiging.  Hy klap-klap so bietjie van die stof op Mamma se toga af om sy saak beter te laat lyk.

Die advokaat se relaas is kort.  Hy verwag nie veel repliek van die klein vroumensie hier skuins voor hom nie.  Sy is besig om stokmannetjies op die skryfblok te teken terwyl hy praat.  Hy gaan homself nie eens verwerdig om sy aktetas oop te maak nie.  Hy stel die bank se saak sommer so uit die vuis.  Hulle soek hulle se goed terug.  Die boer betaal nie gereeld en op tyd nie.

Mamma vra ‘n vyf minute verdaging toe Blinkjan klaar gerelaas is.  Sy wil net gou met Oom Otto konsulteer.  Oom Otto en sy regspan stap presies vyf minute later weer die hof in.  Mamma dra ‘n groot aktetas en Oom Otto dra ‘n boks met dokumente en boeke.  Blinkjan en sy kliënt se oë is groot terwyl Mamma die boeke een vir een uitpak.  Blinkjan wil iets protesterend sê, maar sy Lordship maak hom stil.  Hy het klaar sy beurt gehad.  Dis nou Mamma se beurt.

Mamma sê die bank en hul geleerde afvaardiging het nie die korrekte kennisgewings op Oom Otto beteken volgens die nuwe Kredietwet nie.  Blinkjan is dadelik op sy voete, hy maak beswaar.  Mamma sê hy moenie worrie nie, sy het vir hom ‘n kopie van die wet saamgebring.  Dis nou as hy dalk daardeur wil lees om homself op datum te bring.

Mamma sê die hofreëls met hul aansoek is ook nie nagekom nie.  Blinkjan spring weer op en Mamma troos hom deur haar boek met die hofreëls voor die man te plak.  Vir sy gerief is die toepaslike reëls in die boek onderstreep.  Sy soek net haar boek terug as hy klaar is.  Sy gebruik hom baie.  Blinkjan lees.  Dan staan hy stadig op.  Sy gesig is rooi en sy woorde is ontneem van hul selfversekerdheid.  Hy vra sy Lordship om uitstel, koste aangebied.  Hy is ook seker hulle kan die sakie op ‘n beskaafde manier buite die hof skik.  Sy Lordship knipoog vir Mamma terwyl hy die saak uitstel.  Hy ken haar goed.

Nuwe afbetalingsreëlings vir Oom Otto, word sommer daar op die hof se stoepie geteken.  Mamma sal dit later vir sy Lordship neem om ‘n bevel daarvan te maak.  Maar eers moet Blinkjan en sy maatjie haar help om die Jeep te start.  Hulle moet stoot.  Dit is deel van die skikking.

This entry was posted in Uncategorized and tagged , , , . Bookmark the permalink.

8 Responses to Blinkjan en ‘n geskikte stoot

  1. BB sê:

    Ek luuuuuuuuuuuurv jouse ‘Mamma’! Sommer baaaaaaaie!!

  2. toortsie sê:

    ohhhhhhh that was good!!!! YES!!! MAGTIG, WYS HULLE!!!

  3. PlaasJuppie sê:

    BMW 7 reeks – R900 000.00
    Pierre Cardin pakkie suit – R8000.00
    Slangvelskoene en aktetas – R12 000.00
    The uitdrukking op jou gesig terwyl jou opponent se Jeep straataf stoot – Priceless!

  4. PlaasJuppie sê:

    :mrgreen:

  5. Jan Twak sê:

    Hallo my tannie!!!

    Dié plek voel nou amper soos by die “huis”!

Gesels gerus saam

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s