Die prys van Lus

Dis nou genoeg, besluit ek en Mamma.  Die vier kinders.  Heeltemal genoeg, ons soek nie nog nie.  Daar moet plan gemaak word en ons bespreek die verskillende opsies.  Geheelonthouding is beslis buite die kwessie, dan kan ek net sowel ophou rook.  Ons bekyk die Rooms-Katolieke se kalender-metode.  Dit is heeltemal te onbetroubaar en ‘n kalendermaand het hopeloos te veel dae en geleenthede.  Lus op ‘n verkeerde dag kan van ‘n Katoliek ‘n Dopper maak.

 

Die Pil is ook nie vir Mamma nie.  Ons is altwee heeltemal te verstrooid om te onthou wanneer en hoeveel.  Vier dae het ek laas op die toilet spandeer nadat Dokter se antibiotika met ‘n spul ander pille deurmekaargeraak het.  Kondome?  Om my genietinge met ‘n reënjas te bedryf is soos om met ‘n pak klere te swem; “Totally over-dressed.”

 

Ons vat toe maar vir Mamma vir die inspuiting.  Dit beteken drie maande se kommerlose kafoefel en ons stel ‘n selfoon reminder om ons te onthou wanneer speeltyd verby is.  Maar die inspuiting akkordeer nie so lekker met Mamma nie; neuk kwaai rond met haar hormone.  In die week het sy gloede en lyk soos ‘n gifappeltjie wat moerbeie geëet het.  Naweke klim sy op die huis se dak en skree vir die Blou Bulle.  Ons gee nie die eerste drie maande op nie, miskien moet haar lyf net gewoond raak aan die goed.

 

Die tweede inspuiting is erger.  Mamma lyk nou soos ‘n oorryp tamatie met geelsug en toe sy die naweek met ‘n Luke Watson poster op die dak klim, sê ek, genoeg is genoeg.  Ons moet ‘n ander plan maak.

 

Mamma sê die verbode woorde.  Daardie woorde wat mans nie eens in kleedkamers bespreek nie.  Boeke en artikels daaroor wegsteek of verbrand.

 

“Ons kan jou laat knip, Pappa.”

 

‘n Vreeslike rilling gaan deur die teiken-gedeelte en ek sit my hand beskermend oor my juwele.  Ek sê vir Mamma dit gaan wees soos om vir ‘n Ferrari speed control op te sit. Een of ander tyd gaan die ding breek en dan’t ons moeilikheid.  Mamma dring aan ons moet meer uitvind en ons gaan Google die knip-ding op die internet.  Die eerste soek-resultate is baie gunstig, en pro-knip.  Die proseduretjie is ook glo redelik pynloos.  Ek is skepties en vermoed die artikels is deur vrouens geskryf.  Redelik was in elk geval nog altyd ‘n baie relatiewe woord.  Ek delf bietjie dieper in die resultate.  Daar is vreeslike stories en hartseer verhale.  Mans wat vir ewig met pyn in hulle gedoentes sit, skoon hulle lus vir normale genietinge verloor het.  Dit moet vreeslik wees!  Ek onttrek dadelik my juwele uit die debat.

 

Ons ‘Google’ die vroue-knip-ding.  Dit lyk vir my weer na ‘n heel aanvaarbare alternatief.  Baie suksesvol en ook redelik pynloos.  Na ‘n bietjie debat, boek ons vir Mamma ‘n sterilisasie; by dieselfde dokter Steynberg wat die tienduisend babatjies en vir Klein Twakkies gevang het (lees OP ‘N PLATTELANDSE RAK).  Hy verduidelik dat die kanse statisties een uit ‘n miljoen is vir vroulief om daarna weer swanger te raak.  Ek vra hom of ons moet terugkom vir nog ‘n operasie na ‘n miljoen keer.  Hy sê nee, statistiek werk nie so nie.  Die kanse bly een uit ‘n miljoen, maak nie saak hoeveel keer ons dit doen nie.

 

Die Maandag vier-uur stoot hulle vir Mamma teater toe.  Ek sit en wag met ‘n Rooi Rose tydskrif langs haar bed in die saal.  So ‘n halfuur, dan is sy terug, sê die nursie vir my.  Half-vyf staan ek op en loer in die gang af.  Vyf-uur begin ek kriewelrig raak.  Ek begin bekommerd raak en roep Mamma se ou gesegde oor hofsake op: “Dit is nooit sonder risiko nie.”  Half-ses stap ek na die verpleegsterstasie toe.  Waar is my vrou?  Ek wil weet.  Hulle beduie dat sy nog in die teater is.  Ek besef dat ek ‘n beter kans het om ‘n HOP-huis te kry, as meer inligting uit die mense.  Ek gaan sit maar weer met die Rooi Rose.

 

Ses-uur hoor ek iets vanaf my regterskouer.  Dit is die klein mannetjie met die vlerkies en wit kleertjies.  Hy wil vir my ietsie sê:

 

“Jy het jou vrou se lewe onnodig op die spel geplaas.  Ter wille van lús!  Skaam jou!  Jy weet ‘n operasie is nie sonder risiko nie.  Nou sit jy in elk geval met die gebakte pere!”

 

Ek het nie ‘n antwoord vir die wit mannetjie nie.  Ek kyk vir hulp na die rooi mannetjie op my linkerskouer, maar hy sit net kop onderstebo.  Hy het ook nie ‘n antwoord nie.

 

Kwart-oor-ses weet ek daar is probleme.  Ek belowe die wit mannetjie allerhande goed oor my kerkbywoning en my belastingopgawes, solank my vrou net orraait is.  My beloftes word meer en meer en my laaste offer maak die sterilisasie in elk geval oorbodig.

 

Vyf-en-twintig-oor-ses hoor ek die lawaai in die gang.  My vrou is glad nie kleinserig nie en sal nooit van pyn huil nie.  Sy kan wel baie lekker vloek.  Sy vloek soos die aand toe sy Klein Twak die lewe laat sien het.  Uit die hart, met ‘n hele klomp regsdreigemente aangelas.  Ek weet hier is gróót fout!

 

Die operasie was glad nie ‘redelik pynloos’ nie.  My vrou deel die feit met ons in geen onsekere terme nie.  Sy het seer waar sy nie veronderstel het om seer te hê nie en wil weet wat de bliksem hulle met haar gemaak het.  Die nursies gee vinnig pad.  Ons moet vir die dokter wag.  Hy sal die voorreg hê om te verduidelik.

 

Ek is kwaad en soek die dokter.  Ek het nou my eie vermoedens oor die sterilisasie-ding.  Hulle maak jou vrou so seer dat sy in haar lewe nooit weer gaan lus wees nie.  Ek is net op pad uit toe die dokter inkom.  Hy is nog steeds sy rustige self, soos met Klein Twak se geboorte.  Hy verduidelik.  Daar was so ‘n bietjie komplikasies.  Vroulief het inwendig begin bloei.  Hy wou nie oopsny en groot wonde maak nie, toe sit hy ‘n ballon aan ‘n kateter en blaas die ding binne in haar op om die bloeding te stop.  Dit het gewerk, maar hy vermoed dit kan dalk baie seer wees met die drukking van die ballon in haar buik.

 

Sy vermoede is heeltemal korrek, gee my vrou hom die versekering hier van onder af.  Die dokter sê sy moet net vasbyt.  Hy sal more die ballon kom afblaas, dan sal dit heelwat beter wees.

 

Later toe ek met die teatersuster praat, besef ek die dokter het eintlik goed gedoen.  Dit het glad nie goed gegaan in die teater nie en ‘n minder ervare dokter sou beslis nie so goed gevaar het nie.  Ek besef lus het sy prys.  Dit was amper baie meer as wat ek bereid was om te betaal.

This entry was posted in Uncategorized and tagged , , , . Bookmark the permalink.

17 Responses to Die prys van Lus

  1. Karin sê:

    Hallo Jan,

    Ek het so lekker gelag … ek hoop dis ok as ek dit deel op my blog http://afrikaansegriffel.blogspot.com/
    en beslis meer dikwels hierkom loer.

  2. Vlam sê:

    Daar is min dinge wat so seer is soos ‘n sterilisasie! 😯 In teorie behoort dit “redelik pynloos” te wees, maar die vet weet, dit laat die vrouens krul! Nah, ek tel maar eerder die maande af na menopouse. Dan’s dit safe sex the natural way! 😆

  3. ellablou sê:

    my neef vertel my nou die dag die storie van toe hy geknip moes word. Blykbaar is daar twee opsies – met of sonder narkose – en aangesien die dokter hom ‘n guns gedoen het en hom mooi tussen die ander ingepas het, het hy besluit om die slaperigheid ‘n mis te gee en nie narkose te doen nie. Hy lê toe daar en wag in die hospitaalkamer voor sy groot op. Hy’t geweet daar was ‘n paar ander wat voor hom ingegaan (die onder narkose) en toe daar ‘n man ingewiel word, nog deur die blare van die drugs, toe vra hy sommer prontuit: “So, ou, hoe voel jou ballas?”

    Die ou was amper histeries! (Hy was eintlik in vir ‘n voetoperasie) My cousin was so skaam hy het dadelik sy vrou gebel en sy het hom sommer langs die pad opgetel, kilometers ver geloop voor sy daar gekom het! Hy moes maar herskeduleer…

  4. Hi Jan

    Welkom hier.

    Ek wonder nou, het jy die wit mannetjie belowe as hy die tyd terug draai dat jy gesnip sal word?

  5. BB sê:

    Het jy toe darem die belastingopgawes gedoen??:mrgreen:

  6. BB sê:

    🙄 hmmmm…. een uit ‘n miljoen sê jy. My laatlam is dan beslis baie báie kosbaarder as wat ek reeds gedink het hy is! (ek hét ná sy geboorte vir die gynae belowe dat die volgende enetjie syne sal wees om groot te maak).

  7. Jan Twak sê:

    Hel dit is ‘n slegte een om te hoor. Veral as mens soveel geleenthede laat verbygaan het. Ek hoop opreg die dokters kan jou help met bietjie ‘buskruit’ vir ‘n gesinnetjie van jou eie.

  8. PlaasJuppie sê:

    Sien! Dis hoekom ek niks hou van hospitale en dokters en sulke goete nie.
    Ons storietjie is amper die teenoorgestelde van julle s’n. Na menige belustige geeleenthede verlore gegaan het na ‘n gestry oor wie se beurt dit was om beskerming aan te skaf, en na ‘n paar oggende van ernstig warrie en morning after pille nadat die belustigheid hom nie wou laat keer nie, het ons die wonders van die inspuiting ontdek.

    Toe trou ons na 14 jaar se ernstige vryery en liefmens laat los die inspuiting besigheid sodat daar aan ‘n plaaspuppy gebou kan word. Dis toé dat die hormone haar pak! Ek dra maar langmoue en baie make-up sodat die mense nie die bloukolle sien nie. Om alles te kroon beduie die kwaksalwer my nou die dag dat al die moeite eintlik verniet was, my gun is nie gelaai nie.

Gesels gerus saam

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s